Malene Breytenbach

Bloedgrond


Скачать книгу

      Bloedgrond

      Malene Breytenbach

      Tafelberg

      My eerste redakteur, Madri Victor, en haar opvolger, Hester Carstens, het met hul intelligente leiding dié roman se geboorte help bestuur. Aan albei, baie dankie.

      Die kundige redigeerder Jomarié Dick verdien ook my dank.

      Ek moes heelwat navorsing doen om die outentisiteit van Bloedgrond te probeer verseker. Miskien het ek plek-plek gefaal, maar dit is nie die skuld van die mense wat my met inligting gevoer het nie. Aan hulle is ek baie dank verskuldig.

      Eerstens bedank ek my man, Willie, professor eers in volkekunde en vervolgens in politieke wetenskap, wat ’n boorling van Nieu-Skotland is en op die plaas Arthur’s Seat grootgeword het. Hy het my deurgaans met inligting gehelp, veral oor die Swazi’s en die omgewing.

      My dogter, Karen, wat die hofverslaggewer van die Cape Times was toe dié boek geskryf is, en advokaat Hansie Botha het waardevolle regsinsigte verskaf.

      Ons vriende Gret en Jaap Cilliers van Ermelo, by wie ons al so baie op die plaas gaan kuier het dat hul landskap deel van my geword het, en hul oud-recce-seun, Japie, het gewaardeerde bydraes tot die geboorte van Bloedgrond gelewer.

      Advokaat Leon van Rooyen en Susan het verhale van die Matotoland-omgewing vertel wat ek met dankbaarheid kon inkorporeer.

      Doktor Judora Spangenberg het waardevolle insette oor die sielkunde gelewer.

      Andries Fokkens het met sy nieamptelike en persoonlike insigte die verhaal help stuur.

      Lt.kol. Barry Visser het my oor verskeie aspekte van die Spesiale Magte ingelig. Daarsonder sou outentisiteit ontbreek het.

      Laastens, maar allesbehalwe die minste, bedank ek kaptein Anneke van der Vyver, mediaskakelbeampte van die SAPD, vir haar verbeeldingryke en konstante bystand en inligting.

      “Land is the only thing in the world that amounts to anything, for ’tis the only thing in this world that lasts … ’Tis the only thing worth working for, worth fighting for – worth dying for.” – Margaret Mitchell, Gone with the Wind

      Die SAPD se range het verander sedert dié roman geskryf is. Die range in Bloedgrond is dié wat tydens die skryf van die roman gegeld het.

Deel 1

      1

      Die oproep kom net na tien die oggend deur toe Erin in haar studeerkamer voor die rekenaar sit, hard aan die skryf aan ’n artikel oor wolboerdery. Sy voel dadelik ongerus omdat haar broer haar in die dag skakel. Hy kontak haar gewoonlik net in die aand, want hy sê altyd bedags is hy te besig vir klets. Iets moet verkeerd wees.

      “Erin. Hoe gaan dit?” vra hy, maar sy stem klink bewerig, nie normaal nie.

      “Dit gaan goed dankie, Bob, ek is net toegegooi onder werk. Hoe gaan dit daar by julle? Is iets fout dat jy my dié tyd van die dag skakel?”

      “Ja, daar’s fout. Gróót fout. Dis die verdomde grondeise. Skielik is hier ’n eis teen ons vir ’n moerse groot deel van Misty, en Sylvia sit met ’n eis vir Annendale! Die regering en die Swazi’s wil nou ons grond onder ons uitruk.”

      “Agge nee Bob, dis verskriklik! Maar volgens wet sal die eise nie slaag as die eienaar die grond reeds voor 1913 besit het nie. Dunedin en Misty is van voor 1913 in ons familie se besit, en dit sal geld vir Annendale ook. Ek weet darem iets van dié dinge af,” probeer Erin paai.

      “Ja, jy skryf mos oor dié goed vir die koerante, so jy sal weet dat ons nou ’n blerrie slim advokaat nodig het. Sal Ferdie ons nie kan help nie? Hy’s tog familie, al is dit aangetroud.”

      Erin huiwer ’n oomblik. Sy het nog nie vir die familie vertel dat sy op skei staan omdat haar man en sy dwalende oog ’n verhouding met sy sekretaresse aangeknoop het nie. Sy het hulle nou pas een aaklige oggend betrap.

      “Ferdie spesialiseer mos eintlik in strafreg, maar hy hét al een of twee grondrestitusiesake suksesvol verdedig hier in Gauteng,” sê sy versigtig.

      “Nou ja, vra hom asseblief, of moet ek? Hulle het die grondeienaars laat weet ons moet bewyse voorlê en dalk nog onderhandel. As die onderhandelinge nie slaag nie, gaan ons hof toe, en as ons nie ’n ooreenkoms bereik nie, word ons grond onteien.”

