Suzette Truter

Hoe gemaak met my dikmond kind?


Скачать книгу

title.jpg

      Erkennings

      Ek sou nie hierdie boek kon saamstel sonder verskeie mense se hulp nie.

      Talle sielkundiges, terapeute, dieetkundiges en ander kenners het gehelp met professionele advies. Ek kon op soveel ouers se nommer druk vir praktiese wenke, raad en vrae. Baie dankie vir jul tyd, moeite, geduld en besonder waardevolle insette.

      Die name en kontakbesonderhede van die kenners is op bladsy 212.

      Voorwoord

      ’n Mens leer baie by ’n laatlam.

      Met my tweede ronde kinderpartytjies, Kalla-en-Vlooi-leesboekies en kleuresport met my derde kind – elf en dertien jaar jonger as sy sussies – het ek besef dat sy maats se ouers hulle oor baie dieselfde dinge bekommer as dit waaroor ma’s en pa’s hulle ’n dekade of wat gelede gekwel het, toe my dogters nog op laerskool was.

      Ja, natuurlik is daar talle nuwe uitdagings ook, maar op die ou end wil ouers steeds eintlik net hê hul kind moet oukei wees.

      Die goeie nuus is dat daar die afgelope jare baie terapieë en tegnieke ontwikkel is, juis om te verseker dat “gewone kinders” so oukei moontlik is. Selfs beter as oukei. Tuis, by die skool en tussen maats.

      Elke kind is uniek en geen antwoord is honderd persent van toepassing op elkeen nie. Die doel van die boek is om enersyds kenners se professionele perspektief op die probleem te gee, en andersyds ouers se prakties beproefde wenke en raad. Tussenin is daar oorgenoeg inligting om jou te help, of in die regte rigting te stuur.

      Ek hoop jou vraag word beantwoord.

      En bowenal hoop ek die boek gee jou insig in die leefwêreld van jou kind.

      Gedrag

donderwolk_1.jpg

      Buie, geite en skielike (en nie so skielike) streke

      VRAAG 1

      My tienjarige dogter is dikwels dikmond as iets haar pla. Haar hele houding sê dit. As ek uit haar probeer trek wat hinder, skud sy net haar kop. Met baie pamperlang kry ek haar inskikliker, maar sy laat my tog verstaan sy is nie regtig tevrede nie. Dan voel ek soos ’n onbekwame ma.

      ANTWOORD

      Jy kry verskillende grade van dikmond. Daar’s nie ’n greintjie navorsing agter dié stelling nie, maar elke ma weet dit! Die kuns is om te leer wat agter elke dikmond sit.

      As jou kind ’n lang lip inspan met die uitsluitlike doel om jou aandag te kry, kan (en moet) jy korte mette daarmee maak, reken die Kanadese ouerskapskrywer Steve Biddulph. As jy heeltyd aandag aan ’n dikmond kind gee, maak sy gou die som: As ek net lank genoeg mislik en negatief is, kry ek hope gratis aandag en liefde. Maar in die “regte” wêreld werk dit nie so nie. Jy doen haar nie ’n guns om haar so te pamperlang en na haar pype te dans nie.

      Steve se oplossing is eenvoudig. Wees vriendelik maar ferm as jou dogter weer so optree. En dan sê jy iets in die trant van: “Jy weet ek is lief vir jou en ek wil jou graag help. Gaan dink na oor wat jy regtig wil hê, en kom gesels as jy reg is.” Tien teen een sal sy later vir jou kom sê wat haar regtig hinder. Help haar dan. Dis in elk geval vervelig om dikmond te wees as niemand daarop reageer nie.

      Dr. Erika van der Wateren, ’n kliniese sielkundige van Pretoria met ’n doktorsgraad in kindersielkunde en wat spesialiseer in kinders, stel voor dat jy sulke negatiewe gedrag so gou moontlik in die kiem smoor. “Gee vir jou dogter dadelik terugvoering as so iets begin kop uitsteek. Só keer jy dat dit ’n gewoonte raak. Doen dit as julle albei kalm is, sodat julle mekaar regtig kan hóór. Sê vir haar hoe haar gedrag jou laat voel, waarom dit onaanvaarbaar is en wat sy anders kan doen. Oppas om haar net te beskuldig.

