Susan Coetzer

Selma en Louise


Скачать книгу

      Susan Coetzer

title.jpg

      ’n Reisroman met ’n byt

      Human & Rousseau

      Aan my eerste kleinkind,

      Frankie Opperman die vierde

      Sometimes you win

      Sometimes you learn.

      – John C Maxwell

      Hoofstuk 1

      Nothing ever goes away until it has

      taught us what we need to know.

      – Pema Chödrön

      3 JANUARIE 2017

      Selma parkeer haar wit Duitse motor in Rosebank Mall se boonste parkeerterrein. Sy sit ’n oomblik besluiteloos met haar kop op die stuurwiel. Wat moet sy doen? Waarheen kan sy vlug waar niemand haar ken nie? As sy net die afgelope jaar kan uitwis met ’n uitveër.

      Sy krap in haar motor rond en druk ’n CD van Abba in die klank­sisteem. The winner takes it all – dit kan jy weer sê, dink sy terwyl sy na die woorde luister. The loser standing small. Of eerder: the loser lê planloos en pateties op haar stuurwiel in ’n parkeerterrein.

      Sy skakel die motor af, maak die deur oop en klim stadig uit. Sy staan ’n oomblik stil en verken haar omgewing asof sy pas op ’n maanlandskap aangekom het. Dan begin sy in sirkels deur die parkeerterrein beweeg.

      “Are you all right, lady?” vra die sekuriteitswag met ’n mee­lewende gesig.

      “Yes. I’m just looking for a travel agent . . .” sê sy en knip haar oë asof die lig haar verblind.

      Die sekuriteitsman stap ’n entjie saam met haar en beduie dan in watter rigting sy moet loop.

      “You sure you are all right?”

      Selma knik haar kop. “Yes.”

      “Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek,” fluister Selma vir die man agter die toonbank van Flight Centre in Rosebank. Sy kyk na die naambordjie wat soos ’n padteken voor haar uitgestal is op die lessenaar. Eshel Naidoo – Flight Centre Attendant.

      Die man lig sy wenkbroue en hou hulle in ronde vraag­tekens op haar gerig. Selma voel hoe angs in klam vlekke onder haar armholtes uitslaan. Haar mond is droog van die kalmeerpil wat vir haar voor­geskryf is.

      “Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek . . .” probeer sy weer die woorde met moeite van haar tong aflaai.

      “Would you mind repeating that in English?” vra Eshel Naidoo apologeties. “I’m very, very sorry, but my Afrikaans is very, very bad.” Sy oë is twee koppies swart koffie waarin diep, opregte berou ingeroer is.

      “I want to book a ticket,” sê Selma met wat sy voel moontlik haar heel laaste asem is. “Can you advise me . . .”

      “No problem. Take a seat.” Eshel ontbloot twee rye gejikte tande. Sy lang oogtande gee hom ’n effense weerwolfgrynslag.

      “Do take a seat,” sê hy weer en beduie na die leerstoel voor sy lessenaar. Selma sak in die stoel neer en staar na sy naels. Hulle is wit, nes sy tande, met ’n effense blou skynsel op die halfmane.

      “So?” vra hy. Sy hare laat Selma dink aan die swart politoer waar­mee sy altyd haar skoolskoene blink gevryf het – met ’n tikkie navy, die kleur van haar ouma se gunstelingkerkrok, daarby ingemeng.

      “Yes?” Hy lig weer sy wenkbroue. Die fyn, netjiese snorretjie om sy mond het dieselfde swartblou skakering. Dit lyk of ’n kind dit met ’n koki geteken het.

      “Excuse me?” vra sy.

      “So where exactly would you like to go? To which destination exactly?” Selma kyk na haar weerkaatsing in sy hare.

      “Anywhere,” fluister sy skaars hoorbaar.

      “Anywhere?” Hy pluk sy wenkbroue op tot teen sy kuif. “How do you mean anywhere? You most certainly mean somewhere, am I right?”

      “No. Just book me a single ticket to any place . . . far away from . . . here.”

      Sy kan haar onderdrukte emosies nie langer aan ’n leiband terug­hou nie. ’n Rou kreet beur op teen haar ribbekas en beland in haar mond. Die geluid wat oor haar lippe ontsnap, is dié van ’n wilde beer wat in Flight Centre losgelaat is.

