E. Kotze

Soetloop


Скачать книгу

katrolle en rieme en op die Luna gelaai. Kaap toe.

      Nadat die skipbreukelinge drie dae lank onder die blote hemel in die son sit en braai het, is die mense wat nie met Stephan se skuit opgelaai is nie voetsaam strandop, Patnoster toe. En daarvandaan verder vort. Kaap toe, of dalk Portugal.

      Hulle het Nieko nie dadelik gemis nie. Hy kon dalk in die kafhoop gaan slaap het, vroegoggend vooruit gehardloop het met die skoolpad, terug op die Portugese se spoor na die verlate kampplek toe.

      Claas hou die aand die donkieplaks reg. As iemand moet pak kry, kan dit ewe goed Nieko wees. Maar nie net hy nie, Miekie Laumbaart is ook soek. Dié is mos soos ’n stertjie al agter Nieko aan.

      “Gaan jy die kind nie soek nie?” vra Ellen die volgende môre.

      “Waar in die wêreld, vrou?” Claas se lyf is seer, sy bene stram van dae lank heen-en-weer deur die swaar sand.

      “Ek sal by Patnoster begin. Span die donkies in. Ons kan nie net hier sit nie.”

      “Sit ek heeldag in die huis?”

      Wanneer jy nie van die môre tot die aand sit en koffie drink nie, wil sy sê, van die Jordaans tot by die kalkbranders en bokwagters se skerms.

      “Ha?” sê hy van agter sy ruie baard wat in weke nie geknip is nie. Vandat Malie op Langbáán bly, is hy aan die verwilder. Anders het sy hom onder hande gevat as sy die slag by die huis kom, die lang hare uit sy neus getrek en sy wenkbroue ook geknip.

      “Ja!” roep Ellen agter hom aan toe hy uit is by die deur.

      Sy stuur vir Susanna om saam te ry toe Claas die donkies aankeer. Dat hy weet wanneer om te draai.

      Nieko het spoorloos verdwyn. Dit kon maklik gebeur het toe die vroue en kinders van die Lisboa met ’n kotter Kaap toe is; een minder of meer sou niemand gemerk het nie. En daarvandaan, Portugal toe? Moet ’n mens nie papiere hê nie? Baie van die skipbreukelinge se goed is beskadig of verlore, hulle sal sonder papiere moet reis. Maar daarmee sal Nieko nie verbykom nie, hy wat nie eens die taal kan praat nie.

      Nee, dis meer waarskynlik dat hy in die Kaap agtergebly het. Verlore daar ronddwaal. Waar kry hy herberg? kwel Ellen haar.

      Claas is ’n dag of twee onrustig, maar toe navrae niks oplewer nie, gee hy op.

      “Die kind sal gou genoeg terugkom as hy honger raak,” sê hy vir Ellen.

      Met die eerste springgety spoel die water oor die Lisboa se agterstewe en breek die skip uitmekaar. Kosbare goed spoel op die strand uit: breekgoed en silwer met die embleem van die skip daarop. Ten spyte van kuspatrollies buit die mense.

      Vate wyn dryf die see vol; Holbaai lê opgehoop van die wynvate, gelykvol tot teen die duine! Feitlik onder die oë van die strandwag word dit weggerol, begrawe en later weggery. Saam met al die wrakgoed spoel Nieko ook uit.

      Hy kom feitlik hande-viervoet by die huis aangekruip. Dik gedrink aan die soet Portugese wyn en so dronk, so dronk, hy kan skaars op sy voete staan. Versadig vir die res van sy lewe. En smerig. Agt dae se vuil aan sy lyf.

      Daar is ’n karba versteek onder die bietoubosse aan die rand van die land, vertel hy. “En ’n bottel vir Ma. Doekpoeding vir Krismis.” Sy tong sleep.

      “Sie jy jou skaam!” Ellen huil van blydskap en teleurstelling. “Loop was vir jou en slaap jou uit!”

      Sy is hoeka omgekrap. Dis erg genoeg dat Claas weer nie vanaand by die melkery is nie. Natuurlik op Kalkrug vasgeval, by die vat in die waenhuis.

      “Ek het my effens misgis,” sê hy met die intrap, op sy agterpote nog voor Ellen haar mond kan oopmaak. “Waar’s die kinders? Het jy hulle laat melk?”

      “Een lê dronk in die buitekamer, vra jy nog?” Sy kan haarself nie keer nie. “So ’n skandaal! Dis mos wat die mense wil hoor, hoe die Prinse hulle gedra!”

