tion>
SARA
Maretha Maartens
Lux Verbi
Oor die uitleg
Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Sara mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.
Opgedra aan die leser
wat ook ten minste een keer in sy/haar lewe
deur die newels
tussen die hede en die diep verlede sou wou gaan
om anderkant uit te kom
in een van die oudste beskawings op aarde.
Opgedra aan die leser
wat op ’n wa wil sit wat voortrol
op die eerste wiele wat op aarde gemaak is;
wat ’n reisiger sou wou wees
op die groot handelsroete tussen Ur-Ma, Akkad,
Sumer, Aram, Kanaän en Egipte.
Opgedra aan die leser
wat daarvan sal hou
om Sara en haar komplekse ouman Abraham
– gehoorsaam, lafhartig, teer, onversetlik –
op die rand van die Negev te ontmoet.
Dit mag wel wees dat jy Abraham alleen raakloop
by een van sy talle gestapelde altare
en die eggo’s vanuit die kliprante sou hoor:
die elegie aangaande alles wat Sara agterna
ongedaan sou wou maak.
Opgedra aan die leser wat waagmoedig genoeg is
om die ongeregtigheid van die Amoriete te aanskou
vier eeue voordat dit sy volle maat bereik het.
Opgedra aan die leser
wat anderkant die digte mis
in die Middel-Bronstydperk wil vertoef
en El Shaddai
diep daarbinne
en ewig hier
wil hoor praat.
Hierdie roman begin op die twintigste dag van Lente, kort nadat Sara-hulle in hul staning by Berseba gehoor het dat Abraham twee slawe aan die voet van Moria-berg laat agterbly het en met Isak, brandhout en vuur teen die berg op is om te gaan offer. Daar was nie ’n ram vir die brandoffer nie, maar die slawe het later offerrook bo die kruin van die berg sien opstyg. Dié wat die rook gesien en dié wat die nuus ontvang het, kon net tot een gevolgtrekking kom: Abraham het sy en Sara se seun Isak aan sy God geoffer soos die Kanaäniete hulle eersgeborenes vir hul gode offer. Sara is buite haarself van skok: sy wil by Hebron uitkom, waar Abraham dekades lank reeds weiding vir sy karavaandonkies en vee huur. Het hy hom in sy tent by Hebron teruggetrek? Is Isak op Moria aan El Shaddai geoffer? Weet Abraham se veewagters by die groot bome van Mamre teen hierdie tyd meer as sy?
In die roman beland Sara op die ouderdom van honderd sewe en twintig jaar op ’n plek waar sy nooit gedink het sy ooit siek sal lê nie. En daar, omring van die Amoriete met wie Abraham se manne, hulle vroue en kinders verbied was om te meng, gaan Sara se hele lewe in die een herinneringsflits ná die ander by haar verby.
HOOFSTUK 1
By Berseba was ons tot die negende dag van Lente – die dag van El Shaddai se opdrag – nog soos drie vingers van dieselfde hand. Jy was die middelvinger, Abraham, met Isak net-net korter as jy en veel langer as ek. Twee manne wat oor een verkrimpte ou mens kloek en waak. Nou, in die oggendure van die twintigste dag van Lente, is my eerste nag van yl in die tent van wildvreemde Amoriete verby. Die môreson skyn oor die rantjiesveld hier buite Kirjat-Arba. Ek wil opstaan, maar ek kan nie.
Die sametrekkings in haar bors kom en gaan soos geboortepyne. Die steekpyne in die kontraksies skiet verder uit: deur haar linkerribbes, linkerarm se kant toe. Dit is pynliker as die wond aan haar been.
Dié pyne het dwarsdeur die nag gekom en gegaan, presies soos met Isak se geboorte in hierdie seisoen van geboorte en hergeboorte, sewe en dertig jaar gelede, toe sy negentig jaar oud was. Sametrekking, verligting, versagting van die pyn. Hervatting van die pyn, opbouing, sterker, feller, asof jou lyf met twee hande aan weerskante van die seun in jou oopgeskeur word, sodat hy uit die donkerte van jou liggaam kan kom om die son in al sy glorie te aanskou.
