Deborah Steinmair

Die Neus


Скачать книгу

ruik klam grond en vars brood. Sy spits haar oor vir Rosalie Schwarzbraun se stem. Dis sonlig en lou water. Haar vingerpunte verbeel hulle die sagte vel van ’n binnearm, haar voorkop die veeg van lippe.

      Niemand hier het haar so aangeraak nie. Die vrou, haar ma, Marie Gruber, was ’n kaktus.

      • VYF •

      Haar voete stap nou daagliks met die tuinpaadjie af posbus toe. Die slakke kry minder tyd om aan haar pos te knaag. Al om die ander dag is daar ’n vet brief van Xavier. Die blou koeverte is met die hand geadresseer. Sy ken teen dié tyd sy ronde handskrif en skeur dit sonder huiwering oop. Hul briewe is vriendskaplik, maar êrens tussen die reëls is ’n winkende hand. Aanraking is meer as wat sy in hierdie stadium kan hanteer. Dis meer as wat sy nog ooit kon hanteer. Vandag is daar nog iets in die posbus. Dis ’n tipe dun papier wat nie in die slakke se smaak val nie. ’n Velletjie van die poskantoor: daar is ’n pakket om af te haal.

      Die tyd het aangebreek. Sy moet uit. Oor die drumpel, die buitewêreld in. Sy trek klere aan teen die aanslae van die dag. Laag op laag materiaal om haar te weer teen aanraking en indringing. Sy wil graag ongesiens verbygaan, maar hierdie dinge kan ’n mens nie kies nie. Sy is verbaas as dorpenaars haar op straat herken. Sy kan haarself skaars herken. Sy sukkel om gesigte waar te neem. Prosopagnosia of gesigblindheid mag glo die gevolg wees van ’n breinbesering. Die fusiform gyrus is deel van die temporale lob. Hierdie deel van die brein is belangrik in die waarneming van gesigte. Die menslike gesig se proporsies en uitdrukkings gee leidrade in die identifisering van oorsprong, emosionele tendense, gesondheid en sosiale inligting. Vanaf geboorte is gesigte belangrik in die indiwidu se sosiale interaksie. Daarom is sy sosiaal wanaangepas. Daarom, weens die geheueverlies, altyd die assosiasie met ’n bekende gesig. Dit hoef nie ’n presiese ooreenkoms te wees nie; min of meer is goed genoeg vir haar. Hare is die tipe gesig van Vita Sackville-West, die vaagweg-adellike literêre lesbiër aan die rand van die Bloomsbury-groep aan die begin van die vorige eeu. Maar wilder. Sy staan ses voet een in haar plat eskimostewels. Haar hare is gitswart, digte kurktrekkerkrulle tot op haar skouers. Haar neus is lank en krom soos ’n sekel. Sy het ’n groot skelet; sy is tegelyk benerig en breed, vol duike en rondings. Sy het lang hande en voete. Sy drapeer haar van kop tot toon in kleure wat kalmeer: pruim, mosgroen, hawermout, oker, roesbruin, purper. En die finale afronding waarsonder sy nie die dag kan aandurf nie: ’n ertjiegroen fedora met een van Flaubert se stertvere penorent in die band. Sy lyk vreesaanjaend, maar sy kom in vrede.

      Sy tel die telefoon op en skakel Claude se nommer. Hy antwoord op die derde lui. “Stofie! Moet jy uitgaan? Tjor is reg vir jou.”

      Claude se ekstra motor is ’n stokou Kewer. Die ronde lyne en verroeste chroom grief haar minder as ander karre se kontoere. Claude skop-skop teen die bande en gee die kar nog ’n klappie op die boud, iets wat hy nooit in tien leeftye met haar sal doen nie. Sy trek rukkerig weg. Sy het nie ’n rybewys nie, maar Claude reken sy straal so ’n houding van adellike outoriteit uit met haar lang nek en ertjiegroen fedora dat sy nooit daarvoor gevra gaan word nie. Tot dusver was sy gelukkig.

      Bestuur is ’n meditasie, soos klippe pak. Dit fokus. In die straat voor die poskantoor voer sy ’n foutlose parallelle parkering uit, met die eerste probeerslag, selfs al is daar hope parkeerplek. Die gebou is in die breë hoofstraat.

      In die poskantoortou wag mevrou Dominee (herkenbaar, want sy lyk soos Winston Churchill) en nog twee vaagweg bekendes uit haar prille jeug (’n onherbergsame landskap) wat sy tog net nie nou wou sien nie – Angela Lansbury en Barbara Bush. Sy skakel haar monitor af, sy gaan in power saving mode. Sy verberg haar neus in die stowwerige goiingsakkie voëlsaad wat sy saamdra om haar te weer teen traumatiese oomblikke. Sy teug dit diep in, soos vlugsout. Sy wieg op haar hakke en neurie toonloos. Die ligte is aan, maar niemand is tuis nie. Screen saver-objekte swem stadig verby.

      Uiteindelik is sy voor in die ry. ’n Klein bruin pakkie word deur die tralies gestoot. Dis so groot soos ’n notaboek. Weer die krapskriffie.

      Sy prop dit in haar rugsak en stap holrug weg.

