n>
Helene de Kock
Man van kaliber
Human & Rousseau
1
“Professor?”
Jessica Theron kyk op van haar lessenaar. In die deur staan Karel Malan, soos altyd stylvol geklee in ’n donkerblou broek en strepieshemp. Sy glimlag by voorbaat. Hy lyk uitgerus en vrolik, want sy weet mos die finalejaar-LLB’s het eergister al hul laaste vraestel geskryf.
“Kom binne, meneer Malan,” sê sy en haar fyn swart wenkbroue lig effens. “Ek het gedink jy is al weg huis toe.”
Hy tik die deur liggies sodat dit sag agter hom toeklik, kom staan voor haar, arms besadig voor die bors gevou. “O, ek wás op pad huis toe, professor, maar toe besluit ek om om te draai.”
Sy lag. Ken hom darem ook nie van vandag af nie. Daardie uiterlike sedigheid bedek ’n onnutsige humorsin. Sy probeer nog haar mond reg plooi, maar gee op, lag net weer. “Já?” vra sy.
“Ja. ’n Mens kan maar sê dit was op aandrang van die keiser.”
“Die keiser?” vra sy geamuseerd, beduie dat hy moet sit. Sy merk dat hy ietwat bleek is en dat daar ’n vreemde onseker trekkie om die effens streng mond is.
“Keiser Justinianus, ja,” sê hy sag. “Die eerste lesings wat ek destyds by u bygewoon het, het gehandel oor die Twaalf Wette wat hy ingestel het …”
“Die Corpus Iuris Civilis, ja,” val sy hom onwillekeurig in die rede. “Ek onthou goed hoe baie vrae jy gevra het!”
“Ek wou nog baie meer vra, maar wat wel bly steek het, is dat u kort-kort na hom bly verwys het as ’n man van kaliber.”
“Dis tog waar,” glimlag sy koel en voel die stilte wat tussen hulle insluip, asof die stad skielik rondom die kampus weggesak het.
Daar is ’n ongewone intensiteit in sy oë toe hy sê: “Ja, natuurlik is dit waar. Justinianus wás ’n reus op regs- en ander gebiede. Maar … ek wonder nog altyd watter karaktereienskappe só ’n man van kaliber sou moes hê.”
Sy leun terug in haar stoel, sku vir die trant van die gesprek. Sy weet mos al jare hoe Karel Malan oor haar voel. Nie dat sy hom dit ooit laat agterkom het nie. Maar dit was nie altyd maklik nie. Drie jaar jonger as sy en innemend aantreklik. ’n Man wat eers gaan werk het en toe kom studeer het. Een van haar eerste studente toe sy destyds – rou jonk en hipergeleerd – hier op Tukkies aangestel is.
Hy merk haar huiwering, druk sy vingerpunte teen mekaar en kyk stip na haar. Sy maak ’n vae, verbouereerde handgebaartjie.
“Dis nou vir jou ’n vraag,” glimlag sy skewerig. “Dis tog vanselfsprekend dat Justinianus ’n man van hoë integriteit moet gewees het. Die geskiedenisboeke …”
“Nee!” keer hy haar heftig. “Ek wil weet wat ú van iemand soos keiser Justinianus sou verwag as u hom persoonlik kon ontmoet.”
Sy blik is so intens dat ’n blos in haar wange opskiet. Sy weet mos sy besoek het niks met die keiser uit te waai nie. Dit het alles te doen met die feit dat sy van volgende jaar af as departementshoof van Romeinse Reg op Potchefstroom aangestel is. En Karel Malan, op pad na sy ouerhuis naby Bethlehem, het omgedraai omdat hy wou kom groet. Wéér ’n keer, want hy het klaar saam met die ander finalejaars vir haar ’n afskeidsparty gegee. Jare lank al keer sy Karel se beskeie attensies behendig weg. Maande al sien sy hierdie ding kom. Sy wil hom nie krenk nie. Reguit woorde nietemin, besluit sy opeens.
“Karel,” sê sy met ’n fyn glimlag, “moenie die keiser as kruk gebruik nie.”
Daar breek ’n wit glimlag oor sy gesig en dis of sy blik nog helderder word. “Dis die eerste maal dat jy my op my naam noem,” sê hy half verwonderd.
“Jy is nie meer ’n student nie,” antwoord sy, en toe met ’n versagtende handgebaar: “Ek sal jou mis …”
Hy sit effens terug asof hy skielik weet dat hy suutjies besig is om veld te wen. Toe glimlag hy weer. “Vergeet dan maar van die keiser … Jessica. Ek wil weet hoe lyk die man wat jy bewonder. Jóú man van kaliber.”
