Engela Ovies

Draairivier


Скачать книгу

      

      Engela Ovies

      Draairivier

      Human & Rousseau

      Draairivier word opgedra aan

      my ma, Katrina Owies.

      Hoofstuk 1

      _____________

      1971

      Tjoef-tjaf, tjoef-tjaf klink my voetstappe op die nat gruis. Ek trek die rooi mus dieper oor my kop sodat my ore heel­temal toe is. Ek is nou spyt ek het die grondpaadjie gevat oor dit korter is.

      Of is dit omdat jy nie ander mense wil teëkom nie? vra ’n stemmetjie in my binneste.

      Ag, hoe ook al, praat ek terug, die teerpad deur die dorp is te lank. Augustus is die reën mos veronderstel om verby te wees, hoekom moet die weer juis vandag so mistroostig wees? Upington is gewoonlik al vrek warm nog voor die lente kom, maar vandag is dit asof die natuur ’n weerspieëling van my gemoed is. Dis nat en miserabel, en my voete voel yskoud in die sandale.

      Gister het ou Pyne my uit die bloute kantoor toe laat roep.

      “Jy’s op vir parool, Suzanna Jansen,” het die hoofbewaar­der op haar kortaf manier gesê. “Môreoggend is jy vry om te gaan. Vry om jou eie ding te doen.”

      Vry! wou ek vir haar skree. Om wat te doen? Waar begin ’n mens weer ná vyftien jaar in die tronk? As jy vir so lank net gewoond was om soggens jou eie bed op te maak? As jy heeltyd ander mense se orders moes uitvoer? Hoe moet ek weet hoe om weer soos ’n gewone mens te lewe?

      Die laaste jaar het hulle ons elke Woensdag in ’n lorrie geprop om by een of ander madam se huis te gaan werk. Tuinwerk, wasgoed was en stryk. Dit was omtrent al wat ons opgewonde kon maak, want dan het ons ’n slag ander dinge gesien. Soos die stasie, want ons kon in die tronk net die trein hoor, nie sien nie. En vandag gaan ek met daar­die einste trein ry.

      Ek gaan staan stil in my spore toe dit weer begin drup. My trane meng met die reën toe ek aan Agnes dink. Sal ek haar ooit weer sien? Nie net was sy my selmaat nie, sy het ’n vriendin geword, al is sy nege jaar jonger as ek. Met haar sin vir humor het mens altyd ’n glimlag om die mond gehad. Sy is nou eers ’n jaar in die tronk en moet nog twee jaar sit vir huisbraak saam met twee ander.

      Gelukkig het ou Pyne ’n sagte plekkie vir haar. Party­keer as ons in die washuis moes werk, het Pyne haar middagete met ons gedeel. Maar ook net as dit ek en Agnes was. Gewoonlik peanutbutter-en-strooptoebroodjies, klam gesweet in haar pienk kosblik. Dan sou Agnes altyd sê die soet is vir energie, ou Pyne weet mos hoe hard ons werk.

      Al kom Agnes al die pad van Klawer af, kom kuier haar mense gereeld een keer ’n maand vir haar. Meestal haar ouers, maar soms is haar broer en twee susters ook by. Dan is dit gewoonlik ’n lawaaierige gekuier in die kamertjie langs die selle, só erg dat die bewaarder ons kom stilmaak, of sommer net hard met haar staf teen die deur slaan.

      Dis nog iets wat Agnes met ou Pyne reggekry het – dat ek altyd saam met hulle kon kuier. “Ag, die stomme mens kry nooit besoekers nie, mevrou Goosen,” het sy mooi gevra.

      Dis einste as sy in ou Pyne se goeie boekies wou kom dat sy onthou het om haar as mevrou Goosen aan te spreek. Anders was dit bewaarder Goosen, soos al die ander sê. En tussen ons twee ou Pyne. “Want sy’s nes ’n pyn al op ’n mens se stert!”

      Ek sal moet roer. Halfnege, sien ek op die plastiekhorlo­sie wat ek by een van die madams gekry het. Ou Pyne het dit vanoggend vir my gegee saam met die koevertjie geld wat Agnes se ma by ontvangs gelos het.

      “Die antie het gesê dis vir jou treintieket,” het die hoofbewaarder gesê toe sy my met ’n swaar hand op die skouer groet.

      Ek onthou hoe Agnes my vasgehou het toe ons moes afskeid neem. Ek trek die geel krimpelienrok wat net bo­kant my knieë sit af en stap aan. Sy het besluit ek moet dié rok vat.

      “Jy gaan dit vandag aantrek, Sanna. Die soom sit bietjie hoog, maar jy het mooi slanke bene.”

