Wilna Adriaanse

Dubbelspel


Скачать книгу

      

      Dubbelspel

      WILNA ADRIAANSE

      Tafelberg

      Vir Deon

      Hoofstuk 1

      Dinsdagoggend 24 September 2013.

      “Mac, wat maak jy hier?”

      Luitenant Ellie McKenna van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling lig haarself effens uit die stoel waar sy agter in die vertrek sit. “Ek wil help.”

      Die vertrek raak stil. Hier en daar kug iemand.

      Brigadier Ibrahim Ahmed, hoof van die polisie se eenheid vir ernstige ekonomiese misdaad in die Kaap, skud sy kop. “Bad idea, Mac. En jy behoort dit te weet.”

      “Kaptein Greyling het gesê ek kan …”

      “Dis nie sy call om te maak nie.” Hy kyk in die vertrek rond. “Waar ís hy?”

      “Hy het laat weet daar was ’n ongeluk op die pad, die verkeer staan stil, maar hy is op pad,” antwoord een van die ander.

      “Mac, gaan huis toe. Jou ma het jou nou nodig.” Ahmed kyk oor sy leesbril se rand na haar. Onder sy oë hang sakke wat ’n week of twee gelede nie so prominent was nie, dink Ellie. Vir ’n man digby sestig lyk hy eintlik goed. Sy swart hare toon nog geen grys nie. Sommige spot agter sy rug en sê hy kleur sy hare. Hy is ’n netjiese man. Regop. Trots. Hy is lank en skraal en sy het al gehoor die manne wat saam met hom werk sê hy is nog besonder fiks vir ’n man wat deesdae sy dae grootliks agter ’n lessenaar deurbring.

      “Dit is my pa. Hoe sal brigadier voel as dit een van jou mense was?” Sy staan nou regop, en die vertrek word nog stiller.

      “Seker net soos jy, maar ek hoop ek het die verstand om na goeie raad te luister.”

      “Dit was nie ’n random skietery nie en as ek toegang tot sy files kan kry, sal ek dit bewys.”

      “Ons is nog nie seker wat dit was nie, en daarom wil ek jou nou uit die vertrek hê sodat ons ons werk kan doen.”

      “Ek sê vir brigadier ek kan help. Ek weet wie almal dalk betrokke kon wees.”

      Hy skud weer sy kop. “It’s not gonna happen. En ek gaan myself nie herhaal nie.”

      “Ek het ’n reg om te weet.”

      “En sodra ons iemand aangekeer het, sal jy weet. Tot dan soek ek jou nie naby hierdie case nie. Verstaan jy my?”

      Ellie sien hoe die ander se oë heen en weer draai asof hulle na ’n tenniswedstryd kyk. “Ek sal in niemand se pad wees nie, maar ek is goed in my job en ek weet waar om te soek.”

      “Mac, as jy jouself nie nóú verskoon nie, bel ek jou bevelvoerder en sê jy interfere met ’n saak. En as sy nie jou mind kan change nie, laat sluit ek jou persoonlik toe tot ons klaar is met die saak. Moenie dink ek sal dit nie doen nie.”

      Sy tel haar skouersak op en stap deur toe.

      “En as ek hoor jy het met enigiemand gepraat, sal ek sorg dat jou badge gevat word.”

      Sy maak die deur oop, maar kyk nog ’n slag om. “Net vir die rekord, ek dink dis ’n kak besluit.” Sy trek die deur agter haar hard op knip.

      Buite haal sy ’n paar keer diep asem voor sy in haar motor klim en die enjin aanskakel. Onwillekeurig soek sy na sy voertuig tussen die ander, maar sy parkeerplek is leeg.

      Dis waarom sy nie meer wil slaap nie. Elke oggend is daar ’n tydjie waarin jy jouself wysmaak dit was net ’n nagmerrie, voor die werklikheid in al sy verskrikking voor jou kom staan. Dis soos om elke oggend ’n roof af te trek.

      Sy sien nie kans om al terug na haar ouers se huis in Goodwood te ry nie, en het ook nie lus vir haar huis nie. Nadat sy ’n entjie gery het, bel sy vir Melissa.

      “Waar is jy?”

      “In Tygervallei. Wat’s fout?”

      “Kan ons koffie drink?”

      “Ja, waar sal ek jou kry? Mugg and Bean?”

      “Nee, êrens stiller.” Hulle spreek af waar Melissa vir haar sal wag.

