International Airport, is ’n valerige gebou uit die 1970’s en het twee ingange. Die een sê Arrivée/Arrival en die ander een sê VIP Arrivée/Arrival. Daar is tussen min en geen beheer nie, want daar is televisiespanne, radio- en koerantjoernaliste op die aanloopbaan wat koes-koes onderdeur die vlerke van die steeds bewegende vliegtuig hardloop om eerste by die onderste trappie te kom vir die aankoms van Afrika se grootste superster. Hierdie is duidelik nie ’n gereelde afklimplek vir bekendes nie.
Lucky word by die VIP Arrivée ingeneem, die res van ons moet berus in die Arrivée. In ’n land waar jou sosiale status baie belangrik is en dit permanent onder mense se neus gevryf word, is daar nie veel subtiliteit wanneer dit kom by hoe die nuus aan jou oorgedra word nie. Daar is duidelik net een belangrike persoon hier. Ons indrukwekkende Rwandese visums met ’n hologram van ’n gorilla word nie eens ordentlik deurgekyk deur die manne in swart wat met hul donkerbrille binne die lughawe rondloop nie.
Die weer is verbasend gematig, die binnekant van die lughawe so te sê leeg. Die teleurgestelde immigrasie- en doeanebeamptes het gou besef dit gaan nie ’n dag vir bonusse wees nie. Enige misstap van hul kant af sal die einde van die konsert beteken. Só staan dit duidelik in die kontrak met die promotor en dit is sy plig om seker te maak alles verloop seepglad, sodat sy groot belegging nie terugvlieg sonder om die goue eier te lê nie.
Die fooi vir die konsert moes inbetaal word voordat Lucky sy voet op die vliegtuig gesit het. Dis duidelik hy het al voorheen ’n probleem of twee gehad …
Kigali het 851 024 inwoners. Op pad van die lughawe na die Windsor Umubano Hotel sien ons 851 023 van hulle. As deel van die bemarking vir die konsert het die promotor, Mister Vincent de Gaulle (moenie die Mister-deel vergeet nie), besluit om ons op ’n trip te vat. Ons ry deur die hele Kigali terwyl duisende mense, op plekke honderd diep, langs die pad saamdrom om Lucky toe te juig en in die algemeen heeltemal ballisties te gaan. Hy het alleen gesit in ’n allemintige 4x4 en die skare het selfs boomtakke in die pad voor hom gestrooi.
Die ander twaalf van ons is in ’n tiensitplek-bus, wat deur die plaaslike mense ’n matatu genoem word. Die 4x4 maak baie stof en ons moet kort op sy hakke volg, want die mense maak die pad toe om Lucky, wat regop in die opening van die 4x4 se sunroof staan, beter te kan sien.
Die matatu waarin ons ry, is ingevoer van Japan, waar alle voertuie ná vyf jaar afgeskryf moet word. Regdeur Afrika is daar ’n ekonomie wat om hierdie soort invoer gebou is. Die bussie het nog sy Japannese geskrif langs die kante – daar was geen poging om dit te ver-rwandiseer nie. Die Rwandese nommerplaat is sommer bo-oor die oorspronklike Japanse een vasgeskroef. Dié bussie self was dalk, eendag lank, lank gelede, vyf jaar oud in Japan, maar sy Afrika-vakansie is ook al ’n paar jaar oud.
Ek wonder hoeveel ek vir ander se plesier moet opoffer. Een van Lucky se uiters oorgewig agtergrondsangers is besig om my pap te druk teen die binnekant van die matatu. Ek sit by die venster en staar uit oor die see van gesigte buite. Hul klere is gehawend. Die tekens van stedelike verarming is oral om my: gehuggies wat uit kleimure en geroeste sinkdakke bestaan, maer honde en kinders met boepense. Die blydskap op hul gesigte wanneer hulle Lucky sien, en dan die uiterste verbasing om ’n wit gesig vasgedruk teen die ruit te sien, is my enigste vermaak. Wit mense in Afrika, behalwe as hulle hippies of sendelinge is, word nie agterin bussies gesien nie.
Uiteindelik was ek waar ek wou wees. In die middel van Afrika, besig met die soort avontuur waarvan ek gedroom het toe ek ’n kind was. Viva Mandela, viva!
Vir die volgende week sou ek elke oproep wat ek op my selfoon gekry het, begin met: “I’m actually in the middle of Rwanda right now, can this wait until I come back?” Ek het elke oomblik van daai sin geniet en die reaksie van mense nog meer. Ek was braaf en dapper en ’n pionier. Ek was besig om dinge te sien en ervaar waarvan my vriende, kennisse en kollegas net kon droom. Ek het uiteindelik besef wat ek uit die lewe wou hê – om soveel as moontlik te reis.