      Ek voel in die rok se sak of die geld nog daar is. Sulke goeie mense, die Wattse. Dankie, antie Lyn! As dit nie vir jou was nie, waar het ek vandag beland?

      Die hartseer van jare se alleenwees kom lê weer loodswaar in my bors. Nee, ek gaan nie nou daaraan dink nie!

      Die trein vertrek negeuur en ry net tot in Kakamas, het ou Pyne my laat verstaan. Dan moet ek op my eie sien hoe ek in Suurvlakte gaan kom. Eintlik is dit ’n goederetrein wat net ’n handvol mense laat saamry as daar plek is.

      Ek is so haastig om nie laat te wees nie dat ek die gat vol water in die pad skoon miskyk. Woerr! jaag ’n blou Ford-bakkie deur die water en spat my klere nog natter.

      “Jou vark!” skree ek agter hom aan.

      Ek kyk na die modderkolle op my rok en voel trane in my oë brand. Die jare in die tronk het my vel gebleik, maar nou lyk ek weer bruin, soos voor ek opgesluit is. Ek maak sommer so in die loop die sak met my klere oop, haal die bloes waarmee ek destyds tronk toe is uit en vee my arms en bene af. Dis in elk geval al vodde. Ek gaan die sak by die treinvenster uitgooi sodra ek die kans kry.

      ’n Man en vrou kom onder ’n groot sambreel aangestap. Hulle kyk na my en lag. Ek voel hoe paniek in my opwel. Gaan dit altyd só wees? Gaan dit altyd voel of almal kan sien ek was in die Gemkor Upington Gevangenis?

      “Glimlag net, Sanna,” het antie Lyn altyd gesê, “en die lewe sal jou ontvang.”

      Ek kyk terug. Dis nou te laat, antie Lyn, die eerste mense is al verby!

      Ek moet onthou om vir die kaartjiesman by die trein te glimlag. Die hekwag het vanoggend tot vervelens toe be­duie hoe ek stasie toe moet loop. Hy’t seker vergeet hoeveel keer ek al in my tronkklere hier verbygery het. Maar nooit was ons gelukkig genoeg om die trein te sien nie, net die leë spore.

      Toe ek naby die klein rooibaksteengebou kom, sien ek daar is nog ’n deur langs die kaartjieskantoor. Dit het seker onlangs eers oopgemaak. In vet swart letters staan KAFEE in ’n boog bokant die deur geskryf. Ek voel skielik honger, want ek kon vanoggend nie die dun tronkpap eet nie.

      Ek loop by die kafee in en koop ’n pakkie chips. Goeiste, die plek is duur! Ek hoop my kleingeld is nog genoeg vir ’n kaartjie tot op Kakamas.

      Toe ek uitkom, sien ek die kaartjiesman staan en wag al langs die trein. Rooi hare, dieselfde kleur as sy baard, krul onder sy pet uit.

      “Twaalf rand!” blaf hy in my gesig toe ek vir ’n kaartjie vra.

      Ek is so verlig dat ek sommer al die kleingeld wat oor is van die twintig rand in sy hand sit.

      “Hier!” Hy druk die orige munte in my hand. “Jy kan daar sit.” Hy beduie na ’n smal bankie in die beknopte kom­partement.

      Ek maak my klein langs die vrou wat klaar omtrent die bankie vol sit. Ek moet seker bly wees dat ek langs die enigste venster beland het. Oorkant ons sit ’n man en sy vrou, met ’n kind van omtrent so twee jaar op haar skoot. Agter hulle is sakke mielies en koring tot teen die dak gepak. As een beweeg, skuur ons kniekoppe teen mekaar.

      Ek wip soos ek skrik toe die trein hard fluit en rukkend in beweging kom. Dan spoed ons seepglad oor die spoor. Gou is ek bitter spyt dat ek langs die venster sit. ’n Yskoue wind waai by die kompartement in. Dit voel behoorlik of ons in ’n oop trok ry.

      Dit lyk of die vet vrou langs my slaap, terwyl die gesin voor my hulle bes doen om almal onder die babakombers in te pas. Almal is stil. Ek bewe só van die koue dat ek ongemerk probeer om my voete in die plastieksak met my klere te druk.

      Om van die koue te vergeet, konsentreer ek op die geluid van die treinwiele, die geklik van staal op staal. Die kind lê met groot wakker oë in haar ma se arms. Uiteindelik roer die vrou langs my. Sy haal ’n handdoek uit haar sak en hou dit na my uit. Ek glimlag bewerig my dankbaarheid en trek dit oor my skouers.

      Ek staar deur die venster na die veld. Verbeel ek my of kry ek die reuk van damwater, skaapkraal en vuurrook? Nee, ek gaan nie weer daaraan dink nie! Die verlede is dood, dis begrawe. Ek gaan nou