François Bloemhof

Helse manier van koebaai se


Скачать книгу

      Helse manier van koebaai sê

      François Bloemhof

      Human & Rousseau

      1

      Ete vir twee

      Al die geld ter wêreld maak dat jy enigiets in die wêreld kan koop. Dit het hy nog altyd geweet, maar nou is hy by magte om daardie waarheid oor en oor aan homself te bewys.

      Om dit te ervaar.

      Hy is Anthony Wiggins en die jongste iets wat hy met die vereiste aantal ponde gekoop het, hoewel net vir een aand, is dié restaurant met sy antieke meubels, gedempte beligting en stigtelike musiek: Sinatra, soos hy versoek het. Jy sou nooit sê hulle is in die hartjie van Londen nie, Piccadilly se eindelose rumoer onhoorbaar aan die ander kant van daardie (geslote) voordeur.

      “Are you enjoying yourself?” vra hy vir sy jong metgesel.

      Emily glimlag oorkant hom. Sy was altyd aan die stil kant en praat nou nog minder; so ’n gebeurtenis sou egter vir enigiemand traumaties wees. Sy sou daardie aand saam met haar ouers doodgeskiet gewees het as dit nie was dat haar pa – anders as wat die moordenaar gedink het – nog ’n greintjie lewe in hom gehad het en hy ’n pistool kon uitkry terwyl die man na die dogtertjie mik nie.

      Anthony het die ergste verwag: dat daar nog ’n aanval sou kom en hy, wat in sy vriend se testament as Emily se voog en versorger aangewys is, in die middel vasgevang sou wees. Sterf die elfjarige meisie, gaan al daardie miljoene aan die dinastie se enigste oorblywende lid, Emily se oom. Die vermoorde man se eie broer. Anthony was só seker dat dit geen kontantsoeker was wat daardie aand die Northcliff-egpaar en hul dogter by hul huis ingewag het nie, maar dat Percy Northcliff die man gehuur het om sy broer, skoonsuster en niggie te vermoor. ’n Volgende aanval was ’n gegewe.

      Toe gaan die maande egter verby, vier daarvan, nou amper vyf, sonder voorval. Daar was behalwe vir die dag van die begrafnis geen kontak met Percy, wat steeds met sy eie paar miljoentjies in Yorkshire moet klaarkom nie. Gaandeweg het Anthony besluit geldnood laat mense verskriklike dinge doen en die skietery by die Northcliffs se woning was tog maar net een van daardie willekeurige voorvalle van geweld wat jy oral ter wêreld kry.

      En hy het meer en meer gewoond geraak aan die verskillende dinge wat geld kan koop, al is hy slegs in beheer daarvan – binne perke – tot Emily se sestiende verjaardag. Hy beskou dit darem nie as ’n geleentheid om homself te buite te gaan nie; hy wat nie kinders wou hê nie en hom dus nooit in ’n huwelik begewe het nie, het nou skielik ’n dogter en sy is nie die vermakerige snip wat hy gevrees het hy mee opgesaal sou raak nie. Net vanoggend is hy weer bekoor toe sy byna haar balans op die trap verloor en toe skater oor haar eie lompheid. Hy wil die beste hê vir hierdie stil meisietjie wat so ’n wrede verlies gely het, en besef ’n goeie lewe behels meer as duur items.

      Dat geld hélp, kan jy nie wegredeneer nie; dis ’n pleister wat allerlei wonde genees en gate toestop. As jy byvoorbeeld besluit jy wil ’n jong dametjie se aandag aflei omdat sy die laaste dag of wat treurig gelyk het, is dit binne jou vermoë om ’n eksklusiewe restaurant soos hierdie een vir die aand te huur. Groot gebare verg groot finansies. Net so was dit ’n maand gelede opwindend (vir hom, en hy meen vir haar ook) om te verhuis na ’n woning wat twee keer so groot is as sy vorige blyplek, met die nodige personeel en twee lyfwagte – een wat op die oomblik in die straat op en af stap tussen hier en waar die Bentley geparkeer is, en die ander in die kombuis.

      Anthony vind dit soms jammer dat hy en Emily nie soos pa en dogter lyk nie, tog reken hy mense maak outomaties daardie aanname. Haar hare is so donker en syne so lig, en dan is daar die feit dat sy kort en skraal is, terwyl daar tydens sy voogdyskap reeds nege kilogram aan hom kom saampak het.

      Hy keer homself om soos ’n gewone restaurant-ganger ’n waarderende geluidjie te maak toe die jong donkerkop-kelnerin hul voorgeregte bring: koue komkommersop vir hom en gebakte bloukaas-en-tamatietertjies vir Emily.

