Albert Blake
MOORD-
EN-ROOF
In die kop van ’n
baasspeurder
Tafelberg
Skrywersnota |
Een aand beland ek en Charles Miller langs twee halfaangeklamde mans in ’n volgepakte kroeg op Roodepoort. Ons moes ongevraagd luister na die twee se oordrewe vertellinge van hul wedervaringe in die bosoorlog.
Die twee het luidkeels allerlei aansprake gemaak oor die hewige gevegte waarin hulle in Angola betrokke sou gewees het. Die bravade waarmee hulle die stories uitbasuin het, het eerder op ’n ander waarheid gedui – vir diegene wat ware oorlogsgruwels ervaar het, is dit gewoonlik te erg om daaroor te praat. Ek het al voorheen met sulke “dapper grensvegters” te doene gekry, wat posttraumatiese stres weens die oorlog as verskoning vir latere gebroke huwelike, onsuksesvolle loopbane en sommer enige ander mislukking gebruik het. Dié soort kafpraters doen die ware slagoffers van die oorlog, die geestelik en liggaamlik verminktes, ’n oneer aan. Namate die twee se grootpratery met die inname van nog dubbels vererger het, het ander omstanders hul eie grenservaringe begin bydra.
Niemand het hulle juis aan die man gesteur wat langs my gesit het nie. Hy was immers amper sewentig en het hom eenkant gehou. Oor die onderwerp van lewensgevaarlike situasies was Charles opmerklik stil. Tog het hy baie gehad om te sê.
Die absurditeit van die oomblik het my opgeval. Niemand het geweet my bejaarde maat was voorheen ’n legendariese baasspeurder in die polisie se soms berugte Moord-en-roofeenheid nie. Hulle sou dus ook nie weet dat hy waarskynlik in meer gevaarsituasies was as wat hulle hulle ooit sal kan indink nie. Oor bykans drie dekades het hy voortdurend met die mens se donker kant te doene gehad en was hy amper daagliks in lewensgevaar. As daar een mens was wat met gesag in die rumoer van die kroeg kon praat, was dit hy. Charles was die slagoffer van intense trauma en spanning weens sy werk.
Maar ons twee het niks gesê nie.
Die vreemdelinge se grootpratery het vir my ’n onhoudbare verleentheid geword en ons het besluit om na ’n stiller plek te verkas. Daar kon ons die moontlikheid van die optekening en publikasie van sy ervaringe in Moord-en-roof bespreek. Ek sou later besef die rede vir Charles se stilswye daardie aand in 2012 was ingewikkelder as wat ek aanvanklik vermoed het.
Voor daardie aand het ek en Charles amper twee dekades lank nie werklik kontak met mekaar gehad nie. In sekere opsigte het hy nou vir my broos voorgekom. Dis nie hoe ek hom jare gelede geken het nie . . .
Ek het Charles meer as dertig jaar tevore ontmoet toe ek as ’n jong prokureur aan die Wes-Rand begin praktiseer het. Hy het die oggend van ons eerste ontmoeting in die lang gang van die landdroshof op Krugersdorp vinnig met dossiere onder die arm aangestap gekom. ’n Fris geboude ligtekopman in sy laat dertigs. Aan sy konserwatiewe kleredrag het ek reeds op ’n afstand gesien hy is ’n speurder. Die tipiese roomkleurige langbroek-safaripak, Grasshopper-skoene en kortgeskeerde hare van daardie era se speurders het hom weggegee.
Daar was ’n ligte beroering soos hy in die gang afgestap het. ’n Gefluister het hom gevolg.
Hy was spontaan beleefd en galant toe ek aan hom voorgestel word. Hy was anders as die deursnee-speurder, wat gewoonlik maar agterdogtig is wanneer hulle ’n vreemde prokureur of advokaat ontmoet wat die verdagtes verdedig wat hulle vasgetrek het. Die selfversekerde manier waarop hy met sy kenmerkende bry gepraat het, het ’n soort gesag afgedwing sonder dat hy aanmatigend was. Toe hy my met sy deurdringende ligblou oë aankyk, het ek onwillekeurig van een voet na die ander getrap. Daardie oë moes die gehardste misdadiger ongemaklik gelaat het.
In die jare daarna het ek hom as ’n meedoënloos toegewyde ondersoekbeampte leer ken. Sy formidabele ondersoekwerk het gesorg dat die gate vir die verdediging toegemaak is. Daarvan getuig die ongekende suksesse van sy ondersoekwerk waaroor wyd in die media geskryf is. Hy hou steeds vol dat daardie suksesse slegs aan spanwerk te danke is en beskou homself glad nie as ’n baas- of topspeurder nie.