      “Moenie bekommer nie, Bob. Hier in Suid-Afrika geld gewillige verkoper, gewillige koper nog en mense word vergoed vir hulle grond. Ferdie sal dit ook vir jou vertel.”

      “Ja, maar vir hoe lank? Ons hou nie van die rigting waarin dinge deesdae neuk nie. Buitendien gaan dit vir ons nie bloot om geld nie. Dis ons erfgrond, ons is met ons naelstringe daaraan verbind. Hoe gee ’n mens so iets net weg? Oupa Rob het die plaas aan my bemaak en hy is nou éérs die moer in. Ek wil mos nie die helfte van my woonplaas afstaan nie. Dan kan ek netsowel ophou boer, jirre, dan verarm ek verdomp vinnig. Die eisers is glo die Malaza Family Trust and Land Claims Committee.”

      “Die Malazas?” vra Erin verdwaas. Hul eie arbeiders!

      “Ja, die donners eis ’n deel van Misty op grond van huurarbeid, maar hulle eis sommer die hele blerrie Annendale ook, as grondrestitusie. Is dit nie verdomp verregaande nie? Hulle verteenwoordiger, Ngafane, wou voorgee dat sy pa en oom se beeste op ’n groot deel van Misty en op Annendale gewei het. Hy het sy eis direk by die direkteur-generaal van Grondsake ingedien. Ek moet binne dertig dae allerlei inligting aan die direkteur-generaal gee.”

      “Ek is verstom, Bob. Wie sou ooit kon dink die Malazas sou grond eis? Maar oukei, ek sal met Ferdie praat en vra dat hy jou bel.”

      “Kom julle twee liewer die naweek hiernatoe. Ons kan mos nie behoorlik oor die foon praat nie.”

      Erin sit doodstil, nikssiende, by haar lessenaar nadat hulle ’n ruk lank verder gesels het en haar broer afgelui het. Naderhand staan sy op en loop na haar koffietafel waar ’n hoop Landbouweekblaaie lê. Sy tel een op om te kyk of daar iets oor grondeise in is, maar sy sit dit weer neer en gaan staan by die venster waar sy na die tuin kyk. Sy voel skielik soos ’n uitgesuigde lemoen.

      Ongelukke kom in drieë. Hierdie is die tweede slag binne ’n week. Eers betrap sy haar man besig om sy sekretaresse in sy kantoor warm te vry. Die posisie waarin hul lywe was, half oor die lessenaar, het verklap dat dit nie sommer by soen sou bly nie. Sy het hulle woedend gekonfronteer en die hele sak patats oor hul maande lange verhouding het uitgekom. Sy wat Erin is sukkel al hóé lank en ondergaan al wat behandeling is om swanger te raak, en Ferdie gaan mors sy saad, sy lewenskrag, op die tert wat hy ses maande gelede as sy sekretaresse aangestel het! Blond, maer en oorywerig. Natuurlik het Janet van die begin af haar wip gestel om die aantreklike, suksesvolle advokaat te vang, en sy arme vrou kan maar na die hel gaan. ’n Regte femme fatale wat nie omgee om ’n man se vrou te vertrap om te kry wat sy wil hê nie.

      Erin het gedink haar wêreld spat uitmekaar, so seer en woedend was sy. Maande lank al wroeg sy omdat sy nie kan swanger raak nie – en intussen loop hy rond. Hulle is skaars twee jaar getroud. Hy is reeds ’n keer geskei en staan veertig se kant toe, kinderloos, sy al diep in die dertig. Die tyd om kinders te kry raak min.

      Nou kan sy maar van kinders vergeet. Dis ’n groot hartseer in haar lewe.

      Sy het Ferdie Bakkes nogal juis ontmoet toe hulle saam by ’n grondeise-saak betrokke was, sy as verslaggewer en hy as advokaat vir die verdediging. Hy was indrukwekkend, hoogs aantreklik. Hy was die eerste man in jare wat haar voete onder haar kon uitslaan nadat sy jare lank oor haar vermoorde jeugliefde getreur het en nie regtig haar hart vir iemand anders kon oopmaak nie. Op hul eerste afspraak het hulle gaan uiteet en tot twee-uur die oggend gesels. Hy het haar die hof gemaak en haar nie dadelik probeer bed toe sleep nie. Dit het gesorg dat sy hom bewonder en respekteer. Die jakkals. Eers ná die troue het sy kolle verskyn – sy venynige streep en oog vir vroue. Nou dink sy aan die baie kere by partytjies wat hy diep in gesprek geraak het met die een of ander vrou. Sy wou nie ’n jaloerse teef wees en hom daaroor verwyt of konfronteer nie. Dikwels het hy tot diep in die nag op kantoor gebly. Hy het alewig weggegaan om elders hofsake by te woon.

      Hy het genoeg geleenthede gehad om haar te verneuk. Nou raak sy