      ’n Volgende Sinatra-liedjie het begin speel, “I believe I’m gonna love you”. As hy reg onthou, is dit uit die 1970’s iewers, toe die sanger by Reprise Records was.

      Tog mooi.

      Die kelnerin bly skuins agter Anthony se stoel staan.

      Dis nou maar die ding van persoonlike aandag: soms raak dit té persoonlik. Sy wag kennelik dat hy en Emily hul kos moet proe, terwyl sy in gewone omstandighede seker al terug in die kombuis sou gewees het.

      Dus proe hy maar en moet toegee dit is voortreflik.

      “How is yours, Emily?”

      Sy knik, met die glimlaggie waarin hy sy vriend Mike herken. Kere wanneer hy homself wil-wil verwyt omdat hy die finansiële posisie waarin hy geplaas is so geniet, is dit goed om te onthou hy red Mike se kind van eensaamheid. Die alternatief kon dalk ’n lewe onder oom Percy se dak gewees het. Anthony het hom net by die begrafnis ontmoet en kon aanvoel sy simpatiebetoning val op onverskillige ore.

      Daarby, die blik in die man se oë wat hom laat glo het daar was ’n rede vir daardie skietery.

      Maar dit was tóé, en nou geniet hy nog ’n skeppie van sy komkommersop. Solank hy aanhou om sulke dinge te waardeer, sal hy nie afgestomp raak en hom soos een van die ydele, verwende rykes begin gedra nie.

      Toe hy nog ’n skep neem, frons hy. Al is die naaste lamp ’n goeie twee meter van hulle af, bespeur hy ’n swart kolletjie in die vloeistof in sy lepel. Dit kan nie wees nie, maar dit is.

      ’n Vlieg.

      Emily het dit gesien en druk haar hand oor haar mond om nie te giggel nie.

      Anthony vind dit egter nie snaaks nie. As ’n restaurant se bestuurder, kok en kelnerin slegs twee mense het om na om te sien, is so iets onvergeeflik!

      “Waitress,” sê hy met ’n stem kouer as sy sop vir die meisie wat steeds agter hom huiwer.

      “Sir?” tree sy besorgd tot langs hom.

      “Can you tell me what this is?” Hy besef die situasie is absurd, asof hy ’n speler in ’n grappie is.

      “Waiter, what’s this fly doing in my soup?”

      “I do believe it’s the breast-stroke, sir.”

      Daarom wag hy nie op ’n antwoord nie. “Please fetch the manager.”

      “I can’t, sir.”

      “May I ask why not?”

      “Because I’m afraid he’s dead.”

      Iets skerps gly by sy nek in. Anthony wil klap in die rigting van die brandpyn asof dit ’n insek is wat hom gesteek het, maar kry nie sy hand gelig nie. Sy hele lyf is eensklaps dood; hy sou uit sy stoel geval het as die kelnerin hom nie aan sy skouers vasgevat en hom regop gehou het nie.

      Die sensasie van skrik. Hy sou kon dink dit is daarvan dat hy so lam is en dat hy nou-nou weer sal kan beweeg, maar besef dit was ’n spuitnaald, hy is iets toegedien.

      Nou ruik hy aan die parfuum dit is nie dieselfde kelnerin as vroeër vanaand nie. Die ander een het ook donker hare gehad, maar dié een is Indies. Dood, het sy gesê – die bestuurder is dood. Dit sal beteken die ander kelnerin is ook vermoor, die regte een, en so ook die lyfwag in die kombuis.

      Oorkant hom, Emily se geskokte gesiggie. Só moes sy gelyk het die aand toe haar ouers om die lewe gebring is, en sy amper ook. Anthony sien hoe sy probeer beweeg en haarself nie sover kry nie.

      ’n Man stoot die swaaideur oop en kom tydsaam vanuit die kombuis na hulle toe aangestap. Dit is kwalik ’n stap, meer ’n gly-, amper ’n sweefbeweging. Hy dra donker klere, nee, gitswart, en in teenstelling daarmee is dit of sy kaalgeskeerde kop gloei in die dowwe lig.

      “Your uncle sends his regards,” kom die stem, ’n amper fluweelagtige timbre dog met ’n sterk aksent – Hollands? – en Anthony besef die man praat nie met hom nie.

      Emily het begin huil, net ’n enkele traan op haar linkerwang, maar haar gesig is vertrek. Sy kyk nie na die man nie, sy kyk na haar versorger en beskermer wat haar nie kan beskerm nie.

      Die