Tryna du Toit

Tryna du Toit-omnibus 10


Скачать книгу

      

      Tryna du Toit

      Omnibus 10

      Minnaar uit die vreemde

      Laat somer

      Human & Rousseau

Minnaar uit die vreemde

      Hoofstuk 1

      “Susan! Jy het die motorsleutels gehad! Waar is hulle?”

      Susan Vosloo verskyn in die badkamerdeur, haar blonde hare in ’n handdoek toegedraai.

      “Is hulle nie in die koperbak nie? Ek is seker ek het hulle daar gelos.”

      “Hulle is nie in die koperbak nie – soos gewoonlik. Toe man, dink! Dit word laat; ek moet ry.”

      “Ek gaan kyk gou,” sê Susan, alreeds op pad na haar slaapkamer. ’n Paar minute later verskyn sy weer, die sleutels in haar hand.

      “Veilig in my handsak weggebêre,” sê sy triomfantlik.

      “Dankie,” sê Aletta Vosloo droog. Sy neem die sleutels by haar jonger suster en glimlag effens. “Nou ja, maak jou maar mooi,” vervolg sy liggies. “Ek is netnou weer terug.”

      Susan knik.

      Selfs met haar nat hare en skoongewaste gesig is sy mooi, werklik mooi. En dit gaan beter met haar, dink Aletta dankbaar. Die bitterheid is dikwels nog daar, die hartseer en die verlange, maar die maande op die plaas het haar goed gedoen. Sy is besig om haar selfvertroue terug te kry; sy het weer moed vir die lewe.

      En dit alleen is genoeg beloning vir die jaar wat sy – Aletta – opgeoffer het om hier op Tiervlei te bly. Tyd genoeg om weer die drade van haar eie lewe op te tel wanneer sy volgende jaar terug stad toe gaan.

      “Ek hoop dit gaan goed,” onderbreek Susan haar gedagtes. “En dat die nuwe bestuurder alles is wat jy hoop en verwag: fluks, betroubaar – en op sy plek,” voeg sy tergend by.

      Aletta Vosloo glimlag onwillig. Die herinnering aan die vorige plaasbestuurder en al die probleme wat hy hulle gegee het, is nog vars in haar geheue.

      “Ek hoop van harte so,” sê sy. “As hy nie reg is nie – nou ja, dan pak ek ook maar in en trek dorp toe en Frans Naudé moet maar self sien en kom klaar.”

      “Hoor-hoor! As neef Frans nie wil verkoop nie, laat hom terugkom en self na sy belange kyk.”

      “Dis ons belange ook,” herinner Aletta haar suster.

      “Ons kry maar min daaruit. Intussen loop Frans in Europa rond en moet jy al die verantwoordelikhede dra.”

      “Ek sou dit darem nie rondloop noem nie. Hy het geskryf hy kom sodra hy sy navorsing afgehandel het.”

      “Dit was drie maande gelede. Ek weet nie waarom jy gedurig vir die man verskonings maak nie. Onthou, hy het ons van die helfte van ons erfenis beroof.”

      “Jy mag nie sulke dinge sê nie, Susan. Frans Naudé was Pa se eie broerskind en Pa was niks aan ons verskuldig nie. Ek maak ook nie vir die man verskonings nie. Hy is met ’n beurs oorsee en hy moet klaarmaak voor hy kan terugkom. ’n Mens ry nie net heen en weer Europa en Amerika toe nie.”

      “Ja, maar jy is die een wat die spit moet afbyt. Jy is die een wat sake vir hom moet reghou.”

      “Ek gee nie om nie. Dis tog ons sake ook. As die nuwe bestuurder sy storie ken, sal ons maklik nog ’n rukkie alleen kan regkom. Frans Naudé weet in elk geval ons bly net tot die einde van die jaar hier – daarna sal hy self moet sorg. Maar wag, ek moet gaan. Ek het baie om op die dorp te doen.”

      Betsie, die jongste van die Vosloo-susters, ’n mooi rooikopmeisie van agtien, sit in die stoepkamer en huiswerk doen. Sy staan op toe Aletta op die stoep verskyn en stap saam met haar na die motor wat onder ’n doringboom ’n entjie van die huis af staan.

      “Jammer jy moet alleen ry, sus, maar ons begin oor ’n paar weke skryf en dit begin nou vir my voel of ek nooit deur al die werk sal kom nie.”

      “Dis alles reg, Betsie. Ek gee ook nie om om alleen te ry nie – ek doen dit tog heeldag.”