      • SES •

      Sy het daaroor nagelees. Narsiste het intense, onstabiele emosies en ’n verwronge selfbeeld. Hierdie persoonlikheidsafwyking word verder gekenmerk deur ’n abnormale selfliefde, ’n oordrewe meerderwaardigheidsin en ’n obsessie met sukses en mag. Maar hierdie houdings en gedrag weerspieël glo nie ware selfvertroue nie. Dit bedek eerder ’n diepgesetelde gevoel van onsekerheid en ’n fragiele selfbeeld, dikwels die gevolg van kleintyd-trauma. Marie Gruber, haar ma.

      Sy weet nou sy het spore nodig. Leidrade na haar eie oorsprong. As sy wil reis, moet sy uiteindelik weet waar sy begin het. Sy staan op uit die hangmat op die stoep en marsjeer vasberade die gang af. Sy staan vir ’n goeie tien minute voor die vrou, haar ma, se kamerdeur en wieg. Flaubert wieg langs haar. Mini Me. Sy draai die dowwe koperdeurknop. Dis koud in haar palm, plek-plek ingeduik, met ’n wit verfspatsel of twee op. Die kamer is skemerig en koel. Dit ruik na viooltjies, ’n geur wat sy met wreedheid assosieer, versag deur die reuk van stof, wat sy liefhet. Hier het sy as kind nooit haar voete gesit nie. Elke haarborsel is op sy plek in hierdie versteekte mausoleum. Sy is op haar eie: Flaubert weier om dit oor die drumpel te waag. Sy stap vir die eerste keer in jare binnetoe. In hierdie kamer in wat die hele huis vergiftig soos ’n siek nier. Die lug vibreer asof histeriese alarms geluidloos skel. Sy neem vyf vinnige treë tot by die hangkas. Sy strek haar arms uit en haal die verbode hoededoos af. Sy ruik mottegif en verbittering.

      Met haar buit by haar voete sit sy op die sonstoep en wieg. Sy maak haar oë toe. Sy laat die sonstrale haar van buite na binne verwarm. Daar is rykdom in oomblikke. Flaubert draai sy rug op die hoededoos.

      Sy dra uitgerafelde geheime saam waaroor sy nie met Xavier kan praat nie. Die vrou, haar ma, het selfmoord gepleeg toe Aga in standerd nege was. Dit was haar laaste skooljaar. Dit was die begin van die vryheid. Moet haar nie vra wat in die jare tussenin gebeur het nie. Sy was groen en verlore. Sonder grootmense. Verligting het haar duiselig gemaak. En die dae het verbygefladder tot hier, vandag. Een en veertig jaar oud. Middeljarig, as ’n mens gelukkig of ongelukkig genoeg is om te leef tot tagtig. Darem is daar die strale van die son, warm vingers op ’n wintersoggend.

      Die vrou, Marie Gruber, was manies oor privaatheid. Niemand het haar geken nie. Sy het haarself ver van die huis kortgeknip, in ’n hotelkamer op ’n kusdorpie, waarheen sy jaarliks alleen met vakansie gegaan het. Met ’n hele jaar se voorskrifsusmiddels. Kan iemand, êrens, ooit genoeg gesus word?

      Die koelte het die sonkol ingesluk. Genoeg daarvan. Sy prop die spoke van die verlede terug in ’n kas in haar kop. Marie Gruber se kamer gaan sy nie weer betree nie. Sy raap die hoededoos op en gaan bêre dit bo-op die boekrak in die sitkamer, net-net buite haar bereik. As nagedagte gooi sy die poskantoor se pakkie agterna. Onoopgemaak. Dit vlieg bo-oor die hoededoos en gly agter die swaar boekrak in. Gits.

      Die telefoon krys. Sy weet wie die beller is. Sy tel dit met die eerste lui op en luister. Reëlmatige asemhaling. Die ritme daarvan ontstig haar nie. Sy luister ’n rukkie en plaas die gehoorstuk terug. Dis ’n jare lange ritueel.

      • SEWE •

      Sy skeur al Xavier se briewe sonder huiwering oop. Sy raak vertroud met die kamers in sy kop. Sy herken die argitektuur soos ’n herinnering wat in ’n droom ingebou is. Sy was nog nooit daar nie, maar dis bekend. Sy probeer selfs sy boeke lees, maar sy gooi dit telkens teleurgesteld neer. Nee! wil sy gil. Jy kan stukke beter skryf. Dis nie jou ware stem dié nie!

      Daar was ’n ander koevert ook in die posbus. Bruinpapier. Handgeskrewe. Weer die krapskriffie. Die slakke het die afsender se adres agterop heeltemal weggevreet. Sy het dit binnetoe geneem en bo-op die hoededoos, bo-op die boekrak gesit. As ’n mens ’n professionele probleemoplosser is, maak dit die lewe nogal moeilik as jy dit omtrent nooit kan regkry om koeverte oop te skeur nie.

      Sy lê in die hangmat. Sy lek aan haar gunstelingklip van die oomblik. Sy wieg en wik en weeg. Sy voel vreemd gerus, asof sy reeds ’n hele boel leidrade opgestapel het, asof die oplossing net-net buite haar bereik lê en wag vir die oomblik wanneer sy gereed is om twee en twee bymekaar te tel. Sy is