ection>
ENA MURRAY
Sluiers van die nag
Jasmyn
1
Matrone Maryke Linde se blik rus met getemperde blydskap op die groot wit gebou voor haar terwyl sy met flinke pas die hoofingang van die hospitaal nader. Getemperde blydskap, want so is al Maryke Linde se emosies – versigtig en altyd versluierd. Die afgelope tien jaar het haar geleer dat dit die beste is. Die uitgelatenheid van die jeug is lankal vergete.
Sy trek haar asem diep in toe sy die ingangsportaal betree. Die bekende geure van die hospitaal prikkel haar neusvleuels. Veilige geure …
Sy is terug, terug in die wêreld wat sy ken, die enigste wêreld wat sy nog vertrou; waarin sy nog wil of kan lewe. Elke keer wanneer sy hierdie portaal betree, kry sy dié gevoel van veiligheid, asof beskermende vlerke haar toevou en beskut teen die werklikheid van die lewe daarbuite.
Sy is nou haastig. Haastig om terug te wees in die bekende gange en sale met hul vertroude geur van eter en ontsmettingsmiddels. Die afgelope paar weke was lekker, maar … hierdie is die wêreld wat sy ken, wat sy liefhet, waar sy wegkruip.
Sy blik vinnig na die elektriese horlosie bokant die ontvangstoonbank. Tien voor sewe … Daar is genoeg tyd om ’n oomblik voor die toonbank te huiwer en oom Daan te groet – die nagportier wat nog langer as sy snags hier wegkruip vir die lewe.
Hy kom ook saans, wanneer die skadu’s oor die aarde daal, hier wegkruip, nes sy. Hoewel hulle nog nooit daaroor gepraat het nie, weet albei dit. Maryke weet dat oom Daan hier wegkruip vir die eensaamheid. Deur die dag kan ’n mens jou besig hou met allerhande dingetjies, al gaan stap jy net in die straat om mense by jou te hê. Maar snags … snags sak die eensaamheid toe, word dit ’n wurggreep om jou keel, word jy intens bewus daarvan dat jy ’n enkeling in ’n vol wêreld is.
Ja, Maryke weet hoekom oom Daan ten spyte van sy byna sewentig somers die afgelope veertig jaar lank elke aand sy pos agter die ontvangstoonbank van hierdie groot hospitaal inneem. Sy weet hoekom hy so byna hardkoppig vasklou aan hierdie vreemde nagtelike bestaan wat so deel van ’n groot hospitaal is. Want hier word die nag nooit stil nie. Hier kry die eensaamheid nooit genoeg vat op jou om jou hart uit jou liggaam te pers nie. Hier kom en gaan dit sonder ophou, al is die ligte gedemp, die voetstappe byna geruisloos. Hier, tussen die wit mure en lang gange, bly dit bedrywig.
En oom Daan weet, terwyl hy haar sien nader stap, hoekom hierdie mooi jong mens, nes hy, die naglewe verkies. Meer as tien lange jare al. Die begrip lê in sy oë terwyl hy na die stil, half geheimsinnige glimlaggie kyk. Hy weet, sonder dat hy die verhaal ken, dat eensaamheid hierdie vrou deel van die vreemde naglewe gemaak het.
Hy weet dat sy snags kom wegkruip vir baie dinge, maar veral vir haarself. Want ’n aantreklike vrou verkies nie uit eie vrye wil om haar lewe in die byna onnatuurlike afsondering van die wit mure van ’n hospitaal te slyt nie. Daar moet iets in die sonnige ure van die dag wees waarvoor sy bang is, waarteen sy haarself moet beskerm.
Tog, soos hoeveel kere tevore, dink hy by homself: Dis ’n sonde. Dis ’n vermorsing van iets baie pragtigs. So ’n mooi vrou soos Maryke Linde behoort aan die lewe, aan die sonlig van die dag. Sy behoort deel te wees van die gonsende, borrelende lewe.
Maar nee, hierdie kind kruip bedags vir die sonlig weg en kruip saans uit, nes ’n naguiltjie. Sy glimlag verdiep. Dis ook wat haar personeel haar noem. Naguiltjie, of sommer net Uiltjie.
Hy wonder of sy ooit weet wat haar bynaam is. Sy kommunikeer nie juis met die res van die personeel nie. Soggens, nadat sy die nagrapport aan die dagmatrone oorhandig het, verdwyn sy, en die hospitaal en haar kollegas sien haar eers weer wanneer sy saans aan diens kom. Haar dag is vir almal ’n geslote boek.
“Dag, oom Daan,” klink haar effens gedempte stem op asof sy ná tien jaar verleer het hoe om op ’n normale toonhoogte te praat.
“Tag, matronetjie, maar dis lekker om jou weer te sien. Die hospitaal is nie dieselfde as jy nie snags hier is nie.”