      Betsie soen haar suster en sê: “Jy is ’n skat, Alet. Wat sal ons sonder jou doen?”

      “Doen jou werk, jong,” glimlag Aletta, terwyl sy in die ou Chevvie klim. “Ek is netnou weer hier.”

      Sy trek vinnig weg. Sy het haar tyd verspeel en sal moet gou maak om betyds by die stasie te wees. ’n Lang stofstreep lê agter die motor totdat sy buite die dorp in die teerpad indraai. Minute later hou sy voor die stasiegebou stil. Sy het die tien myl van die plaas af in ’n rekordtyd afgelê. Maar sy was verniet so haastig: die trein is – sy kon dit verwag het – ’n uur en ’n half laat.

      In die bank loop sy Gawie Pretorius, die jong prokureur wat haar stiefpa se boedel behartig, raak.

      “Hallo, Aletta,” groet hy. “Dis gaaf om jou te sien. Ek wou jou juis bel – daar is iets wat ek met jou wil bespreek.”

      “Het iets gebeur?” vra sy vinnig. “Enige verwikkelings?”

      “Kom ons gaan drink ’n koppie tee, dan gesels ons,” stel hy voor.

      Saam stap hulle na die Orion-kafee, die dorpie se nuwe spogkafee.

      Gawie is ’n aantreklike, mooi geboude man van ongeveer dertig. Hy is ’n goeie prokureur, ambisieus en hardwerkend, en gewild in die dorp. Aletta het hom die afgelope maande, en veral ná haar stiefpa se dood, dikwels gesien en hulle het goeie vriende geword.

      Gawie bestel vir hulle tee en ’n oomblik rus sy blik op die meisie wat teenoor hom sit. Met haar blinkbruin hare en groen linnerok wat haar mooi groenbruin oë beklemtoon, lyk Aletta jonger as ses-en-twintig. Sy is nie so mooi soos Susan en Betsie nie, maar sy het ’n sterk, interessante persoonlikheid en hy weet hy is nie al man wat in haar belangstel nie. Maar tot dusver het sy hulle almal nog altyd op ’n veilige afstand gehou, te besig met haar susters en al die probleme wat haar stiefpa se siekte en dood meegebring het om aandag aan haar eie lewe te gee. Haar koel selfversekerdheid het sy belangstelling egter al hoe meer geprikkel en hy het agtergekom dat Aletta Vosloo deesdae al meer in sy gedagtes is.

      “Wel,” sê hy glimlaggend, “hoe gaan dit met Tiervlei se boere? Het die nuwe bestuurder al gekom?”

      “Ek het hom vanoggend kom haal, maar die trein is weer ’n uur en ’n half laat.”

      “Ek hoop jy kom reg met hom,” sê hy met ’n frons. “Jy kan nie so sonder hulp aangaan nie.”

      Aletta haal haar skouers op.

      “Frans Naudé se mense het hom aanbeveel. Hy was glo bestuurder op een van hulle buurplase. Verder weet ek niks van hom nie.”

      Gawie knik.

      “Frans se mense boer in die Laeveld, nè? Dis ’n mooi wêreld. ’n Mens wonder hoekom die man daar sal weggaan – om so ’n onseker pos te aanvaar. Frans het tog nie plan om self op Tiervlei te boer nie, het hy?”

      “Ek glo nie. ’n Man met ’n doktorsgraad, en nogal in kernfisika …”

      “Ek verstaan die hele besigheid glad nie. Waarom wil hy Tiervlei nie verkoop nie? Hy kan mos nie enige sentimentele waarde aan die grond hê nie.”

      “Hy sê hy sal besluit wanneer hy terugkom.”

      “Eers teen die einde van November,” antwoord Gawie kortaf.

      Aletta knik. Daar is ’n plooitjie tussen die mooi donker wenkbroue. Hulle het almal gehoop Frans Naudé sou sy sake so kon reël dat hy vroeër huis toe kom.

      “Nou ja, daar is niks aan die saak te doen nie,” sê sy saaklik. “Ons sal moet wag tot hy terugkom. Maar wat gebeur as Frans weier om Tiervlei te verkoop, Gawie?”

      “Ek weet nie. Ek hoop maar hy sal nie so onverstandig wees nie. As hy nie self op Tiervlei wil boer nie, wat wil hy dan met die grond doen? Hy sal nie maklik ’n huurder kry nie.”

      “’n Huurder sal ook nie ons probleme oplos nie. Ons het die geld nodig en ons het dit gou en dringend nodig.”

      Gawie