ection>
Helena Hugo
Mispa
Lux Verbi
Opgedra aan Coenie Nolte, my matriek-geskiedenisonderwyser op De Aar, wat my geleer het dat geskiedenis nie net uit datums bestaan nie.
Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa, want die Here hou ’n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.”
– Genesis 31:49
Ende Mizpa; om dat hy seyde dat de Heere opsicht neme tusschen my ende tusschen u: wanneer wy d’ een van d’ ander sullen verborgen zijn.
– Genesis 31:49
Hoofstuk 1
Mispa, die dag voor Kersfees, 1893
Caroline skrik vroegoggend wakker, nie van die baba se huil nie. Iets soos iemand wat sleepvoet op die plankvloer loop, trek haar aandag. Die eerste lig sif deur die kantgordyn en maak strepe oor die muur met geraamde portrette. Die geluid wat sy hoor, besef sy, is die geskuur van engelvlerke. Vier van hulle sweef naby die plafon. Versigtig vou hulle hul vlerke oor slierterige gewade en land saggies om sy wiegie – twee by die voetenent, twee by die koppenent. Hulle waak so getrou oor hom, niks of niemand gaan hom verhoed om aan te stap in die lewe nie. Oor drie maande word hy gedoop en sy sal die datum langs sy naam in die Familiebybel invul.
Daniël Matthys, geboren 18 September 1878, gedoop in den naam des Vaders en des Zoons en des Heiligen Geestes – gegeven, genomen, ende diep betreurd.
Sy engele weet. Hulle huil, hulle weeklaag en kerm, en verander in wit warrelings. Skrik oorval haar so skielik, sy struikel toe sy van die katel afklim. Tevergeefs gryp sy na hul dun gewade. Die bokvelmatjie skuif onder haar voetsole. Sy beland op haar knieë.
Here, keer hulle!
Maar die geruis van hul vlerke vervaag. Hulle is weg en die duisternis het haar en haar baba ingesluk. Sy soek hom tussen veerligte donskombersies. Sy grawe en krap, snuffel agter sy reuk aan en kry niks. Warm bloed styg na haar kop. Sy pluk al sy beddegoed uit, skud dit soos nat wasgoed, gooi dit eenkant, grawe rond in leë holtes. Soek en soek en deursoek haar eie bed ook. Haar hart skop teen haar ribbes, sy kry nie asem nie!
“Willem!”
Nie hy nie. Sy naam ruk haar uit die greep van die nagmerrie.
Sweet stroom teen haar lyf af. Die lakens is klam. Skemerlig hang swaar in die kamer, buite raas die voëls asof hulle slange verjaag. Willem se stoel is leeg en dis goed so. Hoekom sy hom roep, weet sy nie. Hy is nooit deel van die droom nie, sy is altyd alleen in haar nagmerrie. Hy verstaan dit nie, raak ongeduldig en raas met haar of belas haar met misplaaste simpatie.
Sy klou aan die lakens. Hoe hard het sy weer vanoggend uitgeroep?
Is hy melkery toe of sit hy in die kombuis met koffie en beskuit? Het hy gehoor? Sy wag vir sy voetstappe op die trap en hou asem op. Niks nie – buiten vae kombuisklanke, die laaste hees kraai van die werfhaan en koeie en kalwers wat mekaar roep. Niemand kom klop aan die kamerdeur nie, nie eens een nie en dis goed so. Sy sien veral nie kans vir Willem en sy versmorende besorgdheid nie. Dis skandelik vals en tydelik, want gewoonlik maak dit nie saak wat sy doen of nie doen nie. Nou is sy op haar laaste en raak hy soos altyd op ’n besitlike manier betrokke. Hy kom in gereedheid. Hy hou haar dop asof sy een van sy dragtige merries is of ’n koei wat enige oomblik gaan kalf. Elke geboorte, selfs hierdie een, is immers ’n aanwins vir Mispa en hy sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat sy kuddes en kinders in getal bly groei en vermeerder. Dis die waarheid, sy het dit vir haarself uitgemaak: Moerdiere word op hierdie stuk aarde aangehou – sy inkluis – om bevrug te word en kleintjies af te gooi.
Caroline byt op haar tande, veeg die trane met haar vingerpunte af, bondel die laken op en druk dit teen haar gesig. Sy sal dit verkies dat hy op ’n jagtog gaan en haar in vrede laat totdat hierdie kleintjie ook uit is en sy dood – asof hy haar die verlossing gun. Hy besit haar steeds soos hy Mispa besit – met al sy mag. Snags hou hy haar en die kind in haar al stywer vas. Hy slaap by haar tot die bed te nou raak vir hulle albei, maar verseg om haar alleen te los. Die laaste paar dae sit en snork hy in sy leunstoel tot sy werksdag kort voor dagbreek begin en ouma Sêrah oorneem. Haar laat kom hy altoos te vroeg. Dié keer is hy dalk reg en daaraan wil Caroline nie vandag dink nie.