      Sy en Melissa Calitz is vriende vandat Melissa en haar familie in 1994 in die woonbuurt ingetrek het. Hulle twee was veertien jaar oud, en sedertdien loop hulle paaie saam. Saam matriek geskryf, daarna albei sielkunde op Stellenbosch gaan swot. Kamermaats in die koshuis. Saam hulle honneursgrade gedoen. Keuring gekry vir hulle meestersgrade. Ellie in kliniese sielkunde en Melissa in voorligtingsielkunde. ’n Huis gedeel, en met twee vriende begin uitgaan. Antonie Calitz en Chris Moolman. Melissa en Antonie is vandag getroud. Antonie is ’n internis in Durbanville. Chris het hulle verlowing drie maande voor die troue verbreek. Dit was ses jaar gelede. Sy was ses en twintig jaar oud. Hy is ’n ingenieur en sy loop hom nou en dan in ’n winkel raak. Die laaste keer was hy saam met sy nuwe verloofde.

      Ellie sien hoe Melissa frons en haar mond effens oopgaan toe sy by die restaurant inkom.

      “Wat de hel het jy met jou hare aangevang?” wil Melissa weet toe Ellie oorkant haar by die tafel inskuif.

      “Ek het dit donker gekleur.”

      “Dit kan ek sien. Ek verstaan net nie waarom nie.”

      “Jy kleur jóú hare.”

      Melissa skud haar kop. “Jy kan ons nie vergelyk nie. Ek het muisvaal hare. Dis ’n blêddie sonde om jou hare te kleur. Ek het altyd gedink jy hou daarvan dat jy jou pa se pragtige bos rooiblonde hare geërf het.”

      Ellie neem een van die pakkies suiker uit die houertjie in die middel van die tafel en draai dit heen en weer.

      “Ek wil hom nie sien elke keer wanneer ek in ’n spieël kyk nie.”

      Melissa neem Ellie se hand oor die tafel. “Sweetie, donker hare gaan nie help nie. Jy lyk soos hy. Ligte oë, beenstruktuur, wye mond … die hele lot. Wat gaan jy dáármee maak?”

      Ellie trek haar skouers op. “Ek moes êrens begin en ’n pakkie haarkleur was die goedkoopste.”

      “Waarom loop jy hier rond? Ek dog jy is by jou ma,” wil Melissa weet.

      Die kelner kom nader en hulle bestel ’n koppie filterkoffie en ’n cappuccino.

      “My tante het haar geneem om haar hare te laat knip. Ek was kantoor toe.”

      “Om wat daar te maak?”

      Ellie haal ’n sakkie suiker uit die houertjie in die middel van die tafel en speel daarmee tussen haar vingers. “Ek het my hulp gaan aanbied. Hulle wil my nie hoor nie, maar dit was nie ’n terloopse aanval nie.”

      “Bedoel jy iemand wou hom doelbewus doodskiet?”

      “Nee, nie noodwendig nie, maar dit was nie sommer net die een of ander low-life wat aan die skiet gegaan het nie. Dit was een van die misdaadsindikate en dit is waarom hulle my moet toelaat om te help. Ek ken almal wat in die Kaap werk, en die meeste wat in die land is.”

      Hulle koffie kom en Ellie gooi twee sakkies suiker in hare. Roer dit ingedagte om. “Ahmed het my huis toe gestuur, gesê hy soek my nie naby die saak nie.”

      “Ek stem met hom saam. Jy kan nie hierby betrokke raak nie.”

      “Dit was my pá. Hy sou dit vir mý gedoen het.” Ellie sit die teelepel met ’n slag in haar piering neer.

      Melissa neem weer haar hand oor die tafel. “Sweetie, jou pa is nog nie eers begrawe nie. Gee jouself darem kans om net eers weer behoorlik asem te haal voordat jy wil help om die skuldiges te soek.”

      “Weet jy in watse chaos is ons intelligensie op die oomblik? En die mense wat nog vasbyt en hulle bes probeer doen, is moer toe gewerk. As ek nie help nie, weet ek nie wie kan help nie.”

      “Ek hoor jou, maar jy moet vertrou dat daar genoeg mense is wat hierdie saak sal wil oplos. Nou is die tyd om ’n bietjie weg te staan.”

      Ellie beduie vir die kelner om vir haar nog ’n koppie koffie te bring.