Ray Kluun

'n Vrou gaan dokter toe


Скачать книгу

ion>

      

      ’n Vrou gaan dokter toe

      Ray Kluun

      Tafelberg

      “A portrait of love, flawed, painful, and yet true, as it is in real life.”

      -Daily Mail, Brittanje

      “’n Radikale Love Story vir die 21ste eeu.”

      -Der Spiegel, Duitsland

      ′Wrample [wrêmpel] [< Eng] lett.: written sample: ’n musiek- of teksfragment wat in ’n geskrewe teks gebruik word. Vgl.: om te wrample, wrampling. Variant van wat in die musiek <spesifiek hip-hop en house> bekend staan as ’n sample; ’n musiekfragment van een klankopname wat as ’n onderdeel van ’n ander musiekstuk gebruik word.

      Monofo′bie [< Gr] sieklike angs vir ’n (seksueel) monogame lewe, wat onder meer ’n dwangmatige behoefte aan affairs tot gevolg het.

      Yesterday, all my troubles seemed so far away …

      The Beatles, uit “Yesterday” (Help, 1965)

      Deel 1

      Steyn & Carmen

      1

      What the hell am I doing here, I don’t belong here …

      Radiohead, uit “Creep” (Pablo Honey, 1992)

      Die gemiddelde gaan nou mooi opskuif, dink ek by myself toe ek die derde keer in ’n paar dae deur die draaideur van die Lucas-hospitaal loop. Dié keer moet ons op die eerste verdieping wees, kamer 105, staan daar op Carmen se afspraakkaartjie. Mense sit die gang waar ons moet wees vol. Net toe ons tussen hulle wil inwurm, wys ’n ou man – wat te opsigtelik ’n haarstuk dra – met sy kierie na die deur.

      “Julle moet eers binne gaan aanmeld.”

      Ons knik en loop kamer 105 ongemaklik binne. Dr. W.H.F. Schoeman, Internis staan op die bordjie langs die deur. Dié vertrek is eintlik die wagkamer – die mense sit in die gang omdat dit reeds vol is, sien ek nou. Met ons binnekoms daal die gemiddelde ouderdom van die wagtendes met etlike dekades. Ons word goed deur die ander pasiënte bekyk, byna meewarig. Ook ’n hospitaal het sy rangorde. Ons is ooglopend nuwelinge, ons is die toeriste van die wagkamer, ons hoort nie hier nie. Maar die kanker in Carmen se bors dink heel anders hieroor.

      ’n Vrou van sowat sestig wat in ’n hospitaalrolstoel sit, met in haar knokkige hande net so ’n afspraakkaartjie soos Carmen s’n, in net so ’n plastiekomslaggie, bekyk ons skaamteloos van kop tot tone. Toe ek dit agterkom, probeer ek ’n meerderwaardige houding aanneem – ek en my vrou is jonk, mooi en gesond, en dit kan julle nie sê nie, julle klomp ouballies, moenie dink ons gaan hier bly nie, ons is voor julle jul oë kan uitvee weer weg van hierdie kankergemors. Maar my lyftaal speel nie saam nie en verklap my onsekerheid. Asof ek in die kroeg De Bommel in Breda instap en aan die spottende blikke agterkom dat ek duidelik te Amsterdams aangetrek is en net daar spyt is dat ek die oggend my pienk hemp en slangvelstewels aangetrek het. Carmen is ook nie op haar gemak nie. Dit is die oomblik van waarheid: Ons is van nou af doodgewoon deel hiervan.

      In kamer 105 is daar ook ’n aanmeldtoonbank en dit lyk asof die verpleegster agter die toonbank ons gedagtes kan lees. Sy vra gou of ons nie liewer ’n bietjie in die kamer langsaan wil sit nie. Net betyds, want uit die hoek van my oog kan ek sien Carmen word weer tranerig. Ek is bly ek hoef nie tussen daai amperse lyke in die wagkamer of die gang te sit nie.

      “Dit moes ’n geweldige skok gewees het, eergister,” sê die verpleegster toe sy met koffie terugkom. Ek begryp dadelik dat die geval Carmen van Dyk op die afdelingsvergadering bespreek is. Sy kyk na Carmen. Daarna na my. Ek hou my dapper. ’n Verpleegster wat ek tot vyf minute gelede nog nooit gesien het nie, hoef nie te weet hoe verlore ek voel nie.

      2

      Bij mannen die op een hoeveelheid vrouwen jagen kunnen we gemakkelijk twee categorieën onderscheiden. De ene zoekt in alle vrouwen zijn eigen en subjectieve droomvrouw. De andere wordt gedreven door een verlangen de oneindige verscheidenheid van de objectieve vrouwenwereld te grijpen.

