Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 7


Скачать книгу

      Louisa

      du Toit

       Omnibus 7

      Talmende tuiskoms • Liefie • Waar is die kleure heen?

      Jasmyn

Talmende tuiskoms

      1

      Die professionele uitdrukking op Irma de Wet se gesig verdwyn eensklaps toe sy besef dat die oproep van Deon kom. Deon Barnard. Saam met die verrassing, kom egter dadelik ook die skok. Dis die eerste keer dat sy hier op kantoor ’n oproep van die huis af ontvang. Matilda, haar stiefma, is te suinig om onnodige telefoonoproepe toe te laat.

      Maar nou bel Deon, die plaasbestuurder. Haar pa …? Iets verkeerd met hom? Hy is wel nog net oor die vyftig, maar in ’n huwelik met ’n vrou soos Matilda … Sy sak agteroor in haar kantoorstoel omdat ’n lamheid opeens haar hele lyf vul. “Is iets verkeerd, Deon? Die lyn is ellendig, ek kan jou skaars hoor …”

      Sy behoort hom liewer terug te skakel, maar persoonlike oproepe word vanselfsprekend nie toegelaat nie. Dis ’n kleinerige firma met ’n ontspanne werkgees, maar meneer Langley is op sy manier streng en ietwat oorekonomies.

      “. . . ongelukkig nie goeie nuus nie …” maak sy uit. “Tillie …”

      “Tillie?” Haar stiefsussie? Sy sou eerder slegte nuus van haar pa of Matilda verwag … “Wat van Tillie?” roep sy om haar hoorbaar te maak.

      “. . . onweer hier,” hoor sy Deon se stem deursypel. Dit verklaar dan die gekraak op die lyn. Vreemd om te dink daar is onweer op Wernersdal, terwyl dit hier in Johannesburg ’n helder, sonnige dag is.

      “Deon, wat is dit van Tillie?” Sy raak desperaat.

      ’n Paar oomblikke kan sy hom glad nie hoor nie. Dan dring sy stem weer hoorbaar deur: “. . . en toe was hulle in ’n ongeluk. Die motor het omgeslaan …”

      “Was Tillie in ’n motorongeluk?” herhaal sy raadop, maar besef dan met ontnugtering dat sy alle kontak met Deon verloor het. Sy kan haar voorstel hoe hy aan die ander kant van die lyn worstel om hom hoorbaar te maak. Sy moet net een keer nog sy stem hoor, moet weet of Tillie nog lewe … Die irriterende gekraak oorheers egter nou die hele gesprek sodat iemand van die sentrale ingryp en verskoning maak. “Probeer nou weer,” bied sy na ’n rukkie aan.

      “Irma?” Onseker verligting laat haar effens ontspan as die stem weer deursypel.

      “Sê my tog, voor jy weer uitsny. Lewe Tillie?” Sy voel die beklemming in haar keel opstoot by die aanhoor van haar eie woorde. Maar dis die belangrikste ding om op hierdie oomblik te weet.

      “Ja, maar baie swak en deurmekaar, roep na jou. Daar is dalk skade wat nog nie gediagnoseer is nie. Ek ry nou om jou te kom haal …”

      In een asem wil sy vra of dit dan so ernstig is, wil sy sê dat Johan haar Wernersdal toe kan neem, maar albei gedagtes wyk voor die een oorstelpende feit: Tillie roep na haar, en sy moet dadelik gaan. Sy durf geen oomblik talm nie. Deon is ’n gelykmatige ou, sit nooit met iets op loop nie. Ook nou sou hy haar die nuus minder dramaties probeer meedeel het as die omstandighede dit toegelaat het.

      Sy stem het weer weggeraak, maar nou weet sy. Genoeg, in elk geval. Die senuweeagtige terugplaas van die gehoorbuis weerspieël haar gemoedstoestand volkome. Die saaklik gedissiplineerde optrede waardeur sy haar die goedige kantoornaam “Immovable Irma” op die hals gehaal het, dreig nou om te verkrummel voor die skielike verwarring en onsekerheid wat deur Deon se oproep veroorsaak is. Sy vroetel haar vingers deur haar hare, ’n instinktiewe beweging wat die sagte lyn van haar kapsel versteur.

      Tillie … arme ou Tillie. Tillie vir wie sy versaak het toe sy die deure van haar ouerhuis agter haar toegetrek het.

      Hoe sou dit wees - sou sy baie pyn hê, dalk onooglike beserings? Sy yl, en sy roep.

      “My stiefsuster was in ’n ongeluk,” deel sy haar kollegas kortliks mee. Hulle simpatiseer ligweg, gaan dan voort met hulle werk. Dis asof hulle daarmee wil vra: wat is ’n stiefsuster nou?

      Hulle … dit val haar nou by dat Deon gepraat het van “hulle” wat in die ongeluk was.

