on>
Die vrou met die pers oog
François Bloemhof
Human & Rousseau
Hierdie boek is vir almal
wat van grillerige goeters hou.
F. B.
1
Die snaakse seun
Toe die klok aan die einde van die eerste skooldag lui, gryp Chris sy tas en is eerste by die klas uit.
“Sien jou môre!” roep Bertus.
Chris kan nie glo hy het Bertus eers vanoggend ontmoet nie; dit voel asof hulle al lank maats is.
“Cheers,” sê Chris.
Sy pa en ma het albei vir hom en sy sussie, Martie, kom haal, want sy pa begin eers môre by sy nuwe werk. Martie is reeds in die motor toe Chris daar aankom.
“Hoe voel dit om in graad agt te wees?” vra Chris se ma nadat hy ingeklim het en sy hom ’n soen op sy wang gee.
“Nie veel anders as graad sewe nie.” Hy vee vies oor sy wang. Netnou is daar ’n lipstiffiemerk en een van sy nuwe maats sien dit, en dink hy’s ’n mamma-se-seuntjie.
Daar is baie motors en hulle moet wag, want die parkeerarea is vol.
“Chris, jou tas druk in my sy. Sit hom aan die ander kant,” brom Martie.
“Jammer, U Edele,” sê hy en skuif sy tas weg.
Chris se ma draai in haar sitplek om. Sy vryf vinnig oor sy rooibruin hare, dan oor Martie s’n. “My twee mooi kinders,” sê sy liefdevol.
Chris wil sterf van skaamte. Bertus se ma se motor is nou net by hulle verby. Bertus waai vir hom en glimlag – te breed. Hy het gesien . . .
Nou is Chris sommer vies. “Kan ons nie maar net asseblief ry nie?” sis hy deur sy tande.
Sy pa het egter die wêreld se tyd. “Nou-nou, hier’s nog te veel motors wat wag om uit te kom,” sê hy, en maak eers ’n oproep op sy selfoon. Iets oor sy nuwe werk.
Skielik roep Martie uit: “Kyk daar!”
’n Seun kom aangeloop. Hy loop kop onderstebo en hy lyk skaam.
Dit is duidelik hoekom: Sy kop is kaal geskeer, so kaal dat dit eintlik blink.
“Flippit!” sê Chris. “Wat het met hóm gebeur?”
“Die arme kind,” sê hulle ma, en skud haar kop.
Die seun lyk al hoe ongemakliker. Hy weet almal staar na hom.
“Ek het hom nie pouse by die skool gesien nie,” sê Chris.
“Foei tog, hy het seker iewers gaan wegkruip,” merk sy ma op.
Skielik begin Chris te lag. Die seun lyk nie net ongelukkig nie, maar ook snááks! ’n Mens dink mos net aan ou ooms as mense met kaal koppe. Die gedagte dat die outjie se kop dalk so glad soos ’n styf opgeblaasde strandbal voel, laat hom nog harder lag.
“Sies, Chris!” laat sy ma hoor, “skaam jou!”
Die seun loop by hulle motor verby. Hy kyk op en sien hoe Chris vir hom lag, en raak rooi tot by sy ore – maar sy kopvel bly darem pienk.
Chris se lag droog op. Nou voel hy skuldig.
“Jy moes nie vir hom gelag het nie,” sê Martie verwytend.
“Dalk het hy ’n ernstige siekte en moes hy chemoterapie kry,” voeg hulle ma by. “Dit laat mos ’n mens se hare uitval. Arme ding.”
Chris voel sleg en verander haastig die onderwerp. “Hoe gaan dit by die huis met die intrekkery?”
“Dis maar nog deurmekaar,” sê hulle pa. “Maar gelukkig is my kantoor darem al uitgesorteer en skoon en netjies.” Hy glimlag en knik vir sy vrou.
Hulle het ’n week gelede hierheen verhuis. Dit is nie ver van waar hulle eers gebly het nie, net ’n halfuur se ry, maar Chris en Martie moes na ’n nuwe skool toe gaan.
