sonplooie weerskante van sy oë en rimpelwalle wat vroeg reeds oor sy hoë voorkop kruip. Deur en deur ’n veldmens, besluit sy. San. Elke stuk van hom.
“Kan ek vir jou iets aanbied?” vra hy. “Of is jy haastig?” Sy stem is soepel, huiwerig, met ’n effense bry wat die erre rol. Klink soos veraf branders, dink sy. Nee, eerder die spin van ’n kat. Dalk die Cheshire-kat? Sou haar nie in die minste verbaas nie.
“Ek dink ek het iets nodig,” besluit sy. “En ek weet nie of ek haastig is nie. Ek wou eintlik kom kyk ... Die polisie wil hê ek moet help met die lys van gesteelde goed, maar ...” Sy kyk oor haar skouer terug na die plaashuis. “Ek glo tog nie ek sal hulle kan help nie.”
Hy knik, asof hy ten volle begryp.
“Ag, en ek wou ook maar net kom,” gaan sy voort. “Ek het vanoggend vir Freddie gesien.”
Hy knik weer.
“Nelmari Viljoen sou saamgekom het, maar sy’t laat weet sy kan nie meer nie. En noudat ek hier is ...”
“Gee jy vir Buks Hanekom amper die pak slae van sy lewe.” Hy glimlag, maar sy oë bly moeg.
Saar loer verras na hom. “Jy’t my seker hoor skree, nè? Hy’t soos ’n skelm in die huis ingesluip en ’n laai oopgetrek. Ek dag dis iemand wat ’n mes uithaal en toe ...” Sy skud haar kop. “Toe’s dit ’n resepteboek.”
Hy frons, maar sê niks.
“Ek het eintlik nie geweet hier’s nog mense nie. Ek dag almal is weg, Dawid en Lammer en vrouens en al. Outanna ook. Is jy alleen hier?”
“Nee, oom Sak is ook hier.” Hy begin aanstap in die rigting van die huisie anderkant die ry bome. Sy volg in stilte. Freddie het kennelik vir hom Pa se aftreehuis gegee om in te woon. Maak sin, dis naby genoeg aan die plaashuis, maar ook privaat en afgesny deur die ry bome.
As hulle deur die bome is, buk hy skielik en tel die lam, wat hulle agtervolg het, in sy arms op. Die lam maak ’n sagte geluid en sit gemaklik in die kromming van sy arms, asof hy gewoond is daaraan.
Die gebaar laat Saar se keel onverwags met ’n dowwe hartseer toetrek. Waarvoor, weet sy nie.
Eintlik behoort sy versigtig te wees, verdomp. Hierdie man word verdink van die wrede slagting op ...
O God, Freddie. Freddie is dood. In al die geskrik en gedruis het sy vir ’n oomblik vergeet.
Hoofstuk 16
16
“Hoe’s dinge?” groet Beeslaar toe hy by die aanklagtoonbank verbystap op pad na sy kantoor.
Die jong leerlingkonstabel plak die telefoon vinnig neer. “Middag, inspekteur.”
“Jou girlfriend nog lief vir jou?”
Die jong man skrop verleë met sy vingertoppe agter ’n bakoor, wend sy oë af. Beeslaar glimlag, maar sê niks. Die konstabel se steeloproepe na ’n befoeterde meisie is alombekend.
In die gang kom Jansie Boois op hom afgepyl. Sy het haar mandjie met kosblik en hekelwerk oor een arm, haar handsak in die ander. Op pad huis toe vir die naweek. “Inspekteur, daar’s ’n stawel boodskappe vir jou. Wil jy hê ek moet gou help voor ek gaan? Jy onthou nog ek loop vandag vroeg? Moet help om die saal reg te kry?” Sy is lid van die een of ander kultuurgroep wat ’n Afrikaanse sanger uitgenooi het.
“Gaan julle skoffel ook?”
“Ag jy,” giggel sy ondeund en skuif haar bril met ’n pofferhandjie terug oor haar neus. Dan trek sy groot oë. “Die superintendent het al twee keer uit Upington gebel.” Sy swaai haar wysvinger vir hom. “Stout.”
Beeslaar sug en trek ’n bek. “Ek sal bel. En kappityt, hoor! Doen die Macarena!”
Superintendent Leonard Mogale se ergenis is onmiddellik duidelik toe hy sy foon antwoord. “Jy’s ’n belangrike man, inspekteur. Heeltemal te belangrik vir my, of hoe?” Sy stem is ’n diep, donker bas en hy praat dralend, sonder wisseling in toonhoogte, sy woorde een vir een gevorm en sorgvuldig uitgespreek.
