Schalkie van Wyk

Beminde vreemdeling


Скачать книгу

      

      Beminde vreemdeling

      Schalkie van Wyk

      Melodie

      1

      Malvalekkers vir tant Grietjie, pepermente vir tant Lerina, herinner Wiandri Rosseau haarself terwyl sy skerp links draai uit die enigste teerstraat van die klein plattelandse dorpie Wernerspan. Oomblikke later bring sy haar motor glyend en plassend deur die modder voor Wessie se Winkel tot stilstand en klim haastig uit.

      “Hoei, jy!” skel Wessie Wessels fluitjieskril uit die ingang van haar klein negosiewinkeltjie en trippeldans van ergernis voor die modderbespatte winkelvenster rond. “Agge siesa, asempie, kyk net hoe lyk my winkelvenster wat ek vroegoggend spiekeries-skoon gewas het! Is jy nou te slim en geleerd om te onthou van onse dorpie se dinge? Sloef-slaf deur die modder as dit reën, en stoot die Langerivier oor sy walle, swem ons poskantoor en kerk toe!” Sy plooi haar okkerneutbruin gesiggie in ’n vraagteken en fluister benoud: “Is dit siekte wat jou so laat jaag, asempie? Is juffrou Lerina … ?” Sy klap haar regterhand hard teen haar lippe asof sy wil verhoed dat haar woorde haar vrees sal bewaarheid, maar haar oë pleit om ’n antwoord.

      Dis waarom sy altyd weer sal terugkom na haar tuisdorpie, dink Wiandri, want almal ken almal en almal gee om, so anders as in ’n onpersoonlike stad. En niks en niemand verander nie, want tant Wessie lyk nog al die jare dieselfde: ’n kort, skraal bondeltjie mens met ’n stem soos ’n skeermeslemmetjie, grysswart, weerbarstige krulle wat haar kop te groot laat lyk op haar smal skouertjies, groot, donker oë en ’n plooigesiggie wat wipplank ry tussen verontwaardigde uitbarstings en mensliewende glimlaggies.

      “Ek het ’n halfuur gelede met tant Grietjie gesels op my selfoon, tant Wessie, en sy het my verseker dit gaan goed met tant Lerina,” antwoord Wiandri gerusstellend. “Ek is jammer ek het so vinnig gerem en tannie se winkelvenster vol modder gespat, maar as ek deur daardie yslike plas water gery het, was dit nog ’n groter gemors,” gaan sy verskonend voort, druk met haar linkerhand op die enjinkap van haar motor, gebruik die buffer as ’n brug en swaai-tree oor die naaste punt van die modderpoel om die sypaadjie te bereik.

      “Tja, dis ’n allemintige eendepan in die middel van die straat. Reën dit nog ’n week, koop ek vir my ’n visstok en vang geelbekke en babers as ek nie klante het nie,” beaam Wessie misnoeg, kyk dan vinnig op en glimlag met stralende trots. “Haai, dingetjie, dat ek so maklik kon vergeet: Grietjie het my vertel jy is nou klaar volleerd en vandag kom jy vir goed huis toe. Suster Wiandri Rosseau, het Grietjie gesê. Noem ek jou nou suster Wiandri, of moet ek eers wag totdat ek sterwende in onse hospitaaltjie lê, my diertjie?”

      “Vir tannie sal ek altyd net Wiandri wees,” glimlag sy en draai terug na haar motor. “Ek moet malvalekkers en pepermente vir die tannies koop, tant Wessie. Ek kry net gou my beursie.”

      “Ek pak sommer twee van alles in, asempie, want ek ken ou Grietjie: verorber eers haar eie lekkers en gaps dan juffrou Lerina se peperminte, die gulsige ou sieletjie,” praat Wessie oor haar skouer en drafstap haar winkel binne.

      Wiandri talm op die sypaadjie voor haar motor en betrag die poel modderwater wat dwarsoor die straat strek met ’n ongeduldige suggie. Miskien moet sy haar sandale uitskop en deur die water plas, want loop sy agter om haar motor, sak sy heel waarskynlik tot by haar enkels in die modder weg. Sy is nie bekommerd oor haar jeans of haar T-hemp nie, maar sy wil nie …

      “Jeeaaw!” hoor sy haarself gil, binne ’n breukdeel van ’n sekonde bewus van die brullende gedreun van ’n motorenjin, die plassende gedruis van water en ’n yskoue modderwatergolf wat haar van kop tot tone oorspoel.

      Sy vee-vee met haar hande die water uit haar oë, voel haar hare in druipnat slierte aan haar wange kleef en gluur na die straat se kant toe. Die bestuurder van die ouerige, roesbruin motortjie het sy voertuig tot stilstand gebring, kyk oor sy skouer na waar sy staan, en ry teen ’n verbasende snelheid agteruit.

      “Jeeaaw!” krys Wiandri weer met verwoede verontwaardiging toe ’n tweede watergolf haar van bo tot onder deurweek.

