Wilna Adriaanse

Dubbelspel


Скачать книгу

come when all the flowers are dying, and I am dead, as dead I well may be, you’ll come and find the place where I am lying and kneel and say an Ave there for me.”

      Wat ’n cliché, en dis nie eers asof dit een van haar pa se gunstelingliedjies was nie, maar tog word haar stem al dunner. Toe die laaste woorde wegsterf, beduie sy vir Joe. Met die nuwe vol glas in haar hand beur sy tot sy weer by Ahmed staan.

      “Het brigadier iets gekry om te drink?”

      Hy lig sy glas. “My vrou sê al hierdie Coke gaan nog my ingewande opvreet, maar van water alleen kan ’n man wragtig ook ’ie lewe nie. Hoe gaan dit met jou ma?”

      “Soos dit met haar kan gaan. Die Here alleen weet wat hy gedink het om my alleen met haar te los.”

      Hy skud sy kop. “Waarom klink jy moerig? Dis nie asof hy ’n sê in die saak gehad het nie.”

      “Ek wil nie wees nie, maar ek kan nie help nie. Wat het hy daar gaan soek? Hy het die mense goed opgelei. Waarom het hy hulle nie vertrou om ’n blokkade te gooi nie?”

      “As dit nie hy was nie, was dit waarskynlik iemand anders.”

      Sy het ook al daaraan gedink, maar het vinnig die gedagte gekeer, want dan moet sy iemand in ruil gee en ’n mens weet as jy dit gedoen het, sal jy sukkel om daardie persoon weer in die oë te kyk.

      Ahmed sug. “Jy is jonk. Jy sal nog agterkom ’n mens doen soms dinge wat jy self nie kan explain nie, maar op die oomblik weet jy net dit is die regte besluit.”

      Ellie voel hoe die whiskey die skerp kante van die dag begin versag. “Eet julle lasagne?”

      Hy skud sy kop. “Nie rêrig nie.”

      “Want anders moes brigadier saamgery het en kom haal het. Ek wonder waarom almal dink lasagne is die beste trooskos.”

      Voordat sy verder kan praat, voel sy ’n mond in haar nek, maar sy draai nie om nie.

      “Sorry, babes, ek kon nie vroeër hier wees nie. Ons het moeilikheid gehad. Middag, brigadier.”

      “Greyling.”

      Albert sit sy arm om Ellie se skouers en soen haar op die wang. “Ek is genuine sorry. Ek het probeer …”

      “Hey, Greyling …” roep iemand by die kroegtoonbank voordat hy verder kan praat.

      “Yo, my bro, stuur ietsie aan, man. Ek vrek vannie dors,” roep hy terug oor haar kop.

      “Mac, los die man dat hy enetjie saam met ons kan kom drink.”

      Ellie beduie met haar kop. “Gaan.”

      Hy maak sy oë groot. “Ek sal dit opmaak, ek belowe. Kan ek vir julle iets saambring? Brigadier, hoe lyk jou glas?”

      “Ek moet loop.”

      “Babes?”

      Ellie skud haar kop. “Ek moet ook by die huis kom, voordat my ma vir Vera-hulle uitskop.”

      “Sien ek jou vanaand?”

      “Ek dink nie so nie. Ons kan later praat.”

      Hy sit sy hande weerskante van haar gesig en soen haar op die mond. “Kom later oor.”

      Sy en Ahmed stap saam deur toe, maar vorder stadig omdat almal eers wil groet. Clive sit in die verbyloop sy hand op haar skouer. Joe kom agter die toonbank uit, en druk haar ’n oomblik vas.

      “Vasbyt, my girl. Dit sal weer beter gaan, maar ongelukkig sal dit eers nog vir ’n rukkie maar kak wees.”

      “Dankie. Dit help as ’n mens weet wat om te verwag.” Sy waai met haar hand. “Dankie hiervoor. Ek is seker hy smile, waar hy ook al is.”

      “Dis ’n groot plesier. Ek gaan die ou bliksem mis.”

      “Moenie dat hulle met hulle dronk gatte op die pad gaan nie, en skop hulle later uit. Môre kla die vrouens weer by my,” maan Ahmed toe hy en Joe handskud.

      “Ek maak so, brigadier.”

      Die skaduwees rek al lank toe hulle buite kom en net die hoogste geboue vang nog ’n laaste sonstraal. Hy stap stil saam met haar na waar sy geparkeer het.

