tion>
LOUISA DU TOIT
Sy was ’n somerdeel
Jasmyn
1
Eindelik bereik Jonathan Bergman die einde van sy reis. Die man wat deur sy vriende “Gulliver” genoem word, sien die dorp, geteister deur ’n kwaai suidoostewind afgewissel met reën, voor hom opdoem. Gulliver in Lilliput, dink hy gelate.
Hy probeer nie opsetlik bombasties wees nie, maar kan nie help om homself te bejammer nie. ’n Paar weke lank hier … hy kan nie sê hy sien erg daarna uit nie. Die dorp interesseer hom in geen verdere opsig as dat hy ’n taak het om hier af te handel nie. Die kwessie van moontlike familie het hy diep, baie diep in sy agterkop weggebêre.
Nou ja, hy moet seker bly wees dat Senior Nothnagel hom hiervoor uitgekies het. Hy kon netsowel een van die ander manne in die firma gestuur het. Hy, Jonathan, het ook nie gretig probeer lyk nie. Maar is dit so verkeerd om nuuskierig oor jou vergete familie te wees?
Hy sal maar probeer om nie sy baas se vertroue te beskaam nie. Hy sal vir Senior plesier. Hy sal dié nuwe stuk dorp uitlê sodat die ringkoppe en die wyses in die Isaacsdamse poorte hulle hande sal saamslaan. Hy sal ook nie omgee as die nuwe park na hom vernoem word nie. Die Jonathan Bergmanpark. Of net Gulliverpark. Maar of die spul dorpenaars die woordspeling gaan snap, is ’n ander vraag.
Hy dink vlugtig na oor die moontlike familie, ’n niggie van sy pa. Haar getroude van weet hy nie, hy was ook nog nie gebore toe die oom Koos vanaf die Bosveld Boland toe getrek het nie, na die dorpie Isaacsdam. Toe sy ma hom dit later jare vertel, was dit vir Jonathan ’n ver, vreemde, bekoorlike gedagte. “Isaacsdam in die Boland.” Sedertdien het hy self ’n Kapenaar geword, maar Isaacsdam is net te verafgeleë om te tel. Ja, hy het wel op ’n padkaart gekyk waar dit lê, en hy het ’n vreemde pluk aan sy hartsnare gevoel.
Hy sou dalk anders oor hierdie werksopdrag gevoel het as hy vir Jeannie kon saambring. Maar hieroor sou pappa Nothnagel jaloers waak. Ook maar swaar, dink Jonathan, as ’n mens se aanstaande skoonpa ook jou baas is.
Maar hierdie wind darem … Dis geen gewone, vlak wind nie. As hy moet raai, waai dit met ’n hoogte van minstens tien duisend meter.
Kyk ook net die swart wolke, die reën kan binnekort begin uitsak.
Die vooruitsig om ’n tyd lank hier in die klein dorp Isaacsdam te moet woon en werk, word elke oomblik minder aantreklik. As dit nog ’n skoon, oop dag met ’n roerende sonsondergang was – maar dis vroeg reeds skemer; ’n wilde, onherbergsame laatmiddag, vreemd kil vir hierdie tyd wat nog warm behoort te wees.
’n Ongekende verlatenheid dreig om oor hom toe te sak. Hy veg daarteen, veg … hy ken dit nie meer, hierdie soort gevoel nie. Nie sedert hy opgeneem is in die polsende, voortstuwende wêreld van die Nothnagels nie. Hy probeer vir Jeannie onthou, herinner hom half desperaat aan haar warm hande, die glans van haar glimlag. Die meisie oor wie hy gek is en wat in hom ’n ambisie laat ontwaak het waarvan hy tevore nie bewus was nie.
Sy het ’n soort eerlikheid wat in die begin vir hom amper skokkend was, maar wat hy later ook as sy eie begin aanneem het. “Sukses bring sukses,” reken sy. “En as jy nie tred hou nie, sak jy uit. As ’n mens vooruit wil kom in die lewe, is dit nou eenmaal so dat jy boontoe moet leef. Onthaal. Nie ondertoe nie, Gully.”
Mettertyd het hy ’n duidelike prentjie kon vorm van sy toekoms saam met Jeannie Nothnagel. Hulle sal woon in een van drie, hoogstens vier voorstede. Geen ander nie. As hulle “boontoe” wil leef en onthaal, soos Jeannie sê, sal ’n kleinburgerlike voorstad hulle strem.
Jonathan glimlag skewerig. Wonder wat Jeannie van Isaacsdam sal sê. Wie Isaac is of was, weet hy nie, en die dam sien hy nie. Maar miskien kry hy sy meisie nog so ver om te kom kyk hoe dit hier lyk. Sy spore sal immers in die toekoms hier bly lê.
Hy moet iewers aankom, onderdak kom, want die reën kom reeds die wind afwissel. Hy sal in die motor vasgekeer sit. Alles rondom word digter, skemerder, ondeursigtig. Dis asof dit binnetoe slaan … hart toe, ingewande toe. ’n Eensaamheid draai op sy maag.
