Kerneels Breytenbach

Ester


Скачать книгу

      ESTER

      Kerneels Breytenbach

      Human & Rousseau

      Vir Queenie

      1

      ’n Sug, ’n blik, ’n hand wat uitreik en help. In die stilte van die oomblik is haar blik al wat tel – oë wat mekaar vind en hou.

      Ongeag wat ek later mag sê, is dít waar die verhaal begin.

      Daar, op Windhoek se stasie.

      Dit is Saterdag 1 Junie 1946. Alle oë is noordwaarts gerig, want om twaalf minute oor twaalfuur sal die trein van Walvisbaai, oor Swakopmund en Usakos, die stasie binnestoom. Rigting Kaapstad.

      Ek sien hoe die perron die trein tegemoetkom.

      Die dreuning van die bewegende trein, die geblaas van ontsnappende stoom, die klank van staal op staal soos die waens wiel vir wiel hul deel doen om die momentum te tem. Vir eers kom alles tot stilstand op die stasie se skoon perron, met die wye blou hemel en winterson as getuies van die verlies aan beweging en die vredigheid van daardie oomblik. Stasiepolisie onbeweeglik. Sandbakke vir sigarette op hul plek. Vuilisdromme en bankies waar mense kan sit, maar niemand veroorloof hulle nóú so ’n luukse nie. In die strate rondom die stasie is daar ’n geskarrel, maar dis nie genoeg om enigiemand te oortuig dat vandag anders sal wees as ander Saterdae nie. Prentjiemooi sekerlik, maar net vir hulle wat siende blind is. Sodra die trein voortgaan op sy tog, sal alles terugkeer na die naweekgevoel, lomerige luimigheid en die sekerheid dat die nag sy nuwe koue sal saambring.

      Vir die volgende agttien minute behoort die stasie aan adjudant-offisier Dieter Bergman en die Suid-Afrikaanse Polisie. Ingevolge ’n opdrag uit Pretoria, die vorige naweek ontvang. Sondag laataand, ’n hooflynoproep na die polisiekantoor op Piet Retief. ’n Ongewone oproep, soos die sentrale sou kon beaam. Die gesprek verrassend dog nie só sensitief dat dit nie herhaal kon word nie. Die beller was vol belangrikheid. Sy versoek was opdragte, sy rang die seël.

      Al wat die beller behoort te verbaas het, vernaam soos hy is, was dat Bergman nie self verbaas geklink het nie toe hy daar in Piet Retief se polisiekantoor eers sy pet met die foon se bakelietgehoorstuk effens weg van sy oor gedruk voordat hy begin praat het.

      Vir die duur van die oorlog het die AO hom in daardie Suidoos-Transvaalse uithoekie van die Unie bevind, besig om die pas in sy loopbaan te markeer, en dit net omdat hy so ’n Duitse agtergrond het. Sy bevordering, onverwags, het net vóór die oorlogsjare gekom. Die verlangsaming van verdere bevordering het vir hom begin met die Duitse suksesse in Europa. Hy het geen plesier daaraan nie om Duits te wees in ’n tyd waarin die stank van die era soos ’n kleed gedra word deur alle Duitssprekendes. Maar hy verduur dit, ter ere van sy moeder. Hy het selfs berusting gevind in die genetiese dwarsklap wat die lewe hom gegee het.

      Tye verander, gebruike nie. Soos dit vandag is, só was dit toe. Luister na ’n ou juris, wat weet.

      Iewers in Pretoria, dít sal Dieter Bergman besef, is ’n legger met sy naam daarop. ’n Assessering van sy bekwaamhede en tekortkominge, veral laasgenoemde. ’n Legger wat die afgelope week sekerlik voos gelees is deur die uitgelesenes met die hoogste range. Gebrom onder lang bolippe. Watse naam is dit dié? Duits? Geen aanduidings dat hy ’n Malanman is nie, nè? Toppolisieman. Ja, maar is sy hart op die regte plek? Nou, deur die grasie van húlle wat oor geregsdienaars se lot beskik, is hy opgeroep tot hoër diens, in opdrag van ’n Gekose Komitee van die Volksraad van die Unie van Suid-Afrika, om ’n oorlogtydse Duitse spioen van Windhoek na die Moederstad te begelei. Hy is die mees senior polisieman wat Duits volkome magtig is, en sy taak is nie alleen om dié Duitse spioen geselskap te hou nie, maar ook veilig. Te sorg dat niemand onbehoorlike geselsies aanknoop nie; die Duitsers is bekend vir hul vernuf met kodetaal.

      En hý wat in sy relatiewe eensaamheid op Piet Retief gedink het die oorlog is verby, Hitler en sy magte is verpletter, bevind hom skielik die bewaker van een van die laaste reste van die Duitse spioenasiediens, van die Noorde tot onder in die Kaap. Oorsiener oor een van die weinig flonkerende sterre wat oorbly van die Führer se verskote hemeltrans.

