on>
Vurig op Flaminkevlei
Trish Goosen
Satyn
1
Belinda streel sorgsaam oor die wit papier. Dit is net ’n koevert. Haar naam staan nie eens voorop geskryf nie.
Tog beteken dit so baie vir haar. Nee. Die woord báie beskryf nie naastenby hoe sy daaroor voel nie. Hierdie koevert en sy inhoud beteken vir haar álles. Dit is haar behoud. Dit is haar hoop dat dinge algaande sal beter raak. Dit is ’n belofte.
Sy hou dit weer teen die lig op sodat sy die silhoeët van die gevoude brief binne-in kan sien. Sy skud haar kop, gaan sit langs haar pas gepakte reistas op die dubbelbed en lê die koevert op haar skoot neer.
Sê nou maar sy is nooit weer gelukkig nie? Wat dan? Sal sy ooit uitvind wat in die brief staan?
As dit nie was nie vir haar belofte aan Janus dat sy dit eers eendag sal lees wanneer sy weer gelukkig is, het sy dit sowaar lankal reeds oopgemaak. Maar hoe verbreek jy die laaste belofte wat jy aan jou man gemaak het – toe hy al baie siek was? Dit is ondenkbaar. Sy moet erken, al weet sy nie wat daarin staan nie, is die brief eintlik die mooiste geskenk wat hy haar ooit kon gee, want hy het geweet dit sal haar nuuskierig genoeg maak om weer na geluk te gaan soek.
Kan sy nie maar die koevert oopskeur nie? Sy voel darem mos al baie beter. Nee, sy kan nie. Eintlik weet sy voor haar siel die tyd is nog nie reg nie. Daar is ’n groot verskil tussen ware geluk en net orraait voel. Tog, wat haar betref is orraait heeltemal goed. Sy sal oorleef, want sy het vir Klara. En dierbare klein Klara maak haar gelukkig genoeg.
Belinda kap met die hoek van die koevert op haar knie. Dan staan sy op, maak haar kasdeur oop en bêre die brief weer in die elektroniese kluis. Sy gryp ’n paar gemaklike plat skoene, maak die kasdeur toe en prop die skoene in haar oorvol tas. Sy sukkel nog met die ritssluiter, toe sy Klara se voetstappies agter haar hoor.
“Mamma?”
“Ja, my skat?”
“Ek wil nie meer gaan vakansie nie, Mamma.”
Die stewige blondekoppie kyk baie bekommerd na Belinda. Haar kuif is hopeloos te lank en dit pas nie juis by die ronde gesiggie nie. Die twee yslike diepblou oë wat onder die hare uitloer, is die ene vrae.
Genade, sy sal die kind se kuif moet sny. Kyk hoe lyk sy. Soos ’n arme weeskind. Watse tipe ma is sy dat sy haar kind so laat rondloop?
Klara het haar gunsteling-blomrokkie aan en die soom is in albei gespanne handjies gebondel.
Haar kaal voetjies is bruin van heeloggend se speel op die uitgetrapte hoop bousand wat vir die nuwe braaikamer bedoel was. Daardie bousand . . . oftewel, wat daarvan oor is na weer, wind en Klara daarmee klaar is, staan nou al vir meer as vier jaar langs hulle huis. In dieselfde week wat dit afgelewer is, het hulle ook van Janus se leukemie gehoor. Hoe sal sy dit ooit kan vergeet? Sy het nooit kon raai hoe gou die siekte haar man sou aftakel nie . . . As hulle maar net betyds ’n geskikte beenmurgskenker kon gevind het! Al die pogings van vriende en familielede wat hulle laat toets het, was tevergeefs. Die siekte het hulle voorgespring, en Janus is veels te gou weggeneem. Haar enigste troos is dat sy weet dat hy voor die einde berusting gevind het.
Wat sou die nut gewees het om die bouprojek in haar alleenheid aan te pak? Sy was destyds in rou en boonop hoogswanger en het nie kans gesien vir bouers op haar werf nie. En steeds, vier jaar later, wil sy nie meer ’n kuier- en onthaalplek hê nie. Om wat mee te maak? Die bousand is die enigste herinnering aan die braaikamerprojek wat nooit gestalte gekry het nie, en die laaste gedagte aan haar sosiale lewe wat Janus saam met hom graf toe gevat het. Nie dat dit haar regtig pla nie. Dit is Janus wat die ekstrovert was, altyd baie sosiaal. Sy is mos maar nog altyd ’n alleenmens. Dit was by tye eintlik nogal uitputtend dat Janus nie ’n naweek laat verbygaan het sonder om te onthaal of vriende te gaan opsoek nie. Vir háár was Janus se geselskap altyd meer as genoeg.
“Mamma?” vra Klara weer toe Belinda nie reageer nie.
