Chris Karsten

Die afreis van Abel Lotz


Скачать книгу

      Die afreis van Abel Lotz

      Chris Karsten

      Human & Rousseau

      Vir Udo en Ilse

      And now it was time to go – though in one sense he would never leave this place where he had been reborn, for he would always be part of the entity that used the double-star for its unfathomable purposes.

      – Arthur C. Clarke, 2001: A Space Odyssey

      1

      Oor sy skouer sê Rabie Saadi vir die twee polisiemanne: “Julle vat julle tyd, nè? Kan ’n moord wees, al die bloed en hare, en julle kom nou eers.”

      Hy sluit die laaste kamerdeur in die gang langs die brandtrap oop en staan opsy. “Wat help dit mens bel, doen jou plig as wetsgehoorsame burger, en dit vat vier ure voor die polisie opdaag? Ek’t ’n besigheid hier, kan nie heeldag sit en wag nie, tyd’s geld.”

      “Jy’s nie al wat bel nie.” Die sersant skuur met sy groot maag teen Rabie verby tot in die kamer. “Wat stink so? Die plek ruik vrot. Stink al jou kamers so?”

      “Dis wat ek bedoel,” sê Rabie. “Ons kon die kamer al skoongemaak het, as ons nie die hele dag vir polisie moes sit en wag nie.” Hy beduie met ’n wuif van sy hand na die stofsuier en mop en slopemmer in die gang langs die trollie met die lappe en borsels en bottels Ajax en Vim en Mister Clean. Skoon lakens en handdoeke lê opgevou op die onderste rak van die trollie. “Kyk na die plek, lyk of ’n vark hier geslag is.”

      “Dog jy sê moord? Ek sien g’n kadawer nie,” sê die tweede polisieman, ’n konstabel.

      Die sersant wys na die mat. “Is dit ou bloed, daardie vlekke?”

      Rabie kyk na die sersant. “Wat? Ek’s ’n hotelbaas, nie ’n bloedkenner nie.”

      “Die mat sal jy nie weer skoonkry nie. Laat kom maar die tapytmense vir ’n nuwe een.”

      Die konstabel druk ’n venster oop vir vars lug.

      “Die badkamer lyk erger,” sê Rabie.

      Die sersant loer by die badkamer in. “Hy hét iets hier geslag, sommer in die bad. En nie ’n vark nie, nie met sulke lang hare nie.”

      Rabie staan nader, beduie na die gekoek van ou bloed en hare in die bad, die taai spatsels en vlekke teen die teëls op die mure en vloer. “Die uitloop is verstop, ek sal ’n loodgieter ook moet laat kom.”

      “Eers nadat forensies klaar is.” Die sersant klik sy tong, suig aan sy tande, kyk om na Rabie. “En jy’t dit eers vanoggend ontdek?”

      “Nie ek nie, Evangeline. Het kom klop, en toe niemand antwoord nie, sluit sy oop en kry dié gemors.”

      “Die skoonmaker?” vra die sersant, vryf oor sy groot maag.

      “Huishoudster,” sê Rabie.

      “Maar dis ou bloed, lankal gestol. Kom maak Evangeline nie elke dag skoon nie? Watse vlooines bedryf jy hier? As die gesondheidsinspekteurs kom kyk, sluit hulle jou deure.”

      “Wat bedoel jy vlooines? Dis ’n ordentlike plek, dis net hierdie kamer wat so lyk. Residensiële hotel, dis wat dit is.”

      “Dis ’n bordeel, man! Almal ken die Sleep Inn. Wie bly in die kamers, hè? Die minister van polisie, speaker van die parlement, voorsitter van Anglo American? Dis hoere wat hier bly, Rabie. En strippers. Swaai saans aan daardie blink pale in jou kroeg.”

      “O, jy was al hier?”

      “Is dit hoe dit werk, hulle huur die kamers by jou, maand tot maand, en jy steek kommissie in jou sak vir hulle besigheid? Kontant, belastingvry?”

      “Eksotiese dansers,” sê Rabie. “Dis hoe hulle genoem word.”

      “Hoeveel kamers het jy?”

      “Vier en twintig.”

      “Almal beset?”

      “Nee. Ek hou ’n paar oop vir instapgaste.”

      “Soos hierdie een. Was hy ’n instapgas? Hoe lank het hy hier gebly?”

