motor van haar suinige tannie present gekry het nie!”
“Ja … ja, natuurlik. Kayla, wat presies …” ’n Oorverdowende gedreun en geknal van motorfietse klink meteens op deur die oop vensters van die ontbytkamer. Annelize wip orent asof sy op ’n warm stoof gaan sit het. “Ek sal ’n petisie opstel en al die bure se handtekeninge kry! Ons sal nie agterbuurtbewoners in ons straat duld nie!” skree sy en smyt die skuifraamvensters die een ná die ander toe.
“Ja, toe, my liewe professortjie, hoeveel bure woon in ons straat? Ons bly in ’n doodloopstraat met drie huise: Huis Kanferfoelie is in die middel, die hippies is in die huis regs van ons, en op linkerhand staan oorle mevrou De Nysschen se huis al ses maande lank leeg. Die hippies en hulle spul motorfietsmaniakke is ons enigste bure, en nie een van hulle sal jou petisie teken nie,” som Trynie die situasie onbewoë op.
Annelize werp haar ’n vernietigende blik toe en sê dan hard en vinnig: “Ek gaan vroeg universiteit toe en ek weet nie wanneer ek terug sal wees nie. Moontlik kuier ek vanaand by vriende, Trynie, maar ek sal bel as ek nie tuis sal wees vir aandete nie. Kayla, moenie weer gaan eiers aflewer voordat ons die saak deeglik bespreek het nie.” Sy soen Kayla op die wang en verlaat haastig die ontbytkamer.
Trynie kyk Annelize agterna en draai kopskuddend en tongklikkend na Kayla. “Die arme mens probeer so hard om te alle tye waardig en professioneel op te tree, maar as daar net ’n moontlikheid is dat jy sal seerkry, kloek sy soos ’n gebore moederhen. Dis ’n alte groot jammerte dat sy en hy nooit getroud is nie.”
“Sy en hy? Wie is hy, ta Trynie? En wie is sy? Tannie Annelize het my jare gelede vertel sy het nooit ’n man liefgehad nie en dat sy van jongs af besef sy verkies die sekuriteit van ’n suksesvolle loopbaan bo die moontlikheid van ’n onstabiele huwelik.”
Trynie knik haar kop herhaalde male. “Dis woord vir woord wat die arme siel vir my gesê het. Foei tog, sy gebruik altyd sulke groot woorde as sy nie haar ware gevoelens wil verraai nie. Maar jy moenie jou aan jou neus laat lei deur jou geleerde tannie nie, my liefietjie. As sy nie destyds daardie man liefgehad het nie, hoekom het sy my belet om ooit weer sy naam oor my lippe te laat kom? Dis waarom ek van ‘hom’ en ‘hy’ praat, want hy moet naamloos bly.”
“Is die man getroud? Ken ek hom, ta Trynie? Is hy ook ’n professor?” vra Kayla nuuskierig.
“Ek het hom voor jou geboorte laas gesien, sussietjie, daarom kan ek nie een van jou vrae beantwoord nie. Maar wat nou van die man wat jy omgery het? Het jy hom langs die straat laat lê om dood te bloei, of het jy ’n ambulans gekry om hom hospitaal toe te neem?”
“Hy het nie gebloei of enigiets gebreek nie, tannie, en die ongeluk was sy eie skuld,” verdedig Kayla haarself.
“Onsin! Die bestuurder is altyd skuldig, want ’n mens is veronderstel om ’n paar ekstra oë bokant jou ore te hê. Het die man voor jou motortjie ingehardloop?”
“Nee, tannie. Hy het te na aan my motor verbygery op sy fiets en toe hy omkyk na my, het sy wiel aan my buffer vasgehaak. Hy het my verseker hy is nie beseer nie en ten spyte van die ongeluk, kon ek die eiers nog byna betyds by die restaurant aflaai.” Sy kyk verwytend na Trynie. “Maar kry ek nie koffie en ontbyt nie, ta Trynie?”
“Ja, ja, ek skink, maar moenie dink jy gaan so maklik loskom nie, Kaylatjie. Jy is voor vyfuur vanoggend hier weg en jy was pas voor seweuur eers weer terug. Saam met wie het jy gekuier?” vra Trynie.
Kayla loop met haar bord in haar hand na die buffet toe om vir haar hawermoutpap in te skep en keer terug na die tafel om met toe oë haar koppie koffie te drink. Toe wy sy haar aandag aan haar bord pap.
Trynie blaas haar asem hoorbaar uit toe Kayla eindelik haar mond met haar servet klad.
“Dankie vir die lekker ontbyt, ta Trynie. Hawermoutpap en gemaalde sade en rosyne is lekkerder as muesli,” sê Kayla met ’n sonnige glimlaggie.
“Liefie, jy wag verniet dat ek op my knieë gaan staan om te hoor waar jy vanoggend rondgefoeter het, maar ek waarsku jou: jy en Sunette kan maar vergeet, ek bak nie een enkele koeksister vir die tuisnywerheid as jy my nie die waarheid vertel nie,” dreig Trynie en snuif vies.