Jessica draai haar kop weg, gee ’n blaaslaggie. “Wil jy nou hê ek moet liries raak oor die ideale man, of wat?” En toe hy haar net stil bly aankyk: “My liewe Karel, die ideaal op feitlik alle gebiede is bloot ’n illusie. Dis iets wat tussen droom en herinnering lê. En kaliber – wel, dis dalk iets wat eers in geskiedenisboeke uitkristalliseer!”
Hy staan stadig op, kyk onderlangs na haar en skud toe sy donker kop. “Nou klink jy soos ’n siniese professor.”
“Ek ís mos een. En ek is bloot realisties, Karel,” sê sy en staan ook op, stut haar vingerpunte op die lessenaarblad. Sy is glad nie voorbereid daarop toe hy vorentoe leun nie, sy gesig so naby hare dat sy die verborge onstuimigheid binne-in hom kan sien.
“Jy is ook ’n vrou, Jessica,” sê hy gesmoord. “Een wat ek bitter graag beter wil leer ken. Ek … het jare lank op hierdie gesprek gewag!”
Dis die dringende vraag in sy oë wat haar spytig laat sê: “Maar nou gaan ek Potch toe en jy, sover ek weet, gaan in vennootskap met jou broer op Bethlehem.”
“Noordwes en die Vrystaat lê langs mekaar, professor. Dis net hiér waar ons wêrelde uitmekaar was.”
Sy sug liggies en maak haar oë uit syne los. “Daar is nie ’n ‘ons’ nie, Karel.”
“Nee,” antwoord hy kalm en kom ook orent. “Al wat ek vra, is om vir jou te mag kom kuier op Potch.”
Haar mond roer in ’n glimlag. Dis onmoontlik om nie van Karel Malan te hou nie. Maar sy kyk tog skigtig weg toe sy praat: “Die situasie het nie verander nie, Karel. Jy is nog altyd … ’n paar jaar jonger as ek.”
Die lag spring tot in sy oë.
“Wat ’n simpel redenasie vir ’n geëmansipeerde vrou!” Toe steek hy sy hand na haar uit en sy vat dit vas. “Tot later dan, Jessica. Nog voor Kersfees kom kuier ek vir jou op Potch.”
Toe Jessica die oggend van haar vertrek in haar leë woonstel staan en toekyk hoe vinnig haar goed verpak word, voel sy soos iemand wat voor die rapende arm van die gereg moet uitvlug. Dis of sy nog hier wil gryp en daar wil vat om só die laaste bietjies van haar lewe in Pretoria te probeer behou. Oplaas kyk sy die meubelwa oorbluf agterna toe dit in Hatfield se verkeer verdwyn. Nog een keer gaan staan sy voor die groot noordevenster in haar woonstel, streel met haar oë oor die pers Oktoberstad wat strek tot aan die warm bruin van die Uniegebou. En sy wonder of sy die regte ding doen.
Sy was gelukkig hier. In die ses jaar dat sy aan Tukkies klasgegee het, het sy fenomenaal opgang gemaak in haar vakgebied. Sy het twee lywige werke oor die geskiedenis van die Romeinse Privaatreg die lig laat sien en voorverlede jaar die jongste hoogleraar geword wat nog aan dié regsfakulteit aangestel is. Op akademiese gebied, dink sy toe sy finaal uitstap, het die gode nog altyd met haar geglimlag. Soos nou ook weer toe sy aansoek gedoen het vir die pos as departementshoof van Romeinse Reg aan die Universiteit van Noordwes, en dit gekry het bo beleë manne wat al jare lank hul tande daarvoor slyp. En dis nie dat sy juis ’n verandering gesoek het nie; dit was sommer ’n rusteloosheid wat haar gepak het. Die óú strepie wildheid wat haar oorlede ma so op hol kon jaag.
“Waarom wil jy opsluit na ’n ánder universiteit as jou maters, Jessica? En so ver. Wat sal van jou word?”
Dit was altyd haar ma se grootste bekommernis. Dat haar eiesinnige dogter haar op paaie van geen terugkeer sou begewe. Wat natuurlik ook gebeur het, dink Jessica wrang, en draai die sleutel in die slot. Geen terugkeer is immers vir almal. Niks, maar niks is staties nie.
Dis toe sy al halfpad weg is dat ’n soort angs haar pak. Dis ’n vreemde plek. Selfs onbevange geeste word ouer en trek-trauma is hoog op die streslys, soos wat ’n kollega haar weet te vertel het. Nuwe gesigte, Jessica, allerhande nuwe kinkels …
“Nou ja,” het sy paraat geantwoord, “ek vrees juis om in ’n groef te beland.” En sy het net gelag toe dieselfde kollega beweer dat groewe immers veilig