Hanlie Retief

Anton Goosen


Скачать книгу

p>

      ANTON

      GOOSEN

      _________________________

      Liedjieboer

      Die lewe van ANTON GOOSEN

      soos vertel aan HANLIE RETIEF

      Hanlie Retief

      Tafelberg

      welkom in my kaia

      as ek dalk teen die tyd dat die eeu weer draai

      op die skrêpjaart van die lewe lê

      sê ek nou vir dán ek is lief vir jou

      lief vir jou as ’n vrou

      ek kan jou maar net al my liefde gee

      dalk ’n blom en ’n lied

      dus: welkom in my kaia

      welkom in my hart

      welkom in my kaia

      want my kaia is my hart

       Uit: Jors Troelie

      Hierdie boek is rock ’n roll in die binnewêreld van Anton Goosen. Dis saamgestel uit honderde geselse en voicenotes, ’n WhatsApp-song van ’n boek gestuur laatnag ná gigs, op lughawens, gastehuise, soggens op ’n parkbankie in Gansbaai terwyl hy kyk hoe die vistrawlers inkom en die kaalvoet ou in die karavaanpark sy bord en beker ná brekfis by die kraan afspoel; met tussendeur die heserige voicenotes. Dis diepduik en rondspring tussen stories, dis aweregse detail, en mooivra: spel kitaar eerder ghitaar, dis mooier en dis ’n aanvaarde spelling en baie meer rock ’n roll.

      Dis die lewe van Anton Goosen en dis alles in hierdie boek. Moenie chronologie verwag nie, té vervelig vir Anton. Anton is Jantjie Blom, tony g. Anton is. Kom loop saam, loop saam deur sy lewe.

      HANLIE RETIEF

      Inleiding

      Heita!

      Die Setswana-woord nyatsi beteken mistress – die een wat jy wegsteek. In die musiekbedryf, soos in die lewe, is daar die dinge wat weggesteek word. Dylan het in Rolling Thunder Revue gesê “if you are wearing a mask you are more likely to tell the truth”.

      So, sonder die simboliese maskers, het ons fame-jagters, kulstenaars, pedofiele, skelms, gospelsangers, aanranders, selfmoordsangers, poging-tot-selfmoord-sangers, backtrackers, mimiek-kulstenaars, kunstenaars wat hul privaatdele op die verhoog ontbloot, kunstenaars wat hul privaatdele in restaurante ontbloot, gays in die closet wat skryf oor meisies uit vrees vir die publiek se reaksie, lesbiërs wat skryf oor kêrels in rooi Volksies uit vrees vir die publiek se reaksie, hoere, slagoffers van pedofiele, rokjagters, buite-egtelike verhoudings, seksueel mishandeldes, vroue met gebreekte neuse ná ’n opstopper, dronkies, dwelmverslaafdes, egoïste, wannabes, kroegsangers, boereverneukers, pseudo-intellektuele, gewildes wat backstage sê “hulle koop als wat ek sê nes skape”, kinders in graad 11 wat vir ’n jaar die skool verlaat en dan terugkeer, met ’n baba tuis, ’n joernalis wat sy maagdelikheid op “Kruidjie” (’n wals) verloor het, kunstenaars wat nie onderhoud betaal nie, oneerlikes, hoogdrawendes, mense wat maak asof hulle sing en die publiek flous, ongeluksvoëls, naïewes en gewone goeie mense. En al bogenoemdes noem hulself kunstenaars, outsiders, mense op soek na die rede vir hul bestaan of bloot na klatergoud …

      1

      Voortyd, kleutertyd, tienertyd

      In Life of Brian, die Monty Python-fliek wat ek seker al honderd keer gekyk het, sê Graham Chapman vir die skare onder hom: “Look, you’ve got it all wrong. You don’t need to follow me, you don’t need to follow anybody. You’ve got to think for yourselves, you’re all individuals.”

      “Yes, we’re all individuals,” skree die skare.

      “You’re all different!”

      “Yes, we’re all different!”