“Ek dag u is op pad hierheen, toe wou ek maar soveel moontlik dinge bymekaarkry. Om u in die persoon in te lig.”
“Hier’t iets opgeduik.” Hy kan hoor die superintendent kou aan iets. Hou die kêrel dan nooit op eet nie? Hy lyk klaar soos ’n baba-seekoei. Vaatjie-maag en vet gesig. En dan is daar sy bruuske aard, waardeur hy ’n bynaam verwerf het, afgelei van ’n kombinasie van Mogale en moegoe. Eindresultaat: Moegel. Die Moegel.
Die superintendent sluk af wat hy ook al geëet het. “Maar ek hoef nou seker nie my bewegings aan jou te please explain nie, inspekteur.”
“Ja, superintendent. Ek is jammer. Ding is net, ons is dun op die grond, net een voertuig.”
Die vet man grom misnoegd, sy stem vibreer soos ’n diesellorrie oor die foonlyn. “Ek hoor jou, inspekteur, en my hart bloei vir jou. Maar jý’s mos nou daar. Die groot wit lig uit Johannesburg!” Hy lag om die angel uit sy woorde te haal, maar Beeslaar weet daar was ongelukkigheid oor sy aanstelling hier. Mogale wou eerder een van sy eie mense hier gehad het, sy eie stempel op al die kleiner stasies in die uitgestrekte distrikte rondom Upington afdruk.
“Maar groot wit lig ofte not, in hierdie wêreld werk ons anders,” sê hy. “Hier werk ons saam, ons ignoreer mekaar nie. Jy met my? Van nou af wil ek elke dag ’n verslag hê van jou af. Beginnende Maandag, as ek jou en jou docket eerste ding hier by my op kantoor sien.”
Beeslaar wil protesteer, maar byt op sy tong. Dis amper ’n honderd en twintig kilometer Upington toe. Dus, ’n hele blerrie dag in sy moer in. Hy niks ryker nie en Die Moegel beslis niks wyser nie.
Mogale begin spoed optel: “Want ek lyk soos ’n fokken aap hier, man. Dis my eie direkteur wat wil weet wat aangaan, die kommissaris wat in ons al twee se nekke in afblaas. Dis politici, die opposisie, die blerrie boere van die landbou-unies. En die pers. En ek sit hier soos Kiepie-die-kont. Weet van niks, want inspekteur Beeslaar is te besig om my te bel en op hoogte te hou.”
Hy bly ’n oomblik stil om die teregwysing te laat insink, gaan dan kalmer voort: “Hoe verloop dinge daar? Ek hoor daar’s wit boere wat met gewere rondloop en die mense intimideer.”
Beeslaar sug innerlik. Dankie baie, sersant Ballies Gatlek Pyl.
“Dis dalk bietjie oordrewe, superintendent. Die mense is ontsteld en vol dreigstories. Maar dis waar dit bly.”
“Ek hou nie hiervan nie. Daar’s kort-kort oorlogspraatjies in die koerante. Ek soek nie sulke moeilikheid op my werf nie. ”
“In hierdie stadium is dit enkelinge. Maar ek hou dit dop. Ek wou nog vra: Terwyl u nou die kommissaris in u nek het, druk hom asseblief vir die brief?”
“Brief. Watse brief?”
Beeslaar voel hoe sy kopvel begin kriewel. Hy haal diep asem. Wanneer hy weer praat, moet hy konsentreer om nie te klink of hy deur sy kiestande praat nie.
“Die brief wat ons nodig het vir die laboratorium in Pretoria, superintendent. Ons soek mos ’n brief van die kommissaris wat moet sê dis ’n prioriteitsaak, dat ons nie nege maande hoef te wag vir die uitslag van die bloedtoetse op die slagoffers nie. Die brief om ...”
“Los maar die houding, inspekteur. Ek weet goed genoeg waarvan jy praat. Ek werk daaraan. Nou, gaan ek nog iets hoor oor hierdie saak, of moet ek iemand anders vra? Pyl? Hy lyk na ’n bruikbare klong. Of gee ek die saak vir my manne hier op Upington?”
Beeslaar byt op sy tande. Man soos hierdie, anderdag by die Diens aangesluit, elke middag vieruur by die huis. Bevordering elke keer as hy hoes. En manne soos hy self ... jarre van bloed sweet, veertien-uur-werkdag, geen naweke, geen oortyd, geen rus voor ’n saak opgelos is nie. Gesondheid in sy moer in. Maar van bevordering kan hy vergeet. Vir die res van sy lewe. Sy velkleur geweeg, te lig bevind ...
Hy maak keel skoon, begin dan: “Ons is tans besig met ondervraging, superintendent.