Louisa du Toit

Waar is die kleure heen?


Скачать книгу

      

      Louisa du Toit

       Waar is die kleure heen?

      Jasmyn

      1

      Minah Bronkhorst kom agter haar seun in sy oop kamerdeur staan. ’n Oomblik lank betrag sy in stilte sy lenige gestalte. Sy hare is klam van die stort.

      “Jy het mos gesê jy gaan na Freek en Susara toe?” wil sy dan weet.

      “Ja, Mie. Ek het belowe om die kinders rugby toe te vat.”

      “Terwyl jy dan tog by Laura verby moet ry …”

      Meyer voel sy rug styf word. Hy moes geweet het dat sy ma nie om dowe neute na sy kamer toe gekom het nie. Sy meng selde in met die private lewe of die emosiewêreld van haar kinders. Toe hulle klein was, het sy hulle selfs geleer om haar “Mie” te noem; ’n kruising tussen Minah en Ma, asof sy daardeur ’n afstand sou kon skep. Sy wou nooit deur haar kinders geabsorbeer word nie.

      Dis vir Meyer swaar om ’n versoek van haar te weier. Sy vra nie maklik ’n guns nie. Bowendien woon hulle twee alleen saam in hierdie groot huis. Hulle kan dit nie bekostig om afsydig teenoor mekaar te staan nie. In ’n sin het hulle mekaar erg nodig, en nogal lief ook. Hulle hou selfs van mekaar, dink hy geamuseerd. Dis dalk hoekom sy hom nog nie uitgeskop het nie. Hy trek die swart kammetjie deur sy klam hare. Terwyl hy die krullerige punte met ’n oop hand teen sy nek vasdruk, soek hy na ’n antwoord.

      Eindelik besluit hy op ’n reguit, ofskoon wrede antwoord. Wat tussen hom en Laura was, is finaal en pynlik verby. Wanneer sal sy ma besluit om alle hoop te laat vaar dat hy weer by Laura sal gaan flikflooi? Na wat sy hom aangedoen het in die verlede? Eerder sal hy nagte lank oor haar wakker lê, sat van verlange, as dat hy hom weer sal laat wegstuur en verneder. Hy laat die kammetjie sak. Sy skouers in die gestreepte hemp is stil toe hy sy ma se blik in die spieël vind. “My pad gaan nie by Laura se huis verby nie,” sê hy pront.

      “Jy kan as jy wil. Dis die logiese pad na Freek en Susara toe: by Laura se huis verby.”

      “Ek het nie gesê die pad loop nie daar verby nie, ek het gesê my pad. Waarom sou ek die logiese pad wou vat as dit om Laura gaan?” vra hy harder as wat nodig is, want Mie staan immers naby hom. Hy swaai om en met grimmige bewegings trek hy die bruin ferweelbaadjie aan wat al saf gedra is. Hy hou veral van dié baadjie aan sy lyf op ’n Sater­dag­middag.

      “Wat het Shakespeare geskryf van te veel protesteer?” vra Minah. Haar mondhoeke trek effens sinies. Sy is ’n eien­aarde mengeling van tannie en lady. In voorkoms is sy geen welversorgde sosiale ikoon nie. Sy is trouens nie eers ’n danige mooi vrou nie. Sy het die uitgesakte figuur van ’n moeder wat drie kinders in die wêreld gebring en grootgemaak het sonder om enigsins op haar voorkoms te let. Sy het ’n onbestudeerde versorgdheid wat eintlik deur menige ander vrou op bestudeerde wyse nagejaag word. Sy lyk so losgemaak van almal en alles. En tog gee sy om. Meyer, wat die meeste met haar te doen het, weet dit.

      Aan dit alles dink hy terwyl hy haar vlugtig bekyk. “Laat my nou maar met rus,” versoek hy. “Hoe ek die ding met Laura verwerk het, is mý saak. Ek het dit gedoen volgens die lig wat ek gehad het, en ek bly daarby. En as dit lyk of ek te veel teenkap: wat anders staan my te doen as die hele dorp en my eie ma gedurig probeer om my weer aan Laura te koppel?”

      “Toe nou, Meyer … ek wou maar net vra of jy vir Laura en die kind ’n vars brood sal saamvat. Julle is tog nie volslae vreemdelinge vir mekaar nie, of hoe? Julle besit saam ’n handelsaak, en jy wil nie met haar praat nie. Wat ’n grap. Ek weet nie hoe jy so kan lewe nie. Ek verstaan dit nie.”

      Meyer besluit dat sy eerlik genoeg lyk; oor die brood, in elk geval. “Ek sal die brood afgee,” besluit hy stuurs. “Maar die danige handelsaak wat ons saam besit, dis ’n gesukkel waarvoor ek nou deksels moeg is. Ek wil daarvan ontslae raak.”

      “Laura is geheg daaraan. Dit het tog aan Piet ook behoort.”

      “Piet, Piet, Piet. Net of sy so danig geheg was aan Piet.”

