Alexander Strachan

Dwaalpoort


Скачать книгу

      DWAALPOORT

      Alexander Strachan

      Tafelberg

      vir spik

      “Ons het nie ons eie stemme nie,” het Rentia gesê. “Dis Dwaalpoort wat deur ons almal praat.”

      1. MHLOPHE

      Oral om hom was daar beweging. Hy het stemme hoor roep. Elke keer wanneer hy vassteek, het daar opnuut koeëls oor hom gefluit. Hy het weer ’n keer van rigting verander.

      Sewe ruiters het sy roete terug na die kloof toe afgesny. Hulle wou hom op die oop veld tussen die lae rante hou – weg van die kloof af.

      Stof het om hom gehang. Die koeëlgat was regdeur sy longe, anderkant uit. Onder sy skerp kloue kon hy die sanderigheid voel. Plek-plek was dit klipperiger en die klank van sy kloue op die grond het daar verander.

      Die bloed het swaar en dik in sy keel gelê. Tussen sy ribbes wou die koeëlwond nie toetrek nie. Met elke beenhaal het dit groter en groter geword. Daar het bloedborrels en slym op sy vel uitgeslaan. Hy kon dit met die skuinsdraai van sy kop sien, maar die wind het dit weggewaai.

      Iewers in die lang dag van hardloop en ontduik het sy asemhaling verander. Hy kon voel hoe dit gebeur. Sy treë het langer gerek. Sy asem het nie opgeraak nie. Hy het geen moegheid gevoel nie. Die sweet op sy flanke het droog geword en hy kon die swaelreuk van die koeëls teen die klippe ruik.

      Die brand in sy keel was nie meer so erg nie. Dis hoekom hy kon aanhou hardloop. Hy het lank nie meer deur sy mond asemgehaal nie. Hy het deur die koeëlgat in sy bors begin asemhaal.

      Weer het die ruiters hom probeer afsny. Die perde se bekke was oopgerek onder die stange. Met die sprong vorentoe het sy regteragterpoot diep tussen twee skerp klippe ingetrap. Hy het gestruikel, op sy knieë geval, maar regop gekom. Hy het wyd gedraai op die vlakte.

      Dit was sý terrein; hy het dit geken.

      Weer het die koeëls gefluit. Die ruiters het in die ry op hom geskiet. Maar hy het vasgesteek en omgedraai na die jagters toe. Hy het nie meer geweifel nie. Oor voetpaaie, tussen kaal kolle, klippe en miershope deur het hy hulle trompop genader. Die vrees het in hulle oë gespring.

      Toe breek hy deur die linie perde en gewere.

      Hy kon die slag van sy kloue oor die vlakte hoor eggo. Hy het die afdraande gevat. Onder in die drif het hy die spruit oorgesteek. Hy het die oorkantste steil wal uitgeklim en gaan staan om die waterdruppels van hom af te skud.

      Die grassade het in die wind geroer. Op die vlakte het ’n ruiter tevergeefs in die lug na sy hoed gegryp. Hulle het die perde in ’n stofwolk onder by die spruit ingetrek. Die gewere se lope het grond toe gehang; hulle sou hom nie verder agtervolg nie.

      Hy het met die voetpad teen die kloof uitgestap. Bo by die oog het hy gaan staan. Hy het lug deur die koeëlgat ingetrek en die bloed uit sy keel gehoes. Toe het hy die wond aan sy sy droog gelek. Hy het sy kop laat sak en diep slukke van die fonteinwater gedrink.

      Snags het die wind oor die vlaktes gewaai. Sy blad was seer en styf; vir lank kon hy nie op sy been trap nie. Maar die tyd het sy eie loop gehad en die wond het gesond geword.

      Op maanlignagte het hy tussen die skerp rotspunte op die plato gestaan.

      Soggens het die son se strale deur die mis gebreek. Soos altyd het hy afgekyk op die plaas. Deur die yl lug het die werfgeluide na hom aangekom. Hy het almal op die werf by die naam geken. En hy het hulle bewegings dopgehou – ook wanneer hulle elders op reis was.

      Niemand kon sy oë ontsnap nie, maak nie saak waar hulle was nie.

      Hy hoef maar net af te kyk voor hom in die water. Hy kon die werfmense se afbeeldings deurentyd voor hom in die oog sien. Elke oggend wanneer hy bo van die plato af kom om te drink, kon hy hulle in die rimpeling van die water in die poel sien.

      En hy kon ook ánder mense in die poel sien. Die mense wat lank terug hier gewoon het. In die tyd voor daar opstalle gebou is. Eers die jagters met die gifpyle – die brandwonde wat moeilik herstel het. Toe die ander jagters – dié wat met die spiese gekom het, wat die breë lemwonde gegee het . . . En nou die soveelste groep jagters met gewere.