      “Maand en ’n half.”

      “En toe sommer net weggeloop.”

      “Vooruit betaal vir twee maande.”

      “Skuld jou nie huurgeld nie?”

      “Nee, behalwe vir ’n nuwe mat, en ’n loodgieter vir die bad se uitloop.”

      “Maar hy’t ’n deposito neergesit én twee maande vooruit betaal?”

      “Ja.”

      “Hy’t nie sy deposito teruggeëis toe hy weg is nie?”

      “Hy’s in die nag hier weg, sonder om iets te sê. Net weggeloop en die gemors gelos.”

      “Dis nie ’n misdaad om in die nag weg te loop nie. Jy’t die deposito en helfte van ’n maand se huurgeld vir skade.”

      “Maar dis ’n misdaad om iemand in ’n bad te vermoor. Ek soek nie sulke publisiteit nie. Dis sleg vir besigheid, vir my goeie naam.”

      Die sersant lag. “Jou goeie naam?”

      Rabie vererg hom. “Ek kon stilgebly het. Maar ek’s wetsgehoorsaam, ek’t gebel, vier ure met my vingers gesit en speel voor die polisie besluit om op te daag. Nou kom staan en praat jy van vlooines en bordeel en hoere. Is dit die dank wat ’n goeie burger van hierdie land kry as hy ’n misdaad aanmeld, hè, sersant?”

      “Wanneer laas het Evangeline hierdie vuil kamer kom skoonmaak? Is dit bloed daar aan die lakens ook? En al die vuil potte en borde daar by die stofie, kyk hoe aangepak is dit.”

      “Die plek is vol miere en kakkerlakke,” sê die konstabel. “Jy sal die fumigators ook moet laat kom. As die gesondheidsinspekteur . . .”

      “Ja, jy het dit al gesê.” Rabie beduie weer na die trollie. “Hy’t gesê hy wil nie gepla word nie, sal self skoonmaak. Evangeline moes soggens die trollie met die skoonmaakgoed en skoon lakens voor die deur los. Hy’t gesê hy’s siek, onder doktersbehandeling, slaap baie van al die medisyne. Evangeline sê die trollie staan al drie dae voor sy deur, die skoon handdoeke en lakens net so, dis hoekom sy vanoggend kom klop het. Sy dog hy’s dalk stil heen, met dié dat hy so siek was. Wil nie ’n lyk te lank in die kamer laat lê nie, jy weet, dis hoekom sy oopgesluit het.”

      “En sy’t aan niks geraak nie, jou net gaan roep? Hoe laat was dit?”

      “Sewe-uur vanoggend. Ek’t kom kyk en dadelik die polisie gebel.”

      “Oor jy dink dis moord? Waar’s die liggaam?”

      Rabie kyk na die sersant, sy gekrap aan ’n puisie of ingroeihaar aan ’n wang wat tril van die spek wanneer hy praat. “Hoe moet ek weet waar’s die liggaam? En lyk dit nie vir jou soos moord nie? Kyk al die bloed en hare. Dink jy hy’t homself net raak geskeer, aan die bloei gegaan, oor die vloer, in die bad? So erg raak geskeer dat daar spatsels aan die muurteëls is? En wat van die hare, hè? Dis swárt hare, nie syne nie, hy’t sulke yl vaal haartjies as ek reg onthou.”

      “Dalk ’n baard?”

      “Uhm . . . ”

      “Jy kan nie onthou nie, Rabie? Het jy jou gas dan nooit gesien nie?”

      “Ek’t hom min gesien, hy’t hom skaars gehou, nie gemeng nie. Verbeel my hy’t ’n baard laat groei.”

      “Hy’t nie in die kroeg ’n dop gaan drink en na die kaalgatte aan die pale gekyk nie?”

      “Nee. Hy’t gevra vir ’n kamer ver van die musiek en kroeglawaai af. Gesê hy’s siek, soek stilte.”

      “Kamer by die brandtrap, om ongesiens te kom en gaan,” sê die konstabel.

      “Sal jy hom kan beskryf vir ’n identikit?” vra die sersant. “Vir as forensies iets in die kamer kry wat op ’n misdaad dui.”

      “Wat van al die bloed?” sê Rabie moedeloos. “Is dit nie onwettig nie?”

      “Dis nie ’n misdaad om te probeer selfmoord pleeg nie. Om in die bad te gaan