“Los jou rok, liefie. Jy kreukel dit. Hoeveel keer moet Mamma nou nog vra dat jy dit nie doen nie?” Belinda maak seker dat sy nie te kwaai klink nie, want die kind lyk regtig ontsteld.
Klara los haar rok dadelik en vou haar armpies verleë agter haar rug.
Die dogtertjie is wraggies nes haar pa. Happy-go-lucky, onnet, lief vir praat en vol buie. Ai, die arme rok is ook nou vol sand. Sy sal gou vir Klara iets anders moet aantrek voor hulle ry.
Belinda gaan sit weer op die bed en wys vir Klara sy moet nader kom. Die dogtertjie kom gretig nader, maar kyk nie op na haar nie. Belinda druk die sagte, warm gespeelde lyfie styf teen haar vas. Dan stoot sy haar kind effens van haar weg en druk die kennetjie saggies op sodat hulle mekaar in die oë kan kyk. “Wat’s fout, Klaratjie? Jy’t dan so uitgesien na die vakansie?”
“Sheila, Mamma. Sy gaan verlang. Ons moet maar by die huis bly.”
“Ai, my liefie, het jy miskien gedink ons gaan vir Sheila by die huis los? Ons sal dit mos nooit doen nie.”
Klara lyk steeds bekommerd. “Regtig, Mamma?”
“Gaan kyk gou daar in die kombuis waar al die vakansiegoed staan. Sheila se kosbak en komberse is ook daar. Mamma het haar spesiaal gister laat bad vir die saamry.”
Die dogtertjie se gesig ontspan ietwat. “Gaan ons dan met die bakkie ry?”
“Jip. Spesiaal met die bakkie sodat Sheila kan saamry . . .”
“Kan ek saam met Sheila agter ry?” Klara se lyfie is skielik regop en stokstyf van opgewondenheid.
“Nee, liefie, jy weet mos jy kan nie.”
Klara se skouertjies val weer. Sy draai om en begin kastig lusteloos in die rigting van die deur stap.
“Gaan haal gou jou Barbie-rokkie uit. Mamma is amper klaar, dan gaan ons ry.”
Klara kyk nie om nie. “Ek wil nie die Barbie-rok aanhê nie,” hoor Belinda haar mompel toe sy om die hoek in die rigting van die kombuis verdwyn.
Ai, dit lyk asof sy nog ’n vloermoer oor die rok sal moet verduur voor hulle vandag in die pad val. Mense praat van terrible twos, maar niemand waarsku jou teen die vreeslike viere nie.
Belinda staan weer op en beskou haar tas met gevoude arms. Wat nog? Sy het seker alles. Nou net vir laai en laat waai. Sy trek die tas van die bed af en sleep dit deur se kant toe op sy wieletjies.
Die kas met die kluis daarin vang weer haar oog. Sy het skielik ’n brandende begeerte om Janus se brief saam met haar te vat. Hoekom weet sy nie.
Sy maak die kasdeur weer oop, gaan hurk langs die kluis en kan die kode amper nie vinnig genoeg inpons nie. Die boks waarin sy haar belangrike dokumente hou – perfek geliasseer, en geïndekseer, natuurlik – staan reg voor in die kluis. Sy het die koevert minute gelede hierin gebêre, waar is dit dan nou? Sy krap senuweeagtig tussen die boonste papiere rond en net vir ’n oomblik pak ’n vreemde vrees haar. Sê nou dit is regtig weg? Dan kom die verligting. Dit het langs die kant ingeglip en heel onder in die boks beland. Dankie tog!
Sy vind ’n veilige plekkie vir die brief in ’n hardeband-notaboek en sit die boek in haar handsak. Met haar handsak onder haar blad, beskou sy haar ongegrimeerde gesig in die spieël bo haar laaikassie. Sy vee ’n sliert blonde hare agter haar oor in en trek haar deurmekaar poniestert bietjie stywer teen haar kop vas. As iemand wat pynlik netjies en georganiseerd is, is haar voorkoms die een gebied in haar lewe wat sy bietjie afskeep. En met goeie rede.
Janus se dood het haar laat besef dat die lewe kort is. Grimering, duur klere, geld, status . . . dit beteken net mooi niks.
Sy sug en trek haar skouers op. Ja wat. Sy lyk seker maar orraait. Dis tog net tannie Wollie wat haar só moet aanskou. Dit is nie asof sy verwag om Prince Charming op Velddrif raak te loop nie. En dit is juis om dié rede dat sy Velddrif as vakansiebestemming gekies het. Die afgelope somer was Mosselbaai, wat lankal nie meer ’n piepklein dorpie is nie, weer ’n miernes van bedrywige vakansiegangers. Sy wou dit