      Nieko het die volgende oggend ’n nadors wat hom ’n emmer brakwater laat uitdrink.

      “En wat het jy nou te sê?” vra Ellen.

      Sy het ’n slapelose nag deurgeworstel. Ten minste wil sy weet waar die kind al die tyd was.

      Claas is te papbroekig om te vra, sy moes hom forseer. “Jy gaan vanmôre nêrens heen voor jy nie met hom gepraat het nie. Hy kan nie loop en kom soos hy wil nie, hy’s nie sy eie baas nie.”

      Nieko staan kop in die bos.

      “Nou toe, jong, jy hoor wat jou ma sê, waar het jy rondgeloop?” doen Claas sy plig. “Of wil jy hê ek moet dit uit jou uit foeter?”

      “Nee, Pa, ek was sommer lus om met ’n kotter in die Mond op te gaan. Maar by Oolfantskraal het ek afgeklim, ek het niks by my gehad nie. Toe vertoef ek daar by die hotel. Ek het los werkies gedoen en kos gekry, en gewag vir die volgende kotter om my terug te bring.”

      “En Miekie Laumbaart? Ons hoor hulle het hom ook gesoek. Julle was bymekaar, wat het van hom geword?”

      “Ek weet nie, Pa, ek het hom laas op Patnoster gesien. Dawid het hom daar kom omkeer huis toe. Hy’s die pak van sy lewe geblo en dan terug skool toe, sover ek weet.”

      Omdat Michiel Laumbaart ook te sag is om die seun te tugtig, dink Ellen.

      “En hier bekommer ons ons morsdood!” vat Claas vlam. “Kyk hoe lyk jou arme ma! Ek dink ek moet jou nog altyd neuk.”

      “Dis Sondag, Claas,” maan Ellen.

      “Dis reg so, Ma,” sê Nieko. “As Pa so meen, is dit reg. Ek verdien dit omdat ek sommerso padgegee het. Maar ek wou lankal …”

      Die Bergrivier se mond is die opening na ’n nuwe wêreld van berge en riviere, diep grond en vrugbare landerye, en vrugtebome. Daar moet iets beters daar anderkant wees. Dís die lewe wat hy wil gaan soek.

      Toe huil Ellen, en Claas word week. En vir ’n wonder verskil hulle nie daaroor toe Nieko sy paar flenters klere in ’n seilsak stop nie.

      Hulle laat hom gaan in die week van sy sestiende verjaardag.

      5

      Die kleintjie kry ’n naam: Tomasina. Maar nog voor sy uit die doeke is, noem almal haar Kattie, van die huiskat waarmee sy alewig onder die tafel sit vandat sy leer kruip het.

      Sy is ’n moeilike kind om groot te maak. As sy nie ’n blad uit die Gesangboek skeur nie, krap sy met ’n potlood in die Bybel. Loop weg na die Jordaans toe, wat die pitte van kasteroliebome afdop om boerseep te kook, eet daarvan en bring die aand aan tafel op: ’n wit wors in haar bord. As dit nie uitgekom het nie, was sy dood.

      ’n Ronde wit wurm kom by haar neus uit. Sy het ook fyn wit wurmpies wat haar stertjie laat jeuk. Sy krap. Ellen dokter met wildeals en vinkel en die sap van honnepisbos. Smeer jodium aan. Dit brand. Kattie skree.

      “Dis die kat waarmee sy heeldag sit en speel,” sê Claas. “Huisdiere dra siektes oor, omlope ook.”

      Skaap word gedous vir wurm. Kattie weet waar die bottel in die kraalmuur gebêre word. Sy smeer daarvan onder Kat se stert. En dokter toe haarself, ’n paar druppels op ’n rosyntjie wat sy afsluk. Kat gaan kruip onder die kooi in. Vir Kattie kry hulle agter ’n bos lê, siek soos ’n hond, en leeg gekots.

      Claas gee haar ’n beker melk, en nog een, en sy bring drade slym op. Hulle klits vir haar rou eier en melk, en brandewyn van Piketberg af wat Ellen net vir siekte hou. Hulle moet die kind dit máák drink, haar nekkie raak so dun soos ’n kierietjie soos sy haar teësit.

      Een môre kom sy uit die kamer waar sy alleen speel, oë wyd gerek.

      “Ek kan nie lekker voel nie!” sê sy en vryf oor haar maag.

      Ellen skrik.

      “Ek wil medisynetjies hê, ek wil spoeg …”

      Sy spoeg ’n handvol silwer krale op die misvloer uit. Die string oorskietkrale van Malie se trourok, wat Ellen nog wou gebruik om doilies te