’n Langer nag en halwe dag was daar nog nooit nie. Isak is gebore toe die son reg bokant Abraham se tente in die hemelruim was, asof die lig van ’n enkele brandende ster in die middel van die dag op Berseba geval het. Sy het oomblikke ná sy geboorte boontoe gekyk en op die bokseile bokant haar het daar ’n silwer glansende ring van lig gelê.
Onmoontlik, het sy gedink. Alles is onmoontlik: lig wat die tentdak deurdring, die lewenskragtige gehuil waarmee dié kind die lewe ingekom het. Hy het sy koppie bly draai en sy nekkie bly rek, asof hy die ruimte waarin hy gaan grootword, dadelik goed wou bekyk. Die regterarmpie is in die lug opgestoot. Hy het ’n seuntjievuis gehad. Wanneer die slavinne by haar verbykom met ’n pasgebore, doekebedekte baba waarvan net ’n handjie uitsteek, was dit nog nooit nodig om na die geslag van die aankomeling te vra nie. Die handjie – ’n kwaai knoetsie met vel om, of argeloos en oop – het onnodige vrae nog altyd uitgeskakel.
Isak het sy seunsvingertjies tydsaam uit die knoetsie ontvou en hom uitgerek. Toe het hy sy gesiggie na haar toe gedraai. Hy staar my aan, het sy besef. Sy ma wat huil en lag. Sy ma wat reeds maande gelede vir hom ’n naam gekies het met al die ongelowige lag van vroeër en al die blye lag van nou vir altyd daarin vasgevang.
“Sumu, vrou van Abraham?” het die kring Amoritiese vroue laat gisteraand – of was dit eergisternag? – in hulle soort Akkadies probeer vasstel wat haar naam was, maar eers nadat hulle groot en growwe raakvathande haar op die matras in die tent met sy vreemde reuke neergelê en haar gekneusde lyf gemaklik gemaak het.
Die groot bome van Mamre die Amoriet was te ver van die plek in die bergpas waar los klippe van bo af ondertoe gerol en party daarvan haar teen die kuit en skrams teen die skeenbeen getref het. Gasael en sy vrou Tamân se twaalfjarige kleinseun Yusuf het toe hier buite die stadsmuur van Kirjat-Arba by hulle kom hulp soek.
Yusuf het ongetwyfeld vir hulle gesê sy is nie ’n Amoriet nie. Só leer Abraham hulle steeds, soos met hulle aankoms in Kanaän, twee en sestig jaar gelede. “Die Kanaäniete moet presies weet wie julle is. Julle vat niks van hulle nie, julle kuier nie saam met hulle nie. Julle gedra julle onberispelik. Julle help ’n Kanaäniet as julle sien hy is diep in die moeilikheid, in lewensgevaar. Maar as julle self groot moeilikheid het, stuur julle iemand om vir julle hulp in die kamp by julle eie mense te kom kry, of by my.”
Die Amoritiese vroue wat haar beseerde been versorg, stel haar gerus deur die kind wat hulle bykans onverstaanbare pratery nou ook in die oggendlig, soos diep in die nag wat agter hulle lê, in ’n hoë stemmetjie vir haar verstaanbaar maak: “Dit is net slegte skrape wat bloei, Ummu- šību – moeder wat oud is.”
Die kind wag vir die volgende stuk pratery, knik, dra hulle woorde in ’n stink asempie aan haar oor: “My ma sê olie en sout sal jou been gesond maak.”
Die vroue praat van oral af, die kind druk haar ore kastig eers toe, luister dan weer en bring die res van die boodskap in die soort Akkadies wat kinders in die verre Akkad tussen die Tigris en Eufraat praat: “Jy moenie aan die knop teen jou kop druk nie.”
Die knop teen haar kop het sy reeds gevoel, soos ook die diep pyn in haar linkerskouer. Sy kerm dit uit toe die Amoritiese vroue haar wil omrol.
Ek huil oor my skouer, dink sy, ek kerm dit uit van pyn, en hulle het bly dink dit is oor die knop teen my kop. “Sê vir hulle my skouer is baie seer.”