Etienne van Heerden

Asbesmiddag


Скачать книгу

      Etienne van

      HEERDEN

      Asbesmiddag

      ’n roman

      Tafelberg

      In herinnering aan my moeder, Doreen

      Summer drought came hard that year

      Our herd grazed the land so bare

      Me and my dad had to blowtorch the thorns off the prickly pear

      And Mother, your hand slipped from my hair

      – Bruce Springsteen, “Silver Palomino” (Devils and Dust)

      1 Skaarsheidswaarde

      Toe die skrywer vir sy sjampoe en kopmassering gaan sit, kyk hy terloops na regs. Hy sien dat die bejaarde man langsaan kop agteroor lê. Die vel wat oor die adamsappel span, is oud. Oënskynlik ontspanne sit die groot, benerige hande op die stoel se leunings. Maar in die vingers en die kromrugpalms sien hy die opgekroptheid van twee tiere.

      Die neus is prominent. ’n Snawel. Groot ore, wat dieprooi word soos die stoom opwalm. Die mond is ontspanne en te gul vir die hande.

      ’n Reus van die industrie. Nou herken die skrywer hom – selfs vanuit hierdie ongewone hoek. Die beroemde magnaat lê daar onder die hande van ’n vrou wat daagliks vir drie skamele muntstukke ’n minibusrit oor die berg koop vanaf haar afgeleë gehuggie na hierdie dorp tussen die wynlande.

      Terwyl hy daar langs die biljoenêr sit, maal sy gedagtes met die intuimelende beelde van die afgelope maande. Hy het pas ’n boek uitgegee. Hy moes deur die brandende hoepels van publisiteit spring en onderhoude voer met koerante en glanstydskrifte wat net op skinder uit is.

      Nou werk hy weer aan sy skaarsheidswaarde. Op soek na ’n veilige hawe het hy vandag die donker tonnel van die arkade vinnig binnegestap, haastig met die saloneienaar bladgeskud, sy aktetas aan hom toevertrou, en nou lê hy terug in hierdie stoel.

      Laat begaan hy, in hierdie wondbare posisie wat hom aan die oorgawe in ’n tandarts se stoel laat dink.

      Hy lê agteroor en aanvaar die warm water wat deur sy hare stroom, die tere, ondersoekende vingers van die masseuse oor sy hoof.

      Wat sou sy kon peil van sy onstuimige, opgejaagde gees?

      En tog voel hy in haar vingers ’n wysheid, die slimte van die lyf, die instinktiewe vertroosting van die onderklas.

      Dis ’n slinkse liefde: dis die blik van ’n hond wat na jou opkyk, of die reuk van ’n ou trui. Iets van ’n moeder se afwesige, bekommerde vertroosting.

      Of ’n minnares wat belangstelling begin verloor.

      Die salon gee sigself uit as Italiaans. In wese is dit expat-Italiaans. Die eienaar, die enigste gekwalifiseerde kapper, is kort en clichématig. Giuseppe se hare is swart en kort gesny. ’n Romeinse gesig, met opvallende lippe en ’n arendsneus. Kop effens te groot vir die liggaam. Borshare, gryserig, steek by die kraag van hemde uit wat meestal te blink en te goedkoop is. Soms is hulle van beter kwaliteit – maar altyd te styf aan die middeljarige lyf. Die goue kettinkie om die nek.

      En die geselsies oor opera. Oor Sisilië. Oor blomme en olywe.

      Hier kan die skrywer in vrede teruglê terwyl Andrea Bocelli neurie vanuit die stereostelletjie in die hoek. Agter die palm in sy pot staan die wynrak met bottels olyfolie wat wag om afgeswendel te word aan niksvermoedende kliënte met te veel geld. Meestal mense wat nie noodwendig hul hare wil laat sny nie, maar wat op soek is na die vertroosting van ’n kopmassering.

      Giuseppe is gek na Ferrari’s en vertel dikwels hoe hy tot diep in die nag Formule 1 op TV sit en kyk. Hy’t sy aksent nooit afgeskud nie, selfs nie ná ’n leeftyd in Afrika nie. Ter hand het hy, asof getoor uit die niet, ’n Indiese fortuinverteller wat ruik na sweet en drome wat ontstig. Die maer man kom gereeld soos ’n dief in die nag verby die toonbank en die potplant gesluip, en neem by die stomende wasbakke die hand van ’n slagoffer in syne.

      Ná ’n kort en intense pouse verklaar hy die Waarheid, teen ’n klein fooi.