      Milan Kundera, uit De ondraaglijke lichtheid van het bestaan (1984)

      Ek is ’n hedonis wat aan erge monofobie ly. Die hedonis in my dink Carmen is pragtig – dit het ons onmiddellik laat kliek. Maar met my paniese angs vir monogaam wees was sy van meet af aan minder gelukkig. In die begin het sy nog gedink dit is in die haak. Sy het gedink al die stories uit my verhoudingsgeskiedenis – die een affair na die ander – is heel vermaaklik, en het dit eerder as ’n bykomende aantrekkingskrag beskou en nie as waarskuwing nie.

      Totdat sy ’n jaar later – ons het nog net saamgewoon – agtergekom het dat ek Sharon, die ontvangsdame van BBDvW&R/Bernilvy, die reklameagentskap waar ek toe gewerk het, gespyker het. Toe het sy vir seker geweet dat ek nooit getrou sou wees of selfs sou probeer wees nie. Jare daarna het sy my vertel dat sy ná Sharon op die punt gestaan het om my te los, maar dat sy my te lief gehad het. Pleks daarvan het sy haar voorgeneem om my affairs stilswyend te verduur en dit as ’n slegte eienskap te sien wat nou eenmaal deel van my is. Sommige mense krap in hul neus, ander het affairs. So iets. Op dié manier het sy haar emosioneel beskerm teen die gedagte dat haar man “sy piel baie gereeld in die doos van ander vroue steek”.

      Teenoor my het sy al die jare volgehou dat sy my sou los as ek haar ooit weer, soos met Sharon, om die bos probeer lei. Só wou sy sorg dat ek my eskapades ten minste vir haar probeer wegsteek. Dit het sy reggekry.

      Die daaropvolgende sewe jaar was ons die gelukkigste paartjie in die Westelike Halfrond en omstreke.

      Tot drie weke gelede, toe Carmen my bel waar ek saam met Frenk probeer wakker bly terwyl die produkbestuurder van Holland Casino staan en kak praat.

      3

      It’s the end of the world as we know it …

      REM, uit “It’s the End of the World as We Know It” (Document, 1987)

      In casino’s kry jy Chinese, moegoes en vroue in poliësterrokke, maar nie ’n enkele lekker girl nie. Afskuwelik.

      Toe die produkbestuurder van Holland Casino ons bel en sê hy wil dalk van die dienste van die creative & strategic marketing agency Merk in Uitvoering gebruik maak, het ek hom vertel ek is mal oor casino’s.

      Holland Casino is seker minstens honderd uur per jaar werd, het ons gedink, en vanmiddag sit ons in die casino op die Max Euwe-plein in Amsterdam. Die produkbestuurder wou gehad het dat ons ’n “bietjie kom kyk wat in die hart van een van sy emporiums aangaan”. Ja, “emporiums”. Dit is die soort woorde wat ons kliënte gebruik. Ek kan dit nie help nie. Hulle het ook al iets kwytgeraak soos “met die voete op die tafel kan ons ’n lekker dinkskrum hou”.

       Ons, dit is nou ek en Frenk, verkoop ure by Merk in Uitvoering. Ambagsmanne maak dinge. Daar is ook mense wat goed verkoop. Ek en Frenk verkoop nie dinge nie, maar ure – minder eervol, maar net so nuttig. En dis nie eens asof ons self die ure maak nie. Die grootste gros van die dinkwerk by Merk in Uitvoering word gedoen deur ses outjies en meisies van so iets in die twintig, almal Sturm und Drang-tipes, soos ek en Frenk vroeër was, toe ons nog nie vir onsself begin werk het nie. Die dinkwerk van ons slim twintigers skaaf ek en Frenk so ’n bietjie reg, ons sit dit in ’n verslag, laat ons sekretaresse, Maud – ’n ontsettende lekker ding – dit in ’n mooi omslag sit en dan lê ons ons geestesgoedere met groot selfversekerdheid aan ons kliënte voor. Húlle reageer deurgaans entoesiasties daarop, komplimenteer ons uitvoerig en doen dan niks verder daarmee nie. En dan gaan ons aan met die volgende duur verslag vir ’n kliënt. Só werk ons sakemodel.

      Frenk stel die vrae waarvan hy weet kliënte hou, die produkbestuurder probeer die wêreldkampioen van inligtingsoorlading word en ek maak asof ek luister. Laasgenoemde het ek tot ’n kuns vervolmaak. Die kliënt dink dan ek breek my kop oor sy bemarkingsprobleem. In werklikheid dink ek aan seks, uitgaan of Ajax. Soms het ek nie die vaagste benul van wat ’n kliënt pas gesê het nie, maar dit maak nie soveel saak nie. ’n Beeld van verstrooidheid – in kombinasie