“As tannie weier om koeksisters te bak, vertel ek tannie niks van die omie met die blou-blou ogies en die skaam glimlaggie nie,” antwoord Kayla vermakerig.
“Sê jy jy het my … e … ons goeie buurman vanoggend omgery, my sussie? Maar ’n man van sy jare en sy postuur sal … Ek meen nou maar, hy lyk nie vir my soos ’n man wat graag voor sonop op ’n fiets sal wil rondjaag nie,” sê Trynie met verslae ongeloof. Haar oë rek bekommerd. “Hoe erg is die arme man beseer, Kaylatjie? Kon jy hom darem terughelp huis toe?”
“Die man wat met sy fiets in my motor vasgery het, het gister by die pa- en ma-hippies gekuier, ta Trynie. Sy naam is Briand Olivier en hy het my van die omie met die blou-blou ogies vertel. Die omie se naam is Sebastiaan van Oldenbarneveldt.” Kayla moet op haar onderlip byt om nie te giggel oor die naam nie. Sy sien hoe Trynie eers diep beïndruk na haar kyk en dan met ’n uitdrukking van verwondering op haar gesig nikssiende voor haar uitstaar.
“Ek was ook sprakeloos toe ek die kleinerige omie se groterige naam gehoor het, ta Trynie,” sê Kayla simpatiek.
“Sprakeloos, ja, Kaylatjie. Die goeie man se naam klink so adellik: Sebastiaan van Oldenbarneveldt,” antwoord Trynie eerbiedig en beklemtoon elke lettergreep. “Ek kon sommer met die eerste oogopslag sien Sebastiaan is ’n man uit een stuk, edel van inbors en waarskynlik uit die adelstand gebore. Sebastiaan sal elke meisie en vrou met die grootste respek behandel, want hy het innerlike adel.”
“Dis waar, tannie. Oom Sebastiaan behandel ook sy kaalvoetsuster met die grootste respek,” stem Kayla saam.
“Sy wát, liefie? Agge nee a, moenie jou laf hou nie, kind. Vir wat sal my … ons Sebastiaan se suster sonder skoene loop?” vra Trynie ergerlik.
“Omdat sy ’n hippie – ’n blommekind – is, my tannie. Onthou tannie nie die ma-hippie met die lang grys hare en die kaal voete nie? Haar naam is Sheilah Stassen en sy is oom Sebastiaan se suster. Briand het my vertel Sheilah het jonk getrou om van haar ontsagwekkende van ontslae te raak,” vertel Kayla bedees.
“Ja, toe, sussietjie, die beste families het swart skape,” keer Trynie. “Nie dat ek dink die goeie Sheilah is ’n swart skaap nie. Sy en haar ou man is nou wel brandmaer, maar hulle lyk nie soos daggarokers of mense wat drank misbruik nie. Ek sou sê hulle is sagmoedige, vredeliewende mense wat ongelukkig deur hulle spul wilde seuns uitgebuit word. Dis darem nie reg om so ’n klomp kinders te moet grootmaak en dan nog op jou oudag met hulle opgeskeep te sit nie.”
“Ja, tannie. Gelukkig is die spul motorfietsryers nie Sheilah en Ben se seuns nie, dis hulle loseerders.” Kayla frons onbegrypend toe Trynie haar oorbluf aanstaar. “Het ek iets skokkends gesê, ta Trynie? Dis tog nie ongehoord vir getroude mense om kinderloos te wees of om loseerders te hê nie.”
“Dis ons redding, my engel! Die rumoerige derduiwels is net loseerders! Ek en jy en jou tant Annelize ken hope jong mense wat op soek is na losies. Ons soek vir Sheilah en Ben nuwe loseerders wat nooit hulle lewe op ’n motorfiets sal waag nie, en ons kan weer in rus en vrede in Huis Kanferfoelie woon,” kom dit triomfantelik van Trynie.
Toe Kayla haar in stilte aankyk, kom sy ongeduldig orent en haal haar voorskoot af. “Ek gaan nou dadelik op die leer klim en my aan Sebastiaan van Oldenbarneveldt voorstel en met sy gawe suster en sy swaer kennis maak. Dalk kan ek ’n melktert of twee saamneem, net om hulle in ons buurt te verwelkom.”
“Ta Trynie … wag!” roep Kayla, gryp Trynie aan die arm en trek haar terug na haar stoel toe. “Dink, my liewe tannie. ’n Mens gaan kuier nie voor agtuur in die oggend by jou nuwe bure nie – nie eens gewapen met twee melkterte nie. Ons kan beurte maak om op die leer te staan en as oom Sebastiaan weer sy verskyning maak, kan tannie hom oornooi vir ’n koppie tee.”
Trynie byt op haar onderlip en tik-tik met die vingerpunte van haar regterhand op die tafelblad. “Noudat ek ’n bietjie nadink oor