Etienne van Heerden

In stede van die liefde


Скачать книгу

sy nie kon regkry nie, klaar hy met enkele vrae op. Hy is veral goed met sy werkwoorde, sien sy, en dit gee die gesprek rigting.

      “Geloop – waar?”

      Op teerpad toe, kom die antwoord, soos Snaartjie altyd doen. Eers die Windvogelduiwe versorg, haar taak vir hierdie tyd van die dag, toe op na die pad toe. Met die viool en strykstok, die gekke kind. Mos aljimmers die musiek saam.

      Miss Edelweiss voel die verwytende blikke op haar.

      “Gesien – wie?”

      Die kinders wat daar agter die windpomp aan die rondspeel was; hulle kyk op, toe’s sy nog daar teen die pad, by die afdraai met die vlae, toe hoor hulle tussen die spelery deur een van daardie groot lorries naderkom, een van daardie gediertetrokke, en hy ry stadiger en hulle dink eers hy swaai af by die hoteldraai in, maar . . .

      “Stilgehou?”

      Hoe dan anders? Want toe die kinders opkyk van hul draadkarre en die paadjies wat hulle daar uitlê, toe is die lorrie weg en die pad is stil en dis net sonbesies en son en wind en die kale vlakte . . .

      “Mejuffrou Windvogel weg?”

      Hulle knik die koppe. “Skoonveld,” sê Freddie, en vee ’n traan uit die hoek van sy oog.

      “Polisie! Onmiddellik! Telefoon!” roep Eaglejohn oor almal se koppe, ontvangs se kant toe. Maar Miss Paai sit nie daar op haar pos nie; sy is hier by hom.

      “Sneller dan snel!” hits hy haar aan. Sy swart Raspoetin-oë blink; hy vee deur sy baard en troon bo almal uit.

      Miss Paai skommel foon toe, met hom agterna.

      Om Miss Edelweiss staan die mense en draai. Vorentoe lê die Suiderkruisderby. Die duiwe is vetgevoer en fiks; trillend van die energie sit hulle op hok. Wedywering tussen die families bou op. Die wedvlug word draer van ou vetes. Skinder maak wolk oor Platdakkies. Die dae word afgetel; duur saad is gekoop; als is reg. In die huise gaan dit tjoepstil; geen hok mag gesteur word nie. Die voor­vliegers, in kwarantyn, moet konsentreer.

      En nou dít.

      Hulle draai hul rûe op my, merk sy op. En sy vlug Morrissie toe. Inklim, ruite op. Troppie mense wat gesigte na haar draai. Verwyte. So gou? Is dit so gou dat dinge gebeur? Wegry, wieletjies wat maal in die stof; die torretjie wat wegwip, weg van ontsteltenis, Hochschule toe; dieper die onrus in.

      *

      As jy Piet Windvogel, Snaartjie se pa, wil verstaan, moet jy weet waarvandaan die draadspanner kom.

      Hy wat al die Karooplase – van hier tot by Sutterland, ook tot by Touwsrivier, en ja, so ver as Laingsburg en nog verder – soos die palm van sy hand ken. Bykans elke kampdraad het hy gespan, op elke plaas het hy die een of ander tyd jakkalsdraad reggemaak of sparre vervang. Deesdae is hy die eerste man waaraan die boere dink met hul nuwe gewoonte om wildplase vir toeriste in te rig en bygevolg hoë koedoeheinings te span.

      As iemand gehelp het om dié wêreld mak te maak, sê die mense, dan is dit daardie bitter ou draadtrekker met die skrefiesoë. Hy wat soos ’n akkedis in die son sit en uitrus, wat als sien en van als weet. Hy’t hulle almal getem: die rooijakkals, die gemsbok, die springbok en die duiker, die oewerkonyn en die volstruis – elke dier loop hom vas in Piet Windvogel se grensdrade.

      Maar wil jy sy bedonnerdgeit verstaan? Onthou dan hy’s van die voormense wat hier jag gemaak het lank voordat die Boere en die Engelse ingekom het. Vir die Windvogels is iedere een wat nie oerbloed van die Karoo het nie ’n inkommer. En sy kwaatgeit, so word vertel, kom uit die feit dat hy, juis hy, ’n lewe maak uit die opspan van die Groot Karoo in blokke weiding – hierdie stuk woestyn waar sy mense eens vry hand gehad het, waar hulle so rats soos die bok en so los soos die rolbos was. Net die wind was hul rigting; die honger hul grensdraad – hulle het nie ogiesdraad en hakiesdraad en nieshoutpale en konsertinahekke geken nie. Nie die Toegang verbode-bordjies wat deesdae, met al die plaasmoorde, so oralster aan plaashekke hang nie. Dis voor die wit man die veld opgedeel en name gegee het soos Voetpad en Houdconstant en Soebatsfontein. Dis daardie geheue van vryheid wat in die man veg terwyl hy met sy tang stoei teen die taai bloudraad, terwyl hy die vel van sy hande stukkend werk aan ogiesdraad en ysterpale.

