Deon Maas

Witboy in Afrika


Скачать книгу

      

      Deon Maas vaar Afrika in en beland in situasies wat partykeer raar, soms gevaarlik, maar meestal skreeusnaaks is. Die uitgesproke rubriekskrywer en dokumentêre filmmaker reis onder meer na Nigerië om ’n werklikheidstelevisiereeks te help vervaardig. Hier beland hy in die geselskap van ’n groep oliediewe en ’n plaaslike hoofman wat ly aan grootheidswaan. Waar ’n bedwelmde soldaat sorg vir ’n noue ontkoming in die ooste van die DRK, raak Deon in Madagskar weer met seerowers deurmekaar.

      Deon Maas is reg vir Afrika, maar is Afrika gereed vir Deon Maas? Gord jou vas en maak gereed vir ’n wilde rit.

      Oor die skrywer:

      Deon Maas, ’n voormalige algemene bestuurder by Gallo Records, het bekendheid verwerf as spitsvondige beoordelaar van die Afrikaanse Idols op kykNET en as rubriekskrywer vir die Afrikaanse dagblaaie. Hy was ook die aanbieder van die musiekprogram “Maas op Maandag” op radiosondergrense. Deon besit sy eie media-konsultasiemaatskappy Meerkat Media en vervaardig dokumentêre programme wanneer hy nie skryf nie.

INHOUDSOPGAWE
Voorwoord
Twee Afrikane in New York
1 Guerrillas deur die mis
2 Die soete wit(te)brood
3 Die Vyfnasies-toer
Kaart van Nigerië
4 Nigerië 101
Witboy se wenke
5 Realiteitstelevisie: ’n tropiese ontnugtering
6 Dagboek van ’n huwelik se einde
Nawoord
Leeslys

      Vir Gerrad en Axl omdat ek nooit daar was nie

      en vir Veda omdat sy was …

      en vir die rots in my lewe, Gerrit.

deon_scooter.jpg
VOORWOORD

      EK SIT OP die oomblik kruisbeen op die vloer van die vertreklokaal van die Murtalla Mohammed-lughawe in Lagos. Daar is twee restaurante weerskante van my.

      Links is die duur restaurant met Franse broodjies en perfek gemaakte cappuccino’s (wel, perfek vir Nigerië). Op ’n grootskermtelevisie word ’n Europese sokkerwedstryd sonder klank gespeel. Die restaurant is vol mense wat alleen by tafels sit en wag vir vlugte na ander dele van die wêreld soos Frankryk, Skotland, Libanon, die VSA …

      In die goedkoop eetplek met die plastiekstoele aan my regterkant hoor jy meer Afrikaans as in ’n Johannesburgse restaurant. Daar sit meestal wit ouens wat waarskynlik weens regstellende aksie gedwing is om hul dienste in ander Afrika-lande te gaan verkoop. Uit wat ek kan aflei, was dit vir baie van hulle hul eerste besoek aan Nigerië. Nou ruil hulle stories uit oor hul ervarings. Hulle het mekaar nog nooit ontmoet nie, maar Afrikaans is die aanknopingspunt. Onder hulle is ingenieurs, boere, olieboorduikers en dan natuurlik ek, wat daar was om ’n televisieprogram te maak.

      Almal wil altyd vir Afrika probeer help, maar dikwels kry hulle net mooi die teenoorgestelde reg. Soos die tipiese BBC-korrespondent wat ’n topverkoper skryf oor een of ander Afrikaland waarin hy netjies uiteensit wat alles verkeerd is en hoe dit beter gemaak kan word. Dít nadat hy ses maande daar gewerk het. Of Madonna wat Malawi invaar soos ’n moderne slawehandelaar, die mooiste enetjie kies en hom dan saamvat huis toe.

      Met hierdie boek probeer ek nie om in enige BBC-korrespondent se voetspore te volg of een of ander groot, nuwe insig oor Afrika te deel nie. Ná meer as ’n dekade se reise op die kontinent kon ek net nie meer mooi onthou watter stories ek al vir watter vriende vertel het nie. Ek het gedink dis dalk ’n goeie plan om al my wedervaringe in een boek saam te voeg.

      Soos ek begin skryf het, het die boek egter ’n ekstra dimensie begin aanneem wat my laat dink het miskien gaan Afrika my nog help. Ek het my aan die dink gekry oor identiteit en ras. Deur al my reise heen het ek geleer dié twee konsepte is van groot belang in Afrika, ongeag in watter land jy jou bevind of die opvoeding- of inkomstevlak van die mense wat jy ontmoet. Ek het begin wonder of ek as wit Afrikaanssprekende myself ook as ’n Afrikaan kan beskryf.

