wil aftree nie.”
“Wat sê ek vir Alta?” wou Dolf weet, duidelik opgewonde oor die vooruitsigte van kitsrykdom.
“Sê jy join my vervoerbesigheid as ’n partner. Easy as that.”
“Moet net nie vir haar sê wat vervoer gaan word nie,” het Brink sarkasties laat hoor. “Boys, dis wapensmokkelary waarvan julle praat. Sluikhandel, moeilikheid-soek-stories.”
Ben het gelag. “Nie smokkel nie. Jy laat dit krimineel klink. Ons gaan net wapens voorsien aan mense wat die een of ander piesangrepubliek wil omverwerp of ’n appeltjie met ’n groep ouens te skil het. Iewers in donker Afrika. Niemand gee ’n donner om nie. Ons gaan nie inmeng met die politics nie. Dit gaan ’n kwessie van vraag en aanbod wees. Gegrond op suiwer sakebeginsels. Eenvoudig soos dit.”
“Ben, ons praat van wapens. Mense gaan mekaar doodmaak met die goed wat jy wil voorsien,” het Brink gemaan.
Ben het sy hand amper vaderlik op sy skouer gesit. “Mense word daagliks in hul moer geskiet. Niemand gaan dit keer nie. Ek lees daar word jaarliks ongeveer veertien miljard patrone vervaardig. Dit is genoeg om al die mense in die wêreld daagliks twee keer dood te maak. Niemand kla die patroonvervaardigers aan van moord of ’n misdaad nie. Ons gaan bloot as middelmanne dien, die wapens en patrone versprei aan mense wat ’n behoefte daaraan het. Ons gaan nie Suid-Afrikaanse misdadigers van skietgoed voorsien nie, maar ’n klomp rebelle in Afrika. Hulle sal dit in elk geval op ’n ander plek kry as ons dit nie vir hulle gee nie.”
Hy het stip na hulle twee gekyk, sy donker oë op skrefies getrek. “Dit is ’n besluit wat julle self moet neem. Ek gaan voort daarmee. As julle wil opklim, is daar plek op die geldwa. Ek het juis mense nodig wat ek kan vertrou. Maar ek moet vinnig weet of julle in is … Tyd is geld.”
Die deurklokkie se skril gelui ruk Brink terug na die hede. Louise los ’n gilletjie en kom ingehardloop by die kroegkamer.
“Brink, gaan maak jy oop, ek moet nog my hare regdruk en kyk of my grimering oukei is.”
Hy stap na die voorportaal. Louise het nog altyd ’n minderwaardigheidskompleks gehad as dit by Alta en Melanie kom. Albei het hul mans op universiteit ontmoet. Sy is al een in hul groep sonder ’n hoër kwalifikasie as matriek. Hy skud sy kop. Dit maak tog nie meer saak nie. Hulle is nou almal skatryk. Maar nou woed die kompetisie voort oor wie die mees uitheemse kos kan voorsit en die duurste ontwerpersklere dra. “Vroumense,” brom hy voor hy die deur oopmaak.
Hy en die mans gaan na die kroegkamer en die vroue verdwyn in die ander onthaalvertrek. “Jinne, Brink, jy moet begin boeke koop, kyk net die leë rakke teen daardie muur,” sê Ben glimlaggend.
“Moenie jy ook nog begin karring nie! Louise maak my mal daaroor. Vir haar gesê sy moet die tweedehandse boekwinkel hier in die sentrum gaan koop, dan sal ons hopelik genoeg hê vir die donnerse klomp rakke.” Vir ’n oomblik is Brink spyt hy het dit gesê. Hy begin al soos Ben en Dolf raak. Die magsvertoon wat so maklik saam met geld kom, is nie ’n eienskap waarvan hy al ooit gehou het nie.
Ben maak keel skoon terwyl hulle met hul biere agter die kroegtoonbank inskuif. “Boys, ek weet ons het besluit om nie by dié get-togethers besigheid te praat nie, maar Henry het my ’n uur terug gebel. ’n Moerse groot bestelling wag. Grond-tot-lug-missiele, teentenkmissiele, mortiere, mortierbuise, rockets vir granaatwerpers, plofstof, twaalf duisend AK’s, ’n kakhuis vol M26-handgranate, ontstekers, twee miljoen patrone vir klein guns … ”
“Vaderland, Ben,” onderbreek Brink hom, “wil iemand ’n derde wêreldoorlog begin?”
“Die Taliban het ’n dors na wapens.” Ben se glimlag wys ’n stel oneweredige tande.
Brink voel hoe die bloed deur sy kop maal. Hy’s driftig, gooi sy hande in die lug. “Kêrels, ek hou nie van hierdie Taliban-ding nie. Ons fokus was nog altyd op Afrika en rebellegroepe. Nou begin ons met die leeu se knaters te lol. Dit is die derde keer wat ons vir die Taliban wapens gaan voorsien. En elke keer belowe julle twee my dis nou die laaste keer. Pakistan en Afganistan is uiters gevaarlike plekke, die wêreld se oë is op hulle gerig. Radikale Islamiete is nie ons cup of tea nie.”
