Dirk Jordaan

Arendsnes


Скачать книгу

on>

      Arendsnes

      Dirk Jordaan

      Tafelberg

      Aan Mia en Kai

      ’n Mens maak jou eie drome waar

      Vooraf

      Die kring stotterende blou en rooi ligte lok haar nader. Sy is nog twee straatblokke weg van die toneel, maar word reeds ingesuig deur die bont maalkolk wat die straatligte oordonder en skel uitstaan in die skemerlig.

      Wonderboom-Suid, wat met sy rug teen die Magaliesrif in Pretoria lepellê, is een van ’n streep buurte wat langs mekaar nestel in die Moot – die gebied tussen die agterkant van die Uniegebou en die Magaliesrif. ’n Plat vallei waarin middelklasmense, meestal staatsdienswerkers, hulle ’n paar dekades gelede tuisgemaak het. En waar baie van hulle steeds woon. Dit is naby aan die kern van die hoofstad, maar die buurte is veilig en die erwe groot: Capital Park, Gezina, Wonderboom-Suid, Rietfontein, Waverley en Villieria met hul baie skole en kerke.

      Lydia Stander los die Golf se stuurwiel en vee haar hande aan haar jean af, eers die een, dan die ander. Dit was ’n kapingspoging, die slagoffer doodgeskiet voor sy woonstel. Dit is al wat sy weet. Sy was beskikbaar en die lot het op haar geval, haar die ondersoekbeampte gemaak. Uit ondervinding weet sy: As sy net eers daar is, sal sy rustiger raak. Of so hoop sy. Dit hang alles af van hoe die slagoffer lyk. Van presies hoe hy gesterf het.

      Lydia kruie tussen die inwoners deur wat nuuskierig aan die ander kant van die straat saamgebondel het. Hul arms is gekruis teen die koue en ook meer – teen die besef dat hul rustige woonbuurt vanaand deur geweld verander is. Sy hou stil voor die geel sperband wat tussen twee bome oor die straat gespan is. Daar is meer polisiekarre as gewoonlik op die toneel.

      Sy klim uit en trek die glimfrokkie aan wat haar kenmerk as ’n polisielid wat op die toneel mág wees voordat sy verby die geel kegeltjies op die teerpad stap. Maar eers moet sy haar arms deur ’n opgestopte winterbaadjie druk om haar teen die koue te beskerm. Talle polisiemanne staan rond en die forensiese eenheid is reeds besig om die toneel af te neem en af te meet. Die gesigte is strak. Geen grappies word agter hande gemaak nie, wat so maklik op ’n misdaadtoneel gebeur wanneer hulle die onmenslikhede wat saamloop met hul ondankbare beroep probeer wegskerts. ’n Ent verder staan ’n wit bakkie geduldig en wag. Die staatslykswa.

      ’n Uniformsersant kyk om na haar en knik toe hy die polisie-onderbaadjie onder haar winterpantser raaksien.

      “Naand, Sersant. Wie is in beheer van die toneel?”

      Hy wys na ’n adjudant-offisier wat met sy boude teen die kattebak van ’n donkerrooi kar leun.

      “Naand, AO. Ek is luitenant Lydia Stander, Prioriteitsmisdade. Wat het ons hier?”

      “Hallo.” Hy kom regop en strek sy hand uit. “Thomas Kubeka,” sê hy en maak vlugtig oogkontak toe hy haar hand skud. “Lyk soos nog ’n kaping. Die slagoffer het net na vyf hier voor sy woonstel stilgehou. Sy naam is sersant John Khabile.”

      “Ek hoor dis ’n lid?”

      “Ja, ongelukkig. Een van ons s’n, van die Moot.”

      Dit verklaar die letters “PM” op talle van die polisievoertuie se kattebakke – die Moot-gebied. Dit is ook die rede waarom haar afdeling in kennis gestel is – die moord op ’n polisieman verg die Valke se spesialis-aandag.

      “Jammer,” prewel sy.

      Hulle stap om die kar tot waar die slagoffer langs die oop bestuurdersdeur lê.

      “Die kaper het agter hom gestop en toe hy uitklim om die hek oop te maak, hom geskiet. Twee skote …”

      AO Kubeka hurk by die bondel langs die motor en lig die kombers, net genoeg sodat sy kan sien, en sonder dat die omstanders se makabere belangstelling nog verder geprikkel word. Khabile lê in ’n bondeltjie in sy donkerblou uniform, sy knieë half onder hom ingetrek. Sy skedel is effe misvorm en onder sy gesig, wat sy nie kan sien nie, is ’n plas donker bloed waarin ’n ambulans se flitsende lig blink weerkaats. Dit laat die bloed met tussenposes selfs rooier lyk. Pienk stukkies, soos klein eilande, lê in die donkerrooi see.

