Deon Meyer

Ikarus


Скачать книгу

na haar, ’n surrealistiese oomblik waarin hy haar glad nie herken nie, en dan laat hy sy kop terugval en maak hy sy oë toe.

      “Ag Here, Bennie,” sê sy en gaan sit in die gemakstoel langs die bank sodat sy ’n wakende oog kan hou. Sy dink: Sy is die swak een, sy is die drink-risiko, Bennie was so sterk. Waarom het sy dit nie sien kom nie? Hy was die afgelope tyd dalk stil, maar nie soveel meer as gewoonlik nie, hy was nog nooit ’n vreeslike prater nie. En ná alles wat hy deur is, en die werk wat hy doen … Daar was net geen teken nie.

      Sy moet Dok Barkhuizen bel, Bennie se borg by Alkoholiste Anoniem, die seningrige, eksentrieke mediese dokter met lang grys hare in ’n poniestert. Soms dra hy ’n oorring. Hy het ’n dik bril, wilde wenkbroue en ’n ondeunde gesig. Maar sy is lugtig vir hom, want hy is streng met Bennie, en hy hou nie van haar nie, ook nie van hulle verhouding nie. Hy het al dikwels vir Bennie gesê dis ’n resep vir moeilikheid, twee alkoholiste bymekaar, en die een ’n emosionele, wispelturige, middeljarige sangeres. En Dok is reg, want kyk hoe hulpeloos is sy nou. Sy moet sterk wees, soos Bennie was toe sý geglip het.

      Al waaraan sy nou kan dink, is om ook te drink.

      Sy staan eindelik op, soek versigtig na Griessel se foon, haal dit uit en soek Dok se nommer. Sy sien dit is die laaste een onder sy iPhone se Favourites. Sy is eerste. Dan Carla en Fritz, en ’n paar kollegas.

      Sy is Bennie se nommereen-favourite. Sy het dit nooit geweet nie. Sy wil weer huil, maar sy veg daarteen, en sy bel.

      “Bennie?” antwoord Dok Barkhuizen. “Dié tyd van die aand is nooit goeie nuus nie.”

      “Dis Alexa,” sê sy, die snik in haar stem, ondanks haar beste poging.

      “O, magtig,” sê hy.

      “Dokter, Bennie het …” Sy huil.

      “Hoeveel,” vra Barkhuizen kalm.

      “Baie.”

      “Daar is nie veel wat ek vanaand vir hom kan doen nie, maar dit klink vir my jy het hulp nodig.”

      “Ja.”

      En dan, tot haar eindelose verligting: “Waar is jy? Ek kom dadelik.”

      * * *

      Vaughn Cupido klik op die eerste skakel in kaptein John Cloete se e-pos. Dis ’n nuusberig op Netwerk24 se webwerf:

      App help jou om kat in die donker te knyp

      STELLENBOSCH – “Haal die stres uit stout wees” is die leuse én belofte van ’n nuwe slimfoon-app en webwerf wat Suid-Afrikaners gaan help om die kat in die donker te knyp – en daarmee weg te kom.

      Vryers wat ’n rotsvaste alibi nodig het vir ’n wegbreek-naweek met ’n skelmpie, of net ’n waterdigte verskoning soek vir ’n vinnige vuurwarm uur, kan voortaan op Alibi.co.za staatmaak om hulle te help lieg. Maar natuurlik teen ’n prys.

      Met lidmaatskap van R62.50 per maand sal voornemende verneukers toegang kry tot ’n hele spyskaart van oneerlike opsies: ’n SMS wat jou “na ’n vergadering ontbied”, gaan jou byvoorbeeld R25 uit die sak jaag, ’n telefoonoproep van jou “kantoor” is R125, terwyl kamma-registrasiedokumente en ’n fiktiewe hotelrekening vir die naweek se “werkskonferensie” tot R1 800 kan kos.

      “Kliënte kan self besluit hoe volledig hulle alibi moet wees,” het die stigter en besturende direkteur van Alibi.co.za, mnr. Ernst Richter, gister tydens ’n mediakonferensie in die Eikestad gesê. “Ons taak is om dit geloofwaardig en betyds te lewer.”

      “Slaan my met ’n snotsnoek,” prewel Vaughn Cupido, en hy dink dis geen wonder Cloete sê dié ding gaan ontplof nie. Hy lees verder.

      Op ’n vraag of dit nie huweliksontrouheid gaan aanmoedig nie, het Richter gesê webwerwe soos AshleyMadison.com en Maritalaffair.co.za skep reeds die geleentheid vir Suid-Afrikaners om verhoudings buite die huwelik te hê. “Statistieke toon dat honderde duisende reeds by dié webwerwe geregistreer het. Alibi.co.za wil hulle net uit die moeilikheid en die egskeidingshof probeer hou.”

