tion>
Nadia
Paaie van hoop
Nadia Beukes
Soos vertel aan Jana van der Merwe
Lux Verbi
Opgedra aan my ouma, my ouers, my familie en vriende en die Dinamiese Dames.
Ook my lieflingman David – ek het jou lief sonder ophou.
Oprit van my grootwordhuis
My ma het in haar matriekjaar in 1973 reeds besluit dat as sy eendag ’n dogtertjie sou hê, sy haar Nadia sou noem. Sy het op skool van die legendariese Roemeense gimnas Nadia Comăneci gehoor wat later in die Olimpiese Spele van 1976 drie goue medaljes sou verower en die eerste gimnas ter wêreld sou word om ’n perfekte telling van 10 te behaal.
Die naam Nadia, wat van Slawiese herkoms is, beteken “hoop”. Ek wonder of my ma bewustelik oor dié betekenis opgelees het toe sy my Nadia Marianne Beukes genoem het, want ek glo daar is hoop oor my lewe uitgespreek. Ek het altyd geglo daar is hoop, maak nie saak wat in my lewe gebeur nie. Daardie hoop het definitief nie uit myself gekom nie! Ek glo dit is die Here, want Hy het geweet ek sou baie daarvan nodig hê.
My begeerte om in die vermaaklikheidsbedryf te wees, het reeds kleintyd begin. Ek glo dit is ’n liefde wat ek by my pa geërf het. As befaamde operasanger het my pa, Rouel, die land en later oor die wêreld heen getoer om vir ons ’n goeie lewe te kon voorsien.
Ek onthou die dag toe my onderwyseres-ma, Eureke, my as kaalvoetkleuter by ons huis in Midrand in Johannesburg my oor my drome uitgevra het. “Wat wil jy eendag word as jy groot is, Niets?” Hoewel ek die vraag onthou, het my presiese antwoord oor die jare vervaag. Al wat ek onthou, is dat ek net in die kollig wou wees. “Jy wou ’n prinses word,” het my ma my onlangs help onthou. “’n Prinses? Maar dit is dan nie eers ’n regte werk nie?” het ek gereageer. Weer het sy my antwoord van destyds bevestig. Sy het my immers dieselfde vraag gevra. Sy wou toe ook by my weet: “Nou wat doen ’n prinses?” My antwoord was blykbaar kort en kragtig: “’n Prinses trek mooi aan en waai vir die mense!” In hierdie onskuldige antwoord wat dalk as oppervlakkig kan oorkom, was my meisie-hart versluier.
Die behoefte om aanvaar en waardeer te word, om geliefd te wees, om in ’n posisie van invloed te wees en mense te inspireer, het van kleins af in my geleef. Ek wou in die mooi van die lewe deel en ook ander daarvan deel maak. Die meeste van ons ken die verhaal van Aspoestertjie, wat ná haar ouers se dood by ’n nare stiefma en stiefsusters moes gaan bly. Sy moes haarself dag ná dag vir hulle afsloof totdat sy uiteindelik haar prins ontmoet het. In die jongste rolprentweergawe van hierdie verhaal, sê Aspoestertjie se ma vir haar as klein dogtertjie voor haar lewenspad dié aaklige draai neem: “I have to tell you a secret that will see you through all the trials that life can offer; have courage and be kind.” Dít was vir my só ’n belangrike les oor hoe om die lewe aan te pak – en dit is waarna ek streef.
Ek het in ’n goeie huis grootgeword. My ouers is gelowiges wat ’n vervullende en veilige hawe vir my en my broer, De Villiers geskep het. Vandag besef ek hoe gelukkig ek was om my kinderjare in so ’n bevoorregte omgewing te kon deurbring. My kamer was prinsespienk en by ons kinderpartytjies was daar altyd baie lekkergoed, springkastele en maats.
In die huis onthou ek ’n formele sitkamer met ’n wollerige wit mat waar ons die dominee kon onthaal. Buite was ’n groot en baie diep swembad.
Benewens die swemlesse het ek en my broer van ’n jong ouderdom aan verskeie aktiwiteite deelgeneem – van karate vir De Villiers tot allerlei danssoorte op die verhoog vir my. Al het ek nie enige titels verwerf of groot kompetisies gewen nie, het my ma my altyd mooi aangetrek, my hare gekrul en het ek altyd soos ’n prinses gevoel. Ek het alle soorte dansstyle probeer, maar in moderne danse en klopdanse uitgeblink. Ballet was heeltemal te gedissiplineerd vir my hardkoppige persoonlikheid wat van kleins af al alles bevraagteken het.
