Malene Breytenbach

Hoe kwesbaar die hart


Скачать книгу

tion>

      

      Hoe kwesbaar die hart

      Malene Breytenbach

      Hartklop

      1

      Brenda Wiechers teug aan haar slegterige kafeteria-koffie en raak al meer geïrriteerd. Die vier manstudente by die tafel naby hulle is duidelik besig om haar te bespreek, want hulle grinnik, praat sag en bekyk haar kort-kort onderlangs. Thomas Naudé, die aantreklikste, is natuurlik die voorbok.

      Sy maak of sy niks agterkom nie, maar dink wrokkig dat mans soos hy – ryk, bedorwe eerstespan-rugbyspeler met geen tekort aan meisies nie – altyd aanhangers het om mee rond te loop. Moet hy altyd so afstootlik arrogant wees? In haar eerste jaar het hy byna haar voete onder haar uitgeslaan, maar gou het sy hom vir ’n regte klein pierewaaier uitgekyk. Sy is lugtig vir mans oor die algemeen, maar veral vir sy soort. Dure ervaring het haar geleer dat hulle gans te gou vatterig kan raak. Dis asof hulle dink dit kom hulle toe.

      “En as jy so frons, waaraan dink jy?” vra haar vriend Eben.

      “Moenie nou kyk nie, maar dit lyk asof ek vanoggend ’n bron van vermaak vir Thomas Naudé en sy sidekicks is.”

      Eben loer diskreet. “Ja, hulle voer iets in die mou. Jare lank al word hulle gefassineer deur ons twee, die gay en die ysprinses. Ek het al gehoor ons is die sogenaamde gruesome twosome, maar dit kom natuurlik van ’n kat af wat eintlik op jou jaloers is. Die rede hoekom Thomas en sy trawante nog nooit vir ons moeg geword het nie, is oor jy so mooi is – jy weet, daardie voshare en groot blou oge. En tog so onbereikbaar. Thomas kan dit glad nie handle nie, want die meisies val mos op ’n streep vir hom. Hy het al die inhoud van die koshuise behoorlik deurgedraf.” Hy grinnik ondeund. “Dit maak hom mal dat jy altyd saam met my rondloop en hom ignoreer.”

      “Gmf.”

      “Jy is anyway te slim vir hom, my skat. Al waarin hy ooit goed gedoen het, is bedside manners. En dít kultiveer hy met die doel om vroumense se voete onder hulle uit te slaan.”

      Brenda glimlag geamuseerd. Skielik dink sy aan haar eerste kennismaking met Eben, toe hulle langs mekaar in die tweedejaarklas, hulle eerste jaar by die mediese fakulteit op Tygerberg, gesit het.

      “Jy is veilig by my, want ek is gay,” het hy gerym, en dit het haar hardop laat lag sodat mense omgedraai het om na haar te kyk. Sedertdien is hy haar beste vriend deur dik en dun.

      “Oeps, die pierewaaier storm reg op jou af,” fluister Eben met sy wenkbroue gelig. “Hy is nog nie moeg geprobeer nie.”

      Sy sit haar koppie neer en kyk op. Thomas is beslis op pad na haar toe, met ’n breë glimlag op sy gesig.

      “Hallo, Brenda … en Eben.”

      Sonder om sy glimlag te beantwoord, groet sy stug terug. Hy lyk egter geensins afgesit nie.

      “Ek het iets om jou te vra. My broer het so pas ortopeed geword en ons hou ’n partytjie om dit te vier. Wil jy my nie Saterdagaand daarheen vergesel nie? Dis by ons huis. My trotse ouers beplan ’n groot makietie – markiestent en spyseniers, die works.”

      Brenda kyk verbaas na hom. “Maar jy het tog ’n meisie? Neem eerder vir haar.”

      Die jongste een waarvan sy bewus is, is Mattie Vermaak, blond en wulps. Sy meisies val gewoonlik in so ’n kategorie.

      “O nee, ek is tans tussen meisies.” Hy grinnik. “Hoe lyk dit?”

      ’n Klein fronsie verskyn tussen haar wenkbroue. “Nee dankie, Thomas. Volgende week is die eindeksamen. Hierdie naweek wil ek rustig wees.”

      “Ag toe, chill ’n bietjie. Jy werk gans te hard. Ken jy die ou spreekwoord dat all work and no play makes Jill a dull girl?”

      “Dan is ek verbaas dat jy so ’n dull girl wil uitneem,” merk sy droog op.

      Sy nooi hom nie om te sit nie. Vaagweg is sy bewus daarvan dat mense na hulle kyk, want hy praat hard en dit trek aandag. Waarom het hy haar nie eenkant gekry en gevra nie? Hy maak dit so publiek, dink sy vies.

      “Ek gee jou tot vanmiddag om te besluit, dan vra ek weer.”