      Wie? Kan dit wees …? ’n Vriend? ’n Kêrel, soos haar stiefma afkeurend sou sê?

      Wel, as dit so is, kan ’n mens slegs sidder vir die gevolge. Hopeloos ontwrig staan Irma op en gaan in die klein kantoorkombuisie ’n glas water drink. Dan besef sy dat sy eintlik geen behoefte aan water gehad het nie. Sy dwaal terug na die hoë venster vanwaar sy afkyk op besige strate en die glimmering van alle soorte dakke in die winterson.

      Dis halfelf in die môre. Hoe totaal onwetend het sy vanoggend opgestaan, werk toe gekom.

      Dit het iets so alledaags geword dat ’n mens ongevoelig begin raak het: motorongelukke … En nou is sy plotseling betrek in die kring daarvan … nou trek dit bloed.

      As Johan haar kon neem, sou dit baie gouer gaan. Maar moontlik is Deon reeds op pad, buite die bereik van ’n telegram of telefoon. “Ek ry nou,” het hy gesê. En as Deon sê “nou”, dan beteken dit “nou”.

      Dan maar wag, wat anders kan sy doen? Ondraaglike gedagte. Wag moet die ergste ding op aarde wees. Maar wie was saam met Tillie in die motor? Die vraag teister haar.

      In haar laaste brief het Tillie iets gesê wat sekerlik as inligting bedoel was, alhoewel so vaag dat Irma gewonder het of sy dalk die kat aan die stert beet het met haar vertolking. “Die lewe hier op die plaas is darem nie so vaal soos voorheen nie …” Die omslagtigheid van inligting is heel verstaanbaar. Dit sou nie die eerste keer wees dat ’n brief, hetsy inkomende of uitgaande, in die hande van Matilda val nie.

      Sou hierdie opmerking gedui het op Deon wat nou permanent op die plaas is? Of het Tillie iemand besonders ontmoet? En was sy (sonder toestemming, beslis) saam met hom in die motor toe die ongeluk gebeur het? Dan wag daar ’n vagevuur van verwyte op haar as sy herstel. Ás sy herstel. Selfs al herstel sy nie, sal Matilda se verwyte nie agterweë bly nie. Matilda is iemand sonder genade, dink Irma helder en duidelik.

      Die streng, onwrikbare beeld van Matilda verrys voor haar; die onuitwisbare skrikbeeld, so duidelik ingegraveer asof sy haar slegs gister laas gesien het. Die gestalte wat haar laat vlug het uit die huis waarin sy die beeld van haar oorlede moeder nie meer kon vind nie. Sy het haar pa en Tillie versaak. Vir Tillie veral, wat op hierdie oomblik dalk ’n ongelyke stryd voer teen die skaduwee van die dood. Sy is so ’n brose mensie.

      Tydens die jaar opleiding hier in die stad het Irma nog net twee keer huis toe gegaan. Daarna, toe sy werk vind en selfstandig raak, glad nie meer nie. Dis reeds twee jaar. Enige skuldgevoel jeens Tillie het vervaag toe sy hoor dat Deon nou vir goed op die plaas is. Is dit moontlik dat Tillie se eenkant lewe, haar jongmeisie-eensaamheid, selfs uit haar gedagtes begin verdwyn het? Op hierdie oomblik het Irma egter ’n duidelike beeld van haar stiefsuster: die ranke, tenger liggaam en die vloed blonde hare. Die fyn gesiggie met die energieke oë wat egter mettertyd al hoe stiller geword het totdat hulle op agtien as willoos beskryf kon word.

      Die herinneringsbeeld dryf haar weg van die venster, beweeg haar tot aksie. Reisvaardige aksie. Eerstens: meneer Langley. Daarna vir Johan inlig en groet, en verskeie klein reëlinkies. Inpak, afsprake kanselleer.

      Johan Jooneveld … om hom ’n onbepaalde tyd lank nie te sien nie. Die gedagte hinder haar soos gewoonlik wanneer hy ’n dag of langer uit die stad moet wees in verband met werk. Sy weet dat hy dit in ’n mate irriterend vind as sy gedurig, altyd by hom wil wees.

      “Twee mense kan mekaar maklik verstik, hoor,” het hy haar op ’n keer in erns geterg.

      “As dit jou definisie van liefde is,” het sy met ’n effens ergerlike handgebaar beduie.

      Hy het vlugtig na die ring aan haar hand gekyk. Soos ’n jagter na sy trofee, was die ongunstige vergelyking wat by haar opgekom het. Of is hy reg? Is sy besitlik? Ly sy aan ’n gevoel van onsekerheid vanweë haar huislike agtergrond? Dis net dat sy in sy teenwoordigheid daarna verlang om ontslae te raak van die masker wat sy in haar gewone lewe dra, dat sy by hom slegs wil wees wat sy is: ’n eensame, ontwortelde meisie. Sy wil gekoester wees in sy manlike beskerming.