Deborah Steinmair

Wenkbrou


Скачать книгу

wange; hulle druk mieliepitte en ander kos deur splete in die wangbeen en stoor dit in die kies om later te eet. Vandaar die bolwange. Hy sit-lê oopketel op die stoepbank, ontspanne, uit­ge­slape en minagtend soos altyd.

      Consolation kom roep hulle vir aandete. Hulle is rasend hon­ger. En voetseer.

      Die verskil in stand of klas of orde is duidelik: Consolation bedien onderdanig vir Rebekka voordat sy kombuis toe verdwyn vir haar eie aandete. Hulle kommunikeer net in Afrikaans, formeel en beleefd. Hulle drie sit om die eetkamertafel. Daar is skaapvleis op die spyskaart, maar net Jesse lê weg daaraan. Aga en Rebekka is vegetariërs. Daar is darem ook stampmielies en vier soorte groente. Oumie het nog nie weer te voorskyn gekom nie.

      Hulle gaan kruip vroeg in by kerslig nadat hulle die nodigste in ’n kommetjie gewas het. Aga het vir haar en Jesse lang nag­kabaaie van wit katoen, sonder strik of val, uit die laaikas op­gediep. Dit ruik na boerseep en sonlig.

      Êrens in die stikdonker nag word hulle wakker van ’n ka­baal. Kaïn blaf-skree dreigend ’n reeks oorlogskrete oor die werf. Dit klief deur die nag. Voetsole klap oor die perskepitte van die tuinpaadjie. Dan is alles stil. Die volgende oomblik gaan hul deur oop. ’n Groteske skadu wieg teen die muur en Consolation, in nagkabaai tot op die vloer, steeds bekappied, staan voor hulle bed met ’n kers in haar hand.

      “Oumatjie roep na jou, Keneuoe. Of eintelik na jou se ma.”

      — En weer verdriet uit jou hart —

      Aga vat Jesse se hand en loop agter Consolation se flikkeren­de kers aan, die swart gang af.

      Oumie se kamer ruik soos Moeder Motle s’n: na kamfer en bloekom. En verbleikte viooltjies.

      Sy sit regop teen die kussings. Sy bewe. Aga sit Jesse se hand op hare. Toe sy begin praat, is haar stem yl, asof daar nie asem is om dit te dra nie. Aga en Jesse buig hul koppe na haar gesig toe. Sy fluister dringend.

      “Rageltjie. Jy het einde ten laaste aangekom. Die Here weet ek het berou. Dis opgeteken in die boek van die lewe, dis ’n steen in my ingewande, ’n doring in my vlees, al die dae van my lewe. Vergewe my die jare wat die sprinkaan verwoes het, wat die kaalvreter en die afknyper verslind het, my kindjie. Dit was jou vader se uitsluitlike bevel. Geen kontak hoegenaamd. Hy was ’n ongenaakbare man. Ons huwelik was my eie vader se wens; ek is bloedjonk in die eg aan hom belo’. Ek had nie die moed om my eie kop te volg soos jy nie. My eggenoot het haar gruwelik misbruik van kindsbeen af. My roos. Sy was my enigste troos. Ek het haar seun liefgehad soos my eie, maar hy het sy vader se streke oorgeërwe. Die sondes van die vadere. Hulle is immer spuls soos bokkapaters en vol onrustige visioene. Die jong seun wat verdwyn het, is syne, by die owerspelige klimmeid Fumane, Jesébel en hoer van Babilon. Hulle het die jong seun gaan haal. By die inisiasieskool, soos ’n heiden.”

      Jess haal diep asem. “Dis reg so, Moeder. Ek vergewe jou. Wie het hom gaan haal, die jong seun?”

      Oumie sak terug, ’n kers wat uitgesnuif is. Haar oë val toe. Haar lyfie, ’n bondeltjie bene bedek met vel, is roerloos onder die deken. Sy het opgehou bewe. Net nie nog ’n sterfte nie. Aga begin voel soos Jessica Fletcher van Murder, she Wrote: net waar sy gaan, gaan mense dood.

      — Sodat jou dae verleng mag word —

      “Ek wonder of Oumie weer gaan praat. Gaan jy nie ’n dokter ontbied vir haar nie, Jess?”

      “Dis nie die Volgelinge se manier nie. ’n Mens moet dit res­pekteer. Sy is baie oud, hoor. Seker byna honderd.”

