Amore Bekker

Hartstories


Скачать книгу

talle mense ryloop langs die pad, maar laai nooit iemand op vir ’n saamrygeleentheid nie. In ons ou moderne wêreld vandag is dit net te gevaarlik om vreemdelinge op te laai.

      Een oggend ry ek weer lekker vroeg van die huis af Porterville toe vir besigheid. Toe ek daar naby Saron kom, staan daar ’n ou dame langs die pad en ryloop. Ek kyk die tannie so en my eerste gedagte is: Ek kan haar nie so alleen langs die pad laat staan nie. Met haar spierwit grys hare netjies in ’n bollatjie agter haar kop vasgemaak, lyk sy baie onskuldig en iets in my sê ek moet stop.

      Ek is volstoom op pad en redeneer nog met myself dat ek nie kan stop nie; dis net te gevaarlik. Hier sit ek in volle vaart en baklei met myself oor of ek moet stop of nie. Ek slaan brieke aan en bring die motor tot stilstand, ver verby die tannie, wat nog rustig langs die pad staan en wag. Stoksielalleen. “Wat maak jy?” vra ek vir myself. Dis gevaarlik. Sy kan ’n wolf in skaapsklere wees en ’n mes uitpluk sodra sy in die motor klim. So baklei ek aan. Outomaties sit my ander verstand die motor in trurat en ek kom voor die tannie tot stilstand.

      Ek maak die motordeur vir haar oop sodat sy kan inklim. Toe sy langs my sit, soek ek net na een ding: die mes in haar hande. Ek skrik so groot, want in plaas van ’n mes of gevaarlike wapen, hou sy ’n Bybel vas.

      “Waar gaan tannie so vroemôre heen?” vra ek.

      Sy antwoord: “Voorberg toe. Dit is die tronk net ’n entjie hier af in die pad,” beduie sy die pad vorentoe aan.

      Ek neem toe aan dat sy seker ’n familielid in die tronk gaan besoek en vra: “Wat gaan Tannie daar maak? Gaan Tannie vir iemand kuier daar?”

      “Ja,” antwoord sy. “Ek gaan drie keer ’n week af na die tronk toe om vir die gevangenes te gaan Bybel lees. Hulle almal ken my daar en hulle weet al ek kom.”

      Ons gesels toe heelpad lekker en omtrent agt kilometer verder draai ek by die tronk se gronde in en gaan laai haar by die hek af.

      Net voor ons tot siens sê, vra ek haar nog ’n laaste vraag: “Nou hoe kom Tannie elke keer hier?”

      En sy antwoord: “Die Here stuur elke keer iemand om my op te laai, en vandag was dit jou beurt.”

      Soretha – Kraaifontein

      Die 16:34-trein na Bellville

      Waar vandag die Goue Akker-kompleks in Kaapstad staan, was in die vyftigerjare die ou Kaapse stasie. Die stasie was omsoom met admin-geboue waar ’n groot getal personeel werksaam was. Almal het in daardie dae met die trein werk toe gependel en die treine was gewoonlik stampvol. Tjailatyd was 16:30. Dan het personeel uit die kantore gestroom na die treine toe om so gou moontlik tuis te kom. Vir die noordelike voorstede was daar die baie gerieflike 16:34-trein na Bellville wat baie stiptelik op tyd vertrek het en vinnig ’n groot getal pendelaars uit die beknopte stasie verwyder het.

      Ek het op die sesde vloer van Zeelandhuis regoor Jan van Riebeeck se standbeeld in die Heerengracht gewerk. Om 16:30 het ek soos ’n haas uit die kantoor weggespring, die vol hysbakke vermy en die trappe drie-drie afgespring, onder by die gebou uitgestorm en tussen voetgangers en verkeer deur genael om die 16:34-trein te haal.

      Ek het nooit die trein in ’n stilstaande posisie bestyg nie. As ek uitasem op die platform aankom, het die kondukteur reeds sy fluitjie geblaas, sy groen vlag geswaai en was die trein reeds in beweging. Daardie dae was die rytuie nog houtwaens met smal enkeldeurtjies wat na buite oopgeswaai het. Die elektriese treine kon baie vinnig versnel en ek moes nael na die naaste deur en, met kosblik en koerant onder die een arm, die deur ooppluk en inspring. Partykeer het ek dit beswaar­lik gemaak en dan het van die bevreesde pendelaars aan beide kante van die deur my arms gegryp en my in die trein ingepluk.

      Op Bellville aangekom, het ek weer gehol om by die duikweg te kom, weer die trappe drie-drie afgespring en op ’n stywe draf afgesit na ’n oop veldjie in ons buurt.

