on>
Louisa du Toit
Omnibus 6
Dryfhout
Gesig van die lewe • Uur van die pêrel
JASMYN
Dryfhout
1
’n Oulike pakkie wat ek gekoop het om op my eerste skoolhoudag aan te trek, dink Petro Schoon terwyl sy die sagte materiaal met salmkleur blomme op die strykplank neerlê. Goed genoeg, om die waarheid te sê, vir ’n reisrok na afloop van die troue.
Haar en Danie se troue.
Die gedagte laat haar opnuut in die noute voel. Wat sal die skoolhoof doen as hy moet uitvind dat ’n verloofde meisie op sy personeel aangestel is? ’n Oorval kry, dis maar klaar. Toe sy teen die einde van verlede jaar vir kennismaking gekom het, was haar vingers nog kaal. En toe sy laat vanmiddag haar intrek hier in die meisieskoshuis neem, het sy beslis gesorg dat haar linkerhand buite sig is toe meneer Paulter haar in die gang groet.
Hy en sy vrou is koshuisouers hier. ’n Blootgestelde posisie vir hom, so tussen die skooldogters. Maar hulle is glo gesmeek om uit te help. Dalk sou hulle in die seunskoshuis meer blootgestel wees, dink Petro met ’n innerlike glimlaggie, want mevrou Paulter is ’n entjie mens wat jong manlike hormone in die hoogte sou kon jaag.
As Paulter van haar verlowing hoor, sal hy gewis nie vriendelik voel oor die suspisie dat hy spoedig weer met ’n vakature kan sit nie. Al die hoofde is versigtig vir studentemeisies wat ’n pos soek net om naby die kêrel te wees. Wel, dit hang alles af. As Danie einde vanjaar klaarmaak en hy ook ’n pos iewers hier rond kry, is hulle koppe deur. Sy hoef dan nie haar dienste by JC Vos op te sê nie.
Petro voel vreemd, om die minste te sê. Die koshuis is nog redelik stil aangesien die onderwysers vroeër as die kinders inval. Sy het die afgelope twee uur in haar nuwe klaskamer deurgebring en sy voel bedruk. Die vertrek is, soos die res van die geboue, kil en grys. En dit in die somer; in die winter sal dit ’n yskas wees. Maar nou ja, dis ’n skool met status, en status moet dan seker vergoed vir die somberheid.
Tradisie en spinnerakke, het Danie dit opgesom toe sy die aanstelling kry. Dis volgens hom al wat JC Vos aan die gang hou. Nie dat dit heeltemal waar is nie. Hierdie skool is bekend vanweë sy uitslae. Dit vervul haar met ’n tikkie trots om te weet dat sy hieraan waardig sal wees. Sy is nie om dowe neute aangestel nie. Sy ken haar vermoëns en sy brand om weg te spring. Na vier jaar op universiteit voel sy soos ’n geroskamde stalperd. Stalmerrie, sal Danie sê as sy hom die kans gee.
Terwyl Petro die romp se lissies netjies op ’n hanger skik, kom ’n groot, blonde meisie met atletiese kuite deur die gang aangestap. “Naand,” sê sy. “Weet jy hoe lyk juffrou Schoon?”
“Ja, ek weet,” antwoord Petro heel ernstig.
“Waarvandaan kom jy?”
“Ek is maar hier van die omgewing.”
“Van watter skool af, bedoel ek?”
“Jy wil my ontgroen, nie waar nie,” snap Petro. “Dan’s dit neusie verby, jong, want ek is juffrou Schoon.”
Die meisie bloos en lag. “Ekskuus tog, hoekom het juffrou my nie gesê nie?”
“Jy’t my nie gevra nie. Jy wou weet of ek weet hoe sy lyk, en jy kan wed ek weet.”
“Haai, juffrou. Ekskuus tog. En die blink klippie? Dié sien ek nou eers.”
“Ons adverteer dit maar nie,” versoek Petro indirek.
“Nie dat dit stil sal bly nie. O ja, meneer Paulter wil vir juffrou sien, hoor. Maar rêrig, juffrou lyk net soos ’n skoolmeisie. Sal juffrou dan ’n mens kan leer?”
“Ek was darem studente-assistent,” antwoord Petro koelerig . . . nie om te spog nie, maar haar aansien moet sy van die begin af vestig. “Waar kry ek vir meneer Paulter? Die koshuis is vir my nog ’n doolhof.”
