kelner aandra, nie langer raaksien nie; hulle byt hul eie vingers af en skeur groot stukke uit mekaar se lywe.
Die tafel en die stoele tuimel neer en die eetmaal word in stuiptrekkende wanorde op die vloer voltrek. Die liggame verdwyn in die newelende warreling van die monde. Niks bly oor op die vloer nie, behalwe die drie kaalkoppe glimwit soos doppe van oopgekraakte eiers.
Dan vee die kelner die vloer. Hy gooi die drie kaalkoppe in ’n vullisblik waar hulle soos drie verrotte pampoene lyk. Hy dek die tafel swyend vir die volgende dag se maal.
1/’50
Die man met die swaar been
’n Man het neergeval teen die relings van die Luksemburgtuine. Die skaduwees van die kastaiingbome sny oor die sypaadjie verlig deur ’n glaslamp elke vyftig tree, en dit duur ’n tydjie voor die verbygangers hom gewaar. Dan voeg hulle hulself een vir een by die versamelende skare. Hulle bly ingetoë, hulle kyk toe met die waardige terughoudendheid van ou mense wat deelneem aan ’n dikwels-herhaalde toneel. Iemand vertrek onhaastig oor die plein Port Royal toe om vir ’n ambulans te gaan telefoneer.
Die man kreun en probeer om hom aan die relings op te hys. Maar elke keer val hy terug, heftig bewend. Sy hande gly tot op sy bors, en pluk aan sy klere, en sidder dan tot op die grond. Die handpalms val oop en tril soos motte sterwend onder die spelde van ’n insekversamelaar.
“Medelye,” kreun hy, “medelye.” Sweet rol van sy nog jonge gesig, vertrokke van pyn en koors. “Dis klaar met my …” Sy eentonige gebewe en gepoog om homself op te lig, is jammerlik van nutteloosheid. Die toeskouers laat hom lê. Hulle toon geen sentiment nie, alleen praktiese bedagsaamheid. ’n Heer tree vorentoe met die gedienstigheid van ’n afgevaardigde. Hy buk oor die siek man en vra:
“Wat neem jy gewoonlik?”
“Kwienien.” Die siek man se oë rol vervaarlik op. “Maar dit help niks nie … dis die einde …” Sy tande klem toe op ’n nuwe aanval van bewing terwyl sy kop heen en weer rol soos hy poog om nog meer te sê. Sy hande pluk aan die klere op sy bors.
“In my sak,” snak hy oplaas, “my naam …”
Die heer buk laer en neem die man se sakboek om die dokumente daarbinne deur te kyk. Hy sien dat Jean Thomas, 37 jaar, soldaat in Indo-China was, en dat hy daar malaria en gevolglike chroniese siektes opgedoen het. Nou is hy werkloos en gedurig in die hospitaal.
“Het jy gedrink?”
Die siek man knik ongeduldig; dan herhaal hy:
“My naam … My naam …”
“Toemaar, bly kalm. Ons weet jou naam.”
Die siek man sidder soos hy sy kop opdwing.
“My naam!” stamel hy. Sy oë dring angstig aan.
Die afgevaardigde heer buk weer voorwaarts, en artikuleer duidelik om die siek man te kalmeer:
“Moet jou nie ontstel nie. Jy is Jean Thomas. Ons weet dit. Ons het jou naam en adres. Jy is Jean Thomas.”
Dan eers val die siek man terug. Die krampagtige geruk van sy liggaam duur voort, en die sweet wat glinster op sy gesig, boetseer dit in vreemde, skitterende reliëf.
Sy hand raak en klou aan die been van een van die omstanders. Dit is ’n skraal man met ’n groot ingesakte mond waarop ’n onsekere glimlaggie nou verskyn. Dalk is hy verleë vanweë die hand wat vasklou aan sy been, of miskien met die gedagte dat daar weinig warmte en vriendelikheid in ’n dun, benige enkel is.
Toe die hand se greep losgeskeur word deur ’n nuwe aanval van siddering, gee die lang man ’n tree vorentoe, nader aan die sieke. ’n Beleefde glimlaggie is op sy gesig en ’n mens weet dat sy been baie styf en selfbewus gehou is, gereed om die hand weer te ontvang. En meteens neem die skare se ingetoënheid nuwe betekenis aan.
“Asseblief, mense,” sê die heer, “staan terug.”