      “Jy praat van jou broer. En hy lewe nie meer, om hom te verdedig nie. Watter reg het jy om te beweer dat sy nie aan hom geheg was, of hy aan haar nie?”

      “Watter reg?” Hy gee ’n smalende neuslaggie. “Ek het alle reg om dit te beweer, want hulle geluk, ás hulle enige geluk saam gehad het, was op my ongeluk gebou. Fondamente van sand. Want Piet het haar by my afgevry, onthou?”

      “Sou sy dit toegelaat het as sy nie vir hom omgegee het nie? En jy self is nog baie bitter vir iemand wat glad nie omgee nie.”

      “Ek vergeet maar net moeilik, my Mie. Ek kan dit nie help nie. Om te onthou is ’n normale funksie van die brein.”

      “Jy aard na jou pa. Vergeet en vergewe nooit. Piet het meer soos ek geaard, hy kon iets vergeet en daaroor kom.”

      “Veral as hy met die prys weggestap het, ja. En dit was nie omdat hy jou eienskappe gehad het nie, Mie. Dit was omdat hy ’n losbol sonder gewete was.”

      Minah toon geen pyn oor hierdie ruwe opmerking nie. Sy het lankal verby pyn geleef. Die matheid in haar blik is nie die soort moegheid van ’n vrou wat van vroeg tot laat deugsaam in haar huishouding arbei nie. Dis eerder ’n soort morele vermoeidheid omdat sy moeg is van sien en weet wat andere nie sien en weet nie.

      As seuntjie het Meyer haar ’n hopelose moeder gevind. Sy was nie lief vir huiswerk en kindgrootmaak nie en het hom, Piet en Susara met trae ongeduld van haar lyf af probeer hou. So vroeg moontlik saans moes hulle in die bed gestop word, en dan het Meyer wakker gelê en geluister hoe sy klavier speel.

      Hy het dikwels gedink dat die klavierles wat sy gee, vir haar meer beteken as haar kinders van vlees en bloed. Vir ’n woelige seuntjie is dit ’n straf om halfses bed toe te gaan, selfs al is hy moeg gespeel en al is dit winter.

      Iewers langs die pad van grootword het die klem egter verskuif. Jy kry moeders wat uitstekend vaar met klein kinders, omdat dit vir hulle speelgoed is; maar sodra die kind groter word, verloor hulle voeling. Met Minah was die omgekeerde waar. Haar eie volwassenheid het eintlik geblyk toe sy met volwasse wordende kinders moes werk. Soos die drie kinders groter word, het hulle eerder na haar as na hulle pa gegaan om hulp en raad.

      Die beste verstandhouding het sy waarskynlik tans met haar oorblywende seun en dogter: ’n soort radar-ingesteldheid. Sy wil weet van hulle, sy wil hulle liefhê, sonder dat hulle wedersyds veel van mekaar verg. Meyer het alle rede om te glo dat sy bitter getreur het na Piet se dood; en tog het die versoek nooit oor haar lippe gekom dat Laura en die kind by haar sal kom inwoon nie. Meyer het ook ’n sterk vermoede dat sy hom soms onder haar voete wegwens, maar hy hou hom blind daarvoor. Sy kan nie alleen woon nie. Sy is te verstrooid en onprakties, sal saans vergeet om die deure te sluit. Sy pa was altyd die een wat gekyk het of al die kinders binne is en dan die deure agter hulle gesluit het.

      “Jy kan nie die saak verkoop nie.”

      “Hoekom nie? Ter wille van Laura? Sy het my eenkeer uitverkoop. Wat verhinder my om dieselfde met haar te doen?” Hy snuif-snuif liggies; het ’n hengse verkoue, en sou liewer in die bed klim as om Esbie en John rugby toe te vat. Maar hy het vir Susara belowe. Sedert sy knieskyf begin lol het, kan hy self nie meer speel nie. Dié dat hy dwing om te wil gewig aansit. Sit by die werk ook heeldag op sy bas.

      “Jy is so ’n klein mensie, Meyer,” skel Minah haar seun uit.

      Dis vir hom dierbaar as sy iemand uitskel. Haar ergste wrewel is opreg skadeloos, goedmoedig, dit raak kant nog wal. Wanneer sy peins of haar onttrek, het sy ’n atmosfeer van oerwysheid om haar. As sy vies word, is sy soos ’n skooldogtertjie wat tong uitsteek om die skool se hoek.

      Meyer grinnik. “Nes my pa?” tart hy haar. “Hy het jou darem goed gedien, Mie. ’n Groot gees sou jou nooit so bedien het soos hy gedoen het nie. Wees bly jy het klein siele rondom jou. Grotes vat te veel lewensruimte.”

      “Jy kan selfs nie jou aandeel in die saak verkoop sonder Laura se toestemming nie,” vervat Minah. Haar wrewel het vervloei terwyl sy die praktiese probeer bykry. Dat Meyer so kwetsend gepraat het, het by haar verbygegaan. Sy loop na die spieël en bekyk haar beeld openlik,