      “Jammer dat Oumie nie gesê het wie ‘hulle’ is nie. Wat vir Kotsi gaan haal het. En wie was op die werf nou die nag?”

      Oumie is nie dood nie, maar sy word nie wakker nie. Twee dae al. Aga reken hulle moet die motor gaan haal en navraag doen oor Fumane. Kaïn raak rusteloos op die werf, hy waggel vir kwaadgeld rond en vreet die hoendereiers uit die neste. Aga en Jesse stap met ’n mandjie tussen die neste rond. Hulle het aangebied om die oorblywende eiers te gaan uithaal voordat Kaïn almal bykom.

      “Hoe het die Susters die bobbejane afgerig gekry?” wil Aga weet.

      “My ma het vertel dat Suster Rut van jongs af ’n bobbejaan­fluisteraar is. Sy en die nonne maak al jare lank kleintjies hans groot. As die boere hulle ma’s vergiftig of skiet. Dis glo vir jou ’n storie. ’n Klein bobbejaantjie is nie soos ’n mensbaba wat jy soms kan neersit nie. Hulle klou dag en nag soos ’n neet aan jou. Vier en twintig uur. Hulle moet in die nag ’n paar keer gevoed word, met ’n tietiebottel. Hulle dra doeke. As hulle bietjie groter is, word ’n klompie van hulle in ’n bobbejaancrèche gesit, maar hulle het nog steeds baie aandag nodig.”

      ’n Hen vlieg met ’n gefladder en geraas op van haar nes toe Aga vooroor buk om eiers uit te haal.

      “Ek het Rebekka gevra,” gaan Jesse voort. “Rut hou glo die kleintjies dop en kyk wie van hulle vorm alliansies. Dan herves­tig sy troppe in die omgewing. Die ou grote, Habakuk, die trop­leier, was glo haar persoonlike grootmaakkind. Hy het ’n ding oor haar. Ander gaan weg as hulle groot is, die mannetjies, want hulle moet ’n trop kry waar hulle ’n beter kans het om te paar. Maar Habakuk is hierdie trop se alfamannetjie, solank sy slagtande hou. Net hy dek die wyfies. Sy trop bly in die grot onder die kliphuis. Nie almal is ewe mak nie, maar Kaïn het ook ’n band met Suster Rut; hy was ook haar persoonlike babajaantjie, vertel Rebekka. Maar hy word glo nou rusteloos, hy sal binnekort vir hom ’n ander trop moet gaan soek.”

      “Ek wonder of hulle gidsdiere sou kon wees?”

      “Hulle is slim genoeg, maar dalk nie gretig om te plesier soos honde nie! Daar was in die 1800’s ’n stasiemeester op die spoor tussen Kaapstad en Port Elizabeth, Jumper het hulle hom genoem omdat hy so rats tussen treine en spore kon spring. Maar eendag het hy gegly en onder ’n trein beland. Al twee sy bene verloor. Hy’t vir homself houtbene gemaak en ’n spoor­wegtrollie geprakseer waarmee hy vinnig kon beweeg. Hy het ’n mak bobbejaan gekry met die naam Jack. Jack het geleer om hom in die trollie rond te stoot. Wanneer ’n trein verbykom, moes Jumper vir die drywer ’n sleutel van die steenkoolskuur gaan gee. As ’n drywer steenkool wou oplaai, het hy die trein vier keer laat fluit. Toe Jack eendag die vier fluite hoor, spring hy op, gryp die sleutel en gaan gee dit vir die drywer. Jumper het hom ook geleer hoe om die sinjale te verander op grond van verskillende fluite. Hy het nooit ’n fout gemaak nie en ’n celeb geword. Hy het selfs ’n maandelikse rantsoen van die spoorweë gekry en was lief vir brandewyn oor die naweek. Daar is foto’s van Jumper en Jack, as my foon se battery nie pap was nie, kon ons dit google.”

      “Ek twyfel of Kaïn sou deug as sinjaalman, hy is net te plein ongepoets!”

      Toe hulle terugdraai na die klooster toe, sê Aga in ’n dringende toon: “Weet jy, Jesse, eintlik het Oumie ons klaar in die regte rigting gewys. Ek dink ons moet eers na Fumane gaan soek. Rebekka sal ons dalk kan help.”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

/9j/4AAQSkZJRgABAQEBLAEsAAD/4RXERXhpZgAATU0AKgAAAAgADQEAAAMAAAABAvsAAAEBAAMA