Hoewel my hardkoppigheid my vandag steeds soms in die warmwater laat beland, bly ek glo dat dit ’n goeie eienskap is. As kind het dit my egter baie meer in die moeilikheid laat beland as ek soos ’n snip begin terugpraat het. Dissipline is goed en my ouers was nooit onredelik nie. Die struktuur en stabiliteit wat hulle vir my en De Villiers in ons kinderjare gegee het, was baie waardevol.
Ons werf was eintlik meer soos ’n plaas. Ironies dat ek as totale stadsmeisie my jare later op vele plase in ’n Toyota-bakkie sou bevind met die reeks Boer soek ’n Vrou.
Asof al die verskeie troeteldiere nie genoeg was nie, was daar ook jaarliks ’n gewemel in die huis van my hordes sywurms. In ons tuin was ’n groot moerbeiboom en daar kon ek blare pluk sodat die sywurms hulleself trommeldik kon vreet. Vir my kleine self was dit hartverskeurend toe ek een keer die eiertjies op die vloer van een van die vertrekke in ons huis onder ’n tafel laat lê en die miere alles verorber het. Ek het dae lank oor die verlies getreur, want wat die begin van ’n nuwe lewensiklus moes wees, is eensklaps beëindig.
Ná jare in Midrand het ons in my standerd een, ofte wel graad drie jaar, in 1991 na Centurion verhuis. Daar kon ek jare lank sorgeloos met my fiets na die Laerskool Hennopspark ’n paar blokke ver ry en het vinnig met die bure se kinders vriende gemaak.
In dié huis was my kamer met ’n Biggie Best-tema gestileer, kompleet met muurpapier in skakerings van appelkoos en ligte blou. Daar was altyd genoeg slaapplek as ’n maatjie kom kuier het. My ma het ’n stokkie daarvoor gesteek toe ek ’n skelpienk Barbie-kamer wou gehad het. As troosprys het sy vir my ’n Barbie-kussingsloop gekoop.
Ek onthou soos gister hoe ek op dié gunstelingsloop en met my geel en wit Telly Quack-eendjie van die TV-speletjiesprogram Telly Fun Quiz snags aan die slaap geraak en gedroom het om soos my pa op die verhoog te wees. Ek het definitief my liefde vir die kunste van hom gekry.
My pa het in ons kinderjare voltyds by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) gewerk. My ma was byna 40 jaar lank ’n onderwyser en het 34 jaar daarvan by Halfway House Primary in Midrand skoolgehou, wat destyds nog as Laerskool Halfway House bekend gestaan het.
As gesin het ons ’n redelike normale ritme gehad. My pa was in daardie tyd by verskeie fantastiese verhoogproduksies in die Pretoriase Staatsteater betrokke en het ons altyd saam na vertonings geneem. Dit was betowerend! Ek dink dit is daardie blootstelling aan my pa se loopbaan wat iets diep binne-in my laat roer het om ook eendag deel van die vermaaklikheidswêreld te wees.
As sesjarige het ek gereeld in my pa se aantrekkamer by die teater gespeel of selfs geslaap omdat operas vir my vervelig was. Kort voor lank was ek egter voor, agter en op die verhoog meer tuis as by die huis. Ek onthou so goed die verwondering wat ek ervaar het wanneer die karakters met stylvolle danspassies oor die verhoog gesweef het, die musiek en sang, die grimering en kostuums. Die grootsheid van dit alles het my klein laat voel.
Elke produksie – van die operas Rigoletto, Carmen en Turandot tot die musiekblyspele en pantomimes soos Sneeuwitjie waar akteurs in die rolle van die sewe dwergies op hul knieë geloop het – het my na ’n wonderwêreld weggevoer. Ek kon ure lank swymel oor die pragtige soprane in hul balrokke en die blink afwerkings op hul kostuums. Buddy Holly het weer my hart met sy kitaar gesteel.
Saam met my pa kon ek agter die skerms die magiese verhoog en dekor aanskou. Toe my pa die hoëpriester in Aïda vertolk het, het hulle regte diere – selfs ’n olifant – op die verhoog gehad. Ná die opera kon ek aan die einste olifant vat. Die grimering vir die hoëpriester was so goed dat ek nie my pa kon herken met die lyne op sy gesig en die kappie wat sy hare versteek het nie. Dit het hom nes ’n bejaarde priester laat lyk. Een keer het hy gaas oor sy oë gedra toe hy ’n blinde karakter moes vertolk. Met so ’n kis vol grimering en rekwisiete was dit nie vir my pa moeilik om my vir ’n temapartytjie ook met ’n lang lelike neus en moesie te vermom nie.
Ongelukkig was my pa nie altyd net op die Pretoriase Staatsteater se verhoog nie en moes hy soms oor die land heen in Durban, Bloemfontein, Kaapstad of selfs oorsee