Karel Schoeman

Die uur van die engel


Скачать книгу

      Die uur van die engel

      (Stemme 3)

      Karel Schoeman

      Human & Rousseau

      Aankoms

      Lig, ruimte, gloed. Stof. ’n Lae land, ’n wye land van klip en bossies en doodgerypte gras, van leë skeure waarlangs die water in die reëntyd afkom; skaapwêreld, waar die plaasgeboue onbewoon staan en geen skape meer loop nie. Klipbanke, kliprante, klipkoppies, wisselend van kleur en gedaante onder die helder lig van die winterdag en die trae bewegings van wolke voor die son. Skadu skuif oor die veld en vul die leë skeure kortstondig met sy vloeiing, skadu stroom oor die heuwels en raak die land met die geheimsinnigheid van sy beweging. Daar is geen padwysers meer om die besoeker deur die leegheid te lei nie, die naambordjies verwyder en die plaashekke gesluit, die slotte verroes; die huis staan verlate met houtwerk wat kraak en bars, en ruite gebreek. Nog is daar verspreide spore van die lewe wat eens hier bestaan het, ’n spreuk teen ’n muur vasgespeld of ’n almanak aan ’n spyker, maar die muurpapier het begin lostrek, die sinkplate begin losraak, die vloerplanke wieg reeds onder die voete; voëls vlieg in en uit waar deure en vensters oopgelaat is en maak nes. Die lewe van vroeër het gewyk, en die enigste beweging wat oorgebly het, is die darteling van die voëls, die enigste geluid is die gekraak van ’n oopstaande deur wat heen en weer swaai op sy skarniere, die geklap van ’n sinkplaat wat losgetrek het, die getik van ’n tak teen ’n ruit. Dan is alles weer stil en die gebou het geen verdere inligting om te verstrek nie; maar oor die wye land daarbuite vloei die patrone van sonlig en skadu verder. In daardie wydte, tussen die heuwels, in die klowe, deur die roerlose stilte op die warmste van die middag sou die eensame soeker dalk die geheim kan vind, struikelend oor die los klippe teen die hange waar bokke van hul lêplek opspring, in die kloof waar bosduiwe opfladder en die water drupsgewys van die kliplys aflek. In die klowe tussen die koppe sou mens kan verdwaal, soekend op die warmste van die dag, al agter die ontwykende geheim waarop die landskap dui.

      Die heuwels skuif verby, die rante dein weg na die wasigheid van die verte; die skadu van die wolke skuif oor die land, oor die ontruimde opstalle en leë krale, oor die reguit, leë pad. Daar is geen padtekens meer nie, geen kilometertekens om die afstande aan te gee nie, en op herinnering en intuïsie reis mens verder, die verlede tegemoet. Hier êrens anderkant die kim moet die dorp geleë wees, hier êrens in die ongemerkte wydheid van veld, los koppies en heuwelgroepe lê die bouval van ’n huis, die toegegroeide graf, die ongemerkte klip; êrens, as mens weet waar om te soek, in hierdie wydheid waar geen merktekens oorgebly het nie, in die helder lig op die warmste van die dag.

      Die uur van die engel

      Kort ná middag op ’n weeksdag teen die einde van die somer in die jaar 1838 het die engel van die Here aan Daniël Josias Steenkamp verskyn waar hy sy broer se skape oppas in die veld. Hy – die engel – het, sover daar van die beskikbare getuienis vasgestel kan word, ’n plek in die lug ingeneem ongeveer drie duim bo ’n doringbos, of so staan dit mens in elk geval vry om af te lei uit die beskrywing wat die begunstigde self van hierdie gedenkwaardige gebeure nagelaat het.

      Die verskyning was natuurlik enigsins verrassend vir die jong boereseun, wat slegs sewentien jaar oud was, want al kan ’n sekere bekendheid met die Bybel in die omstandighede veronderstel word, en sou mens selfs die vermoede wil uitspreek dat hy met ’n platebybel vertroud moet gewees het, het hy min geleentheid tot opvoeding geniet, en sy ervaring buite die alledaagse werklikheid van die landelike lewe was beperk tot bywoning van die Nagmaalviering op Colesberg, waar hy ook enkele jare tevore aangeneem is. Dog hoewel verrassend, sou dit nie met volkome juistheid as onverwag beskryf kan word nie, nòg kan die siener as onvoorbereid beskou word, want toe die verskyning vir hom merkbaar word – die oningewyde aarsel hier enigsins oor die korrekte woordkeuse, lewendig bewus van sy onkunde aangaande die benodigde terminologie – was hy juis besig om te bid, soos sy gewoonte was waar hy hom oordag in die veld bevind met die skape, knielend op ’n plat klip met opgehefte hande en gesig na die hemel gekeer, die oë toe in die konsentrasie van sy gebed: hy was soos gewoonlik gekleed, so kan mens met redelike sekerheid uit latere getuienis aflei, in ’n hemp en velbroek, sy kaal voete in velskoene wat deur hom of sy broer gemaak is, en self noem hy in een van sy latere verse oor die onderwerp dat hy sy baadjie uitgetrek en onder ’n bossie opgevou het. Hy was bewus – so mag daar geredelik aangeneem word – van die hitte van die son op sy rug en die gloed van die klip onder sy knieë, maar volgens sy latere getuienis het hy volhard in hierdie ongemaklike houding, waaraan hy deur langdurige oefening reeds gewoond begin raak het. Dit het lank geduur voordat sy middaggebed beëindig is en hy sy oë weer oopmaak, en toe dit gebeur, was hy vir ’n oomblik verblind deur die felheid van die lig, want die son het kort tevore sy hoogtepunt bereik, maar toe hy gewoond raak aan die daglig en die vertroude landskap het hy tewens bewus geword van die nog groter helderheid van die verskyning voor hom.

