Op die spoor van hoop
Jacqueline Leuvennink
Lux Verbi
Vir Wynand, deur wie ek meer as ooit vantevore geleer het wat Christelike hoop beteken.
“Mooi woorde wat my diep ontroer,
dié dra ek aan my koning voor”
T.T. Cloete se Psalm 45 soos aangehaal
uit die Liedboek van die Kerk.
Voorwoord
Jare gelede moes ek ’n onderhoud gaan voer met ’n bekende kunstenaar in die suidelike voorstede van Kaapstad. Ek was vreesbevange.
In die voorafgaande paar maande kon ek weens swak gesondheid, nadat ek ’n baba verloor het, nie werk nie.
Die kokon waarin my siekte my vasgeweef het, het ’n veilige wegkruipplek van die buitewêreld en sy eise geword. En toe hierdie versoek …
Ek het geweet ek moes weer iewers ’n begin maak, maar dit het gevoel asof die geringste brandertjie my kon kantel.
Gaan ek in hierdie toestand Engels in my Afrikaanse mond gepas kry?
Sal ek nog hoegenaamd ’n sinvolle gesprek kan voer met ’n vreemde persoon wie se werk ek bewonder, maar waarvan ek geen kenner is nie?
En sal hy iets interessants te sê hê wat mense sal wil lees?
Nietemin het ek myself gedwing om die telefoon op te tel en die afspraak te maak.
Die oggend van die onderhoud het ek eers ’n wye draai stadlangs gery – om vir my man by sy werk te gaan sê presies hoe bang ek is. Dit het al ’n bietjie gehelp.
Ná ’n paar bemoedigende woorde het ek verder gery. Die dae van mensvreters ís mos verby. My ma sê so.
Die uiteinde hiervan was ’n artikel – beslis nie die beste van my loopbaan nie, maar tog goed genoeg om gepubliseer te word.
Dis nou 27 jaar en baie lêers vol artikels later. Ek sidder om te dink wat ek sou verpas het as my onsekerheid die oorhand gekry het.
Gelukkig is daar ’n Kenner van nuwe beginne. Een wat by jou bly as jy in die vertreksaal van die lewe soms begin lyk soos Hendrik van Hendrik en die reuse-perske – ’n arme, hartseer seuntjie met net ’n koffertjie met sy pajamas en sy tandeborsel daarin vir die reis wat wag.
Vandag kyk ek met ’n mate van verwondering terug op elke ervaring en elke kosbare mens wat my werk oor die jare vir my so ’n voorreg gemaak het. ’n Mens leer om so ongeveinsd moontlik agter die waarheid aan te beweeg. En dan probeer jy só daaroor skryf dat dit ander hopelik eerder sal raak en behaag as verveel of beïndruk. Sodat jy, aldus George Weideman, in die woorde vermaak sal ontdek, maar ook salwing vir pyn, ’n gebed, ’n soektog en ’n poging om lewensraaisels op te los – iets waaruit jy genot put en hopelik ander ook.
Mense vra my dikwels watter onderhoude of ervarings het vir my oor die jare uitgestaan. Dié boek is ’n poging om daardie vraag ten dele te beantwoord. Die tema van hoop is méér as bloot ’n naïewe hoop dat alles sal regkom. Dit is gebou op geloof. En die ervarings van die uitsonderlike mense van ons land.
Jacqueline Leuvennink September 2012
Delwer na drome
Esta Steyn
Sy bly al veertig jaar in die huis teen die kop. Digby Hoedjiesbaai met sy vissersbakkies op die plat, koue Weskus-see.
Die vrou wat bedags somme maak vir haar aptekerman se skryfbehoefte- en geskenkwinkel, ma is vir ’n laatlamseun en maat is vir haar Bybelstudie-vriendinne. Saldanhabaai se Esta-met-die-blinkbruin-hare-en-seeblou-oë.
Van wie die mense vir jou sal sê sy is ook die vrou wat haar ander twee seuns verloor het.
Maar snags word sy wat deur die dag al hierdie dinge is, ook iets meer. Dit gebeur soms al deur die loop van die dag sommer so tussen die wasgoeddraad en die opwasbak met haar. ’n Idee vlieg op. Kom sit op haar skouer. Word iets wat sy met haar begin saamdra. Kry langsamerhand lyf. Tot “die storiefonteine van die hemele” snags oopgedraai kan word vir lekkerleesstories en draaiboeke soos dié van Kinders van die Sabbatsee, Geraldina die Tweede, Meeulanders en nou weer Droomdelwers.
