Deborah Steinmair

Wenkbrou


Скачать книгу

n>

      

      Deborah Steinmair

      WENKBROU

      ’n Raaiselroman

      Human & Rousseau

      Vir Leanè Spangenberg en Pix van Rensburg

      — Die oë van alles wat leef —

      My naam is Aga Gruber. Agathe, moenie vra nie. Gewapen met my groot neus en formidabele reuksintuig het ek die ge­heime van my kindertyd ontrafel, dekades na alles gebeur het. My vriendin Jesse, en Claude, my vorige buurman, het ook ’n groot rol gespeel. En intuïsie. Nadat ek en Jesse die reuk­na­vor­singsinstituut begin het, het ek meer begin oplees en meer bewus geraak van die sin­tuie en die vermoëns wat die mens al byna verloor het, maar wat by diere nog belangrik is.

      Sekere soogdiere het wenkbroue – ’n strook digte, sensi­tie­we hare bokant die oog, aan die ondergrens van die voor­kop­rif. Hierdie harige halfmane hou sweet, reën, klein insekte en sonlig uit die oë. Wenkbroue vorm oogkolle, wat diere en insekte in die wildernis teen aanvalle beskerm. So werk dit: baie soogdiere slaap in die nag, toeoog en weerloos. Wanneer die oog toe is, vorm die opwaartse boog van die wenkbrou en die afwaartse boog van die wimpers duidelik gedefinieerde o­vaal oogkolle in die slapende gesig. Dit skep die illusie dat die oë steeds oop is en op loer vir sluipende roofdiere, wat ge­woonlik ophou bekruip wanneer hulle merk dat hul prooi hulle dop­hou. Al die groot katte het oogkolle aan die agterkant van hul ore.

      Wenkbroue is barometers van gemoedswisseling, die ware verklappers van emosie. Kundiges reken nou hulle is belangriker in die herkenning van leuens as oë. Miskien is die Mona Lisa so misterieus en haar gesig so onleesbaar omdat sy nie wenkbroue het nie. Die ekspressiewe Mr Bean het twee uiters beweeglike harige wurms op sy voorkop.

      Wenkbroue is kommunikasiehulpmiddels.

      My vriendin Jesse Maartens het al twee haar oë verloor in ’n bomontploffing, jare gelede. Haar ooglede is permanent toe, haar lang wimpers rus op haar wange. Ek het volledige ge­sprekke met Jesse se wenkbroue.

      Ek wil jou vertel van ’n nuwe wending in ons lewens.

      — Die son hyg —

      Agathe Gruber word langs Jesse wakker. Sy het miskien ’n uur geslaap. Sy is klam van die sweet – die eerste simptome van ’n aanval. Haar ruggraat is ’n trapleer vir koue angs, haar hart fladder in ’n kou. Engtevrees tas-tas teen die wande; ’n paniekerige mi­miekkunstenaar.

      Hulle is in ’n vreemde ruimte. Dis nog nie mooi lig nie. Die môre ruik na kraalmis en varkhok, die lug vibreer met plaas­geluide: ’n helse kabaal by voerkrip, waterbak, hoenderhokvloer, speen. Bedrieglik gewoon, amper gerusstellend. Maar in haar linker­slaap klop ’n aardige voorgevoel. Onheil.

      Hulle is êrens in die sogenaamde Herder se opstal. Gisternag het hulle hom die sleutel met finaliteit in die deur hoor draai, aan die buitekant.

      “Jesse, jy wakker?”

      “Ja.”

      “Jess, ons moet uit. Dit begin flikker agter my ooglede. Ek kan nie opgesluit wees nie. Ek sukkel om asem te haal.”

      Aga en Jesse staan al twee ongeveer ses voet in hul sokkies. Of liewer, hulle lê op hierdie oomblik in hul sokkies, in al hulle klere op ’n bulterige driekwartbed.

      “Ons gaan ’n manier kry,” sê Jess in ’n kalmerende toon en kom regop op haar arm.

      “Aga, vertel my die kamer.”

      “Dit was stikdonker laas nag en nou’s dit nog steeds sterk skemer. Een bed, ’n tafel, ’n kers, geen vuurhoutjies in sig nie. Dis al, minimalisties. Wasbak, emmer. Daar is nie vensters nie, net klein luike hoog teen die plafon. Ek sien nie ’n lig nie. Dis rond, ’n rondawel? Ruik die gras en teer, Jess.”

      “En klam grond en sement en klip. Jou beste reuke. Haal diep asem, Aga. Daar sal nie ’n lig wees nie, want elektrisiteit is boos, so glo die Volgelinge.”

