Deon Meyer

Feniks


Скачать книгу

      

      Deon Meyer

      Feniks

      Human & Rousseau

      Aan kapt. Peter Lister en sers. Jeff Benzien van Moord en Roof in Kaapstad, baie dankie; ook aan maj. Otto, afgetrede SAP-wapendeskundige, en prof. Jan Olivier, voormalige hoogleraar in geregtelike geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

      Elke saak, elke dossier is soos om ’n krans uit te klim. Soms is die vashouplek, die trapplek maklik en jy vorder vinnig tot bo by die kruin, waar jy die lasbrief oorhandig, ’n netjiese pakkie van motief en bewysstukke, oorsaak en gevolg. Maar soms, soos dié een, is die krans glibberig en glad, sonder skeure waar jy voete en hande kan inwikkel. Jy klim en jy gly, klim en gly sonder vordering, sonder ’n pad na bo.

      “Tutta la vita è morte.”

      – GIUSEPPE VERDI

      Een

      In die middagstilte van 31 Desember dink Mat Joubert aan die dood.

      Sy hande maak die dienspistool, die Z88, met meganiese bewegings skoon. Hy sit in sy sitkamer, vooroor in die leunstoel, die onderdele van die pistool op die koffietafel voor hom, tussen laprepe, borsels en ’n oliebuis. ’n Sigaret in die asbak skei ’n lang, dun pluim rook af. Bo hom, by die venster na buite, vlieg ’n heuningby met eentonige reëlmaat teen die glas vas, ’n irriterende poging om uit te gaan na die somermiddag waar die suidoos liggies waai.

      Joubert hoor dit nie. Sy bewussyn sleep koersloos tussen herinneringe van die afgelope weke deur, tussen kronieke van die dood, sy brood en botter: Die wit vrou op die kombuisvloer, op haar rug, skepspaan in haar regterhand, omelet verbrand op die stoof, die bloed ’n bykomende spatsel kleur in die aangename vertrek. In die sitkamer, die seun, negentien, in trane. “Dit was ’n ongeluk. Die Here hoor my.” Die R3 240 in sy leerbaadjie se sak, die dik rol note, ’n klagstaat.

      Die man tussen die blomme: ’n makliker herinnering. Die Dood Met Waardigheid. Hy sien weer die speurders en uniformmanne op die oop nywerheidserf, tussen die grou fabrieksgeboue. Hulle staan in ’n kring, kniediep tussen die veldblomme wat geel en wit en oranje na bo beur. In die middel van die geregtelike sirkel lê die lyk van ’n middeljarige bruin man, klein van gestalte. ’n Leë bottel brandspiritus in een hand vasgeklem, die gesig na onder, die wang teen die grond.

      Maar sy oë is toe. En sy ander hand omvou ’n paar blomme, nou verwelk.

      Dit is die hande wat Mat Joubert die beste kan onthou.

      Op Macassar se strand. Drie mense. Die stank van verbrande rubber en verkoolde vlees wat steeds in die lug hang, die groep van die gereg en die media wat windop laer trek teen die grusaamheid van veelvuldige halssnoermoorde.

      Die hande. Kloue. Uitgestrek na die hemel in ’n versteende pleidooi vir verlossing.

      Mat Joubert is moeg gelewe. Maar hy weet hy wil nie só doodgaan nie.

      Sy hande plaas vyftien kort, vet 9 mm-patrone een vir een met duim en middelvinger in die magasyn. Die laaste een blink ’n oomblik lank in die middagson. Hy hou die patroon ooghoogte, duim onder, wysvinger bo, en kyk na die roesbruin loodpunt.

      Hoe sou dit wees? As jy die donker bek van die Z88 teen jou lippe druk, liggies, sonder om teen die tande te stamp, en jy druk die sneller versigtig, stadig, eerbiedig. Sal jy die loodkoeël voel? Pyn? Gaan gedagtes nog deur die onbeskadigde dele van die brein flits? Jou aankla van lafhartigheid net voor die nag om jou sluit? Of gaan dit so vinnig verby wees dat die klank van die skoot nie eens sal vorder van vuurwapen na oor na brein nie?

      Hy wonder: Was dit met Lara só?

      Haar lig net afgeskakel sonder dat sy geweet het van die hand by die skakelaar? Of het sy geweet en in die vlietende oomblik tussen lewe en dood alles gesien? Miskien berou gekry, of dalk ’n laaste spotlag laat opklink?

      Hy wil nie daaraan dink nie.

      Môre begin ’n nuwe jaar. Daar buite is mense met voornemens en drome en planne en geesdrif en hoop vir dié nuwe era. En hier sit hy.