      Ek het toe ook afgekom op Elsa Joubert se boek Die Staf van Monomotapa (1964), wat handel oor haar soeke na ’n mitiese koninkryk in Mosambiek. ’n Deurlopende tema is haar ervaring as ’n wit mens in swart Afrika. Ek het besef dat ek nie die eerste persoon is wat hierdie vrae gehad het nie.

      Daar was ook ’n ander rede waarom ek die boek geskryf het. Ek het uit die bloute ’n aanbod van Kerneels Breytenbach, toe nog publikasiehoof van NB-Uitgewers, gekry en soos enige goeie Calvinis (wel, gewese in my geval) het ek baie respek vir ouer mans met baarde. Tweedens het ek uiteindelik ’n redakteur gekry in die persoon van Annie Olivier, wat verstaan wat ek probeer sê en nie my taal en my styl probeer verander nie. Ek en die oom by Rooi Rose wat my kopie in die tagtigerjare moes regmaak, het net nooit oor die weg gekom nie. Die stommerik wat my werk by Huisgenoot in die hande gekry het, het wyslik sy huisadres van my weerhou sodat ek hom nooit middernagtelik kon besoek nie.

      ’n Mens kan nie ’n land se psige verstaan as jy nie sy geskiedenis ken nie. Voordat ek op ’n reis gaan, bring ek ure deur op die internet en in boekwinkels om die nodige inligting in te samel. Dit gee my ’n idee van waarheen ek op pad is en dit beïndruk boonop die plaaslike mense as jy moeite gedoen het om hul land te leer ken.

      Ek het begin boek lees voordat ek skool toe is. Op veertien het my pa vir my ’n ou tweedehandse tikmasjien by Old Mutual gekoop. Hierop het vele rejection slips gevolg, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. My ouers het nooit in ’n vakansiehuis belê nie. Ons het elke vakansie op ’n ander avontuur gegaan. Voor die tyd het ek opgelees oor die plekke waarheen ons gegaan het, veral die geskiedkundige aspekte en dan moes my pa by elke monument of gedenkwaardigheid aftrek sodat ek daarna kon gaan kyk.

      Nou kry jy mos daardie soort mens wat vyfuur in die oggend wegtrek en dan net twee keer stop voordat hy by sy finale bestemming uitkom. Die eerste keer is om petrol in te gooi en die tweede keer is om die kinders te bliksem omdat hulle nie wil ophou raas en kla nie. Ek val nie in hierdie kategorie nie. Ek is al ’n keer of wat langs die pad laat staan omdat ek net te moeilik was. Ek is steeds moeilik, maar nou het ek minstens my eie motor en ek kan selfs rook terwyl ek ry. Partykeer is dit lekker om ’n grootmens te wees.

      Vandag laat my ma my pa by elke tweede padstalletjie stop sodat sy ietsie kan koop vir die mense by wie hulle gaan oornag. My pa moes maar sy lot aanvaar, al is hy een van daardie soort wat eintlik vyfuur in sy motor klim en net twee keer wil stilhou.

      Hoewel ek steeds voor ’n reis oplees, het dinge drasties verander sedert ek ’n stad se naglewe as ’n alternatiewe bron van kennis ontdek het, saam met bier en meisies wat van vreemde aksente hou. My gunstelingplekke in vreemde stede is daarom kroeë, klubs en koffiewinkels. Ek gebruik my plaaslike kontakte nie net as toergidse nie, maar om ’n stad se underbelly te gaan uitkyk. Vandag sorg ek steeds dat ek die historiese agtergrond ken, maar ek gebruik dit amper meer gereeld om mense te beïndruk – veral meisies wat van vreemde aksente hou. Groot dele van die boek is daarom geskryf op die agterkant van till slips in kroeë. As daar feitefoute insluip, vra ek nou reeds om verskoning. Dis die drank se skuld.

      Die boek is nie ’n reisgids wat volgeprop is met voorstelle van museums, ou geboue of natuurparke wat jy moet besoek nie. Hulle feature wel, maar iewers op die agtergrond. Hierdie boek dek nie eens ’n agtste van alle Afrikalande nie, maar fokus op die plekke wat die grootste indruk op my gemaak