      Dit was juis die plaaslike sukses van AshleyMadison wat aan hom die idee gegee het vir sy nuwe maatskappy. Soortgelyke alibi-dienste bestaan reeds etlike jare in die buiteland, maar Suid-Afrika was tot nou toe agter daarmee. “Jy het plaaslike kennis nodig om ’n suksesvolle alibi vir kliënte te bou. Boonop is dit weens die wisselkoers baie duur vir Suid-Afrikaners om oorsese alibi-dienste te gebruik. Ons pryse maak dit nou vir Jan en alleman moontlik om hul liefdeslewe stresloos en bekostigbaar te kan uitleef.

      “Ons nooi mense uit om soveel moontlik inligting te verskaf wanneer hulle op die webwerf of deur die slimfoon-app registreer, sodat ’n alibi die maksimum geloofwaardigheid kan dra. As jy byvoorbeeld aandui dat jy ’n bestuurspos in die bankwese beklee, verseker ons gesofistikeerde stelsels dat jy nooit ’n kamma-oproep van die kantoor buite werksure sal ontvang nie.”

      Richter sê Alibi.co.za se sekuriteitstelsels is uiters gesofistikeerd, en daar is geen kans dat gebruikers se inligting in die verkeerde hande kan beland nie. “Diskresie is ons dryfveer. Nie eens ons werknemers het toegang tot ’n kliënt se volledige profiel nie. Ons bied ook die alternatief van ’n skuilnaam, so ons weet in die meeste gevalle nie eens wie ons kliënte regtig is nie.”

      Bo en behalwe die uitgebreide reeks moontlike opsies waaruit kliënte kan kies, sal gebruikers ook hul eie alibi kan opstel. “Ons stuur dan dadelik ’n kwotasie vir die uitvoering daarvan,” sê Richter.

      Die maatskappy verwag dat sy gebruikersprofiel soortgelyk gaan wees aan dié van flankeer-webwerwe – sowat 48% vroue en 52% mans. “Ons aanvaar dat ons kliënte weens sosio-ekonomiese redes meestal bo 35 gaan wees. Die gemiddelde ouderdom vir vroue wat begin dink aan ’n buite-egtelike verhouding, is 39. Vir mans is dit 42.”

      * * *

      Cupido tik Alibi se webadres in sy Google Chrome-soekbalkie.

      Die Valke se internet is dié tyd van die aand vinniger as gewoonlik en die blad laai gou.

      Daar is ’n groot foto van ’n mooi paartjie in blougroen tropiese waters. Hulle gesigte is naby mekaar, liefderik en tevrede. Agter hulle is ’n sandstrand met palmbome. In die blou lug staan die legende:

      Alibi.co.za

      All pleasure. No stress.

      Die logo van die maatskappy is ’n wit duif in vlug, met ’n romantiese hart-ikoon in sy bek. Onder die foto: Register now, and take the “dangerous” out of dangerous liaisons, the “ex” out of sex. Put the “fair” back into affair. Satisfaction guaranteed, or your money back!

      Met balkies waarin jy jou naam en e-pos kan intik.

      11

      Daar is foto’s van advokaat Susan Peires teen haar kantoormuur. Francois du Toit het dit met die inkomslag gesien. Een van hulle is by haar gradeplegtigheid geneem, ’n paar dekades gelede. En Du Toit het gedink sy is een van daardie vroue wat aantrekliker geword het met die ouderdom, die jare het haar voorkoms versag, sodat sy nou in haar middeljare aantreklik is. Sterk en statig.

      Terwyl hy sy storie vertel, is hy vaagweg daarvan bewus dat iets aan haar vir hom ’n sekere gemoedsrus gee. Sy lýk na ’n instrument van geregtigheid. Dalk is dit haar kalmte, die innerlike krag wat sy uitstraal. Dalk is dit die feit dat sy nie haar hare kleur nie, die sout-en-peper van grys en donker wat aan haar ’n sofistikasie gee, ’n wysheid. Of haar gesig; daar is ’n forsheid in die suinige lyne, die haak van die neus, die mond wat iewers tussen dun en vol in die perfek neutrale, objektiewe teelaarde geval het, sodat dit nie oordeel óf goedkeur nie.

      Hy praat met al hoe meer gemak. Hy raak meegevoer deur die geskiedenis, sy geesdrif vergroot vir die moontlikheid dat dit wél as versagting vir sy sondes kan dien. Dit maak hom vry genoeg om al vertellende op te kom uit die stoel – eers daaragter, met sy hande op die leer van die leuning, en dan stadigaan te begin rondbeweeg in die groot kantoor.

      Hy vertel haar van die vrou wat deur sy oupa Jean swanger gemaak is.