      Sy sluit haar motor oop, maar klim nie in nie.

      “Brigadier …”

      Hy hou sy hand op. “Voor jy iets sê, laat ek eers praat. Ek wil hê jy moet weet ek verstaan hoe jy voel, want ek sal dieselfde gevoel het as ek in jou skoene was, maar ek kan nie toelaat dat jy met my, voor almal, in ’n stand-up fight betrokke raak nie. Eerstens force jy my hand, en tweedens wil ek nie met jou oor jou pa baklei nie. Ek het baie tyd vir daai man gehad, en my hart is seer. Wat dit nog erger maak, is dat dit klink of jy my nie trust nie. Ek sal alles binne my vermoë doen om uit te vind wie hiervoor verantwoordelik is.”

      “Dis nie wat ek gesê het nie. Ek wil net graag help, want ek weet hoeveel sake daar op almal se lessenaars lê. En daar by ons gaan dit op die oomblik nie goed nie. Met die grootbaas wat geskors is, en nog ’n klomp onder verdenking, werk die res van ons around the clock. Ek wil net seker maak julle kry die inligting wat julle nodig het.”

      “Ek belowe jou as ek dink iemand daar draai sy vingers en wil ons nie help nie, sal ek dadelik sê. Maar intussen soek ek jou nie naby nie. Ek het ’n ervare span op die saak gesit, en het volle vertroue dat hulle binnekort met ’n antwoord sal kom.”

      “Dankie.”

      “Jy moet maar nog ’n dag of wat afvat.”

      “Dit sal niks beter maak nie.”

      “Ek is seker jou ma het jou nodig.”

      “Sy het dalk iéts nodig, maar dis nie vir my nie.”

      “Ek sê maar net … sorg dat jy jou asem terugkry voor jy teruggaan.”

      Sy frons. “Ek hoor daar was ’n skietery by Alexei Barkov se huis, en dit beteken brigadier Zondi is op die oorlogspad, want daar word waarskynlik reeds vingers gewys. Hulle sê maklik ons moes beter inligting deurgegee het.”

      “Teen hierdie tyd moet jy al weet daar sal altyd vingers gewys word. Niemand wil so ’n bol mis vang nie. Maar ons kan later weer oor daai jakkalse praat. Vanaand is nie die aand daarvoor nie.”

      Hy gaan staan langs haar motor en wag dat sy inklim. “Kyk agter jouself, en jou ma.”

      Sy skakel die enjin aan, maar trek nie weg nie. “Ek wil nie in die koerante lees wie my pa geskiet het nie.” Sy wil hom eintlik vra of hy dink dit kan iets met haar te doen hê, maar sy kry nie die woorde nie. Sy vermoed ook dat sy nie die antwoord wil hoor nie.

      Hy sit sy hand op die vensterraam. “Ek gaan niks vir jou belowe nie.”

      Sy kyk in die truspieëltjie toe sy wegtrek en sien hom nog ’n oomblik staan. Toe hy destyds bo haar pa aangestel is, het die tonge geklap, en baie van die kollegas het kwota en regstelling geskreeu. Maar terwyl almal nog geskreeu het, het John McKenna sy hand uitgesteek, hom gelukgewens en trou gesweer. Dit was die begin van ’n baie suksesvolle en eiesoortige verbintenis. Nie dat hulle twee nooit koppe gestamp het nie, daarvoor was hulle net te eenders, maar hulle het groot respek vir mekaar gehad.

      Sy skakel die radio aan. Haar geheuestokkie is ingedruk en toe sy die eerste klanke hoor, draai sy haar venster oop en stel die klank harder.

      “Gonna close my eyes, girl, and watch you go,” sing sy saam met David Gray. “Send a little prayer out to ya, ’cross the falling dark.”

      By ’n rooi verkeerslig kyk ’n vrou vir haar, en Ellie oorweeg dit om vir haar tong uit te steek. Die vrou kyk weer voor haar, en Ellie wonder waarheen sy op pad is met haar donderweergesig. Mag die gode behoed dat dit op pad is na ’n man en kinders toe.

      Hulle trek weg en toe sy van Durbanweg af op die N1 stad se kant toe swaai, trap sy die petrolpedaal diep in. Die wind deur die oop venster pluk aan haar hare, waai die woorde van die lied weg. Tell