“Ek sal saamstap en vir juffrou wys,” bied die meisie aan. Sy is duidelik gretig om vir haar blaps te vergoed. Eintlik ook nie so ’n groot blaps nie, dink Petro vergewend. Hulle verskil maar so drie, vier jaar in ouderdom.
“Waar was juffrou op skool voor universiteit?” vra die skooldogter.
“Arkadia.”
“Sowaar. Dan’s ons mos vyande. Vir wie gaan juffrou skree met interskole?”
“Ek gaan nie skree nie. Ek is ’n lady.”
Hulle lag, en Petro voel meteens minder vreemd. Sy hou van die meisiekind. So sal hier baie ander wees van wie sy hou. Sy moet net moed hou. Die blote feit dat sy meneer Paulter streng en afsydig vind, is geen maatstaf vir geluk of ongeluk hier nie.
Charlene Winters bied aan om die gestrykte tweestukkie na Petro se kamer te neem nadat sy haar begelei het na die woonstel van die hoof, wat ook koshuisvader is.
Die voordeur van die woonstel staan oop en Petro sien hom van agter af waar hy diep ingedagte by die sydeur staan en uitkyk. Iets in die toneel gryp haar aan met ’n sterk onmiddellikheid. Sy hande is in sy broeksakke. Die donker hare teen sy agterkop is ruig, maar netjies. Sy skouers is breed, ietwat aan die vlesige kant, maar op hierdie oomblik onbewustelik weerloos.
Die indruk duur enkele oomblikke. Dan hoor Paulter die beweging buite die woonstel, en hy draai om. “Kom binne, juffrou,” sê hy neutraal.
“Dankie, meneer.”
Petro voel op hierdie oomblik niks meer as ’n skoolmeisie nie. Ek is bang vir hom, erken sy bedug. Van die eerste keer toe sy hom gesien het, het hy ’n ontsettende huiwering in haar wakker gemaak. As sy hom net een keer kan sien lag, sal sy weet hy is ’n gewone mens vir wie sy nie bang hoef te wees nie. Maar die glimlag wat om sy lippe plooi, raak nie sy oë aan nie. Nie dat sy oë koud is nie, dis net gereserveerd, onwillig om te verraai wat in die skedel of hart aangaan.
“Sit, juffrou.”
“Dankie, meneer.”
Dis pynlik, besluit sy. Sy was lank laas so ongemaklik in iemand se teenwoordigheid. Die joos weet hoe hy met skoolkinders onderhandel, tensy hy vir hulle ’n ander soort masker het wat hy gerieflik opsit. Tog, hy verdien seker hierdie pos. Akademies is hy glo voortreflik, was ’n cum laude-student, was met ’n studiebeurs oorsee, werk nou aan sy doktorsgraad.
Getroud.
Sy vrou het in ’n Suid-Afrikaanse rolprent gespeel, was tóé die vonds van die eeu, maar sedertdien het ’n mens niks weer van haar gehoor nie. Dis ongeveer al wat Petro van hulle af weet. O ja, en dat dit sy tweede vrou is. Eerste een glo baie jonk dood. Geen kinders nie, glo sy. Die huidige mevrou Paulter wil seker nie haar postuur bederf nie, dink Petro met ’n tikkie nydigheid wat eerlikwaar nie bestaansreg het nie. Mevrou Paulter was gewoon vriendelik toe hulle vroeër vandag ontmoet het.
“Is u al ’n bietjie tuis?” verneem Paulter.
“Kwalik . . . maar ek ken mos darem die omgewing.”
“Dis reg. U het gesê u het plaaslik skoolgegaan en studeer. Woon u mense nog hier?”
“Net my broer, hy is getroud en doen op die oomblik diensplig. My ma het weduwee geword en het getrek om naby my oudste suster te wees.”
“Ek sien.”
Sy wonder of sy te veel uitgeblaker het. Sy het meer vertel as wat hy gevra het. En selfs dit het hy sekerlik net uit beleefdheid gevra, nie om werklik te weet nie.
“Het u al ’n bietjie in u klaskamer rondgekyk?”
“Ja. Ek was baie bly om in die muurkas studienotas te vind vir ’n paar van die voorgeskrewe boeke. Dit sal my aan die gang kan sit.”
“Dis goed,” bevind hy hoflik. “U voorganger het dit seker bestel voor sy weg is.”
“Ja. Sy het alles baie netjies nagelaat, ek sal net graag ’n bietjie kleur teen die mure wou aanbring. Plakkate en so; ek het al bymekaar gemaak.”
“Doen