Dit was voordat ek die geskiedenis van die hotel waarin ons sou bly, geken het. Die Windsor Umubano Hotel, kompleet met ’n kroontjie op die W, was astrant genoeg om homself te beskryf as “Kigali’s resort within the city”. Dit het beteken dat daar ’n swembad was. Die hotel is geleë op een van die vele heuwels waarop Kigali gebou is en wat dit ook omring. Al die belangrike mense bly op die heuwels in Kigali. Ook die staatsgeboue is op die heuwels. Jou uitsig is van die arm mense wat in vervalle omstandighede in die valleie om die heuwels bly. Dit het my dadelik iets van die psige van die land vertel.
Toe ek in die hotel inloop, het ek ’n flashback gehad van hoe dit dertig jaar gelede daar moes gelyk het, van mans in pakke en vroue in aandrokke wat ’n bal kom bywoon. Regte musikante sou agtergrondmusiek maak in die foyer terwyl die gaste belangrike sake bespreek het. Ek het kelners gesien met lekkernye wat deur Franse sjefs voorberei is en wat aan die eksklusiewe groep gaste uitgedeel is. Wat ek in werklikheid daar aangetref het, was ’n hotel wat hard probeer het, maar steeds gesukkel het om ’n ordentlike hamburger voor te sit teen die agtergrond van die panfluitmusiek wat ’n mens gewoonlik in hysbakke hoor.
Die argaïese rekeningstelsel het beteken dat, voordat dit vir jou gebring is, elke bier aangeteken moes word by twee ooms met strikdasse wat agter ’n baie unsexy houttafel in die hoek gesit het. Hulle het dan ’n vormpie aan die kelner uitgereik waarop die bestelling in mooi gekrulde letters op ’n hotelbriefhoof geskryf is. Die kelner het die vormpie na die kroegman geneem, hy’t die bier oorhandig en die vormpie geteken. Voordat die bier na jou gebring is, moes dié getekende vorm eers by die twee boekhouers afgelaai word. Die bier was nooit koud nie en teen die einde van die aand was dit ’n halfuur voordat jy jou rekening kon kry, want alles moes opgetel word, deur die bestuurder afgeteken en dan aan jou oorhandig word.
’n Primus, een van die uitstekende plaaslike biere, het R20 in die hotel gekos. Buite op die sypaadjie voor die hotel kon ’n mens op ’n houtstoel sit terwyl jy die bietjie middagverkeer dophou, plaaslike musiek hoor en dieselfde bier vir R2 koop. Ek het gou meer tyd op die sypaadjie begin deurbring. Dit was lekker om met die plaaslike ouens uit te hang en in gebroke Engels en met handgebare stories te probeer vertel, terwyl die hotel se veiligheidswag so naby as moontlik aan my probeer staan het sonder om die veilige omheining van die hotel te verlaat. Engels is dalk die derde grootste taal in Rwanda naas Kinyarwanda en Frans, maar dit kom ’n baie laat derde.
Die wag het my vele kere gewaarsku teen die “bad people” met wie ek uitgehang het. Dit het ’n rukkie geneem om te besef hy verwys na die Hutu’s. Fisiek kon ek nie ’n verskil tussen hom en die “bad people” sien nie. Bad people, het ek ook gou agtergekom, was sy volle bemeestering van die koningin se Engels.
Wanneer ek saans net ná sononder in die hotel ingegaan het, ná nog ’n volmaakte sonsondergang teen die agtergrond van die rook van die arm mense se aandetevure, het ek die stof van Kigali letterlik uit my klere geslaan terwyl die wag my kopskuddend agtervolg het en in Kinyarwanda gemompel het. Ek is seker dat hy saans oor die stres van sy werk by sy vrou gekla het. Hierdie mal mzungu wat saam met die “bad people” uithang, sal seker eendag ’n hoofstuk in sy memoires wees.
Teoreties was daar niks fout met die hotel nie. Die hysbak het gewerk, die toilette het gespoel en daar was warm water. Selfs in ’n deftige hotel in Afrika is dít reeds ’n anomalie. Die plek was skoon en netjies en almal het hul plek geken. Maar daar was ’n kliniese gevoel aan die plek, amper asof ek in ’n hospitaal was. Dit was eers toe ek die hotel se geskiedenis gehoor het dat ek besef het hoekom dit so voel.
Die Windsor Umubano Hotel moes gereinig word van al die spoke van 1994. Hulle moes ontslae raak van die reuk van vrees van mense wat nie geweet het of hulle die volgende dag weer ’n sonsondergang sou sien nie. Mense wat gehoop het dat die internasionale gemeenskap op die nippertjie sou intree en hul lewe red. Bill Clinton, toe pas weer in beheer van sake nadat hy sy verhouding met Monica Lewinsky probeer verdoesel het met ’n mislukte inval in Somalië, het gekeer dat dit gebeur. Die VSA se weiering om wat in Rwanda aan die gebeur was tot ’n volksmoord te verklaar, het veroorsaak dat die Verenigde Nasies nie kon ingryp nie. Dít, tesame met die feit dat nuusspanne van regoor die wêreld in Suid-Afrika rondgehang het vir die 1994-verkiesing, het beteken