Ondanks sy merkwaardige loopbaan as speurder het Charles om verskeie redes nooit ’n offisier geword nie. Daar was stormagtige momente in sy loopbaan en dit het nie ’n gelukkige einde gehad nie. Soos die misdadigers wat hy aan die man gebring het, is hy self aan die einde van sy loopbaan vervolg.
Wat volg, is Charles en sy kollegas van Moord-en-roof se verhaal.
Inleiding |
Daar het nog min boeke oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisie verskyn wat aandag gee aan die bekamping van misdaad en nie net op politieke onrus fokus nie. Waar literatuur wel die optrede van die polisiemag bespreek, word dit meestal voorgehou as deel van die apartheidsmasjinerie wat die destydse politieke bestel moes handhaaf.
Boeke deur joernaliste soos Jacques Pauw1 en De Wet Potgieter2 het polisiewandade van ’n politieke aard onthul. Hoewel dié boeke veel gedoen het om die duistere kant van die polisie in die apartheidsjare te onthul, kan dit ook verkeerdelik die indruk wek dat die hele polisiemag uitsluitlik korrup was.
Daarteenoor is daar werke van voormalige hoë polisieoffisiere wat ewewigtigheid inboet omdat dit probeer om alle polisieoptredes tydens die apartheidsjare te regverdig. Die biografieë van genls. Johan van der Merwe3 en Wouter Grové4 gee ook nie juis aandag aan die lot van polisiemanne op grondvlak nie en veral nie daardie polisiemanne wat nie primêr met die bekamping van politieke oortredings gemoeid was nie.
Ook oor die geskiedenis van Koevoet, die polisie se berugte teeninsurgensie-eenheid wat in Ovamboland in die destydse Suidwes-Afrika diens gedoen het, het ’n hele aantal werke verskyn.5 Die storie van die binnelandse gespesialiseerde afdelings van die polisie soos die Moord-en-roofeenheid is egter afgeskeep.6 Hierdie boek probeer daardie leemte vul.
Charles Miller se verhaal is veel meer as net die optekening van een polisieman se lewe. Dis enersyds ook ’n misdaadgeskiedenis wat daardie oënskynlike barbaarsheid wat sommige mense tot ondenkbare wreedheid dryf, dokumenteer. Die boek gaan andersyds ook oor ’n spesifieke eenheid van die polisie en die ekstreme omstandighede waaronder sy lede misdaad moes beveg.
Die primêre taak van die Moord-en-roofeenheid was om ernstige misdade soos gewapende roof en moord te ondersoek en verdagtes op te spoor. Politieke oortredings is deur die veiligheidspolisie en ander ondersoek. Aangesien die Moord-en-roofeenheid misdade in ’n tyd van politieke onrus moes bekamp, het hulle soms noodwendig ook met politieke misdade te doene gehad. Sedert 1976 het politieke onrus toegeneem totdat dit in die middel tagtigerjare en daarna feitlik ononderbroke tot 1994 voortgewoed het. Dit het die bekamping van gemeenregtelike misdade soos moord en roof uiteraard baie moeiliker gemaak.
Dié boek is ’n geskiedenis van ’n polisie-eenheid deur die oë van ’n wit speurder in die laaste drie dekades van die ou Suid-Afrikaanse bedeling. Charles was van 1962 tot 1992 ’n polisieman – in die hoogbloei van apartheid – en hy en sy kollegas was noodwendig produkte van hul tyd. Charles self, soos ook sy kollegas, het nooit die politieke bestel van die dag bevraagteken nie. Die boek het egter geen politieke bymotiewe nie en is ook nie bedoel as ’n politieke geskiedenis nie. (Daar word wel van tyd tot tyd na mense se ras verwys omdat dit van historiese belang in ’n werk van hierdie aard is.)
Die Brixtonse Moord-en-rooftak was alombekend en in sommige kringe ook berug. Die Wes-Randse Moord-en-rooftak was heelwat kleiner as Brixton s’n, maar sy lede is aan dieselfde soort gevare blootgestel. Moord-en-roof was nie ’n plek vir sissies nie en was ook nie vir engeltjies bedoel nie. Min kon in dié eenheid aanpas. Nog minder kon dit enduit daar uithou. Dit het ’n spesiale mens geverg om in hierdie hoërisiko-eenheid te aard.
In ’n land wat skynbaar deurdrenk is met geweld word ons daagliks met misdaadnuus gebombardeer. Ek is etlike kere gevra waarom ek misdade uit die verlede wil ophaal wanneer mense reeds so misdaadvoos is.
Ek glo egter van hierdie oudpolisiemanne se stories moet vertel word, nie net vir individuele