      Eintlik het hulle min van mekaar verskil. Sommige het vangputte gegrawe en skerpgemaakte stokke onderin geplant. Party het in die nou deurgange strikke gestel en slagysters in die skerp draaie van ’n uitgetrapte voetpad. Ander het opgedaag om die bomas te kom bou – altyd windaf om die wild met helikopters oor die vlakte na die tregter toe aan te jaag.

      Lank terug het die mense skuilings gemaak en teen die wind gekampeer. Hulle het geëet en lande gesaai. Hulle het gewag vir die reën. Soggens het hulle in die son gebak. Hulle het geoes, om die vure gedans, die stronke teruggeploeg en weer gesaai . . . Maar niemand van hulle kon ooit betyds die roet in die lug ruik nie.

      Saans het hy met die draai van die wind sy naam om hul vure gehoor. Elkeen het dit op sy eie manier gesê. Party het sy naam gefluister, ander het gemaak of dit nie bestaan nie. Maar dit het selde gebeur dat iemand deur die water in die drif loop om sy naam bo in die kloof te kom roep.

      Op die vlakte het die een groep na die ander verdwyn. Nuwe mense het op die horison verskyn. Die ou groep het plek gemaak vir ’n nuwe een. Ander gesigte, ander gewoontes, maar almal jagters.

      Hy het hulle sweet geruik, en die skoon reuk van hulle lywe wanneer hulle gewas het. Daar was ’n angstigheid in hulle stemme. Hulle kon dit nie wegsteek nie, dit het in hulle sweet uitgeslaan.

      Geweerskote het oor die vlakte geknal en hy kon oral vure sien brand. Die vlamme het teen die geboue en bome opgekruip. Mense het rondgehardloop, party het die rante uitgevlug.

      Bo uit die kloof het hy wag gehou. Die knal van die geweerskote het weggesterf. In die skaduwee van die kloof het hy by die oog gestaan. Hy het die tekens geken. Vir ’n ruk lank sou daar weer stilte op die vlaktes wees.

      Maar party van hulle sou weer terugkom.

      Ná daar baie jare verby is, sou hy hulle op ’n dag weer sien. Hy het hulle manier van loop geken en die klank van hulle stemme. Hy kon hulle van ver af eien. Hulle het gekom om terug te vat. Die vlaktes sou anders lyk. Hy sou weer landerye sien en soggens swepe hoor wat klap.

      En soos die mense voor hulle sou almal dieselfde dinge in die wind ruik: weerlig, reën, stof en droogte. Om die kampvure het hulle hul hande warm gemaak. Maar hulle sou nie die roet ruik nie; net soos die jagters met die gewere ook eers die roet geruik het toe dit al lankal brand.

      Bo uit die kloof uit het hy afgekyk op die werf. Dae lank nou al het hy die oggendlug gesnuif . . .

      2. JURGENS

      Die hoofpad was bedrywig voor die naweek en ek moes my kans afwag; dit was moeilik om die groot trokke verby te steek. My hande het dalk onnodig hard om die stuurwiel geklem, want ek kon voel hoe my palms begin sweet; die hoofpyn agter my oë het intenser geraak. Maar toe kom die afdraaipad – ’n uitgetrapte grondpad met dik lae opgehoopte sand weerskante van die wielspore.

      Daar het dadelik stof teen die voorruit begin pak en die pad het steeds smaller geword; dit het al hoe meer geslinger. Ek het die groet van die enkele voertuig wat van voor af kom intuïtief met ’n ligte beweging van my wysvinger beantwoord – dit was blykbaar die gebruik hier op die platteland.

      Los gruis en klippe het onder die wiele geknars. Ons het teen steiltes afgery, deur driwwe en oor laagwaterbrûe. Daar was tarentale in die pad en ek het vir ’n steenbok uitgeswaai. By die volgende diep drif het die water agter ons opgespat; ons was dadelik weer terug op die droë sandpad. Dit was byna of ek vooraf kon raai die es wat kom, gaan bedrieglik wees. Ek het betyds teruggerat, tog moes ek klou aan die stuurwiel. Ons het om die draai geskuif en vir ’n paar oomblikke kon ek niks sien nie; ek het die voertuig bloot met instink in die pad gehou.

      Ek het na Anne langs my gekyk. Sy was effens bleker, maar as sy dalk geskrik het, het sy dit goed weggesteek en woordeloos voor haar uitgekyk. Sedert ek nie vir haar by die toilet wou stop nie, het sy nog nie weer gepraat nie. Toe ek by die ablusie verbyry, het ek