      Met dié woorde draai hy om en loop terug na sy tafel met grinnikende vriende.

      “Kan jy dit glo?” mompel sy.

      “Wel, my skat, dis dalk jou geleentheid om te sien how the other half lives,” spot Eben. “Die Naudés bly in ’n paleis teen Welgemoedrand. Die pa is ’n ortopeed, die ma ’n narkotiseur, en nou het die broer so pas ’n ortopeed geword. Hulle rol in die geld, soos jy weet. Thomassie ry mos al sedert sy eerste jaar op varsity sportmotors. Dalk inspireer hulle jou om ook eendag geld te maak.”

      Brenda trek vir hom ’n gesig. “Ek wil my medemens dien, nie net geld maak nie.”

      “Ag, jy weet ek terg maar net. Ek wil ook my medemens dien, maar ek word liewers eendag ’n patoloog, waar ek nie veel fisieke kontak met mense hoef te hê nie. Ek wil nie aldag en gedurig in hulle fondamente intuur nie.” Hy ril teatraal.

      “Jy’s verspot, my vriend. Ons is mos al gewoond daaraan. ’n Mens kyk bloot met kliniese belangstelling daarna.”

      “Poef. Jou kop staan ginekologie toe, want dan hoef jy nie met manlike pasiënte te werk nie – erken maar dis waar.”

      “Ag nee, Eben, dis nou verregaande om dít te beweer. Ek dink maar net dis wonderlik as babas gebore word, en ek wil help om dit te laat gebeur.”

      Hy snuif kastig beterweterig. “Dis ook maar goed so, want die manspasiënte sal net met jou lol. Jy het reeds al jou dae om hulle van jou lyf af te hou.”

      Gemaak kwaai gluur sy hom aan. “Jy kan darem oordryf!”

      Haar gedagtes gaan na die storie van die ontmoeting tussen haar verpleegster-ma en die aantreklike pasiënt wat haar pa geword het. Die huwelik het darem tien jaar gehou, voordat hy met ’n ander vrou weggeloop het. Lank genoeg vir haar broer Rolf en haar om gebore te word. Hulle ma het pas aan haar geboorte geskenk toe hy uit hulle lewens verdwyn het, en Rolf was amper tien. En hulle moes met hulle ma se verbittering saamleef.

      “’n Mooi man is almal se man,” het haar ma haar altyd gewaarsku. “Moenie vir die uiterlike gaan nie. Maak seker dat hy ordentlik van inbors is.”

      “Gaan jy nou die uitnodiging na die Naudés aanvaar?” pols Eben haar.

      Sy huiwer eers, maar dan knik sy. “Ja, ek begin dink ek moet. Uit blote nuuskierigheid om te sien how the other half lives, soos jy sê. Ek sal jou alles kom vertel.”

      Hy grinnik breed. “Ditsem! Sorg dat jy Saterdagaand stunning lyk. Vir jou is dit nie moeilik nie.”

      Gelukkig het sy darem ’n bietjie spaargeld en kan sy vir haar ’n rok vir die geleentheid aanskaf. Deur die jare het sy met beurse gestudeer en haar broer het met sakgeld gehelp. Sy twyfel nie dat die geleentheid by die Naudés baie deftig gaan wees nie. Sy het die afgelope tyd baie hard gewerk om voor te berei vir die eindeksamen, en sy kan haarself gerus met iets moois beloon.

      “Soos ek gesê het voordat ons so wreed onderbreek is: ons moet solank ons toekoms beplan,” gesels Eben. “Eers ons huisdokter-opleiding, en na ons Zuma-jaar kan ons Londen toe gaan en by een van die groot hospitale soos Guy’s gaan werk. Of die Wellington-hospitaal, lekker naby Lords, die krieketveld. Hulle betaal uitstekend, en ’n mens woon daar in by hulle dokterskwartiere. So kan jy spaar en reis en dalk nog ’n motor ook aanskaf. Terwyl my broer nog vir ’n paar jaar diplomaat daar gaan wees, moet ons die geleentheid benut. Skep terwyl dit pap reën. Na Londen stuur hulle hom dalk Mogadisjoe toe, of so ’n gat-plek.”

      “Klink goed.”

      Sy en Eben beplan al lank aan hulle toekoms. Sy wil so graag haar broer vir sy vrygewigheid vergoed. Na haar ma se dood toe sy in matriek was, het hy die rol van voog oorgeneem. Aan hom en Lisa, sy vrou, is sy oneindig dank verskuldig vir hulle liefde en onderskraging. Tydens die semesters het sy in die koshuis ingewoon, maar die meeste naweke en vakansies het sy by hulle op Stellenbosch gebly. In hulle huis het sy haar eie kamer, en Rolf het vir haar sy ou Volksie, Skigtige Saartjie, gegee waarmee sy