Môre is dit Kersdag en kans is goed dat sy die lank beplande familiesaamtrek vir almal bederf. Ousus Hester het teen einde Oktober per brief van Warrenton af laat weet Caroline hoef nie Kersdag ’n voet te versit of ’n vinger te lig nie, die familie kom Mispa toe, sy en skoonsus Susanna sal sorg vir die Kersete. Dit was toe sy nog beweeglik was en die vooruitsig haar opgewonde kon maak. Nou is dit moeilik om van die bed af te klim en die kommode te gebruik – praat nie van ure se regop sit aan ’n gedekte tafel nie.
Here, ek wil van vandag af tot ek dood is soos ’n nat waslap in die bed bly lê, sonder Kersfees en kos en kinders en hierdie kleintjie.
Net toe rek die kind in haar hom uit en onderbreek haar versugtinge. Sy plaas haar hande aan weerskante van haar buik en hou hom dop tot sy dink sy kan sy vuiste, sy kniekop of sy hakskeen uitmaak. Toe hy teen haar handpalm skop, pluk sy weg. Skerp pyne skiet deur haar lyf en mislikheid stoot in haar keel op. Hierdie kind het haar tot barstens toe opgesit, of dis twee wat haar lyding sal verleng soos sus Hannah en sus Eunice met Mother.
Maak nie saak nie, dis laaste keer. Here, laat die voetjies tog net reguit uitkom, nie ingedraai nie, asseblief, Here in die hemel, nie nog horrelvoetjies nie.
Onwillekeurig slaan sy haar oë op, maar Hy hang nie soos die engele teen die plafon nie, Hy sit hoog in sy eie hemel saam met sy uitverkorenes. Mother is nie daar nie en Caroline voel nie skuldig om so te dink nie. Sy het vir ousus Hester gesê sy gaan nie eens in as Mother aan die ander kant van die Poort vir haar wag nie, en Hester verstaan. Ook net sy wat Mispa se kombuis met Doelie aan bewind vir ’n dag of twee sal kan oorneem. Dis ter wille van haar, van ousus Hester, dat Caroline vandag opstaan. Nou!
Pynlik stadig swaai sy haar bene oor die rand van die katel, druk met haar hande aan weerskante van haar lyf en laat sak haarself tot sy die springbokvelmatjie raak trap. Kaalvoet stap sy deur toe en sit eers die skuif op voor sy die kommode gebruik, haar oë op die wiegie wat soos ’n reuse-plukmandjie gereed staan. Daar is vars waswater in die lampetbeker. Sy trek haar nagrok oor haar kop, hou met die een hand aan die bedstyl vas, stut haar buik in die ronding van haar ander arm en rus tot die waarskuwende pyn in haar lae rug bedaar. Die venster is oop en die luggie wat intrek, aangenaam koel. Dis nog vroeg, maar die meisiekinders is ook al wakker. Sy hoor Maria lag en Annatjie gil. Maria het nie net Mother se name geërf nie, ook haar geneigdheid om oor te neem en af te knou. Annatjie verdien dit nie en Willem doen niks om te keer nie.
Water stort toe Caroline die lampetbeker lig en die inhoud in die kom oorgooi. Sy smeer seep, spons haar lyf af en kies gemaklike onderklere, ’n wye romp en oorhangbloes. Sy is aangetrek toe iemand aan die kamerdeur klop.
Ouma Sêrah is so klein en maer, dit voel vir haar of sy oor haar troon.
“Môre, Ouma.”
“Kerlientjie, my nôi.” Sy slaan haar hande saam, inmekaargerankte boomwortels. “My nôi het opgestaan!”
“Ek is moeg gelê.”
“Met wat kan ek virrie nôi help?”
“My hare.”
“Ek sal vleg, gaan sit.”
Annatjie gil so hard, dit klink asof sy vermoor word. Caroline wil gaan keer, maar Sêrah du haar liggies in die rigting van die bankie voor die spieëlkas.
“Los hulle, Nôi, lat hulle speel.”
“Waar’s die seuns?”
“Daniël help sy pagoed. Die kleintjies is saam by die meisiekenners.”
“Sêrah, wie gaan hulle grootmaak?”
“Jy – jy is hullese mama.”
“En as ek nie meer hier is nie?”
“Hoekom