Rudie van Rensburg

Hans gee Herklaas horings


Скачать книгу

>

      

      Queillerie

      1

      Hans beskou die gebreekte toiletsitplek met misnoeë. Hoeveel keer moet hy nog vir diegene wat dik van boud en been is, sê om die trone in Huis Madeliefie met omsigtigheid te bestyg?

      Dis die derde brose sitplek wat die afgelope twee weke onder die gewig van onverskillige sitters swig. Net soos met die gebou se struktuur die geval is, is alle toebehore in dié plek op hulle laaste bene. Spieëls kraak, pype bars, teëls kom los, geisers gee in en die meeste plafonne hang boepens vanweë die lekkende dak.

      As Hans sy sin kon kry, verdien die bouers en ander kontrakteurs wat Huis Madeliefie destyds glo “in ’n rekordtyd” opgerig het, ’n vuurpeloton met skerppuntammunisie.

      “Ja-nee,” sê hy en beduie na die hopie plastiekskerwe wat eens ’n sitplek was, “die ellende staan vandag weer blou in die blom in ons geliefde herberg.”

      “Blou in die blom?” wil Breker van Eck, hoof van die ouetehuis, fronsend langs hom weet.

      Hans ignoreer hom. Woorde is nie Breker se forte nie. Brandy en Coke wel.

      Maar dis deur sý toedoen dat Breker hierdie posisie beklee, nadat Hans twee jaar gelede matrone Van Dussen en Esmeraldus se diktatuur met ’n staatsgreep omverge­werp het.

      Hans het ’n suiwer visie vir die tehuis in gedagte gehad. Hy wou wegdoen met kleingeestige reëls en regulasies. Huis Madeliefie moes ’n plesiervesting word – ’n plek waar oues van dae ’n laaste bandelose genotsgalop kan beleef voor hul­le die aftog moet blaas na ’n versorgingseenheid of die graf.

      Breker was die voor die hand liggende keuse om daardie visie vlerke te gee. Reëls en regulasies het nooit ’n lêplek in sy verwysingsraamwerk gehad nie.

      Maar nou sit Hans met die gebakte pere omdat hy nie die bouers se konkelwerk in berekening gebring het nie. As inwonende beheerraadslid van Huis Madeliefie moet hy die juk alleen dra om begrotings te laat klop, klagtes aan te hoor en hersteldienste in te kontrakteer. Hoewel Breker, wanneer hy nugter is, hard probeer, is sy agtergrond ’n blok aan die been. As ongeskoolde voormalige bokser met, vermoed Hans, ’n ligte graad van breinskade, is hy nie geskik vir die belangrike posisie van uitvoerende hoof nie. Dit was so goed as om ’n bobbejaan die oppasser van ’n vyeboom te maak, het Hans weldra besef.

      Daaraan kan hy nou nie veel doen nie. Breker sal hom tussen die haweloses bevind as Hans hier die mat onder sy voete uittrek. En Hans se gewete sal nooit so iets duld nie.

      Hy wend hom na die derde lid van die inspeksiespan, Aretja Davel, ’n verskrompelde sewe-en-tagtigjarige ou­jongnooi, oorspronklik van Jacobsdal in die Vrystaat, waar sy joga- en kunsklasse gegee het. “Daveltjie, en jy was glo die een wat op die verwoestingstoneel afgekom het?”

      Sy knik terwyl sy haar goeie oor na Hans draai. “Ja, ek was besig om my liddoring te behandel op die bankie in die stort, toe ek die geweldige slag hoor. Het my amper disnis geskrik en my toe sommer so in my evasgewaad soontoe gehaas. En daar kry ek toe vir Ousus Veenstra – lê onwelvoeglik ontbloot en kapstewels in die lug.”

      “Dit moes ’n afgryslike gesig gewees het,” mompel Hans, sag genoeg dat Daveltjie se goeie oor dit nie opvang nie.

      “Sy was gelukkig. Geen ernstige snywonde nie. Die susters van die versorgingseenheid is nou besig om die laaste paar kleiner skerwe te verwyder.” Sy gee ’n ondeunde laggie. “Hulle sê dit gaan maar moeilik om alles so tussen die voue op te spoor.”

      “Net ’n genade sy’s nie ernstig beseer nie,” sê Hans. “Ons begroting laat deesdae selfs Eskom s’n gesond lyk. Dit sou nie nog ’n eis van haar omgesukkelde kinders kon hanteer nie. Ons moes juis duisende opdok vir daai dakteël wat deur die plafon geval het en haar skedel gekraak het.”

      “Ja, Ousus bly maar ’n ongeluksvoël,” sê Daveltjie.