      Dit val Lydia vreemd op dat sy wonder waar sy pet is. Dit verstom haar ook weer hoe broos die mens is, hoe gou jy tot ’n lewelose hopie gereduseer kan word.

      “Een agter die oor en een in die maag. Ons vermoed iemand het die skieter gepla, omdat sersant Khabile se besittings nog by hom is. Sy beursie, selfoon, selfs sy dienswapen.”

      Sy kan die handgreep van ’n pistool op sy heup sien uitsteek.

      Lydia kom stadig regop. Daar is ’n kol net agter haar borsbeen en ’n effense lighoofdigheid in haar kop. Die metaalreuk van Khabile se bloed klou in haar neus. Dit maak deure in haar geheue oop wat sy eerder toe sou wou gelaat het.

      Sy vat amper aan die oop kardeur se raam om haar regop te hou, maar bedwing die drang net-net – ter wille van vingerafdrukke. Sy haal diep asem terwyl sy in haar baadjiesak grawe op soek na haar aantekeningboekie en ’n pen. Herinneringe brand agter haar oë. “Wat sê die inwoners?” vra sy outomaties. “Enige ooggetuies?”

      “Hulle het die skote gehoor.”

      “En jy het gesê daar was net een kaper?”

      “’n Buurvrou het by haar kombuisvenster uitgekyk nadat sy die skote gehoor het. Sy het ’n enkele man in ’n motor sien klim en wegjaag. Hy het self bestuur, het sy gesê. Dalk was die ander hier naby iewers. Dalk het hul planne net skeefgeloop.”

      “Beskrywing van die motor?”

      “Jip, maar nie veel nie. Sy kon net sê dit was groot en lig van kleur. Miskien ’n bakkie.”

      “Familie?”

      “Sy vrou het ná die voorval met hul twee kinders hier aan-gekom. Gelukkig was ons toe al hier. Sy’s binne.”

      “Seker te vroeg om haar te ondervra?”

      “Ek dink so. Haar familie is nou daar,” sê hy en beduie met sy kop in die rigting van die duplekswoonstel se oop voordeur. “En ’n berader. Dalk sal môre beter wees?”

      Lydia knik. Sy sien nie werklik kans om nou ’n onderhoud met die weduwee te voer nie. Die toneel laat haar omsingel voel, benoud.

      Hoofstuk 1

      Die eerste skoot het hom nie gedood nie. Lydia weet dit, want sy het dieselfde werkwyse drie weke gelede op die moordtoneel in die Moot gesien.

      Op die voorblad van die koerant in haar hande, bokant die vou, is ’n foto van die slagoffer se oop kardeur met ’n swartdonker bloedkol op die beton. Sy lyk lê langs die swart kar, toegegooi onder ’n silwer ambulanskombersie, weggeskerm van die koerante se witflitsende, indringende kameras. ’n Bekende gevoel omvou haar lyf soos ’n krapperige, ou trui. ’n Gevoel van leegheid. Van verlies.

      Lydia lees weer ’n gedeelte in die hoofberig waarby sy ’n wysvinger gesit het: Volgens ’n betroubare bron is Mackie deur twee koeëls getref, een laag in die buik en die ander agter die oor.

      Daar is ’n ligte klop teen die oop deur agter haar.

      “Skuus, Luitenant,” maak ’n konstabel verskoning, “die kolonel soek almal in die konferensiekamer. Almal, en dadelik.”

      Lydia knik ’n dankie in sy rigting, los die koerant op haar lessenaar en stap die lang gang af. Die vertrek is nie gewoonlik soggens vol nie, maar vandag is daar net-net genoeg stoele vir almal. As kolonel Melt Beyers roep dan hól jy.

      Sy soek ’n oop sitplek en knik om dié te groet wat sy nie vroeër die oggend teëgekom het nie. Agter haar hoor sy Jacques de Beer se effens benoude, hees stem, asof iemand besig is om sy keel toe te druk. Sy wens stilweg iemand wil dit regtig doen.

      “Ons oortuig die ou toe om nie ’n diefstalsaak te maak nie en sê vir die buurman hy moet sê hy’s jammer en die ou se petrolkannetjie teruggee.”

      Lydia kan hoor dis al weer ’n storie oor De Beer se uniformdae.

      “Maar drie dae later toe bel hy weer, hoogs de moer in, en ons