deur Rabie se blootstelling aan die eksistensialisme wat kort na die Tweede Wêreldoorlog die hele Paryse intellektuele lewe bepaal het. (Dit kan ook nie toevallig wees nie dat Rabie Camus se seminale roman L’étranger in Afrikaans vertaal het.) In hierdie prosas herken mens die geworpenheid in ’n situasie wat Sartre kenmerk, asook sy gedoemdheid-tot-vryheid, sy bewussyn van skuld (en selfs die Sartreaanse titel Le mur speel terug in “Voor die muur”). Maar dit is veral die absurdisme van Camus wat hier oorheers: die “egskeiding” tussen mens en wêreld; die opstand teen sinloosheid wat terselfdertyd sinloosheid bevestig; die vryheid om te kies, wat jou ook, soos in “Die man met die swaar been”, belas met ’n verantwoordelikheid teenoor die mensdom, die Ander.
5
Dit is die besef van dié Ander wat op die een of ander manier elkeen van Rabie se een-en-twintig prosas bepaal. In L’être et le néant (“Syn en niet”) van Sartre verskyn die anekdote van ’n man wat in ’n gang afstap en agterkom dat iets agter ’n geslote deur aan die gebeur is. Hy gaan kniel by die deur en loer deur die sleutelgat. Terwyl hy kyk, is sy hele belangstelling betrokke by wat hy daar agter gewaar. Maar dan laat ’n geluid hom opkyk en hy besef dat daar iemand in die gang aankom en hom sien. Daarmee verskuif sy hele belangstelling na ’n besef van homsélf. Deur die oë van die Ander ontstaan ’n self-bewussyn.
Nou is dit opvallend hoe hierdie besef dwarsdeur 21 geskep word deur die ontdekking van die oë van die Ander: dit is die starende oë van die toeskouers en bowenal die swyende kelner wat die vraatsug van die kaalkoppe stimuleer; mnr. Wallis se bewussyn van sy gesplete selwe in “Baie” ontstaan deur die manier waarop die spieëls hom van homself vervreem terwyl die hele stad toekyk “met sy ontploffings van oë”; die “ontstelde staar” is die sleutel tot “Voor die muur”; dit is wanneer die boertjie Paul Roux se moeder-koei in sy oë skyt dat hy uit sy waansin teruggedryf word na die werklikheid; die hele “Padda en die maan” is ’n fabel van die kyk; in “’n Vlermuis in die park” is die ergste denkbare angs vir die kind dié wat gewek word deur die dreigement: “Hulle sien jou!” In elke verhaal word die self in sy geheel bepaal deur die blik van die Ander.
6
’n Ouer generasie lesers het aanvanklik nog ’n bietjie huiwerig gestaan teenoor 21. Maar die jongeres het dit byna oombliklik geëien as iets so radikaal nuuts dat die Afrikaanse prosa net nooit weer dieselfde as vroeër kon wees nie. Sal ek ooit vergeet hoe ’n vriend my op ’n dag in 1956 stormgeloop het met die dun geel bundeltjie in die hand en gesê het: “Gaan koop nou vir jou een. Dis ongelooflik.” En hoe ek terstond na die boekwinkel gery het om vir my ook een te koop, en sommer in die ry op my fiets begin lees het. En die aand nie eens gaan eet het nie maar eenvoudig uitasem bly lees het tot daar niks meer oor was nie – en toe weer van voor af begin het. Eers vyf jaar later het Van Wyk Louw (in weerwil van ’n hele paar bedenklike uitsprake en mistastings) in Vernuwing in die prosa die stempel van sy gesag daarop geplaas. Van toe af staan dit as die onmiskenbare baken van een van die mees radikale stroomverleggings in die Afrikaanse literatuur.
In Jan Rabie se eie werk beklee 21 nog steeds ’n unieke plek. Gelade kort prosas het wel daarna nog verskyn in Dakkamer en agterplaas (1957) en Die roos aan die pels (1966), maar sy klem het al meer verskuif na die aktuele en/of historiese roman (benewens voortreflike reiswerk, met ’n hoogtepunt in ’n Haan vir Eloúnda in 1971; die eerste science fiction in Afrikaans na Langenhoven se Loeloeraai; skerp en uitdagende nie-fiksie in Die evolusie van nasionalisme, 1960 en Polemika, 1966). En dit is belangrik om te onthou in watter mate Jan Rabie ook ánder impulse verskaf het wat nog lank deur die Afrikaanse literatuur sou bly spoel – bowenal in die polities-betrokke roman (soos in die vroeë Ons, die afgod van 1958, of die latere Ark van 1977), die breed opgesette ingrawe in die Afrikaner se historiese betrokkenheid by Afrika, bowenal in die merkwaardige Bolandia-siklus, waarvan die onderskatte Die groot anders-maak van 1964 vandag nog iets besonders is. (Hierdie bemoeienis is later uitgebrei tot ’n ondersoek na die herkoms van die Westerse mens in Klipwieg, 1970.) Maar op die een of ander manier lê al hierdie bydraes reeds ingebed in die embrio van 21: die aantrekkingskrag van die eksotiese, die bewussyn van die Ander, die ekspressionistiese inslag, die historiese sintuig, die onderliggende patrone van reis en ontdekking en verkenning, die opstand teen die aanvaarde en die alledaagse.
