Helene de Kock

Windspoor


Скачать книгу

on>

      

      Helene de Kock

      Windspoor

      Human & Rousseau

      1

      Dit is nog grouvroeg en ’n dun briesie roer in die lang gras. Op die oop stuk veld aan die oostelike rand van die stad staan ’n klompie motors, en vlak bo hulle hang drie warmlugballonne wat aan die opstyg is. Die vaarders waai opgewonde uit die rietmandjies wat onder aan die ballonne hang, hul stemme klokhelder in die stil oggend. Ander lede van die ballonvaartklub wat later by die rendezvous opgedaag het, is nog besig om hul ballonne wind­af oop te lê. Waaiers woer-woer soos lug ingepomp word voordat die branders die warm gas inblaas wat die ballonne laat bol.

      “Dis darem vir jou ’n gespook om die ding in die lug te kry,” sê Laura Helmer kopskuddend waar sy langs Gustav Bothma staan. Hy lag net en trek harder aan die kroonlyn aan die punt van hul ballon terwyl die groot kanariegeel omhulsel stadig ontvou en eindelik bolrond bly staan. Sy stap nader na waar haar broer, Douw, en sy vriend Sep Smit bly rondtrap om die rietmandjie. Ruben, valhelm op die kop, is al besig by die aan/af-klep van die brander. Hy werskaf daarmee sodat die warm gasse binne-in die omhulsel eweredig kan versprei. Die ballon staan byna vier ver­diepings hoog. Sy knak haar kop agteroor om mooi te kyk en dink: dis miskien omdat dit so ontsaglik groot is dat ek gewillig bly om saam te vaar. Die mens soek mos immer na ’n korrelasie tussen grootte en veiligheid.

      Ruben kyk oor sy skouer en blaas vir haar ’n soen.

      Sy glimlag met hom. Nog net drie dae, dink sy met ’n heimlike rillinkie van opwinding. Drie dae, dan is Ruben Meyer myne, en ek syne.

      “Toe nou, klim in,” skree Gustav, en Douw en Seppi koor op­gewonde agterna.

      Sy klouter oor die rand van die rietmandjie en gaan staan styf langs Ruben, wat dadelik ’n arm om haar slaan. Die brander blaas onaards die hoë geel omhulsel in. Stadig en saggies begin die ballon opstyg uit die klam appelgroen gras. Soos altyd maak Laura haar oë styf toe, haar hande om die rand van die mandjie geklem. Soos met elke vaart kry sy die gevoel dat sy in die lug opgehys word en dat haar hele gewig in haar kuitstewels afsak.

      “Waai vir Gustav-hulle,” sê Ruben vlak by haar oor.

      Sy lig albei arms en waai, maak haar oë oop om die aarde vaalblou en mistig in die oggendgloor te sien wegsak onder hulle. Gustav en die ander twee word al kleiner totdat sy hulle net aan hul helderkleurige truie kan onderskei. Oplaas sien sy nog net Gustav se knalrooi trui. Douw en Seppi het al in die bakkie gaan klim, gereed om die geel ballon visueel te volg en in radiokontak te bly. Oplaas sien sy ook die rooi spikkel na die bakkie beweeg en agterop klim. Stadig beweeg die bakkie oor die veld en draai ooswaarts by die grondpad in om die windrigting te volg.

      Twee ballonne, ’n rooi-en-wit een en ’n bloue, sweef ’n ent van hulle af. Die vaarders lag en waai en roep soos kwinkelerende voëls in hoë bome. Eindelik wyk die gevoel dat ’n reusehand besig is om hulle in die lug op te trek. Hulle is nou hoog genoeg, weet Laura, en sy sug voldaan.

      “Dis wonderbaarlik stil hier bo, Ruben. Dis of ’n mens iets van hierdie volkome windloosheid wil vasvang …”

      “Ja,” glimlag hy, “maar dis natuurlik so stil omdat ons teen die presiese snelheid van die wind vaar.”

      “Nes ’n donsveer wat op ’n luggie ry,” sê sy dromerig.

      “Ja,” beaam hy afgetrokke sodat sy omdraai.

      Daar is ’n swaar frons tussen sy oë en sy vra intuïtief: “Wat is dit?”

      Hy plaas sy palms stadig weerskante van haar gesig en sy welgevormde mond vertrek lig, byna soos water waarop wind ’n roe­ring maak.

      “Ek … wens ons kon sommer wegloop!” sê hy gesmoord. “Ek wil op ’n ver en afgeleë plek gaan trou en nooit weer terugkom nie!”

      Sy woorde is so roekeloos romanties dat dit haar beetpak.

      “Ek wens ook so. O, Ruben, sê nou ons kon sommer nóú wegvaar na daardie ver plek! Dink jy ’n warmlugballon sal duisende kilometers met sukses kan aflê?” Sy lag vir haar eie woorde, maar hy sug beswaard.