      “Wat skrou jy so, asempie?” kom Wessie saam met haar woorde by die winkeldeur uit. Sy steek in haar spore vas toe sy die druipnat Wiandri gewaar en swaai om na die bestuurder van die roesbruin motor. “Satangskind! Waar sit jou oë, gebroedseltjie? Kan jy nie ’n eendepan herken as jy ’n eendepan sien nie?” skeerlem haar stem haar toorn uit. Haar asem ruk in haar keel, haar oë pieringrond van skok toe sy voortgaan: “Gorrelpyp-Griet! Kyk, dingetjie, dis onse eie Grietjie se ou karretjie. Die man is ’n bose kardief en dalk nog ’n rower … en als! Kom, kom, asempie, laat ons vinnig in my winkeltjie kom en die deur sluit en grendel. Ek sal die polieste bel en jy kan my ou haelgeweer laai en by die agterdeur wag staan.”

      Wiandri hoor nouliks Wessie se histeriese voorspooksels, haar oë vasgenael op die man wat uit die motor klim. Hy is lank en breed van skouer, geklee in ’n kakiehemp en -kortbroek, sy gespierde arms en bene sonbruin, en met ’n paar sterk leerstewels aan sy voete. Hy beweeg met die grasieuse sekerheid en ingehoue krag van ’n roofdier, en sy laat haar blik tydsaam opkruip oor sy nek en gesig. Sy digte, witblonde hare vorm ’n skerp kontras met sy donker wenkbroue en swartbruin oë, en sy wonder nydig of hy sy hare so blond kleur.

      Sy is vuil, druipnat en bedremmeld, en hierdie ongenooide vreemdeling wat boonop tant Grietjie se motortjie gesteel het, loop met die trots van ’n landheer op haar af en probeer nie eens om skuldig te lyk nie, dink Wiandri wrewelrig. Sy gluur hom aan, maar in plaas van ergernis ervaar sy ’n gevoel van onverklaarbare wonder. Haar oë streel oor sy breë voorkop, die volmaakte boë van sy wenkbroue, die raaiselagtige dieptes van sy donker oë, sy reguit neus en hoë wangbene. Haar oë gly oor sy mond en sy vierkantige ken, maar keer weer terug na die fyn afgeëtste volmaaktheid van sy lippe, die sensuele volheid van sy onderlip. Sy raak bewus van ’n onkeerbare begeerte om in die gespierde krag van sy arms te staan en hom te soen, besef dan ontsteld wat sy aan die dink is en voel haar wange vlam van verleentheid.

      Die man bly naas haar op die sypaadjie staan, kyk na Wessie wat doodsbenoud om die halftoe winkeldeur na hom loer, en sê stug, sy stemtoon ’n eentonige gerammel: “Ek kom al ’n maand lank elke dag hierheen om koerante en tydskrifte vir juffrou Lerina en tant Grietjie te koop. Sukkel jy met jou oë, tant Wessie?”

      “Floors!” jubel Wessie haar verligting skril uit en trippel nader, ’n halfmaanglimlag om haar lippe. “Ag, askies tog, Floorsie, maar met al die modder en water wat so oor my en my ou winkeltjie spat, kan ek nie ordentlik sien nie. Maar vir wat ry jy met Grietjie se karretjie rond, dingetjie? Ry jy nie altyd die viertrekker nie?”

      “Die viertrek se petrolpomp lol, dis hoekom,” mompel hy, sy gelaat emosieloos.

      Hy klink soos ’n Floors, maar hy lyk nie soos ’n Floors nie, dink Wiandri en kyk hom met groeiende agterdog aan. En waarom het tant Grietjie nooit melding gemaak van die bot, groothartige en aantreklike Floorsie wat die afgelope maand gereeld vir haar en tant Lerina inkopies doen nie? Is hy ’n nuwe buurman? Tant Grietjie skinder oor als wat leef en beef op Wernerspan, maar sy het nie ’n woord oor hierdie indringer gerep nie – waarom al die geheimsinnigheid? wonder Wiandri en voel haar asem in haar keel vassteek toe Floors na haar draai, sy hand uitsteek en ’n nat sliert hare met versigtige vingers uit haar oë vee.

      “Los …” begin Wiandri, besef dat haar stem hees en asemrig klink pleks van boos en verontwaardig, en sluk haar ergernis weg toe sy in die donker dieptes van sy oë kyk. Sy het nog altyd geglo donker oë is nie so uitdrukkingsvol soos blou oë nie, maar dié man s’n straal ’n warmte en empatie uit wat haar vreemd veilig laat voel – so asof sy ná ’n lang reis eindelik tuisgekom het. Maar dis belaglik: Sy is nog nie tuis nie en sy is waternat en briesend omdat die Floors-vent haar nie één maal nie, maar twéé maal ’n modderwaterbad gegee het. En kyk sy nou objektief, is sy donker oë so uitdrukkingloos soos die modderige straat.

      “Ek is so jammer dat ek gemaak het dat jy waternat is, juffrou Wiandri,” sê hy, maar klink belangeloos, nie jammer nie. “Ek het jou nie gesien nie, want ek moes kyk waar ek ry. En toe ek jou hoor skree en sien wat gebeur het, het ek vinnig agteruitgery om …”

      “Om my ’n tweede modderbad te gee,” val sy hom koel in die rede, en hoor verlig die sarkasme in haar eie stemtoon. Hoe ken