      “Vra vrae sodat sy insig kan kry in haar gedrag en hoe dit ander mense affekteer. Sê byvoorbeeld: ‘As jy dadelik dikmond raak sodra ek vir jou iets sê, maak dit my ook sommer moedeloos en dan kan ons nooit jou probleem oplos nie. Wat kan jy anders doen?’ Maak dan self positiewe voorstelle soos: ‘Kan ons ooreenkom om eers regtig na mekaar te luister voordat ons net begin terugpraat?’ ”

      Erika sê ’n dikmond is oor die algemeen nie rede tot kommer nie – behalwe as jou dogter se gedrag ook skielik verander het. Hoe gaan dit deesdae oor die algemeen tuis en by die skool met haar? Hormonale veranderinge kan haar natuurlik ook meer buierig maak.

      Skakel eers alle moontlike oorsake soos byvoorbeeld depressie uit, voordat jy dit sommer ignoreer. Hou jou oë oop, vertrou jou intuïsie en kry hulp as dit nodig is. Lees ook vraag 87 oor depressie.

      DOENLYSIE

       Help jou kind om sosiale vaardighede aan te leer sodat sy moeilike situasies reg kan hanteer. Uiteindelik moet sy besef dat sy kan kies hoe sy wil reageer: Sy kan dikmond wees, ’n grappie maak oor dit wat haar pla, omdraai en wegloop, dadelik begin huil …

       Probeer die Amerikaanse sielkundige en ouerskapkenner dr. Kevin Leman se plan vir kinders wat hul wangedra om aandag te kry. Haal die wind uit haar seile (en heelwat van die pret uit die gedrag) deur te sê: “Ek sien jy het vandag ekstra aandag nodig.” Jy kan dan iets voorstel wat julle saam kan doen, maar maak dit ook baie duidelik: Sy hoef nie ongeskik te wees om jou aandag te kry nie, sy kan maar net vra vir daardie drukkie of soentjie. Dit werk meestal soos ’n bom.

       Lees vraag 33 vir wenke oor hoe om jou kind se sosiale vaardighede te verbeter.

      VRAAG 2

      My negejarige dogter manipuleer my. Sy vra nog tien minute voordat sy gaan slaap. Of nog ’n koekie. Of nog dit of dat. Ek gee elke keer toe … om die vrede te bewaar. Dit voel soms sy sit op my kop. Aanvanklik was dit oulik dat sy my so om haar pinkie draai, maar sy hiet en gebied my nou voor almal. Ek begin eintlik skaam kry.

      ANTWOORD

      Jy hoef nie ’n kenner te wees om te weet wie’s baas in dié huis nie. Die oplossing lyk ook voor die hand liggend: Verander net die reëls, Ma! Maar as jy al deur die meule was, weet jy dis makliker gesê as gedaan.

      Dit help om die groter prentjie te verstaan. In dié geval, die gesagskrisis waarin baie ouers (en kinders) hulle bevind.

      Elzan Frank, ’n sielkundige van Stellenbosch, verwoord waarmee baie ouers deesdae stoei: Wie se gesag moet ons aanvaar en waarom? Wat is reg en wat is verkeerd? Ons redeneer daaroor, lees daaroor, gaan soek raad by televisieprogramme … Ouers twyfel, kom nie tot ’n vergelyk nie en kinders oefen al hoe meer gesag uit – oor hul eie lewe én dié van Pa en Ma.

      In ’n neutedop beteken dit: As jy nie die leiding neem nie, neem jou kind dit.

      Elzan sê as jou kind jou heeltyd probeer beheer of manipuleer, daag sy jou leierskap uit. Gebrek aan goeie leierskap is een van die groot redes hoekom kinders vandag ongelukkig is. Te veel vryheid, te vroeg, maak jou kind baasspelerig, onsimpatiek teenoor ander en laastens maar nie die minste nie, verward.

      “As jy keer op keer toegee, leer sy nie duidelike grense ken nie. Sy voel nie veilig nie. Later, as tiener en volwassene, kan sy ook nie haar eie grense trek nie, en sy het nie duidelikheid oor wat reg en verkeerd is nie. Sonder grense is haar keuses onseker. Haar wêreld voel buite beheer as sy dink: Ek kan my slaaptyd bepaal. Ek kan besluit of ek Ma se inkopiesessie wil kortknip deur ’n bohaai op te skop. Soveel mag is te veel en onvanpas vir ’n kind.”

      Erika voeg by: Dissipline ís moeilik. Dis jou verantwoordelikheid as ouer om jou kind te leer om toepaslik op te tree. Dis jou rol om te help vorm aan haar gedrag sodat sy nie negatiewe reaksie van haar maats en ander mense om haar begin kry nie, want later gaan dit ook haar sosiale aanpassing benadeel, asook haar gewildheid onder haar maats.

      Die bal is in jou baan. Lees ook vraag 3.

      VRAAG 3

      Hoe hanteer ek dit as my dogter my so manipuleer en op my kop sit?

      ANTWOORD