      Die Herder is die profeet van die Volgelinge, ’n klein en eks­klusiewe sekte wat net in hierdie deel van die wêreld voorkom; die Oos-Vrystaat. Amper almal in die sekte is verlangs familie van Jesse. Daaroor het sy lank stilgebly: haar vreemde wortels in die Vrystaat. Jesse ken nie die Herder of sy plaas nie, want haar pa was van Buite en hulle is nooit in die klein kring van die gemeente opgeneem nie.

      Aga haal diep asem. Ja, die klam grond en die klip. En Jesse se nek wat na naeltjies en anys ruik. Nardus en saffraan, kalmoes en kaneel.

      “Ek vermoed ons is onder die grond, Jess. Ons is mos by ’n lang stel trappe af laas nag. Kan dit wees?”

      “Nie onmoontlik nie. ’n Ondergrondse rondawel. Hectic. Dit wil ’n klokkie lui. Ek dink my ma en pa het eenkeer gepraat oor die Kerk se sensuur: eensame aanhouding, niemand weet waar nie.”

      “Jess. En jou ma was die pastoor se dogter?”

      “Ja, die eerste een. Herder noem hulle hom. Hy is dood sonder dat sy visioen ooit vervul is van ’n wederkoms in die Vrystaat. Hulle het hom twee weke in die melkkamer laat lê in die hoop op ’n opstanding.”

      “En die huidige Herder, die man wat ons laas nag hier op­gesluit het, hy is jou oom?”

      “Ja, my ma se enigste sib. Maar ek ken hom nie. Hy het alle kontak verbied met sy afvallige suster en haar gesin, selfs deur my ouma. Vir haar sal ek graag weer wil sien, Aga.”

      “So ons is in eensame aanhouding. Hoekom op aarde?”

      “Aga, ek vermoed die aanklag teen ons is nuuskierigheid. Dat ons kom rondkrap het en vrae vra oor die moord.”

      ’n Kabaal breek uit in die beeskraal.

      — Die net van die voëlvanger —

      Hoe word twee vroue in hul laat veertigs teen hul wil in ’n on­dergrondse rondawel aangehou? Dit voel onwerklik. Aga wil ver­ontwaardiging uitgil, maar sy is slegs ’n toeskouer in ’n ver­stikkende nagmerrie.

      Voordat Aga en Jesse ’n florerende reuknavorsingsinstituut ge­vestig het, was Aga ’n agterplaas- private eye. Met lastige per­soon­likheidsafwykings, vol verlammende fobies. Sommige daar­van het sy tot ’n mate oorkom, met die hulp van Jesse, en Claude, haar voormalige buurman en steeds goeie vriend. Sy is lank en benerig met groot hande en voete, haar neus enorm en krom soos ’n sekel. Sy het ’n wilde haredos, sout-en-peper kurktrekkerkrulle tot onder haar skouers. Haar pa was Boas Birkenbaum, ’n Joodse olfaktoriese genie, ook bekend as Die Neus. Kort nadat sy Jesse ontmoet het, het hulle die geheim van haar vreemde verlede ontrafel.

      Jesse se verlede was ’n geslote boek. Al wat sy ooit verklap het, was dat haar idilliese vroeë kinderdae op ’n plaas haar kwalik voorberei het vir die uitdagings van die regte lewe, selfs al het sy later in Standerton grootgeword. Sy het al gepraat van ’n ouma wat naby Senekal woon, met wie sy min kontak het. Sy hét al die wens uitgespreek om terug te gaan op haar spoor, om na haar ma, wat reeds oorlede is, se mense te gaan soek.

      En toe, eergister, vang ’n klein beriggie op bladsy vyf in Beeld Aga se oog en lees sy dit vir Jesse voor. ’n Jong seun, Kotsi Mokoena, van die plaas Katdoornvlei in die Senekal-omgewing, het verdwyn en is na wat vermoed word, vermoor. Mokoena se ma, wat nie kommentaar wou lewer nie, is ’n lid van ’n ge­heimsinnige sekte wat net in daardie omgewing voorkom. Be­sonderhede is nog nie beskikbaar nie.

      Die beriggie het Jesse laat regop sit. “Die plaas Katdoornvlei naby Senekal in die Oos-Vrystaat behoort aan my ma se enigste broer!” sê sy. En toe vertel sy. Dis die erfplaas waarop haar ma grootgeword het in die skadu van daardie geheimsinnige sekte. Jesse was as klein kind soms daar, maar hulle het vervreemd geraak van haar ma se familie omdat haar ma met ’n buitestander, iemand van Die Wêreld, getrou het. Fumane Mokoena, die ma van die vermoorde seun wat nie kommentaar wou lewer nie, is die aangenome dogter van Motle Mokoena, moederowerste van die sogenaamde Sêsi, ’n Basotho nonne-orde in die Lekker­kerk, het Jesse kortasem vertel. Lekkerkerkers is wat buitestanders hulle noem. Hulle noem hulself die Volgelinge. Motle het saam met Jesse se ouma grootgeword.

      Dié