      Hoe die engel presies gelyk het, kon Daniël Steenkamp in sy latere verse en verklarings oor die onderwerp nie vermeld nie, en ook wanneer hy uitdruklik hieromtrent uitgevra is, het hy volgens berig geen groot duidelikheid oor die onderwerp gegee nie, wat deur liggelowiges aangegryp is as rede om die verskyning in sy geheel in twyfel te trek, terwyl ander belangstellendes dit egter op meer welwillende wyse toegeskryf het aan die effense spraakgebrek waaraan hy ly. Gedagtig aan die platebybel wat reeds as hipotese geopper is, kan ’n wuiwende gewaad, vleuels en moontlik ook ’n swaard, ’n olyftak of ’n lelie waarskynlik veronderstel word, want die gegewens is skraal, en die eksegeet word gedwing om te woeker met die feite wat hy het. Wanneer hy in ’n hoek gedryf word en geen uitwyking moontlik is nie, het Steenkamp wel van ’n “jong man” gepraat, maar dit het slegs onder druk gebeur en met aanmerklike onwilligheid gepaard gegaan, en self het hy klaarblyklik verkies om die kwessie van geslag sowel as ouderdom in die midde te laat, en trouens sover moontlik enige verwysings na die verskyning te vermy: nie net het hy hom daarvan weerhou om te roem op die onderskeiding wat hom te beurt geval het nie, maar dit wil selfs voorkom asof dit hom aansienlike ongemak besorg het.

      Die engel het hom roerloos aangekyk, vlammend bo die doringbos (en hier is die eksegeet weer op vaste grond, want soveel is daar in verse vasgelê, alhoewel die nodige toelatings vir digterlike vryheid gemaak moet word); nie heeltemal in sy oë nie, maar ’n bietjie hoër, rakelings oor sy kop, asof hy wel van die knielende jong man teenoor hom bewus is, maar dit nie nodig ag om enige aanduiding van die feit te gee nie, nóg het hy ’n beweging gemaak of enige neiging getoon om te praat. By die jong man het dit ook nie opgekom om self ’n gesprek met die hemelse gesant te probeer aanknoop nie, en hy het dit as voldoende beskou om hierdie sigbare bekroning van sy gebed te aanvaar en met ooreenstemmende roerloosheid te betrag, knielend op die klip in die middagson met opgehefte hande en oop oë, bewus van die egtheid van die uitsonderlike verskyning soos hy bewus was van die gloed van die son, die hitte van die dag en die toenemende hardheid van die klip onder sy knieë.

      Hoe lank die woordelose konfrontasie van betragtende en betragte geduur het, kon Daniël by latere ondervraging ook nie met enige skyn van juistheid aandui nie: báie lank, het hy by geleentheid verklaar met die vaagheid wat sy geloofwaardigheid op so ’n noodlottige wyse ondergrawe het, dog ’n ander keer het hy toevallig te kenne gegee dat sy bewustheid van die bewegings van die skape tussen die bossies en van die wolke wat agter die rant opkom skaars deur die verskyning onderbreek is. Hoe dan ook, na ’n gegewe, onbepaalde tydsverloop het die verskyning weer verdwyn, of is dit in elk geval op een of ander ongepresiseerde wyse aan die oog onttrek: baie stadig, volgens ’n verklaring wat hy by ’n sekere geleentheid gegee het. Soos ’n wolk? is daar aan hom gevra, en hy het geantwoord, ja, soos ’n wolk. ’n Ander keer was sy presiese woorde in dié verband egter, “Schielijk was hij weg.” Daarna het die seun ’n vinnige blik op sy skape gewerp waar hulle verspreid is, traag op die hitte van die dag, en toe het hy hom in die skadu van ’n bossie uitgestrek om te slaap, want hy het besef dat hy baie moeg is. Dit was egter slegs die eerste van ’n lang reeks soortgelyke verskynings oor ’n tydperk van tien jaar of langer, en na ’n tydjie het die seun gewoond geraak aan die aanwesigheid en geselskap van engele waar hy in die veld skape oppas of andersins besig is, en het hulle vir hom vertroude metgeselle geword.

      Met inagneming van die lang tyd wat verloop het, die onbetroubare geheues van die bejaarde oorlewendes, die onvolledige kerkrekords uit die vroeë jare van ons gemeentegeskiedenis in die binneland,