Die ambulans kom aan met swaaiende koplampe; vir ’n oomblik sirkel kosmiese vuur. Vier konstabels plaas die siek man op ’n draagbaar. Hul saaklikheid is soos ’n verskoning vir wat hulle beoog: die hospitaal, en miskien, binnekort, die lykehuis. Die ambulans vertrek. Gelyktydig vorm die ontbindende skare die speke van ’n wiel.
Slegs die man wie se been aangeraak is, bly naby die relings draal. Hy buk om te sien of daar ’n kol bloed is, en sy neusgate snuif.
As hy eindelik met Boulevard Saint-Michel afdaal, kan die man nie vinnig stap nie. Sy lang skraal lyf is nog steeds na vore gebuig, en sy linkervoet sleep en voel ongewoon swaar.
Onder in die kafee-gebied is die man bang om teen verbygangers te struikel, en hy staan om ’n neon-krabbel bo die glas en rumoer te lees. Maar toe hy weer verder wil gaan, is hy nie dadelik in staat om sy been te lig nie. Dit het so swaar geword soos die steenplaveisel waarop hy staan. Nou vertoon sy gesig só ’n trek van verbasing en pyn dat mense wat verbygaan in die rossige lig, ’n oomblik huiwer voor hulle verder stap.
2/’50
Baie
Gedurende die dag is mnr. Wallis ’n volksraadslid met ’n waardige glimlag wat by sy swartgekledenheid pas. Maar in die aand kom vreemde lag- en praatgeluide uit sy kamer op die derde vloer. In die gang neem die huisvrou en die kamermeisie beurte om hul oë teen die sleutelgat te druk.
Mnr. Wallis staan regop tussen twee spieëls, gekleed in slegs ’n keil. Hy slaan die borskassige pose van ’n redenaar aan en skink die statige olie van sy stem: “Dierbare toehoorders, ek herhaal, ja, beklemtoon: ons eer en ons lewens is op die spel! Ek verhef my stem in pyn en regverdige verontwaardiging. Ek roep om geregtigheid …!”
Elke pose en elke gebaar word getrou nageboots deur die spieël waarvoor hy staan. Maar ewe getrou weerkaats die oorkantse spieël die onbegryplike handeling van ’n tweede persoon soos van agter gesien.
En skielik swaai hy om na die tweede spieël. Sy pose en stem verander na dié van ’n hartstogtelik-paaiende minnaar:
“My liefling, hoe kan jy my van ontrouheid beskuldig? Hoe kan jou soet lippies sulke aaklige …”
Dan ruk hy weer om na die ander spieël, vurig met politieke oortuiging. Maar spoedig moet hy weer tuitmond en hees van liefde pleit. Rasend gedwarsboom, swaai hy soos ’n tol om en om.
Die steeds sneller veranderinge verwar hom so dat hy kushandjies na die politieke spieël gooi en vaderlandse drif teen die spieël van liefde raas. Oplaas sink hy uitgeput en verwilderd neer op die stoel in die middel van die kamer. Sy asem kom in angstige slukke terwyl hy probeer om hom te beheer en op die stoel te sit met die gemak van ’n enkelde man.
Maar hy word geen rus gegun nie; onsigbare magte ruk hom weer op sy voete. Meedoënlose persoonlikhede spring op sy gesig en lyf. Nou is hy ’n bediende wat lang gange moet skoonvee met die slaafse vadoek van sy lippe; dan weer ’n gek wat gillend rol op die vloer in ’n poging om sy skoene in te sluk. Skuim drup van sy mond en sweet van sy lyf. Die dans van inkarnasies wissel so snel dat hy stuiptrek soos in ’n kringloop van ewigdurende geboorte en dood. Hy probeer hardloop na die bed, probeer ontsnap deur die klere van mnr. Wallis aan te trek. Maar hy sink neer op die vloer, afgeskil tot op die lood-pit van uitputting.
Maar selfs daar word hy nog gepor tot sidderende pogings om op te staan. ’n Finale erkenning van wanhoop word uit sy keel geskeur. “Julle’s te baie!” kreun hy, en lê dan stil. Alleen slaap kan hom terugbesorg aan die dag.
Die twee vroue voor die sleutelgat is nie die enigste nuuskierige getuies nie. In die kamer op die benedeverdieping staan ’n oujongnooi op ’n stoel met haar reusagtige ore teen die plafon aangedruk. Deur ’n venster oorkant die straat kyk ’n jong paartjie hoe sy skaduwee dans op sy toegetrekte gordyne onderwyl hulle mekaar op die ritme daarvan bemin.
Stilte is slegs ’n teleskoop. Die elektriese lamp bol uit om te kyk. Die hele stad kyk met sy ontploffings van oë.
2/’50