7
Ek self het my nog altyd – vanaf Kennis van die aand en ’n Oomblik in die wind tot by Duiwelskloof – op vele wisselende maniere intens skatpligtig gevoel teenoor hierdie baanbreker. Dit geld ook naasteby elke ander Afrikaanse prosaskrywer ná Sestig, in baie verskillende vorme. In die kortkuns strek die invloed van 21 vanaf die volgehoue samespel van die reëele en die surreëele by Abraham de Vries tot die fyn stemminge van Aucamp se vroeë werk, vanaf die skokmomente van Breyten se Katastrofes tot die klein stokkies dinamiet van John Miles se Liefs nie op straat nie, vanaf die fantasieë van Fransi Phillips tot die felle beelding van Marlene van Niekerk of die gelade aktualiteit van André le Roux of Harry Kalmer. Dit alles dra die brandmerk van 21.
Natuurlik is daar vandag, onvermydelik, aspekte van daardie bundel wat soms gedwonge voorkom – ’n nuk om te nadruklik met die simboliese om te gaan, en bowenal ’n neiging tot selfvertroeteling en presieusheid in die taalgebruik (iets wat veral deur die bril van die oorspronklike Engelse tekste nog sterker na vore kom); maar dit het die skrywer sélf al jare vóór sy kritici ingesien. Dit blyk onder meer uit sy aandrang om van die “estetisme” na betrokkenheid te vorder, iets wat al binne-in 21 begin gebeur as ’n soort voorbereiding van sy terugkeer (in elke sin van die woord) uit Parys na Suid-Afrika. En anderkant alle “datering”, alle oneffenhede wat daar vandag in 21 herken kan word, laat die vensters wat Jan Rabie met dié merkwaardige klein bundel oopgemaak het – ’n blik op die buitewêreld, maar óók ’n blik op die gronde van Afrikaansheid en van die landsproblematiek – vandag nog altyd ’n fris bries van gereedheid-vir-verandering deur ons hele prosa stoot.
André P. Brink
Kaapstad, 2000
Drie kaalkoppe eet tesame
’n Drie-eenheid kaalkoppe sit rondom die tafel. Die ligte van die restaurant gloei metaalagtig op die kaal gepoleerde krone. Dit laat dink aan eierdoppe, oopgekraak tot monsteragtige misgeboortes van drillende wange en monde. Die lywe van die kaalkoppe is enorm en geswolle bo die drie paar verdwergde beentjies wat hongerig onder die tafel trappel.
’n Lang skraal kelner in ’n swart aandpak bedien hulle met al die geregte wat hulle verlang. Hul veelvoudige kenne flap op en af terwyl hulle die vleis met vratige haas afwerk; en as hulle glase wyn lig na hul monde wat rooi en gretig onder hul bolagtige neuse oopgaap, verdwyn hul oë in die voue van hul wange.
Die skraal kelner bedien hul swyend. Gereg na gereg bring en plaas hy voor hulle. Hy toon geen emosie voor sy kliënte nie; maar ander mense in die restaurant is verbaas oor die etery van die drie kaalkoppe, en verlaat hul eie tafels om in ’n kring om die drie eters te kom staan.
Die drie kaalkoppe swaai op en af in die woeste vaart van hul eet. En terwyl hulle al vinniger eet, kwylend van ongeduld voor hul vliegende hande hul monde vol kan prop, gebeur ’n vreemde ding: Sodra ’n nuwe bord voor hulle neergesit word, neem die inhoud daarvan menslike vorms aan: arms, bene, borste van maagde, en selfs ’n kinderhofie, rosig gekook.
Die omstanders hyg van walging, maar die drie kaalkoppe gewaar daar niks van nie. Hulle eet met ontstellende wellus, en vergeet selfs om die strome vet wat oor hulle wange loop, af te vee. Hulle gun hulself’ geen verposing tussen elke nuwe stuk mensvleis nie; hulle monde maal soos groot vleismeulens.
Die dun, swygende kelner is altyd betyds met die volgende gereg. Maar die drie kaalkoppe skyn verblind te wees van hul duiselende inspanning en al die sweet wat in hul oë tap: hulle kan nie langer die kring toeskouers onderskei van die geregte wat die kelner bring nie. Een kaalkop begaan die fout om ’n jong meisie vir ’n saggekookte hoender aan te sien, en, terwyl hy sy vurk in haar steek om haar op sy bord te lig, skeur hy haar lid van lid. Die tweede kaalkop kap die boonste helfte van ’n man naby hom netjies af; die derde maak sy mond wyd genoeg oop om ’n skreeuende vrouehoof met een hap af te byt. Die toeskouers vlug in afgryse; die restaurant loop leeg.
Die