      Eshel Naidoo deins verskrik terug in sy stoel met die wieletjies. “Fine, fine!” Hy flits weer sy tande om haar op ’n veilige afstand te probeer hou. “Just tell me where you want to go, lady.”

      “I told you I don’t know!” gil Selma soos ’n getraumatiseerde karakter uit ’n Lorca-teaterstuk. ’n Groter, growwer grom ontsnap uit haar borskas. Sy trommel met haar hande op die toonbank asof dit ’n Afrikatrom is. “Just book me a ticket. Right NOW!”

      Eshel Naidoo se kollegas en die kliënte by die ander toonbanke kyk toe soos slagoffers in ’n rillerfliek. “Shall I call security?” vra ’n ouer dame met ’n opgekamde gryspers byekorfhaarstyl. Sy het ’n lang veel­kleurige Josefskleed-kaftan aan. “Maybe she has a gun in her hand­bag. You never know these days. Criminals are so damn creative.”

      “I don’t have a gun!” skree Selma. “I am not a criminal. I am a victim.” Sy keer haar handsak om as bewys. Haar beursie, pilhouertjie, Revlon ColorStay-lipstiffie, sleutels en ID rol tot langs Eshel Naidoo se naambordjie en laat dit soos ’n dominostuk omkantel.

      “Sorry,” sê Selma en kyk na die omstanders. Almal gee ’n tree terug. “I think I’m having a nervous breakdown. It’s very, very, very long overdue . . .”

      “Maybe she needs a doctor,” sê die byekorf-vrou en skud haar kop. “She seems very highly strung.”

      “Ek dink eerder ’n shrink,” sê ’n man in ’n kortbroek en Bok­hemp. “Dat ’n mens nou so ’n spektakel van jouself kan maak in ’n openbare plek.” Hy skud sy kop met duidelike minagting en lek aan sy draairoomys wat op die brosjure begin drup.

      Selma beloer die man. Sy gesig is rond en deurskynend met gla­sige oë en ’n plat neus sonder enige definisie. ’n Jellievis in ’n Boktrui, besluit sy. Sy vrou, wat ook besig is om aan ’n draairoomys te lek, het dieselfde jellievisbloudruk. So ook die opgeskote Little Lotta-dogter.

      “Is sy nie die tannie op TV wat daai reisprogram aanbied nie?” vra Little Lotta. Sy pomp haar ma met die elmboog in haar sagte maag­vleis. Die drie jellievisse bekyk Selma met nuwe belangstelling.

      “Sorry vir my uitbarsting,” sê Selma weer. Sy strek haar arms uit soos een wat gekruisig word en gaan lê op die inhoud van haar handsak.

      “Maar sê my net gou: ís jy die een op TV?” vra die ma-jellievis met ’n lekkende pienk tong. “Want dan wil ek ’n photie neem saam met jou.” Sy dra ’n pienk broekpak om by haar tong te pas. Die pienk hemp het baie patrone, merk Selma deur haar trane. Dit herinner haar aan die Where’s Willy?-kinderboeke. As sy net geweet het wat van Sélma geword het.

      Selma draai haar gesig weg. Die vrou se besige hemp laat haar al hoe meer gedisoriënteerd voel. Is sy die vrou op TV? wonder sy. Is dit haar identiteit? Wie ís sy? Wie kan haar help om die ware Selma-­Suzette Barnard te vind?

      Sy kyk na die persoonlike inhoud van haar handsak wat om haar gestrooi lê op die lessenaar. Sy tel haar ID op en loer vlugtig daarna. Sy is vyftig en lyk soos ’n krimineel wat gesoek word op Police File. Is dít haar ware identiteit? ’n Onbeheerste huilbui oorval haar.

      “Ek is seker dis sy,” hoor sy die pienk broekpak hard aan haar man fluister. Die vrou loer onderlangs na Selma terwyl sy by Flight Centre uitstap met ’n hand vol gratis brosjures. Sy knik vir haar man. “Jip, is sy daai.”

      Die jellievisman kyk vir oulaas om na Selma en skud sy kop. “Ek is nie so seker nie,” sê hy. “Dié een is baie leliker as die een op TV.”

      Dit kan jy weer sê,