“Ek mis my maats!” kreun Martie.
“Nie naastenby so baie soos daai outjie sy hare mis nie!” Chris wil weer lag.
Sy pa skakel die motor aan. Die meeste van die motors het die parkeerterrein verlaat; hulle kan maar ry.
Net toe swaai ’n groot silwer motor voor hulle in om by die hek uit te jaag.
Chris se pa trap rem en dit voel asof die hele wêreld ruk. Martie word teen Chris geslinger en haar elmboog tref hom in die wind.
“Eina, man!”
“Jammer, maar ek kon dit nie help nie!”
Chris kyk op. Dit lyk nie asof die vrou wat die silwer motor bestuur, geskrik het nie. Sy lyk eerder woedend.
Sy wikkel haar vinger vir Chris se pa asof sy met ’n stout kind raas – asof dit hý was wat amper ’n ongeluk veroorsaak het.
“Kan jy nou meer!” sê Chris se ma en skud haar kop. “Party mense darem!”
Die vrou het goudgeel hare wat soos ’n wolk om haar kop staan. Sy dra ’n bril met sulke donker lense, dat jy nie haar oë kan sien nie . . . maar toe hulle verby haar ry en sy haar kop draai, wéét Chris sy gluur hulle aan.
Toe is sy weg, met ’n brul van haar motor se enjin.
“Is sy een van julle onderwysers?” vra hulle pa.
“Ek het haar nie vanoggend in die saal gesien nie,” antwoord Chris.
Maar hy het ook nie die kaalkop-outjie opgemerk nie. Dalk is hy net nie oplettend genoeg nie.
“Dis die biblioteekjuffrou,” rapporteer Martie ewe plegtig. “Juffrou Pol.”
“Juffrou Pol?” vra Chris. “Waar kry sy so ’n van? Pol!”
Maar hy kry dit nie reg om hierdie keer te lag nie. Die skrik was te groot.
2
Juffrou Pol
Die volgende dag gaan Martie tydens eerste pouse biblioteek toe. Sy is seker die juffrou het die vorige middag net kwaai gelyk omdat sy geskrik het.
Die biblioteek is in ’n lokaal aan die einde van ’n ry klaskamers. Al die kinders is buite en die gange is leeg. Dit is baie stil hier.
Martie loop verby leë klaskamers en haar voetstappe weerklink op die blink vloere. Sy loer by die deure in. Die klaskamers lyk snaaks so sonder kinders. Dit voel half grillerig.
Sy kom by die biblioteek se swaaideur en stoot dit oop. Dit maak nie ’n geluid nie. Daar is niemand in die biblioteek nie.
Martie kan dit skaars glo. Hulle klasonderwyser het hulle gister hiernatoe gebring, en dit het haar so opgewonde gemaak om al die boeke te sien, dat sy kon sweer die biblioteek sou pouses oorloop van leesgierige kinders. Daar staan ook twee splinternuwe rekenaars vir hulle om naslaanwerk te doen.
Die swaaideur maak ’n klikgeluid toe dit agter haar toegaan en sy skrik. Sy is sommer vies vir haarself. Sy mag mos hier wees!
Dis doodstil in die biblioteek. Teen die mure is plakkate met allerhande interessante inligting op. Daar is ’n toonbank, ’n klomp tafeltjies waar leerders kan sit en lees of huiswerk doen, en dan is daar natuurlik die boekrakke vol lekker boeke.
Hoekom is hier niemand nie?
Toe sy ’n geluid agter die toonbank hoor, gil Martie van skrik.
Iemand kom agter die toonbank orent. Dis ’n vrou – juffrou Pol, met haar wollerige geel-blonde hare. Een van haar oë, die linkerkantse een, is groen. Maar die regteroog is pers!
Die oomblik rek en rek. Martie kan nie beweeg nie. Die pers oog hou haar vasgenael. Skielik is sy bang sy gaan nooit weer uit dié plek kom nie. Sy weet die swaaideur is nie ver agter haar nie, maar die vrou kan haar gryp lank voor