moontlik na u vader se dood?”
“My pa het gepraat van verkoop, destyds. Ek dink aan ’n buurman, of iemand.”
“Pretorius? Boet Pretorius?”
Sy haal haar skouers op. “Hy’t nooit sover gekom nie, die kanker was te gou. En nou ja. Ek weet nie wat gebeur het na hy dood is nie.”
“Die werkers?”
“Sover ek kan onthou, was daar twee gesinne, maar dis soos ek gesê het ... Verdink u dan enigeen van húlle? Of die voorman?”
Die groot man oorkant haar trek weer ongemaklik aan sy hempsboordjie. Dan haal hy ’n sakdoek te voorskyn en vee die sweet van sy voorkop en slape af. Dit lyk of hy al hoe warmer kry. Maar Saar voel eienaardig koud.
“Ons het nog nie verdagtes nie, juffrou Swarts. Maar in hierdie stadium wil dit voorkom of die aanvallers geweet het Woensdae is klein Saterdag op die plaas – met die werkers wat die middag afvat, die bediendes ook, en die voorman en die huishoudster dorp toe vir besigheid. U suster en haar dogter was dus waarskynlik altyd Woensdae alleen tuis.
“Dit kan wees dat die aanvallers die huis vir ’n geruime tyd dopgehou het. Met die huis so teenaan die pad ...”
“Is Freddie gemolesteer, inspekteur?”
“Nee, juffrou Swarts. Nee, sy is nie. Maar dit wil vir ons lyk of die dader ... of daders ...”
“Sê maar reguit, inspekteur. Dis vir my beter so.”
Hy trek weer aan die hempskraag, kyk vir ’n oomblik by die venster uit na die hitte wat buite op die teerpad brand, dan terug na haar: “Dit lyk of hulle ’n boodskap wou los. Die manier waarop hulle haar gelaat het. Haar liggaam is teen ’n kombuisstoel gelos. In haar slaapkamer. In ’n sittende posisie. En haar hare is afgesny. Tot kort teen haar kopvel.”
Hy bly ’n oomblik stil en hou haar dop, amper of hy wil kyk of sy regtig so sterk is soos sy sê. “Niks maak sin as dit by hierdie soort aanval kom nie. Maar ek verseker u, ons werk voluit daaraan. Daar is baie mense wat toegang gehad het tot die plaas. En u suster het in ’n stadium verskeie kinders onder haar sorg gehad.”
“Liewe Here, daarvan weet ek niks. Hoe bedoel u dan, kinders ...” Saar voel vir die soveelste keer asof sy in ’n vreemde nagmerrie ingestap het. Freddie, met ’n aangenome kind. Sy was glo vier. Klara. En ’n plaasvoorman ... en die vreemde kinders ... dis ’n Freddie wat sy nie ken nie. Geken het nie.
“Volgens my inligting,” sê Beeslaar, “was dit ’n klompie jeugdiges wat sy glo so nou en dan in tydelike pleegsorg geneem het. Meestal uit die arbeidersgemeenskappe van die omgewing.” Hy wag vir reaksie, gaan dan verder. “U het natuurlik nie ...” Hy steek vas en maak ongemaklik keel skoon. Die sakdoek kom uit, mop sweet.
“Jammer,” sê hy floutjies. “Die hitte ... Ek is nie van hierdie wêreld nie, probeer nog gewoond ...”
“Wie sou so ’n vreeslike woede teen Freddie kon hê, inspekteur?”
“Dis wat ons gaan uitvind, juffrou Swarts.”
“Kan ek vir Freddie sien?”
“Ja, natuurlik. Die nadoodse ondersoek moet nog finaal afgehandel word, hopelik voor môre. Maar u sal Postmasburg toe moet ry. Ons moes haar soontoe neem. Dit was die naaste beskikbare distriksgeneeshere ...”
“Ek sal ry,” sê sy en kom orent. “Ek moet haar sien.”
Hoofstuk 3
3
Beeslaar het pas vir Saar Swarts afgesien toe dit hom gryp.
Hy het dit voel aankom, tydens hul gesprek al, maar dit toegeskryf aan die hitte: hierdie wilde hartklop, die benoudheid, die sweet.
Hy het haar haastig gegroet en so te sê teruggevlug na sy kantoor. Hy moes asem kry, sy kop bymekaar hou. Hy het sedert Johannesburg geen paniekaanvalle gekry nie. Soos ’n poephol gedink dis verby. En nou hierdie moordsaak.
Die kind – elke keer as daar ’n kind betrokke is.