      As jy mooi agter die kap van die byl kom, moet jy begryp dat Piet Windvogel, nes baie mense in hierdie land, sy voormense koppig verraai, dag vir dag, in die sweet van sy aanskyn en om brood op die tafel te sit. Want hoe, skinder die mense, kan jy oorleef in hierdie land as jy nie konstant jou voormense verraai nie? Kyk maar na die kok, Jeremy Sizwe van die Xhosas. Staan nou smôrens vir die einste wittes wat hom jare lank nie stemreg wou gee nie totdat hy in desperaatheid die wapen moes opneem, bacon and eggs en braai. So mak soos ’n lam. En die plaasboere wat hand om die blaas met die ANC-amptenare is wanneer diesulkes ’n slaggie opdaag en oor grondhervorming kom praat – daardie boere onderhandel stukkie vir stukkie dit wat hul voorouers as erfgrond geëien het, weg.

      En ons, die Matjiesfonteiners, ons van die haai Karoo? Ons staan ook maar by die grafte en sê: ons is jammer, Ma’tjie en Pa’tjie.

      Dís wat hierdie land is – een groot ekskuus aan die geskiedenis. Daar is nie ’n ander manier nie. Ons moet nou vorentoe; ons moet ons lywe swaai as ons anderkant wil uitkom; ’n haas voor die honde. Almal van ons.

      Woorde wat net laatnag in Platdakkies gehoor word.

      En daarmee saam dink die mense aan Piet Windvogel wat naweke sy opgekroptheid uitspook met sy bakleihond, Arieb, wat daar voor sy huis, net langs die duiwehok, op ketting lê. Naweke vat Piet sy ou bakkie en ry af De Doorns se plakkerskamp toe en daar stoot hy Arieb in teen die mongrels van die swart inkommers uit die Kongo en Zimbabwe. Tussen plakkershutte en op ’n oop stuk stofgrond, niemand weet mooi nie, jy hoor maar hier op Matjiesfontein van die hondedobbel. Daar baklei Piet die Saterdae wanneer daar nie wedvlugte is nie en kom terug met sy stukkende brak wat hy weer daar aan die ketting inolie en lawe en paai, en hom teen Donderdae weer begin koggel met ’n goiingsak om sy koerasie op te bou. Styf ruk die hond die ketting soos Piet Windvogel Arieb se woede uitspeel en die skuim drup soos die hond hom uitbaklei teen die sak waarmee sy baas hom piets terwyl hy hits en terg.

      Piet kom in die paadjie aan nes Miss Edelweiss se Morrissie met ’n stofstert agterna oor die eerste bultjie wegwip.

      Hy kyk die stof bitter agterna en tref die klossie mense nog voor die hotel aan.

      “Wat is dit oor my kind?” vra hy. “Ek hoor julle daar van my duiwehok af.” Die oë is dun geknyp teen die son en sy hande hang soos krappe aan sy arms. Dik die vel en die naels so hard soos beitels. Veral die regterhand, wat soos ’n groot rivierkrap altyd oop knypers het, is van die draadtang hanteer altyd onrustig. Hulle sê as Piet Windvogel jou gorrel met daardie hand vat, skeur hy jou asem skoon uit jou keel.

      Dis die hand wat die Bybel lig en in die lug hou wanneer Piet lekeprediker is en sy preekbeurt kom. Platdakkies se pastoor deel maar suinig preekbeurte aan lekepredikers in die gemeente uit, lugtig dat ’n gladdebek soos Freddie Portier of Piet Windvogel met sy bitter gehamer die gemeente van hom kan afrokkel.

      As Piet die preekbeurt kry daar in die ou hete saaltjie in Platdakkies, is dit swawel en vuur en ’n geween en ’n gekners van tande. Piet se Bybel dawer van die waarskuwings; God is die groot draadspanner en jy moet jou kamp ken.

      “Draadtrekkery,” snork Freddie by geleentheid ná so ’n preek as die lug na swawel ruik en die gemeente duiselig van die hellevaart in die helder son uitkom nadat Piet Windvogel klaargemaak het. Maar Freddie sê dit net teenoor sy gesin, en hy doen dit ook net in hierdie dae dat die Suiderkruisderby voorlê en jy dit nie kan verhelp dat allerlei kwaad vir die ander duiweboere in jou bors kom sit nie. Gewoonlik laat hy Piet Windvogel maar vuur spu en die Sondag daarna kom hy, Freddie Portier, met die mooiste liedere. “Ek is prediker van die vertroosting,” sê hy altyd, en laat die gemeente “Bly by my, Heer” drie keer oorsing totdat die trane van die wange loop en almal gepuur is van Piet Windvogel se donderweer. Maar nou, met die derby op koms, werk die duiwel met almal se koppe.

      Donderweer is nou aan die blits en Piet Windvogel vra: “Waar’s my kind?”

      Natuurlik,