Connie Luyt

Waar onthou begin


Скачать книгу

      FIKSIE DEUR DIESELFDE SKRYWER

      Boekarest se blomme (1993)

      Rose vir Thalia (1999)

      Romanse op Maanbaai (2002)

      Kronkelpad na geluk (2003)

      Lisa (2005)

      Lang skaduwees in Afrika (2007)

      Reën oor die Serengeti (2009)

      Meer as een grens (2013)

      Uitgegee in 2020 deur Penguin Random House Suid-Afrika (Edms.) Bpk.

      Maatskappyregistrasienr. 1953/000441/07

      The Estuaries Nr. 4, Oxbow-singel, Century-rylaan, Century City, Kaapstad, 7441

      Posbus 1144, Kaapstad, 8000

       www.penguinrandomhouse.co.za

      © Connie Luyt 2020

      Alle regte voorbehou.

      Geen deel van hierdie boek mag sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of langs enige meganiese of elektroniese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat-, band- of CD-opname, of enige ander stelsel van inligtingbewaring of -verkryging.

      Eerste uitgawe, eerste druk 2020

      ISBN 978-1-4859-0446-5 (Druk)

      ISBN 978-1-4859-0462-5 (ePub)

      Omslagontwerp deur Monique Cleghorn

      Foto op voorblad met die vergunning van Daiga Ellaby op Unsplash.

      Foto op agterblad met die vergunning van Sylas Boesten op Unsplash.

      Teksontwerp deur Fahiema Hallam

      MY VERHAAL

      Waarheen gaan ’n gedagte wanneer dit vergete is? – SIGMUND FREUD

      WAARUIT BESTAAN GEDAGTES?

      Woorde. Altyd woorde.

      Idees. Veronderstellings? Aangeleerde reaksies. Nuwe uitvindings. Verwikkelde formules. Argumente.

      Maar altyd onderliggend is geheue. Van die vroegste weet van arms wat jou vashou deur al die fases en komplikasies van die lewe self.

      Geheue.

      Daarsonder is ons verlore.

      Dit is wat ek hier wil ondersoek in hierdie verhaal van my lewe.

      Hoe verander dit ’n mens as jy nie kan onthou wie jy is nie? En hoe belangrik word dit om herinneringe te kan vasvat? En wat word van ’n mens, hoe ontvou jou lewe as jy eers een keer als vergeet het?

      Hier volg my storie.

      Ek moet dit opskryf sodat dit nie verlore sal gaan nie, soos wat ek vir ’n lang tyd verlore was.

      En dit is dan waar ek begin.

      EEN

      DAAR IS WATER OM MY. Swaar water wat my na onder druk.

      As ek net my oë kon oopmaak, maar ek kan nie.

      My lyf is lam, my kop ’n leegte, maar ’n oerbewustheid dwing my om te veg teen die gewig wat my platdruk.

      Ek spartel, beur na bo, maar nes ek opkom sak ek weer terug, die donker newels in.

      Toe ek uiteindelik my oë oopforseer is alles uit fokus, skaduwees wat kom en gaan.

      Eers lê ek doodstil, hoor ’n gesuis. Is dit in my kop? Buite? My oë is halftoe, ek is bewus van lig, maar kan niks uitmaak nie. Weet nie waar ek is nie. Weet net die water wat op my gedruk het is weg.

      Nou voel dit of water in my longe en keel opstyg. Dit bruis al hoër tot ek voel ek wil versmoor. Ek kry nie asem nie, my tong is dik. Ek probeer my hand oplig maar kan dit nie beweeg nie. Newels kom en gaan saam met die golwe in my bors. Deur die gesuis in my ore hoor ek my asem. Hortend, blasend asof die lug uit my longe gesuig word. Angstig. ’n Gedagte wil-wil vorm, daar is ’n oomblik van helderheid voordat dit weer verdwyn. Die water wyk, die lug bol in my longe, en asof daar ’n skakelaar in my bors aangesit is, begin my hart galop.

      Waar is ek? Wie is ek? Ekweetnie. EKWEETNIE!