Sy hande bewe opmerklik as hy na hulle kyk. En net onder sy ribbes roer ’n ding. Iets wat sy longe vasdruk, sy spiere onbeheersd laat spring – oor sy rug, onder sy regteroog. En hy sweet weer soos ’n fokken otter.
Hy probeer diep asemhaal. Dis net angs, het die shrink destyds gesê, en jy kan dit beheer.
Oë toe. Diep asem. Hou vir vier tellings en blaas dan uit. Konsentreer op die asem, dit sal die angs verjaag.
Deurmekaar beelde vlieg voor sy geestesoog verby. Hy sien die Huilwaterkind, die keelwond, die bloed, die halfoop oë. Die oë kyk na hom. Dis die oë van ’n ander kind, die een in Hillbrow ... nee, die ander twee: soos klein hondjies in hul beddens doodgeskiet.
Hoekom is jy altyd láát, Beeslaar?
Hy staan op. Hy moet uit hierdie warm kantoor uit. Hy soek koelte, ’n plek met lugreëling.
In die Rooi Duin, skuins oorkant die polisiekantoor, gaan sak hy ’n paar minute later in ’n hoek neer. Die plek is donker. En dis godsgenadiglik koel. Die kroegman, oom Koeks Koekemoer, kom sit ’n yskoue Coke voor hom neer.
“Warm genoeg vir jou, inspekteur?”
“Soos die hel vanself, oom Koeks, soos die hel vanself,” sê hy terwyl die kroegman omdraai en terugdrentel na sy toonbank.
Dis dan dat iets Beeslaar te binne skiet. Pretorius: Hy’t gistermiddag, toe hy die moorde inbel, gepraat van “te laat” wees. Nog iemand het.
Dan onthou hy. Die ou huishoudster. Sy het dit ook genoem.
Hoofstuk 4
4
Daar staan ’n vreemde kar voor tannie Yvonne se huis, ’n splinternuwe viertrek-BMW.
Saar se hart sak in haar skoene. Sy sien nie kans nie. Sy’t haar pas ontstrengel van die klewerige angs van ’n bejaarde boer en sy vrou wat haar in die hoofstraat geskraap het. Hulle het haar op die naam gegroet, maar sy kon hulle nie meer uit haar kleintjietyd onthou nie. Het haar ma en pa baie goed geken, het die vrou vertel, was bly toe Freddie op die plaas kom bly het. Daar’s so min jongmense in die omgewing en mens weet nooit meer deesdae wat van die grond word as die oumense afsterf nie. Maar dat so ’n verskriklike aaklige ding moes gebeur ... Waar gaan dit alles eindig ...
Die vrou was betraand en haar man het in stilte haar hand staan en vashou. Dis verskriklik hoe dinge deesdae in die land is, het sy aangeratel, mens is nêrens meer veilig nie, mense word in hul eie beddens ... Toe maak haar man haar stil. Vir ’n oomblik het die drie van hulle so gestaan, soekend na gepaste woorde, oë neergeslaan. “Sê maar as daar enigiets is ...” het die tante aangebied. Saar het hulle bedank – dalk te haastig. Sy wou wegkom, het skielik opgesien teen al die gesimpatiseerdery wat sy weet nog voorlê. Die onbeholpe troospogings. Sy onthou dit van haar ma se begrafnis destyds, die praatjies wat mense by die dood maak. Dalk nog meer so by skielike dood, wat nog te sê gewelddadig. En ’n plaasmoord raak almal in ’n gemeenskap soos hierdie. Almal. Sy kon dit op hierdie twee mense se gesigte sien. Die vrees, die wáár maak van ’n nagmerrie in hulle midde. Dis asof die kollektiewe vrees waarmee iedereen in sy of haar agterkop rondloop, skielik uit die skadu van die onderbewussyn opduik en voor jou kom staan.
Moord. Hoeveel mense in hierdie land kry nie daagliks so ’n tyding nie? Honderde? Sy’t iewers gelees daar’s ses en vyftig moorde per dag. En pláásmoord is die grootste nagmerrie van almal – ’n idilliese, landelike lewe wat onverwags, in afsondering en ver weg van hulp of bystand, wreed beëindig word. En Freddie, juis so ’n tenger lam ...
“Saartjie?” hoor sy tannie Yvonne van die agterstoep se kant af roep wanneer sy by die huis instap. “Ons is hier agter.”
Dis ’n aantreklike vrou met ’n fynbesnede gesig en groot, moeë, helderblou oë wat uit haar stoel opstaan as Saar op die stoep uitstap. Sy lyk soos iets uit ’n Queenspark-advertensie, pastelle en die geelblonde