      “Miskien, ja, as die wind sterk genoeg is.” En toe peinsend: “’n Sterk wind is ’n vreemde ding. Daar skuil goed én kwaad in. Daar word gesê dat die wind kerse doodwaai, maar vure aanblaas.”

      Sy staar effens verslae na hom. Wat op aarde sou dit van­oggend met hom wees? Maar nog voordat sy kan vra, sê hy sta­dig: “Soos beproewinge vlak gevoelens blus, maar hartstogte dieper laat word.”

      Haar hande skuif op na sy skouers. “Ruben,” vra sy dan, “wat makeer jou vanmôre?”

      Hy druk haar meteens krampagtig teen hom vas sodat sy die warmte van sy liggaam teen hare voel, sy hart onder haar oor hoor bons. Hulle bly so staan totdat ’n paar lang wolwefluite van die ander ballonne af weerklink. Ruben laat haar los en waai vir hulle. Die rooi-en-witte sweef ’n ent verder met die windstroom af en die ander is nog verder weg. Soos altyd staar hulle in verwonde­ring na die reusevaartuie. En die ou, rustige ekstase sypel terug. Alles lyk so vredig hier van bo af. Sorgeloos mooi soos ’n prent­jie; asof die gewoel weggesak het onder die oppervlak. En toe, soos ’n blink kopermuntstuk in ’n gleuf, sien hulle die rooi randjie van die son oor die kim steek. En in die nuwe lig sien hulle weer roering en beroering.

      Ver onder golf die wind oor die veld en streep die verkeer haastig aan met die loodswart paaie wat na die stad lei. Rook trek rosig uit ’n paar skoorstene en verdwyn weer. Iewers na die suide­kant dreun ’n vliegtuig, maar die klank raak skielik weg sodat hulle wonder of hulle dit ooit gehoor het.

      Ruben trek haar weer nader sodat sy in die kromming van sy arm staan. “Laura-lief, moet jou nie aan my steur nie. Ek voel sommer mistroostig, dalk omdat my ouers nie meer daar is om hierdie tyd met my te deel nie. Tant Karla is wel baie gaaf, maar ek dink nie sy begryp juis nie. Ek staan immers op trou met die mooiste meisie in Pretoria, dit moet jy weet!”

      Deernis swiep deur haar en sy plaas haar vingers vlugtig oor sy lippe. “Ag so, nè? Nou maar dan moet jy onthou dat dié meisie oor drie dae jou vrou gaan wees, en sy het haar voorgeneem om alles te probeer begryp!”

      Hy staar na haar, sy mond saamgepers, sy blou oë troebel, en sê toe stadig: “Laura, jy is die heel beste ding wat nog ooit met my gebeur het. Toe ek ’n jaar gelede van Harvard af teruggekom het, was ek byna sinies omtrent vroumense …”

      “Ek weet,” glimlag sy toegeeflik en stryk met haar hande oor sy breë skouers. Maar hy skud sy kop heftig.

      “Nee, jy weet nie regtig nie. Toe ek jou ontmoet het en besef dat daar ’n redelik ernstige verhouding tussen jou en Gustav was, wou my hart gaan staan …” Hy soen haar talmend, en dis of hy sy asem moet terugkry voordat hy sê: “Want ek was toe mos al smoorverlief op jou foto wat Gustav eenkeer aan my gestuur het. Hy het vir my baie van jou geskryf, maar op so ’n trant dat ek dag hy hou maar net baie van sy professor se dogter omdat hy jou baie te siene gekry het met dié dat hy en Seppi by julle geloseer het.”

      “Nóg loseer,” terg sy en strengel haar vingers inmekaar voor sy bors.

      Hy glimlag suurderig. “Tot my ergernis, ja. Waarom kon hy nie al vir hom ander blyplek gesoek het nie?”

      “Omdat hy niemand pla nie, Ruben,” paai sy. “Hy en Seppi is mos heeltemal afgesonder in daardie woonstel onder in die tuin. Vandat Ouma oorlede is, het die plek tog net leeg gestaan, en ek dink dis goed dat my pa besluit het om loseerders daar in te neem.”

      “Hm … maar Gustav lyk vir my al hoe meer bekaf. En ek wil tog nie ’n dikmond strooijonker langs my in die kerk hê nie.”

      “Toe maar, jong,” lag sy. “Douw en Seppi sal mos ook daar wees. Sê hulle maar net aan om hom met die elmboog in die sy te pomp as hy begin bedruk lyk.”

      “Raak dit jou glad nie dat hy steeds so kleinserig voel oor jou en my nie, Laura?”

      Sy word stil, kyk weg oor die wêreld waar die stad nou roosgrys na die westekant lê. Toe knik sy.

      “Dit pla my soms. Ek wil tog nie hê dat hy so moet voel nie.”