      Die winterson het net ’n uur of wat gelede finaal die greep van die nag se koue op die hoofstad van Suidwes-Afrika gebreek, maar AO Bergman merk hoe die sweet reeds van die portier se gesig tap. Sy eie uniform voel vir hom knap, beklemmend – maar dan, hy het goeie rede. Hy het ná ontbyt nog geen kans gehad om behoorlik stil te sit nie.

      Die brigadier sal baie tevrede wees.

      Die beller.

      “Jy sal weet wat aan die gang is, Bergman.” Die brigadier se stem, aanvanklik effens wollerig, het skielik skerp deurgekom met die hooflynoproep, sodat Bergman geen verwarring gehad het met die brigadier se Engels nie. “Maar dis onnodig dat die hele trein daarvan hoef te weet. Wil nie hê almal moet kom staar na die Duitse spioen nie, wil ons? Net die trein se personeel hoef te weet van Hitler se laat-bloeiende blommetjie. En jy. En jou konstabels.”

      “Konstabels?” het AO Bergman gevra. “Gaan ek hulle nodig hê?”

      “Ons sal vir jou twee in Pretoria gee wanneer jy hier aankom op pad na Windhoek.”

      Was dit ’n effense ergernis wat die Piet Retiefer in die brigadier se stem gehoor het? Die AO het vroeg in sy loopbaan al geleer dat mense met hoër range nie altyd gediend is om vrae van hul minderes te beantwoord nie. Ligloop. Die brigadier vra die vrae.

      “Wanneer verwag u my, Brigadier?”

      AO Bergman moes die bakeliettelefoon teen sy oor vasdruk, yskoud in die bitter winteraand, die polisiekantoor van Piet Retief so sonder enige verhitting en die windjie van Swaziland se gebergtes se kant wat die kwik onder vriespunt druk, aanvoelbaar. Hy het met ’n halfverkluimde hand begin aantekeninge maak. Dae, tye, treinskedules. Niks het die brigadier se oog ontgaan nie. Die AO was verbyster oor alles wat die brigadier vanuit Pretoria voorsien het. Alles presies en stip.

      Ná die oproep het hy instruksies vir die stasie se personeel gelaat en huis toe gegaan, om sy goed te gaan pak en gereed te kry vir die volgende dag se rit Pretoria toe, sonder om ’n woord teenoor enigiemand te rep oor sy opdrag. Streng volgens instruksies.

      Brigadier Thomas Butler is so Engels as wat kan kom. Vanweë sy rang lank nie meer in sy natuurlike habitat Johannesburg met die Rand Club as sentrum nie, maar ’n bekeerde Pretorianer en so gelukkig in sy koloniale herehuis in Arcadia as ’n otjie in slymgrond.

      Toe AO Bergman die brigadier die volgende dag van aangesig tot aangesig ontmoet, was daar twee konstabels by hom in die kantoor, penregop langs die kapstok. ’n Meubelstuk vir jasse en sambrele, volgens uniale reglement deel van senior offisiere se ameublement, maar in Pretoria gans oorbodig. Dit het by Bergman opgekom dat die konstabels só perfek geplaas is in die binne-ontwerp van die kamer dat hulle as noodsaaklike lewende huisraad beskou kon word.

      Laat daar nie van AO Bergman gesê word dat hy ongemaklik was in die geselskap van die brigadier nie, in elk geval nie soveel so dat hy dit gewys het nie. Die AO is al lank genoeg in sy amp om gewoond te wees aan die koloniale bombasme van sommige van die SAP se senior offisiere, maar hy het hom nog nooit as Smutsman áán hul kant of as Malanman téén hulle geplaas nie, nee, Bergman het die wysheid van een wat dinge hul gang laat gaan tot dit nodig is vir hom om in te gryp, het hy nie? Hy het Butler se breë bors en fier houding raakgesien, nes hy die brigadier se volmaak gevormde snorretjie en skoongeskeerde wange opgemerk het, tot en met die fyn lyntjie van ’n skeerwond naby sy linkeroor, gemaskeer deur die ewe fyn lyn van ’n Styptic-pennetjie. Brigadier Butler het twee ylblou oë soos Röntgenstrale ingespan om tot diep in Bergman se gedagtes te soek terwyl hy hom ingelig het dat hulle hulself bevind in die geselskap van konstabels Fitzsimmons en Bentley, “albei van die Rand, en albei Duits magtig op standerd 6-vlak. Bentley, moet ek my haas om by te voeg, is ’n Afrikaanse Bentley, wat sekerlik ’n getuigskrif is van ons nasiebou sedert Uniewording.”

      Die brigadier het gelag vir sy eie wysheid.

      En Bergman, hy wat vir die duur van die oorlog sy plek so goed geken het op Piet Retief, die vlieëniers van Sy Majesteit se Koninklike Lugmag by die lugmag-opleidingsentrum daar naby uit die moeilikheid gehelp het wanneer hulle die boere se dogters en diensmeisies