      Ek hoor ’n deur oopgaan, kyk in die rigting van die klank. ’n Skim kom in. Die gedaante in wit se vingers sluit om my pols. Ek dwing my oë wyer oop.

      “Jy is sowaar wakker!” sê ’n vrouestem.

      “Wa … wa … wa …?”

      “Jy is in die hospitaal. Lê net stil. Als is reg.” Ek hoor nog klanke, maar ek verstaan nie wat die vrou sê nie. Ek probeer my kop lig maar dis te swaar.

      Nog ’n skim staan langs my bed. ’n Man – dit weet ek darem. Hy skyn lig in my oë en hou ook my pols vas. Ek wil wegtrek maar ek kan nie. My asemhaling raak al vlakker en sweet loop teen my lyf af.

      “Sy is uit die koma, maar dit gaan nog ’n ruk neem voordat sy heeltemal by is,” sê die man.

      —

      Toe ek weer wakker word is dit donker. Weer swem ek teen die drukking van diep water, sukkel ek om bo uit te kom en dan, skielik, is ek wakker.

      Ek hoor ’n geluid. Was dit ek? Ek kyk om my rond, sien wit mure, ’n wasbak. Die man is weer in die kamer. Hy buk oor my, skyn weer lig in my oë en vryf oor my gesig. Sy hand sluit sag om my arm en ’n warmte vou om my. Sy stem is sag, maar ek verstaan nou elke woord, asof die newels in my kop opgelos het en ek helder kan dink, al kan ek my oë nie fokus nie.

      “Hallo, ek is bly jy is wakker. Ek is dokter Michael Stewart en ek is ’n neuropsigiater by hierdie hospitaal, een van die dokters wat jou behandel.”

      “Waasj—” My tong wil nie die woorde vorm nie.

      “In Addingtonhospitaal in Durban.”

      “Hoe … hoe …”

      “Jy is raakgery en het ’n ernstige kopbesering opgedoen. Jy is al meer as drie maande hier by ons. Kan jy vir my jou naam sê?”

      Te beangs om te praat, probeer ek my kop skud, maar dis seer.

      “Toemaar, lê net, ek sal vir jou vertel wat ons van jou weet. Jy het ingekom op ’n Donderdagmiddag so net ná twee. Dit was …” hy kyk na iets wat in die ligkol langs my bed is, “op 8 Desember.” Ek weet met ’n klein prik van sekerheid dit was ’n papier waarna hy gekyk het. Ek wéét iets. “Dit is vandag 28 Maart. Kan jy iets van die ongeluk onthou?”

      “H’m-’m.”

      “Jy het voor ’n motor ingehardloop. Behalwe die harde stamp teen jou kop het jy jou bekken gebreek en jou linkervoet ook. Daardie beserings is al feitlik gesond, en noudat jy wakker is, gaan al die ander dinge ook regkom.”

      “Ma … ma … wiesj?”

      “Wag nou, klein Pixie, word rustig, jy sal mettertyd onthou, kom ek sit by jou tot jy slaap.”

      “Môre, môre! En hoe gaan dit met die slapende skone?” ’n Kort, ronde meisie in wit staan langs my, haar glimlag soos ’n sonstraal. “Hallo, Pixie!” lag sy. “Jy is seker dood van die honger, ek bring nou-nou vir jou kos. My naam is Monja en ek en jy gaan nog groot vriende word.”

      “Pie-pieksjie?” Ek verstaan alles wat sy sê, maar ek kan myself nie verstaan nie. In my kop is daar net ’n groot wit niks. Asof die water weggetrek het en ’n vloedvlakte agtergelaat het.

      “Ons noem jou so. Ons het besluit jy lyk soos ’n Pixie met jou kort rooi krulletjies. Soveel mooier as die swart hare waarmee jy ingekom het. Ons moes dit natuurlik als afskeer vir die operasie.”

      “O– op– rasj?”

      Die deur gaan oop en ’n man in ’n wit jas kom in.

      Monja kyk op. “A, dokter