      Môre sal dit anders wees, by die werk. Die nuwe man, die politieke aanstelling. Die ander kon oor niks anders praat nie. Joubert gee nie regtig om nie. Hy wil nie meer weet nie. Van die dood en van die lewe nie. Dit is net nog iets om te probeer oorleef, nog iets om mee rekening te hou, nog iets om die fut uit die lewe te pers en die Groot Roofdier nader te lok.

      Hy stamp die magasyn hard met die palm van sy linkerhand in die kolf in, asof hy sy gedagtes met geweld wil verplaas. Hy skuif die vuurwapen in die leerskede. Die olie en lappe gaan terug in die ou skoendoos. Hy suig aan die sigaret, blaas die rook in die rigting van die venster. Dan sien hy die by, hoor hy hoe die toonhoogte van die vlerke vanweë uitputting afneem.

      Joubert staan op, trek die kantgordyn weg en maak die venster oop. Die by voel die warm wind van buite, maar probeer steeds by die verkeerde paneel ’n pad uit vind. Joubert draai om, tel ’n olielap op en vee versigtig voor die venster verby. Die insek kom tot voor die opening en swiep dan uit na buite. Joubert maak die venster toe en trek die gordyn reg.

      Hy kan ook ontsnap, dink hy. As hy wil.

      Hy laat dié gewaarwording ook doelbewus wegsyfer. Maar dit is genoeg om hom impulsief te laat besluit. Hy sal vanaand oorstap na die buurtbraai. Net vir ’n rukkie. Vir die oujaar.

      Twee

      Die eerste stap in die herontwaking van Mat Joubert is fisiek van aard.

      Hy stap teen sewe-uur oor die boomryke straat van middelklas Monte Vista na die Stoffbergs se huis. Jerry Stoffberg van Stoffberg en Mordt, begrafnisondernemers in Bellville. “Ons is in dieselfde bedryf, Mat. Net verskillende takke,” sê hy dikwels.

      Die deur staan oop. Stoffberg sien Joubert inkom. Hulle groet, vra uit.

      “Met die besigheid gaan dit goed, Mat. Goeie tyd, nou. Dit is asof baie van hulle net vasbyt tot ná die feestyd,” sê hy terwyl hy die bier wat Joubert gebring het in die yskas sit. Die ondernemer het ’n voorskoot aan waarop staan WORLD’S WORST CHEF.

      Joubert knik net, want hy het dit al gehoor, en draai die prop van die aand se eerste Castle oop.

      Die kombuis is warm en gesellig, ’n middelpunt van geesdrif en vermaak. Vrouestemme vul die vertrek. Verkeerspatrone van kinders en mans vorm natuurlikerwys te midde van die vroue se gesprekke en rituele voorbereidings. Mat Joubert navigeer verby na buite.

      Sy bewussyn is na binne gekeer, sy waarneming ingetrek soos die voelers van ’n insek. Die warmte en huislikheid gaan by hom verby.

      Buite beweeg kinders soos skimme deur poele lig en donker, in eskaders verdeel volgens ouderdom, hoewel verenig deur hul sorgelose uitbundigheid.

      Op die donker stoep sit tieners in ’n ongemaklike, selfbewuste niemandsland tussen kindwees en volwassenheid. Joubert sien hulle vir ’n oomblik raak omdat hul lompe pogings om gemaklik voor te kom, hulle verraai. Hulle het oortree. Hy konsentreer tot hy besef waarvoor hulle skerm: die glase op die stoeptafel is gevul met verbode inhoud. Twee, drie jaar gelede sou hy daaroor geglimlag het, sy eie jare van storm en drang onthou het. Maar nou trek hy net weer die voelers in.

      Hy gaan staan by die kring van mans om die vuur. Elkeen se paspoort tot die groep is ’n glas in die hand. Elkeen staar na die skaap wat kaal en sonder waardigheid oor Stoffberg se spit draai.

      “Jissis, Mat, maar jy is groot,” sê Wessels, persfotograaf, toe Joubert langs hom kom staan.

      “Het jy nie geweet hy’s Moord en Roof se geheime wapen nie?” vra Myburgh, Bellville se verkeershoof, van anderkant die vuur. Sy oordadige snor wip met elke woord.

      Joubert se gesigspiere trek saam en ontbloot tande, ’n meganiese glimlag.

      “Ja, hy’s hulle mobiele padblokkade,” meen Sturridge, die kleinsakeman. Hulle lag met respek.

      Kwinkslae en opmerkings word heen en weer oor die sissende skaapvleis gegooi, alles intiem-versigtig