“Ontspan, Brinkie, en luister goed na my,” antwoord Ben in ’n paaiende stemtoon. “Ons moet begin uitbrei. Henry sê juis daar is fluisteringe dat die Nigeriese regering binnekort met ’n amnestievoorstel na die rebelle sal gaan. Daarvolgens sal hulle nie vervolg word nie as hulle bereid is om hul wapens neer te lê. Dit kan ons besigheid in Nigerië kwaai bedonner. Ek weet die risiko’s met die Taliban is groter, maar kan ons bekostig om só ’n groot bestelling te weier … veral as jy dink wat in Nigerië kan gebeur?”
Hy tik met sy voorvinger op die toonbank. “Onthou, Henry is ’n vennoot. Hy wil die besigheid hê. Hy is ook die man in die spervuur. As dié ding backfire, waai sy kop eerste. Ons is nog oukei. As die ergste gebeur en ons kom in die gedrang, hou ons ons net onskuldig. Ja, ons het wapens van die Russe aangekoop, maar ons was onder die indruk dit gaan vir die regerings van Pakistan en Afganistan.” Hy haal sy skouers op. “Daar is baie maniere om uit die ding te kom as die pawpaw die fan strike.”
“Dis nou maklik om slim te wees, maar gaan dit regtig só eenvoudig wees?” vra Brink ernstig. Ben het altyd ’n gladde antwoord en dit irriteer hom grensloos, veral as Ben hom soos ’n kind behandel.
“Wel, ons het ’n paar ouens in hoë kringe op ons payroll. As húlle ons nie uit die moeilikheid kan kry nie, weet ek nie wie kan nie. Jy’s te nervous, Brink. Jy moet leer om my oordeel te vertrou.” Hy beduie rond in die kamer. “Sonder my sou jy nie hier gesit het nie, maar nog steeds in Monte Vista vir kinders aardrykskundelessies gegee het.”
“Ja, ja, dis nou al ’n afgesaagde rympie.” Sulke neerhalende opmerkings oor sy vorige beroep boor altyd by Brink ’n gevoelige senuwee raak. Dit bly ’n job waarna hy nog dikwels verlang.
“Hoeveel gaan ons kan maak uit dié deal?” wil Dolf by Ben weet. Brink merk op hoe sy oë glinster. Sy gierigheid het lankal sy oordeel opgeneuk en hy het net so ’n geldwolf soos Ben geraak.
“Ons sal op die minste vir ons ’n private jet kan koop. Dink net hoe lekker dit gaan wees om dan na die Oekraïne te vlieg,” sê Ben en lig sy bier in Brink se rigting. “Tjorts.”
5
“Ons wil graag ’n storie oor jou olyfplaas skryf,” sê die verslaggewer van Landbouweekblad oor die foon.
“Ek … ek dink nie my boerdery is al goed genoeg op dreef nie. Ek sou verkies dat julle nie nou al daaroor skryf nie. Trouens, ek is nog glad nie reg vir julle nie. Hier’s ander boere in die kontrei wat julle eerder kan kontak,” skerm Carl.
“Is jy doodseker?”
“Ek’s honderd persent seker.”
Hy sit die foon neer en sug. Die grond bly vreemd vir hom, hy voel nog nie deel daarvan nie. Al het hy Carl Bester onderaan die transaksie van byna nege miljoen rand geteken. Hy skram weg van mense wat opgewonde raak oor sy boerdery. Hy bou voortdurend skanse om sy gewete te sus. Dis waarom hy die verslaggewer wegwys, hy soek nie publisiteit nie. Hy wil soos ’n polisiemol sy plaas in die geheim bedryf.
Hy wil só graag glo hy geniet wat hy doen, maar sy gewete bly aan hom knaag. Hy slaap sleg en kry soms ’n beklemming asof ’n groot hand die lug uit sy borskas pers. Só erg dat hy buitetoe moet vlug. Die sterre in die Karoohemel, wat veronderstel is om rustigheid in sy gemoed te bring, skyn dan soos soekligte op hom.
Die wete dat dwelmgeld waarop beslag gelê word vir die staatskas bestem is, het hy in daardie stoor uit sy gedagtes geweer. Nou het dit egter ’n refrein geraak.
Aanvanklik het dit hom nie van stryk gebring nie. Hy het ’n deel van die sestien miljoen rand belê en die res was meer as voldoende om die duurste en grootste olyfplaas in die Klein-Karoo mee te koop. Gevestigde bome wat tafelolywe van die hoogste gehalte lewer, ’n aanleg wat olyfolie vir die uitvoermark voorsien. Met oestyd sal hy meer as drie honderd mense in diens moet neem. Dis dié