      Die skrywer was ook al die prooi van hierdie waarsegger. Tydens ’n besoek ’n halfjaar gelede het hy ook geswig voor die skisofreniese oë en die sweterige hande wat syne vashou en oopbuig. Hy is ’n mooi mens, dié Indiër met sy dubbele bodem. Hy stam af van suikerrietsnyers wat lank gelede die land ingebring is, het Giuseppe vertel. Mense wat in die swoel, subtropiese Natal van skepe afgelaai is en oor geslagte heen suikerriet moes sny. Jaar ná jaar moes hulle stry teen die groen oerwoud en wanneer die suikerriet op die regte tyd van die jaar aan die brand gesteek is, op hul hurke sit en kyk hoe die ligte laaie die heuwels bedek so ver as wat die oog kan sien. Die volgende dag het hulle vaal rondgeloop soos as uit die hemel neerdaal.

      Daar is ook ondertone van die Mahatma in die man, ’n sieligheid. ’n Kombinasie wat boei: die vlamme wat soos die vuur van ’n revolusie lyk, plus – onversoenbaar – die pasifisme. Hy’t vertel dat sy vader Gandhi geken het toe die ghoeroe in Suid-Afrika was en deur ’n kondukteur uit ’n slegs-vir-blankes-treinwa gegooi is. Sy vader was daar langs die pad toe Gandhi moes uit, het hy vertel, sy vader het alles gesien.

      Uit na die luisteraar gly die hand vir ’n fooitjie.

      So het die fortuinverteller ook by die skrywer kom sit. “Jy het die konsentrasie van ’n tier,” het die man gesê en in sy oë gestaar.

      “Ek is ’n skrywer.” En asof dit ’n verskoning is: “ ’n Romansier.” Hy wou byvoeg: my nering verskil nie veel van joue nie. Maar hy’t gewag op wat kom.

      “Romanse? Gelukkige eindes?” Miskien was die Indiër slimmer as wat hy dag, want twee speldeprikkies satire het git getrek in die pupille.

      “Inteendeel. Die onafgehandeldheid van dinge.”

      Die fortuinverteller het nie geantwoord nie, maar na die skrywer se palm afgekyk en daaroor gestryk. Ná ’n rukkie: “Iemand gaan vroeg in die nuwe jaar probeer om jou grond toe te bring.”

      Hy was onkant gevang. “Wie?”

      “Iemand baie na aan jou.”

      Paniek het hom beetgepak. Water het uit krane geproes en pype het geroggel totdat ’n lugblaas in die wit wasbak uitgehoes is. Hy’t gedink aan sy lewe. ’n Middeljarige skrywer wat sy skouers ooptrek na die kamera, na ’n steeds jonger wordende publiek. Na die terloopse, nomadiese blik van die internetgenerasie.

      Toe die waarsegger dít aan hom sê, het die waaksame Giuseppe dadelik nader gestaan met ’n pierinkie. “ ’n Paar olywe, Professore?”

      Só is Giuseppe se styl.

      Die skrywer is nie verbaas om die magnaat hier te kry nie – Giuseppe se salon lewer sy kwota verrassings op. Die salon is verslons en uit pas met die tyd, versteek in ’n stil arkade wat nie werklik die naam mall verdien nie, al gebruik die klein besighede wat hier geleë is dié term. Die ingang tonnel in onder ’n grys woonstelblok wat op die rand van die universiteitskwartier lê. Digby sit die klubs, waaruit lugverkoelers soggens die vorige nag se reuke van urine, uitgestorte bier en sigaretrook pomp.

      En tog kan die skrywer altyd staatmaak op ’n wending, iets wat hy nie verwag het nie in sy aanloop na die salon. Om dié bedryfie te bereik, moet hy verby die selfoonkiosk wat die nuutste Nokias verkoop. Hy staan dikwels daar en staar na die wondere van nuwe tegnologie. Dan stap hy verby die fietswinkel, ’n wegneem-eetplek en ’n fotostaatwinkel wat besigheidskaartjies druk terwyl die klant wag. Hy laat self gereeld nuwe kaartjies daar druk, altyd bedag op duursame papier, ’n effens ongewone formaat en ’n eenvoudige om­skrywing. Author, moet daar staan. Romansier. En net ’n straatadres, geen titel of kwalifikasies nie. Niks fieterjasies nie.

      Die indraai na die arkade is onverwags. Reg voor hom is die hoofkwartier van ’n charismatiese kerk wat sy geld verdien uit die onsekere siele van eerstejaars van die platteland. Oorkant sit die tuisnywerheid, met ’n daaglikse aanbod van koeke en ander gebak. Reg teenoor Giuseppe se salon is die tuxedowinkel. Op Vrydagmiddae wanneer die skrywer uitgeput vanaf die stad terugkeer, drom studente soos senuagtige bye saam om die pluiskeile, die strikdasse, die blink onderbaadjies en swaelsterte.