Hy ry vinniger, asof hy onder dit alles wil uitry in die rigting van ’n kalmer oord. Verder regs, berge se kant toe, moes dit alreeds heelwat gereën het, want hy kom onverwags af op ’n knikkie in die teerpad waar ’n sterkerige stroompie water vloei. Onbesuis jaag hy daardeur sodat die water in alle rigtings spat. Dit bied onsekere verligting. Maar eis ook ’n tol, want dis nie hoe lank nie of die motor begin ruk. Deksels, dit moet iets te doen hê met die water waardeur hy gejaag het. Dis sy achilleshiel dat hy van ’n motorkar se binneste net mooi niks weet nie. Hy gaan van die standpunt uit dat daar mense is wat betaal word om dié soort werk te doen, wat bereid is om hulle teen betaling vuil te smeer.
Dis net soms deksels ongemaklik. Veral as ’n ou strand op ’n plekkie soos Isaacsdam in die aanslag van die reën en die swart stormwind. Hy is nou reg in die breë hoofstraat, en met ’n geruk en gesukkel vorder hy nog etlike meter voordat die motor vrek. Daar is kwalik tyd om dit effens uit die straat weg te swaai. Die een reënveër moet ook gestel word, dit los ’n strepie water reg voor die bestuurder.
Vernederd en vies klim hy uit en slaan sy baadjiekraag op teen die swiepende aanslag van die reën. Met lang treë vlug hy die eerste die beste skuiling binne. Dis Isaacsdam Kontantwinkel, te oordeel aan die geverfde letters teen die verweerde uithangbord. ’n Groot akkerboom oorkoepel die nederige gebou en, ofskoon die wind in die takke hoogty vier, is dit hier onder meteens stil en beskermd. Teen die geslote houtdeur is ’n wit nota met wondergom vasgesit: Kom binne asseblief.
“Dankie,” sê hy beleef teen die betrokke lug in, en maak die deur oop. Binne bly hy enkele oomblikke staan om tot homself te kom. Dit is asof hy ’n ander, ’n skemer, ’n geesteswêreld betree het. ’n Gaslamp brand op die toonbank en in die lig daarvan sit ’n meisie en brei. Rondom haar skemer die belaaide rakke op. Kragonderbreking? wonder hy. Dalk ’n boomtak op ’n kabel.
Jonathan kry ’n vergete mengelreuk in sy neus. Tabak, graan, materiale na hulle soorte: lap, blik, plastiek. Die soortgelyke winkeltjie uit sy kinderdae spring in sy geheue op, al het hy dit so deeglik probeer ontwortel. Dit was maar een van die plekke waar sy ouers goedkoop huurverblyf gevind het. Eintlik sy ma, seker. Sy pa sou nie soveel inisiatief neem nie.
Die meisie staan gedienstig op toe hy binnekom. Asof sy ’n skrobbering verwag. Seker bang om haar joppie te verloor. Die stuk breiwerk het sy versigtig eenkant neergesit. Sy moet uit die ark kom, om by die werk te sit en brei. Geen hoër aspirasies nie … Dis moeilik om te glo. Wonder wat Jeannie hiervan sal sê.
“Het julle nie elektrisiteit hier op Isaacsdam nie?” grap hy. Indien dit so was, sou hy sy beplanning in ’n ander lig moes benader.
“Beroemde eerste woorde,” sê die meisie. Dus is sy nie heeltemal ’n uil nie. Haar stem was ook nogal skerp.
“Wel, dit sou nie te snaaks wees nie. Alles hier is agter die tyd.”
“Anglisisme,” wys sy hom tereg, haar stem steeds skerperig. “Isaacsdam het elektrisiteit,” vervolg sy dan. “Maar die winkel se bedrading moet aandag kry. So, ons gebruik gas en paraffien waar nodig. Tevrede?”
“As julle tevrede is met so ’n primitiewe toestand, hoekom sal ek kla?” Hy beduie met kop en een skouer algemeen in die rondte. Hy wou “juffrou” byvoeg, maar weet nie of sy dalk “mevrou” is nie. Hy wil nie na haar vingers staar nie.
Hy voel vies oor sy taalblaps. Sy sal haar wat verbeel. O, wag tot Jeannie hiervan hoor. Hy en sy sal lekker oor sy Isaacdamse ondervindinge giggel.
Om een of ander rede besluit die vroumens dat hy ’n deeglike antwoord waardig is. Sy leun effens vooroor op haar arms. Hy gewaar ’n glansie op haar lippe, wat vol en goed gevorm is. Haar oë is grys, met spikkels. As sy praat, verskyn daar twee klein, regop kepies langs elke mondhoek. “Ons beoog ’n nuwe perseel en gebou in die nuwe uitbreiding,” sê sy. “Wou nooit juis hier geld bestee nie, sien? Kan ek help met iets?”
“Ja … e … ja,” sê Jonathan, wat hom daarop betrap dat hy na die kepies langs haar mond staar. “My motor het hier buite gaan staan. Laat ek my eers voorstel: Ek is die man wat