      Dan steek een sy hand op en sê: “I’m not …”

      Vandat ek weet, is ek anders, pas ek nie in nie. Moenie vir my sê wat om te doen nie. As jy wil weet of ek wil gaan uiteet, vra: Het jy lus om te gaan uiteet? Dan antwoord ek jou. Moenie my voorsê wat om te doen nie, ek lees dit as bevele. Moenie op jou kaartjie sê “formele drag” nie, hierdie T-hemp en jeans is vir mý formeel. Ek daag op as Anton of ek daag nie op nie. Dit was goed genoeg vir ’n paar presidente. Ek het regtig ’n probleem met in rye staan, met wag vir my kos by buffet-etes, die army-ding waar jy met jou varkpan in die kosry staan. Hoekom moet ek doen wat almal doen?

      Ek kan presies onthou waar ek by daardie vurk in die pad gekom het. Ek het op my fiets gery met my radio’tjie agterop en die Rolling Stones sing “(I Can’t Get No) Satisfaction” en net daar het ek geweet dis waarheen ek wil gaan. Soontoe, daai kant is my kant, en Jim Reeves en Frank Sinatra-hulle is dié kant.

      Om jou eie pad te loop is deel van rock ’n roll, want dis nie net musiek nie, dis ’n lifestyle. Êrens in ’n song skryf ek jy kan dans op musiek, en jy kan marsjeer op musiek. Musiek kan rewolusie wees of liefde maak.

      Die wêreld het nog na buskruit geruik toe ek op 5 Maart 1946 gebore is, vyf maande ná die Tweede Wêreldoorlog, aan die voet van die Renosterberg in Middelburg in die Karoo. My eerste onthou was die gesigte van my ouma en oupa Van Aardt wat na my kyk waar ek in die kot lê. Ek was omtrent drie jaar oud. Toe ek vyf was, nadat ons Kroonstad toe getrek het, het ek verby my oupa Goosen se kamer geloop en daar was ’n wit lap om sy kop gebind om sy mond toe te hou. Dood. Dieselfde oupa wat my op die stoep gesit en vra het of ek weet wie is Liewe Jesus. Ja, Oupa, hy is nou net hier verby op ’n trekker …

      My eerste rapport uit Laerskool Paddavlei se Sub A-klas het my ma in trane gehad. Die dierbare juffrou Hattingh het geskryf: “Ek is baie lief vir Anton, maar hy is altyd in die moeilikheid, want hy laat niemand met rus nie. Hy doen nie sy bes nie. Hy is stadig en agterlosig en hy pas moeilik aan by skoolmaats.”

      My ma het baie gehuil.

      In standerd een laat weet juffrou Van Niekerk Anton moet getoets word vir die spesiale klas. My ma het uitgefreak. ’n Kwartaal lank het ek tuisonderrig gekry, by my pa, gewapen met ’n sambok. Ek kan nou nog in my slaap “quickly” reg spel. Daarna was sake beter en my punte hoër.

      Daar het ’n uil op die nok van juffrou Van Niekerk se donker huis gewoon. Sy was ’n oujongnooi en ek was ’n dromer. Sy het die kinders van wie sy nie gehou het nie op hul eie heel voor in die klas laat sit. Aan die einde van elke kwartaal kon almal bankmaats omruil. ’n Maatjie het langs my kom sit en toe sê juffrou van Niekerk: “Nee, niemand mag langs hóm sit nie.” Snaaks hoe mens dít onthou.

      ’n Boelie het my elke middag op die bus gebliksem net oor hy nie van my gesig gehou het nie. Hierdie dinge maak op die ou einde van jou ’n rebel without a cause. ’n Kroonstadse James Dean, jy merge in die rock ’n roll-ding, al is jy nog te jonk om dit te besef. I am against it, what have you got? Al wat ek geweet het, is dat ek nie behoort nie, dat ek nie ’n groepsdier is nie. Maar so eenvoudig is dit ook nie. Daar’s ook die ander, ironiese kant, dat ek bevestiging soek van ander mense. ’n Kloppie op die skouer. Verwerping is nie ’n goeie bedmaat nie.

      Ek was min of meer van my geboorte af in ’n permanente botsing met my pa, so dit is ironies dat musiek my eerste herinnering aan hom is. Hy het mondfluitjie gespeel en ek onthou hoe hy sit en deuntjies maak. Saans nadat ons by mense op die plase gaan kuier het, het hy in die ou Hudson op pad huis toe Ierse songs gesing wat regtigwaar beautiful was. Ek onthou die stem in die donker kar op die donker pad met die Vrystaat en die nag om ons.

      My ouers het opera geluister. Caruso en Mario Lanza en veral Erna Sack, die Duitse koloratuursopraan