      Emmie het by Sanlam se hoofkantoor in Bellville gewerk. Haar tjailatyd was vyfuur, dan het sy met haar fiets huis toe gery en kortpad oor dié veldjie gekies en die laaste entjie met ’n slingerpaadjie tot by hulle huis gery. Ek was dan net betyds om haar te sien. Sy was lief vir lang rompe en het statig en stylvol op haar fiets gelyk terwyl haar welige blonde krulle gegloei het in die laatmiddagson, salig onbewus van my bewondering van oorkant die veldjie. Ek was baie verlief!

      So het ek eendag by die rytuig ingespring waarin daar ’n spoorwegkonstabel was. Met die afklim op Bellville het hy my voorgekeer, sy boeteboekie uitgehaal en my ’n tweepondboete gegee omdat ek by ’n bewegende trein ingespring het. Hy het my ernstig vermaan teen dié gevaarlike gebruik en gesê dit sou noodlottig wees as ek tussen die trein en plat­form sou inval. Ek het beleefd geluister en nie eens probeer om te verduidelik nie, want hy sou nie verstaan het dat dit net was om die meisie op wie ek verlief was, te kon sien nie.

      Op 8 April 1957, my verjaarsdag, wou ek baie graag die 16:34 haal om haar te sien en vroeg tuis te wees, maar toe ek uitasem by die stasie kom, was ek net betyds om die trein uit die platform te sien versnel en om die eerste draai ver­dwyn. Moeg en teleurgesteld het ek op die volgende trein gewag – wat nooit opgedaag het nie. Uiteindelik het ’n stem oor die luidsprekers passasiers beveel om van ander vervoer gebruik te maak, aangesien daar geen verdere treine na die noordelike voorstede was nie.

      Ietwat oorbluf het ek besluit om huis toe te ryloop. Ek het met Heerengracht afgestap tot by die N1, waar ek gou deur ’n motoris opgelaai is. Dié het my weer op die N1 by Bellville afgelaai. Toe die lang stap huis toe deur Bellville se strate. Tuis gekom, was die tafel getooi vir ’n verjaarsdagete, maar daar was geen siel in sig nie. Verdwaas klop ek by die bure aan en vra of hulle weet waar ons gesin was.

      “Ja,” antwoord die vrou, “daar was ’n noodberig oor die radio van ’n groot treinbotsing buite Kaapstadstasie – jou gesin het so groot geskrik dat hulle in ’n motor gespring het om jou te gaan soek.”

      So eet ek my koue kos alleen aan tafel in ’n stil huis sonder mense, maar in die stilte dring die besef tot my deur dat ek daardie dag deur ’n Hoër Hand beskerm is. Toe my gesin laat die aand opdaag, was hulle oorstelp van blydskap om my ongedeerd aan te tref, maar terwyl ek luister na hulle verslag van chaos en verwoesting, het ek geweet dat my roekelose ritte op die 16:34 vir altyd verby was.

      Terloops, ek en Emmie is reeds drie-en-vyftig jaar getroud.

      Nic du Plooy – Oos-Londen

      Die man op die N2

      Dit het Sondag 8 Januarie gebeur toe ek, my man en ons twee kinders van Groot-Brakrivier af Wildernis toe gery het om daar te gaan ontbyt eet. Langs die pad sien ek ’n man loop met ’n lang stok oor sy skouer waaraan al sy aardse besittings hang. Ek het hom diep jammer gekry omdat dit baie warm was en die humiditeit geweldig hoog.

      Op Donderdag 12 Januarie reis ons weer na Kaapstad met die N2. En so waarlik, hier stap die man nog steeds en hy is al by Albertinia verby. Ek sê vir my man dat ek hom geweldig jammer kry omdat dit so warm is en hy nog steeds stap. Op daardie tydstip, om tienuur, was die temperatuur alreeds dertig grade.

      In my stilligheid besluit ek om ’n bottel water te vries en dit saam te bring as ons op Saterdag 14 Januarie terugkeer na Groot-Brakrivier – om dit vir hom te gee as ek hom weer teëkom.

      Sowaar. Ons kry hom weer langs die pad net buite Heidelberg aan die Kaap se kant. Ons hou stil en ek groet en vra of ek met hom kan praat. Hy antwoord baie beleefd in Engels: “Yes.” Ek vra toe hoe dit gaan en al wat hy sê, is: “I’m very thirsty.” Met dié gee ek vir hom die bottel gevriesde water en sommer ook die kossies wat my dogter vir ons ingepak het, saam met twee appels en twee piesangs. Ek vra toe vir hom waarheen is hy op pad? Sy antwoord is dat hy Kaapstad toe gaan, na ’n “missionary school to study for minister”.

      Ons ry tot op Heidelberg, en by die Wimpy koop ek vir hom ’n hamburger en aartappelskyfies en ’n bottel koeldrank. Ons ry toe terug om dit vir hom te gee. Toe ons weer by hom kom, het hy sommer daar langs die pad in die kokende son (twee en dertig grade) gesit en sy piesangs en appels geëet.

      Toe begin ek hom peper met die vrae:

      Waarvandaan kom hy?