Dis haar eerste boek ná ’n lang romanstilte. “Ek skryf wanneer iets gereed raak om vertel te word. Jy kan so iets nie druk nie. Jy wag tot jy soms, baie onverwags, net weet nóú is dit die dag.”
Oom Kêppies, storieverteller en een van haar karakters in Droomdelwers, probeer half strammerig verduidelik: “Ek kan self nie sê waar dit vedaan kom nie … Is soesie see self. Hy swel op in jou kop soes ’n groot deining …”
Esta is ook gebore met en vir stories.
“My pa, ’n bobaasverteller, het ons met verhale soos Brolloks en Bittergal van Langenhoven gevoer. Ek het vas geglo daar is ’n kabouter wat snags die stoele en kaste in sy meubelfabriek kom bou. Hulle sê ek het al as driejarige begin om my eie stories op te maak.”
’n Skoolmaat uit haar latere Worcester-kindertyd onthou vir Esta as “so ’n lieflike, lekker kind met sterretjies in die oë. En die Worcester-mense is mos stérk van opstap teen die wind in Hoogstraat.”
Sy het aanvanklik “vreesloos” geskryf. Maar deesdae gaan sy versigtiger om met woorde, beplan sy meer. “Dalk het my skryfkabouter wat snags my stories vir my kom fluister óók ouer geword – hy moet nou minstens 180 jaar oud wees.”
Die meeste van haar verhale speel aan die Weskus af met sy see, geroeste wrakke, klippe, bokkoms, soutpanne en flaminke. ’n Wêreld waar jy nog kan leer van eenvoud en omgee en eerlikheid, soos ’n karakter in die boek dit stel.
Esta was in ’n stadium van haar lewe bang dat sy nooit weer sou kon lag nie. En toe kom die TV-komediereeks Geraldina die Tweede soos ’n geskenk van Bo. Sy was pas sestig toe Stille Waters se kostelike karakters haar kom “oorval” het.
“Dit het met ’n borrelende binne-pret uit my gekom – en daarvoor kan ek alleen die Here dank,” sê sy vandag.
Maar eers moes sy deur alles werk wat haar boek Die grafte jubel voorafgegaan het. Esta en Le Roux het hul twee oudste seuns – Daniel en Hein – op onderskeidelik 17- en 24-jarige ouderdom verloor. Daniel is in 1988 in ’n motorfietsongeluk dood en Hein in 1996 in die see toe hy gaan seilplank ry het.
Drie jaar ná Hein se dood het haar Bybelstudie-vriendinne haar oorreed om te skryf oor dit wat hul gesin so geruk het. Hierdie (ware) verhaal was tog reeds daar. ’n Eie storie. “Waar ek gewoonlik sukkel om op dreef te kom, het ek hierdie boek binne tien dae voltooi. Die Here het my hand vasgehou; die woorde vir my gegee. Al wat ek moes doen, was om te tik.”
Sy gaan haal die boek wat reeds sewe keer herdruk is. “Ek het agterna nie eens die manuskrip vir spelfoute deurgelees nie. Ek sal dit ook nooit weer lees nie. Dis nou daar vir ander mense.”
En watter skrynend eerlike kroniek van pyn wat uitloop op ’n getuienis van hoop en genesing is hierdie boek nie vir mense nie!
Ná Die grafte jubel kon Esta weer vorentoe kyk, ingetrek in die kragveld wat haar nou weer met lewenskrag kom voed het. Nou gevul met die wete dat Christus nie maar net langs ons staan nie, maar één is met ons.
Die vrou wie se hart eenmaal in Desember geskeur het oor ’n seun met ’n sagte, warm mond moes in nog ’n Desember langs die see ook tevergeefs na ’n seun met ondeunde oë loop en roep. Maar in Desember 1999 kon sy die volgende skryf:
Here, ek is die vrou wat gedink het dat sy U ken. U het my langsamerhand geleer dat U te groot en te almagtig en te oneindig is vir my menslike verstand … Maar U ken my. U weet alles van my af. U weet van my mooipraatjies in die môre en my moeë geprewel in die aand …