      Hans vervies hom. “Nie ’n ongeluksvoël nie, maar ’n halsstarrige ou merrie. Het mos geweier om soos die ander ’n hardehoed te dra wanneer sy in die speletjieskamer is.”

      Hy beduie na die hoop skerwe. “Breker, sal jy asseblief hier opruim? Ek sal Quick Repair kontak om ’n nuwe sitplek te kom insit.”

      Dit voel vir Hans of die tehuis se badkamers deesdae as ’n afsonderlike portefeulje hanteer moet word. Klagtes hou byvoorbeeld aan om in te stroom oor die onhigiëniese toestand van die vloere in die omgewing van die krippe in die mansbadkamers. Dit het Hans genoop om plakkate daar te laat opsit: Staan nader as jy korrel. Onthou, jy het ’n kortsnoet-­pistooltjie in jou hande, nie ’n langloopgeweer nie.

      Op pad na die deur steek Hans vas. “En Breker, versprei sommer weer van daai biljette oor latrinedissipline wat ek laas laat druk het onder die inwoners. Onderstreep die gedeelte oor sit- en korrelprosedures.”

      “Is dit daai purple biljette?” vra Breker.

      “Nee, die groenes.”

      Hans skud sy kop toe hy in die gang afstap. Soos met ’n kleuter, moet als vir Breker in kleure verduidelik word. Elke keer as Hans hom ’n opdrag gee, besef hy opnuut jy kan nie met nat hout vuurmaak nie.

      Hy sug innerlik. Op twee-en-negentig is hierdie verantwoordelikhede besig om sy gees te blus. Maar hy het dit oor homself gebring. Dis ’n bitter beker wat hy tot op die bodem sal moet ledig.

      Hans loop met ’n vinnige tred terug na die kantoor, tot so ’n mate dat hy hom ’n paar keer uit sy slip-ons stap. Hy het nou net een behoefte en dit is om by sy kamer te kom, die deur te sluit en op sy transistortjie na RSG se oggendboekvoorlesing te luister. Dit laat hom minstens van sy probleme vergeet.

      Maar eers moet hy Quick Repair van die landlyn in die kantoor af bel.

      Hy loer versigtig om die hoek voor hy die ontvangsportaal binnegaan, en kry dadelik benoudebors toe hy die tou voor die toe kantoordeur sien. Vyf, ses mense wat op hom staan en wag. Almal met klagtes oor die een of ander nuwe defek in die Madeliefie-murasie, dit weet hy.

      Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om terug te draai, die Quick Repair-oproep aan Breker oor te laat en te vra dat hy die spul toustaners se griewe lys, waaraan Hans dan later aandag sal skenk.

      Maar hy weet goed daar sal kaiings van kom. Met soveel verskillende klagtes sal Breker die kluts heeltemal kwytraak. En uiteindelik net dubbele werk vir Hans veroorsaak.

      Hy’t geen ander keuse nie. Hy glimlag wrang. Hans van Kraaienburg kan nie bekostig om nou trane te stort nie. Soos jy jou bed opmaak, so sal jy daarin slaap.

      Hy haal diep asem en pyl op die gegriefdes af.

      Toe ou Vaaltuin Marais hom gewaar, skiet sy baberbek dadelik oop. Hans kan nog nie hoor wat hy sê nie, maar wel al die skril gekerm soos ’n kat oor ’n derm.

      2

      Dannou Eckerts van die argiteksfirma Eckerts, Kleynhans, Lewis & Mabale in Kaapstad, stryk sy ligblou ontwerpersbaadjie vinnig met die hand reg. Dit het lelik gekreukel in die kar op pad Hermanus toe.

      Hy staan in die weelderige sitkamer van ’n vierverdieping-herehuis, verreweg die grootste in Voëlklip. Dit is maar een van glo sewe huise wat sy kliënte, Grond Graaffwater en sy vrou, Bernadette Smoelstra-Graaffwater, in die Overstrand besit.

      Grond sit-lê in ’n La-Z-Boy wat van krokodilleer gemaak is en Bernadette, wat besig is om haar vingernaels te verf, is skuins na hom gedraai. Sy sit op ’n bank met haar voete op ’n fluweelkussing; Dannou kan die bank aan die vloeiende lyne eien as ’n antieke Franse meubelstuk uit die vroeë 1800’s. Grond het ’n afskuwelike goudkleurige sweetpak aan wat styf oor sy maag span, en sy vrou ’n stemmige wit rok met ’n klein illustrasie van ’n Griekse eilandtoneel op die bors geborduur.

      Dannou wys na die skaalmodelletjie wat hy op ’n stinkhout-koffietafel staangemaak en pas onthul het. “Dit is nog ’n baie basiese model, soos ek oor die foon vir u genoem het, en laat geensins die prag en praal en die majestueuse en imposante teenwoordigheid van The