Maryke glimlag maar net. Hy sê elke keer dieselfde sin as sy van haar jaarlikse verlof terugkeer. Maar sy weet hy bedoel dit opreg. Hy is een van die weinig opregte mense wat hierdie aarde bewandel.
“Dankie, oom Daan. Ek het na julle almal verlang.”
Hy knik. Wie die álmal is, sal hy nie kan sê nie, maar hy is tevrede dat hy wel een van hulle is. Hy is lief vir die verpleegsters; veral vir dié enetjie het hy ’n spesiale sagte plekkie.
“Maar die vakansie het jou goed gedoen, matronetjie. Daar is meer kleur in jou wange en jy het ’n bietjie vetter geword. Dis goed,” knik die ou man goedkeurend.
Maryke kry ’n seldsame vonkeling in haar grys oë. Liewe oom Daan! Dit sal nooit by hom opkom dat dit ontaktvol is om vir ’n vrou te sê dat sy vetter geword het nie! Maar sy weet sy hoef haar nie oor die ekstra vetjies te bekommer nie. Dit sal gou weer verdwyn, nes die kleur in haar wange.
“Is ons hospitaal nog dieselfde of het hier opwindende dinge gebeur terwyl ek met vakansie was, oom?” wil sy weet. Hier gaan niks tussen hierdie wit mure aan sonder dat oom Daan daarvan kennis dra nie.
“Nog dieselfde, matronetjie,” antwoord oom Daan. “Net die twee nuwe doktertjies het begin werk.”
“O? Oom bedoel die superintendent en die hoofchirurg?”
“Ja. Kyk, daar op die bord …” Die telefoon onderbreek sy sin. “Verskoon tog, matronetjie …”
“Totsiens vir eers, oom. Ons sien mekaar later weer.” Maryke draai haar om en die horlosie waarsku haar dat sy kwalik nog twee minute oor het voordat sy in die dagmatrone se kantoor moet wees.
Haar blik dwaal vlugtig na die kennisgewingbord aan die oorkantste muur. Aan haar maak dit nie juis saak watter naam op die bord staan nie. Elke dokter met wie sy saamwerk, is bloot ’n mediese brein op wie se meerdere vernuf en kennis sy moet staatmaak om haar werk uit te voer. Dis al.
As nagmatrone het sy maar min kontak met die dokters. Dis net in noodgevalle dat sy met hulle te doen kry. En selfs dan is hulle ook net skimme wat vir ’n paar minute in haar kantoor verskyn of langs haar by ’n pasiënt se bed inskuif.
Destyds, ’n bietjie meer as tien jaar gelede nou, het sy tydens haar onderhoud met die hoofmatrone genoem dat sy sal verkies om sommer uit die staanspoor permanent op die nagpersoneel geplaas te word.
Die hoofmatrone het destyds ná ses maande protes aangeteken, gesê dat dit te veel vir een mens is om nagin en naguit op nagdiens te bly. Dat dit ’n onnatuurlike lewe is wat van geen verpleegster verwag kan word nie. Maar suster Maryke Linde het haar verseker dat sy dit so verkies, en indien hulle haar gaan afhaal van die nagpersoneel, sy eerder sal bedank. Die nuwe suster het teen daardie tyd reeds genoeg bewys gelewer van haar bekwaamheid, en die hoofmatrone het haar laat begaan. Sy het gedink dat suster Linde self ná nog ’n paar maande sou kom vra om weer ’n keer teruggeskuif te word na die dagpersoneel. Maar die suster het nie. Sy het gevorder tot nagmatrone en so het tien jaar ongemerk verbygegaan.
Maryke se weemoedige grys oë beweeg oor die kennisgewingbord en dan verstyf die skraal gestalte. Daar is ’n sagte hyg na asem. Die effense kleur wat die afgelope paar weke in haar wange gebring het, verdwyn eensklaps.
In letters van vuur dans die naam langs die opskrif Superintendent. Soos vlammevingers reik dit tot in haar siel, tot in daardie verskuilde hoekie van haar hart waar niemand toegelaat word nie, waar sý self selde kyk.
Ralph Weideman.
Sy voel die wêreld om haar draai, voel die aarde onder haar wankel. Ralph Weideman! Nee, dit kan nie wees nie! Die lewe kán nie, sál nie so wreed wees nie!
“Kan ek help?”
Sy draai troebel oë na die lang man in die grys pak wat so skielik langs haar verskyn het. Tussen die vlammende letters deur, sien sy die gesig voor haar, ’n byna lelike gesig in sy strengheid. Sy probeer hard op die vreemde gesig konsentreer, asof sy na enigiets gryp om nie te dink nie, nie die man wat voor haar geestesoog ronddans, raak te sien nie.
Sy